Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die kurwe van gekheid (Wanneer gaan dít afplat?)

Ebrahim Patel het met winkels ooreengekom om verspotte regulasies in te stel.  Waldimar Pelser het gaan ondersoek instel by die Cresta-winkelsentrum.

Blink skoeisel is te kry; sandale vir meisies en babapoppe nie. Foto’s: Waldimar Pelser

Ek staar na my foon se skerm. Daar staan dit: Swart op wit: Hoëhakskoene mag slegs verkoop word mits jou tone toe is.

Reg so.

By die eerste skoenwinkel waar ek aandoen, pryk sandale en hakskoene met oop tone egter op die rak al is dit nou onwettig, naas ontwerpershandsakke wat te veel glinster (waarom is dit wettig?).

By Foschini is ’n groot verskeidenheid kledingstukke wat dalk net ’n bietjie te kort is afgesper, net soos moulose tops, hippierige rokke wat ’n buitensporig groot stuk skouer wys, brille, oorbelle, beursies, armbande, handsakke, plakkies en kindersandale. Foschini is stroopsoet – hul oop hoëhakskoene is soos swaarkaliber-ammunisie agter slot en grendel.

Ebrahim Patel is duidelik ’n man wat weet wat kan gebeur as jy toon wys in ’n pandemie.

Dit lei dalk tot Covid-19 – en dalk seks (maar dis nog wettig).

By dieselfde winkel kan ek 20 pare goudkleurige inglip-manskoene koop as ek wil, maar dis ikabod vir leersandale. T-hemde word ingevolge Pappa Patel en die winkelbase se opdrag vertoon as “winter layering item” – so ek kan dit koop as ek dit onder ’n ander hemp dra, al kan niemand dan sien dat die woord “Revolution!” pryk op my bors nie. Ek mag ’n hoed of mus koop by Markhams, maar nie rugsakke nie, al mag jy deesdae gaan stap, selfs winkel toe – Patel wil hê jy moet jou inkope liewer in die hand dra.

Die rebelle by @Home smous gewetenloos met potte, panne en selfs kaasraspers.

In Woolworths is pakke en hemde vir daardie formele funksies wat tans nie plaasvind nie by die dosyn te kry, maar God bewaar jou as jy ’n strikdas of das daarby in die mandjie wil gooi.

Dinge raak vreemder in die afdeling vir kombuisware. Woolworths sal aan jou brokkoli verkoop, maar nie die metaalsif waarin jy dit stoom nie; kaas uit Italië, maar nie ’n kaasrasper nie; swartpeperkorrels, maar nie ’n pepermeul om dit in te maal nie, sout uit die bleddie Himalajas, maar nie ’n soutpot nie.

Jy kan heel, organiese, vrylopende oondhoenders koop en Marokkaanse kruie, maar nie oondhandskoene of ’n oondbak nie; wors uit Grabouw, maar nie ’n pan om dit in te braai nie; pragtige vars blomme om jou depressie te help verlig, maar nie ’n blompot nie; koffie van die groen heuwels van Rwanda, maar nie koffiebekers nie; ’n sexy, skelrooi bra (38C), maar nie badhanddoeke nie.

My hartklop skiet die hoogte in; ek moet hier uitkom.

Die Verimark-winkel verkoop stofsuiers wat so kragtig is dat dit kombuisteëls lig, maar nie ’n vibrerende oefenplaat waarop jy jou nuutverworwe maagvet kan losdril nie.

Wat kan ’n mens sê – reëls is reëls. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid.

Cape Union Mart verkoop kakie-langbroeke, maar nie kortbroeke nie en was Woensdag nog besig om met die base te redekawel of Crocs, waarvan die tone toe is, verbode is of nie (daar is klein gaatjies in). ’n Teleskoop, ideaal om geliefdes wat jy lanklaas gesien het mee dop te hou al is jy ver, moet maar wag.

In Jet herinner ’n plakkaat my ek mag nie haarverlengings of bagasie koop nie, maar wel ’n Tinkerbel-rokkie vir my babadogter (ek het nie een nie so dit help regtig nie).

Zara beskou ’n kort swart leerrokkie as noodsaaklik, seker omdat dit die bolyf darem warm hou.

By The Bodyshop kan ek lipstiffie in 16 kleure kies en by Big Blue ’n minlike Magic 8 Ball.

Dis toe dat dit my tref – dís hoe Patel en die nasionale bevelsraad oor Covid-19 hul besluite oor regulasies neem!

Dit werk só: As jy onseker is oor iets, skud jy die swart bal, wat lyk soos ’n groot snoekerbal. Een van 20 moontlike antwoorde word dan op ’n klein skermpie vertoon.

Toonwys is taboe, rugsakke is rebels en wys my ’n kind wat sit en speel?
Wys my ’n kind wat sit en speel?
Rugsakke is rebels...

Antwoorde sluit in “Don’t count on it” (in antwoord op die vraag: Gaan vlak 4 ooit verslap word?), “Better not tell you now” (toe Patel gevra is waarom onderklere nou skielik beskikbaar is), “Yes, definitely” (toe NDZ vir Cyril vra of sy sigarette kan verbied) of “It is decidedly so” (toe iemand wou weet is ons in ons moer?).

Die span by MRP Home gaan so ver soos om teestelle te verkoop en wynglase (al is daar nie wyn nie), maar nie dekens nie, want dit is gelys as “dekor”, al is dit warm, vir die naderende winter, ek is nie seker hoe dit werk nie.

Borde, bekers en papbakkies is op ’n uitspattige spesiale aanbieding van koop-vier-kry-twee-gratis, maar ’n stel ligpienk plastiekstoeltjies en bypassende tafel vir jou peuter is soos ’n donnerse misdaadtoneel afgesper. Duisend soorte kerse is beskikbaar, maar gipsafbeeldings van Michelangelo se Dawid-beeld is nie te koop nie (hier het Patel ongetwyfeld ’n punt beet).

Die boekie How to Fart at Work is by Exclusive Books te kry (al wil en kan ek nie), net soos ’n boek oor Black Twitter, al is boekhandelaars veronderstel om net “opvoedkundige” boeke te verkwansel tydens vlak 4. By die Lindt-winkel word ’n truffel met alkohol skaamteloos aan my afgesmeer deur die vrou agter die toonbank, wat waarskynlik ’n misdadiger is.

Woolworths sê “Das kannst du nicht!” Dalk omdat dit so lelik is?
Bra’s is vir twee goeie redes te koop.

Babies R Us is ook vol raaisels. Uiteraard is Lego verbode. Dit verstaan almal.

Maar babaspeelgoed is net te koop vir kinders tot en met die ouderdom van 18 maande. Mag die Here die kind (en haar ouers) help wat in inperking twee jaar oud word – Patel sal self daai pop uit jou huis kom haal.

Die rebelle by @Home smous intussen gewetenloos met potte, panne en selfs kaasraspers. Anders as by Woolies kan jy hier ’n badhanddoek koop, maar as jy nie wil hê die nuwe bure, wat net tot 7 Junie kan intrek, moet jou boude deur die badkamervenster sien nie, het ek slegte nuus vir jou – gordyne “word nie gelys onder die regering se vlak 4-regulasies nie”, wys ’n plakker teen die muur.

Nou verstaan ek.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Cresta  |  Vlak 4  |  Klerasie  |  Heropening  |  Winkels  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.