Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die kuns van koalisies

Suid-Afrikaanse kiesers en politieke partye moet hulle begin voorberei op die uitdagings van koalisiepolitiek, skryf Leon Schreiber. 

In Oktober 2016 het Andile Lungisa, ’n swaargewig in die Oos-Kaapse ANC en raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro, die DA-raadslid Rano Kayser tydens ’n raadsvergadering aangerand.

Lungisa is Woensdag tot drie jaar tronkstraf gevonnis (met een jaar opgeskort) omdat hy Kayser met ’n glasbeker oor die kop geslaan het.

In ’n videogreep van die voorval kan duidelik gesien word hoe ’n lafhartige Lungisa vir Kayser bydam en dan onmiddellik weghardloop.

Die skokkende insident was egter net die eerste veldslag in ’n politieke geveg wat steeds voortwoed in Nelson Mandelabaai, waar die ANC en EFF die afgelope week opnuut misluk het in hul pogings om die DA-burgemeester, Athol Trollip, te onttroon.

Trollip staan aan die hoof van ’n koalisieregering, saamgestel uit raadslede van die DA, Cope, die ACDP en die Patriotic Alliance, en regeer danksy ’n meerderheid van slegs een setel.

Die implikasies van die struwelinge in Nelson Mandelabaai strek egter veel verder as die munisipale grense en is inderwaarheid tekenend van die nuwe soort uitdagings wat die oorgang tot koalisieregering meebring oral waar die ANC sy 50%-meerderheid verloor.

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse politiek ’n geheel nuwe tydvak betree ná vernederende uitslae vir die ANC in die munisipale verkiesing van 2016.

Die bestuur van koalisies sal voortaan ’n voorvereiste wees vir politieke sukses. Maar in ’n land wat reeds sewe dekades lank eenpartyregerings het – die NP van 1948 tot 1994 en sedertdien die ANC – is dit te verwagte dat sowel kiesers as politieke leiers sukkel om die uitdagings van veelparty-koalisieregerings te verstaan.

Dit is dus hoog tyd dat politieke leiers, asook kiesers, hulle begin voorberei vir die “nuwe normaal” van koalisieregerings.

Hoewel die gesprekke sensitief was vir die belangrike verskille tussen die Suid-Afrikaanse en Duitse politieke konteks­te, het dit gou duidelik geword dat koalisieregerings altyd voor ’n paar gemeenskaplike uitdagings te staan kom.

Byna twee jaar ná die waterskeiding van 2016 se munisipale verkiesing en met minder as ’n jaar oor voor 2019 se nasionale en provinsiale verkiesing, het ’n groep politieke leiers verlede week ’n noemenswaardige deurbraak gemaak in hul pogings om ’n grondslag te lê vir sterker koalisies.

In die eerste geleentheid van sy soort het hooggeplaaste politieke leiers om dieselfde tafel gesit om die uitdagings van koalisies daadwerklik te begin takel: Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, John Steenhuisen, DA-hoofsweep, Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Liezl van der Merwe van die IVP, Mosiuoa Lekota van

Cope, Nhlanhla Khubisa van die NVP, en Bantu Holomisa van die UDM.

Cope, Nhlanhla Khubisa van die NVP, en Bantu Holomisa van die UDM.

Die daglange simposium is georganiseer deur prof. Richard Calland van die Universiteit van Kaapstad in samewerking met Martin Schäfer, Duitse ambassadeur, met die doel om plaaslike politici bloot te stel aan die Duitse ervaring. In Duitsland is koalisieregerings reeds meer as 70 jaar lank aan die orde van die dag.

Hoewel die gesprekke sensitief was vir die belangrike verskille tussen die Suid-Afrikaanse en Duitse politieke konteks­te, het dit gou duidelik geword dat koalisieregerings altyd voor ’n paar gemeenskaplike uitdagings te staan kom.

Die Duitse politici – wat ses partye van­oor die hele politieke spektrum verteenwoordig het – was dit eens dat enige koalisie-ooreenkoms so gedetailleerd as moontlik behoort te wees en dat partye altyd hul ooreenkomste op skrif moet stel.

In Duitsland is dit ook die gebruik dat partye hul geskrewe ooreenkomste openbaar maak sodat kiesers kan sien watter kompromieë aangegaan is.

Die gesprekke het verder ook klem gelê op die onafwendbaarheid van meningsverskille en konflik. Aangesien koalisies byna soos ’n liefdelose huwelik (wan)funksioneer, is dit noodsaaklik vir partye om van die begin af reeds forums en meganismes te skep waar geskille besleg kan word.

Maar selfs met die beste planne slaggereed, het die Duitse kenners ook gewaarsku dat persoonlikheidsbotsings ’n deurlopende gevaar inhou vir koalisies.

Die onstuimigheid in Nelson Mandelabaai is ’n klinkende voorbeeld hiervan, waar persoonlike spanning tussen Trollip, Holomisa en die voormalige UDM-adjunkburgemeester, Mongameli Bobani, die vlamme van onenigheid so aangeblaas het dat die UDM in Augustus 2017 aan die koalisie onttrek het.

Benewens die insigte oor die tegniese vereistes van koalisieregerings, was die simposium ook die eerste belangrike aanduiding dat byna alle nasionale partye – met die uitsondering van die EFF – tot ’n mate bereid is om hul tekortkominge te erken en saam te werk om doeltreffender veelpartyregerings te bou.

Die skynbare ommeswaai in ANC-geledere was veral opmerklik, aangesien die party se hoof van politieke opleiding, Nathi Mthethwa, in Julie verlede jaar nog gemaan het dat dit défaitisties sou wees vir die ANC om voor te berei op koalisieregerings.

In skrille kontras het Mthembu Maandag getwiet dat die “hoëvlak-dialoog oor Duitse koalisiepolitiek baie behulpsaam is vir ons land”.

Die veelparty-gesprekke was ’n verfrissende briesie, gekleur deur die geur van Kodesa, wat beloof om reën te bring na ’n politieke landskap waar samewerking en produktiewe kompromieë lankal reeds opgedroog het.

Maar ook in hierdie opsig het ons ’n belangrike les om by Duitsland en ander gevestigde koalisie-demokrasieë te leer: Selfs die mees welmenende politieke koalisie sal misluk indien kiesers en die burgery die noodsaaklikheid van gesonde kompromieë misken of verwerp.

Anders as onder die allesoorheersende eenpartyregerings van die afgelope sewe dekades, vereis die nuwe koalisie-era dat landsburgers ook húl deel doen om ’n gesonde koalisiekultuur te vestig, waar dwarstrekkkers en opportuniste swaar gestraf word, terwyl wedersyds voordelige samewerking beloon word.

  • Dr. Leon Schreiber is ’n politieke wetenskaplike en skrywer van die boek Coalition Country: South Africa after the ANC.
Meer oor:  Suid-Afrika  |  Kiesers  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.