Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die kerk is dood; lank leef die kerk

Hoe kan ons die kerk se droogte breek, wou die televisieaanbieder en joernalis Ivor Price by ’n uiteenlopende groep kerkmense weet? Murray La Vita doen verslag.

Deelnemers aan Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks is van links: Danie du Toit, Ivor Swartz, Ivor Price, gespreksleier, André Boezak en Braam Hanekom. Foto: Jaco Marais

Price het aan dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en ’n voormalige moderator van die NG Kerk, gevra waarom mense die tradisionele kerke die rug toekeer.

Hanekom was deel van ’n paneel wat by die KKNK in Oudtshoorn in Netwerk24 se feeskafee aan Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks deelgeneem het.

“Die kerk is ’n skepping van die gees. Die kerk is nie ’n NGO nie; ’n nieregeringsorganisasie nie. Maar die kerk het ook kulturele gestalte en het ook ’n sosiale kant. So daar is nie net een rede hoekom daar dinge met die kerk gebeur nie,” het Hanekom gesê.

“Daar kan kerke wees wat geestelik nie so goed doen nie, maar omdat hulle kultureel aanvaarbaar en begeerlik is en goed inskakel by die kultuur, lyk dit of die dominee goed doen. En dan is daar weer ander dominees wat in ’n armoedige middestadbediening sit en dit lyk of hulle sukkel, maar as jy nou fyn gaan kyk dan is hulle besig om fantastiese werk te doen.”

Braam Hanekom. Foto: Jaco Marais

Hy sê hy het tien jaar gelede al die voorspelling gewaag dat die NG Kerk se getalle nie net kan halveer nie, maar kan verkwart.

“Gewoon om demografiese redes. Byvoorbeeld: As jy net groei deur doopaanwas, maar jou getalle groei nie deur evangelisasie nie en die doopaanwas verkwart . . .

So die kerk is wêreldwyd in beweging; dit is nie iets staties nie; dis ’n organisme en ek dink ons sien dit uitspeel.

“Maar waarom die eksodus uit die kerk? Vir sommige mense is die kerk te liberaal; vir sommige mense is die kerk te konserwatief. Vir sommige mense is die kerk te wit; vir sommige mense is die kerk nie wit genoeg nie. Vir sommige mense is die kerk nie na genoeg aan die ou tradisionele patroon nie en vir sommige mense kan dit nie genoeg modern en postmodernisties wees nie.

“So die kerk is wêreldwyd in beweging; dit is nie iets staties nie; dis ’n organisme en ek dink ons sien dit uitspeel.”

Hy hoop ons sal by die punt uitkom waar ons vra: Wat is ’n ware kerk in ’n tyd soos hierdie? “Getalle kan ’n baie vertekenende prentjie teken.”

Ons is onseker

Price het gevra of die kerk dalk nie meer kan voldoen in die moderne mens se spirituele behoefte nie?

Die wêreld en die gemeenskap is baie vinnig aan die verander en as gevolg daarvan raak ons al hoe meer onseker, het ds. André Boezak, leraar van die VGK se Oudtshoorn-gemeente, gesê.

André Boezak. Foto: Jaco Marais

“Dis baie maklik vir iemand om te kom en nét sekerheid aan te bied. Daarom is daar ’n bepaalde president in die wêreld, ek gaan nie name noem nie want ek het nie ’n kuif nie.

“In Suid-Afrika gebeur dit ook. As ek nou kom met een of ander aanloklike, aanvaarbare teologie, dan gaan mense my glo, want hulle soek sekerheid. En ongelukkig, en daarmee wys ek die vinger na die kerk waaraan ek behoort, het ons ons konstitusie, ons reëls, ons waardes, ons kultuur, ons tradisie; en dít is ook ’n poging om sekerheid te hê.

“Die kerk sukkel vandag met groter uitdagings as in ons tyd. Jy moet tegnologies op standaard wees om ons jong mense te trek. Jy kan nog altyd Christus verkondig, maar doen dit bietjie cooler dat dit aanklank vind by die jong mense. Praat hulle taal sonder om die boodskap af te water.

“Dit is hoekom mense uit die kerk onttrek. En dan vra hulle hoe kan die kerk ’n oplossing vir die wêreld wees

Polisiekarre as verlossers

Price het aan Danie du Toit, stigterslid van die musiekgroep Spoegwolf, gevra of mense vandag op soek is na ’n cooler Christus of ’n cooler kerk?

Hy het beaam dat mense sekerheid soek en nie redenasies en slim idees nie.

Danie du Toit. Foto: Jaco Marais

“Dis amper asof die kerk soos hy nou is te redelik en te slim is en in ’n tyd soos nou, ná ’n resessie waar mense ongelukkig is, soek hulle nie jou redenasies of jou goed uitgedinkte antwoorde nie; hulle soek ’n ja of nee; ’n wit of swart; ’n dit gaan gebeur. Hulle soek hierdie amper onverantwoordelike antwoorde; amper soos die onverantwoordelike politici wat baie meer mense het wat hulle volg.”

Die syfers en die kerkbanke wys jonger mense woon al minder die tradisionele kerke by, het Price aan Ivor Swartz, ’n voormalige jeuggevangene en deesdae jeugpredikant in Johannesburg, gesê. Hy wou by hom weet wat is vir hom, wat jeugpredikant by ’n redelik tradisionele gemeente is, so aanloklik aan die kerk.

“Wat vir my nog die kerk aanloklik maak, is dat daar ruimte is om eg te wees, om eerlik te wees en om myself te wees. Dit is wat vir my in 2005, toe ek uit die tronk uit kom, na die kerk toe getrek het.

Die kerk het vir my daai Egipte geraak, die oppressor waarvan die jonger geslag bevry moet word.

“Daar was spasie; mense het vir my gesê: ‘Oukei, met al jou tatoes en jou bendegeskiedenis, wil ons hê jy moet ’n gesonde pad stap. Nie net saam met die Here nie, maar saam met jouself en saam met jou gemeenskap en jou familie.

“Die kerk het vir my daai Egipte geraak, die oppressor waarvan die jonger geslag bevry moet word. As ons kyk so tien, twaalf jaar terug toe die Polisiekarre [die groep Fokofpolisiekar] op die scene gekom het toe het hulle Moses geword. Hulle het gesê: ‘Ons gaan julle bevry en van hierdie oppression af weglei.’ En hulle het dit goed gedoen. Hulle het ons uit die woestyn uit gelei want hulle het gesê: ‘Moenie meer vassit in die tradisies nie; kom uit.’ Nou is ons almal uit die woestyn en die Polisiekarre het nou grootgeword, hulle is nou deel van die sisteem – hulle het nou kinders en huise en versekering en ’n pool. En nou sit ons leierloos hier en wie gaan ons nou verder vat?

“En dis nou waar die kerk ’n rol kan speel deur te sê: ‘Hoor hier, julle het nog steeds al julle vrae en ons het nog steeds nie al die antwoorde nie, maar ons wil vir julle water gee; ons wil vir julle ’n plekkie gee.’

Hy het later gesê die sopkombuis het hom getrek en toe kry hy sommer ’n bietjie Jesus ook.

“As die kerk nie kan kom by daai plek om te sê: ‘Ons hét nie die ding reg nie, maar ons het ’n dak oor jou kop . . .’ sal hy heeltemal uitsterf. Die kerk moet meer dakke oor die kop gee as woorde in die mond.”

Hy het later gesê die sopkombuis het hom getrek en toe kry hy sommer ’n bietjie Jesus ook.

In reaksie op ’n vraag uit die gehoor het Swartz verduidelik waarom hy nie in die tronk by die kerk betrokke geraak het nie.

“ ’n Vriend van my is in die Christensel, die brothers se kamer, gesit en toe verkrag een van die brothers hom. Ek het gesê as ek enigsins tot bekering kom, sal dit nie onder daardie omstandighede wees nie.”

Monumente van apartheid

Tydens ’n gesprek oor eenheid in die kerk, het Hanekom gesê die vier kerke – die NG Kerk, die VGK, die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk – is “van die laaste lewende monumente van apartheid”.

“Ons het aan die slaap geraak oor hierdie saak. Ons is in die moeilikheid en ek kan dit nie sterk genoeg sê nie . . . En ek vra om verskoning dat ons nog is waar ons is.”

Ivor Swartz. Foto: Jaco Marais

Wat die gesag van die kerk betref, het Swartz gesê daardie gesag moet gedefinieer word.

“Die kerk wil dikwels net gesag hê wanneer daar moral issues involved is. Maar hy moet in álle aspekte van die samelewing die heeltyd kyk wie word benadeel en hoe kan ons daai mense deel maak van waarnatoe die kerk beweeg. Om die heeltyd net te kyk wie trap waar verkeerd, is waar die kerk te veel van sy energie bestee.

Hanekom het gesê hy is doodseker aan die einde van die wêreld gaan die kerk nog steeds hier wees.

“Ons moet kyk wie is buite die huis; wie sit in die boom? Dáár’s ’n gees; ek wil by hom gaan eet. Die kerk moet konstant kyk wie is buite die raamwerk en daai mense deel maak. Ek dink ons moet die kerk se geheue refresh dat hy eintlik bestaan vir die mense wat op die kantlyn is. Hy bestaan nie vir die mense wat die mooi suits aan het nie.”

Hanekom het gesê hy is doodseker aan die einde van die wêreld gaan die kerk nog steeds hier wees.

“Ek is nie seker wat die gestalte van daardie kerk gaan wees nie. Maar die kerk en die fundamentele waarhede van die kerk sal verpak moet word in elke dag en tyd en konteks met die waarhede wat deur hierdie kollegas op die tafel gesit is. Ons moet fyner na die stemme van ons jong mense en jong teoloë luister.”

Meer oor:  Ivor Price  |  Danie Du Toit  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.