Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die ‘leuen’ oor dekolonisering

Patric Tariq Mellet se boek The Lie of 1652 – A decolonised history of land sal nie goed afgaan by die teenstanders van dekolonisering nie, maar eweneens sal dit die voorlopers van die “Fallist”-beweging, asook vandag se politieke elite, rooi in die gesig laat, skryf Heindrich Wyngaard.

Die standbeeld van die aartsimperialis Cecil John Rhodes word van die kampus van die Universiteit van Kaapstad verwyder. Foto: Gallo Images

Wanneer historici in jare hierna terugkyk op die tydperk toe “dekolonisering” ’n gonswoord in ons openbare diskoers was, sal die vertrekpunt die alombekende wees.

Die alombekende is dat studente in Maart 2015 op die kampus van die Universiteit van Kaapstad (UK) hul woede teen ’n standbeeld van Cecil John Rhodes losgelaat het.

Hieruit het ’n nasionale beweging vir die dekolonisering van hoër onderwys in Suid-Afrika ontstaan. Om Frantz Fanon aan te haal, het ’n tendens geword, hoewel in sommige gevalle gewoon as politieke vertoonmakery wat die indruk moes laat dat die (slag)spreker intellektueel onderlê is in die “hoekstene van kolonialisme”.

Om dekolonisering aan te bied as bloot die omstoot van ’n standbeeld of die aanpassing van ’n universiteitskurrikulum, is ’n leuen.

In April 2015 het die UK-raad besluit die Rhodes-beeld moet verwyder word.

Dit het die “RhodesMustFall”-beweging se aansien laat groei, ook in die buiteland, en ander hutswoorde vir ander bewegings het in navolging daarvan ontstaan: #FeesMustFall (vir gratis hoër onderwys, soos deur oudpres. Jacob Zuma belowe is) en uiteindelik ook #ZumaMustFall (waarmee Zuma se presidensiële termyn, oftewel “nege vermorste jare”, in Februarie 2018 tot ’n einde gebring is).

En dit was dit – totdat die meer onlangse golf openbare proteste in bepaald Amerika en Brittanje, aangespoor deur die #BlackLivesMatter-beweging, ’n hernude opstand teen koloniale simbole, standbeelde en monumente van stapel gestuur het.

Plaaslik het daar ook weer ’n debat opgevlam – en dit heers steeds – oor die behoud of verwydering van beelde uit die verlede “wat aanstoot gee” in ’n demokratiese bestel, soos pres. Cyril Ramaphosa dit in sy Erfenisdag-boodskap gestel het.

Onteiening sonder vergoeding bisar en naïef

Nou, vyf jaar ná die ontstaan van die #RhodesMustFall-beweging, word ons met ’n nuwe verkenning van die diskoers oor dekolonisering uitgedaag. Jy vind dit in die slothoofstuk van Patric Tariq Mellet se boek The Lie of 1652 – A decolonised history of land, deur Tafelberg uitgegee, waarin hy sy eie perspektief bied oor hoe dekolonisering verstaan moet word en hoe dit binne die huidige Suid-Afrikaanse scenario bereik kan word.

Dit is ’n verkenning wat nie goed sal afgaan by die teenstanders van dekolonisering nie, maar eweneens sal dit die voorlopers van die “Fallist”-beweging, asook vandag se politieke elite, rooi in die gesig laat.

In een sin gestel: Om dekolonisering aan te bied as bloot die omstoot van ’n standbeeld of die aanpassing van ’n universiteitskurrikulum, is (na die titel van Mellet se boek) ’n leuen.

Ten einde dekoloniseringstrategieë te skep, moet jy jouself eers vergewis van die meganismes waardeur kolonisering uitgevoer is, glo hy.

Die kruks daarvan wentel om die kwessie van grond- en hulpbrononteiening; hoe oorlogvoering daarvoor ingespan is; slawerny; “ingeboekte” arbeid; die vernietiging van (inheemse) mense se Afrika-identiteite en die vervanging daarvan met verdelende en vervreemdende Europees-gedefinieërde identiteitskonstrukte.

Die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria het al onder vandale deurgeloop wat sê dit herinner aan kolonialisme. Foto: Gallo Images

Die skrywer vind die eietydse aandrang op “onteiening sonder vergoeding” bisar en foutief. Wat hom betref, is die werklike uitdaging herstellende geregtigheid – nie “waar die kolonialis as ’n slagoffer voorgestel word nie”, maar wel “die teruggee van grond wat van Afrikane afgevat is sonder vergoeding”.

Hiermee maak Mellet nie voorspraak vir ’n herhaling van die wandade van die verlede nie: die grondherstelproses behoort, soos wat nou die geval is, binne ’n wetsraamwerk te geskied; en dit moenie ingestel wees op die vernedering of verarming van diegene “wat bevoordeel word deur die misdadige aksies van hul voorvaders nie”.

“Suid-Afrika het nog nie eens met ’n nasionale gesprek begin oor . . . die rol van die voormalige koloniale magte, Nederland en Brittanje, in die grondrestitusie nie,” skryf Mellet.

Tans trap die land egter nog “in die koloniale strik deur die taal, teorie en gebruike van ‘ontwikkeling’ met ’n ontwikkelaar en ontwikkelde paradigma”.

“Opvallend het die Nederlandse parlement egter al debatte gehou oor wit Suid-Afrikaanse boere wat onder beleg sou wees weens grondhervormingsgesprekke in Suid-Afrika.”

Omdat kolonialisme ook gebruik is om die Europese wêreld te “ontwikkel en verryk” met “ontsettende gevolge vir Afrikane”, behoort dekolonisering Suid-Afrika te noop om sy bande met Europa, Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland in heroorweging te neem.

Dit moet daarop gemik wees om as gelyke gerespekteer te word. Tans trap die land egter nog “in die koloniale strik deur die taal, teorie en gebruike van ‘ontwikkeling’ met ’n ontwikkelaar en ontwikkelde paradigma”.

Vierde vlak van demokrasie is nodig

Dekolonisering kan vir seker nie bloot die skep van nuwe swart elites langs wit elites behels nie. Massa-verarming moet uitgewis word, sê Patrick Mellet. Foto: Edrea du Toit

Mellet daag sy lesers uit met kritiese, indien nie ongemaklike nie, vrae: Watter stappe moet gedoen word om die koloniale misdade van etniese uitwissing en gedwonge verskuiwings reg te stel?

Wat gaan aan haweloosheid en agterplaasbewoning gedoen word? Wat van die langdurige invloed van kolonialisme wat manifesteer in bendegeweld, dwelmafhanklikheid en geweld teen vroue en kinders?

Hoe sal die vernietiging van landboukundige ekonomiese bedrywighede van ouds herstel word? Wanneer sal ons apartheid se “vier ras-silos” afskaf?

Dekolonisering kan vir seker nie bloot die skep van nuwe swart elite langs wit elite behels nie, argumenteer Mellet; massa-verarming moet uitgewis word.

Heindrich Wyngaard

Ook durf dit nie ’n proses te wees wat van bo na onder bepaal word nie. Sistemiese oplossings moet oor generasies heen geld – eerder as dat dit deur “dramatiese geleenthede” gekenmerk word, soos “seremonies met sertifikate en dergelike dinge”.

Hierdie erfenis-aktivis en navorser is alte bewus daarvan dat hy hoë eise stel wanneer hy voorspraak maak dat dekolonisering einde ten laas moet uitdrukking kry in landsburgers wat hul mag terugeis.

Hiervoor moet ’n vierde vlak van demokrasie gestalte kry, naamlik “gemeenskapsgebaseerde transformasiekommissies”, onafhanklik van politieke partye, wat as waghond dien vir die inwerkingstelling van herstellingsprojekte en -programme.

“Ons moet ook die kolonisering van die verstand en van die intellektuele ruimte takel,” pleit Mellet – en dit moet saamloop met ’n opvoedingstelsel wat verantwoordelike en verantwoordbare burgers ontwikkel wat ’n aktiewe rol in maatskaplike vooruitgang speel.”

Maar dan is daar hierdie lastige werklikheid, wat ’n demper op Mellet se dekoloniseringspleidooie kan plaas: “Dekolonisering in sy ware betekenis is nie baie gewild by professionele politici nie omdat dit die omhelsing van ’n verskillende leefstyl en etos vereis, wat strydig is met baie van wat hulle geword het.”

En wat hulle geword het, word geïllustreer deur die “glans-versiersels van ’n illusie van mag”: persoonlike paleise, spogmotors, hoogmode, goud, diamante, peperduur horlosies, uithalerfunksies en stralerjakkery, oorblyfsels van ’n gekoloniseerde samelewing én intellek.

* Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en aanbieder van aktualiteitsprogramme op RSG en kykNET. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.