Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die kuns van ’n slaggat regmaak . . .

Ál meer gemeenskappe spring in om self slaggate te herstel. Raymond Willemse het langs die Mooirivier gaan kyk hoe om dit (reg) te doen.

Dié padteken wys hiér word gewerk!Foto’s: Melinda Stuurman

As daar ’n slaggat is om te herstel, is hy daar. Dis daarom g’n wonder dat Dirk Venter in Potchefstroom as die slaggat-koning bekendstaan nie.

“Ek is lief vir my dorp, so ek kan nie agteroorsit en toesien hoe dinge agteruitgaan nie. Elkeen het ’n keuse: Jy kan of kla of inspring en deel van die oplossing wees,” sê Venter met trots.

Hy het besluit om skouer aan die wiel te sit omdat hy nie wil hê sy dorp moet vergaan nie en herstel daarom sedert 2015 slaggate in Potchefstroom. Een van die eerste slaggate wat hy herstel het, was in die straat waar hy woon.

“ ’n Paar jaar gelede moes ek van straat tot straat ry voordat ek ’n slaggat gewaar. Nou vind dit my om elke hoek en draai sonder dat ek daarvoor soek.”

Dirk Venter is die slaggat-koning in Potchefstroom.

Soos talle ander dorpe oor die land heen ervaar Potchefstroom probleme met slaggate, wat veroorsaak dat dele van die pad nie net onbegaanbaar vir motors is nie, maar ook tot lewensverlies kan lei.

Met dié dat munisipaliteite hul plig versuim om paaie te herstel, spring die inwoners self in.

Deur die week maak Venter saam met drie helpers die paaie rybaar en naweke spring oud en jonk in om hand by te sit.

Saterdag het die Potchefstroom-tak van AfriForum saam met Venter en ander inwoners slaggate in Chris Hani-rylaan herstel.

Vir die ywerige Renier Jansen van Rensburg (5) was dit lekker om sy deel te doen en diensbaar te wees. Hy tel nog net die rommel op, maar kan nie wag om eendag met die groot masjinerie te werk nie.

Vir Kathleen Crots (8) is dit ook nie ’n opoffering om Saterdae vroeg op te staan nie, want sy help graag om haar dorp mooi en skoon te maak.

Altesame 61 slaggate is Saterdag reggemaak en sowat een ton teer is hiervoor gebruik.

Kappie van Wyk kap die gat reghoekig uit met ’n hamerboor.

Tegniek verfyn

Toe Venter destyds begin het, het hy die slaggate uit sy eie sak herstel. Deesdae is hy dankbaar vir individuele skenkings en ook vir AfriForum wat dit finansieel moontlik maak om die gate te herstel namate die nood groter word.

Venter, wat ’n skrootwerf bedryf, sê dis vir hom ’n passie om slaggate te herstel. Nie eens ’n hartoperasie kon hom onderkry nie.

“In Februarie 2020 het ek ’n hartoperasie ondergaan. Ná die operasie kon ek nie wag om die slaggate te herstel nie!”

Venter herstel meer as 2 000 slaggate per jaar.

“In die begin het ek dit nie reg gedoen nie. Met tyd het ek my tegniek verfyn en ook opleiding by ’n teerfabriek in Parys ontvang oor hoe om dit volgens standaard te herstel.”

Swak vakmanskap in die bou en herstel van paaie, gebrekkige instandhouding, pype wat onder die grond bars en swaar reën is van die faktore wat tot slaggate lei.

Kappie van Wyk, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, sê daar is ’n regte manier en ’n verkeerde manier om slaggate te herstel.

“Die gat word eers skoongemaak en die rommel word verwyder. Daarna word vloeibare teer (SS60) daaroor gegooi om dit te seël,” verduidelik Van Wyk.

“Die gat word dan met klaar aangemaakte teer gevul. Bo-op word nog ’n laag SS60 gegooi om seker te maak die gat is behoorlik geseël. Die klippe en teer wat uit die gat gehaal is, word dan fyngemaal en laastens word die gruis oor die verseëlde gat gegooi en dit word gestamp sodat die nat teer nie aan voertuie se bande vaskleef of voertuie beskadig nie.”

Van Wyk sê afhangend van hoe warm dit is, kan motors binne ’n uur oor ’n herstelde slaggat ry.

Piet Theron vul ’n slaggat met teer.

Wil jy skaamkry?

Van Wyk reken mense is met reg keelvol vir slaggate, maar hy waarsku teen tydelike oplossings wat tot groter skade kan ly.

“Moenie los grond, klippe, bakstene of skerp voorwerpe in ’n gat gooi nie. Dit spoel weer uit die gat en kan jou motorbande beskadig, veral as dit reën en jy nie duidelik kan sien wat op die pad onder die water lê nie.

“Beton is ook nie ’n goeie middel om saam met teer te bind nie. Sodra dit begin reën, kalwe die teer rondom die beton uit en dit word weer ’n slaggat wat ook jou motorbande kan beskadig.”

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, sê hulle is dankbaar dat inwoners hul hand uitsteek en hul Saterdae opoffer om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

“Ja, ons betaal belasting aan die regering om dié dienste te lewer. Maar wil jy skaamkry vir jou dorp? Wil jy duisende rande betaal om jou motor se bande te vervang?”

Pretorius sê jy kan moedeloos raak as jy in die strate ry weens die swak toestand van die paaie.

“Maar dis vervullend om verby ’n herstelde slaggat te ry en jou harde werk te aanskou.”

Meer oor:  Slaggate Herstel  |  Padveiligheid  |  Slaggate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.