Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die lewe in ’n vuilput – met weinig hoop

Vir die inwoners van Bonaero Park, in die suidooste van Kempton Park, is ’n agterplaas vol rioolvuil amper ’n weeklikse gebeurtenis. Ten spyte daarvan dat hul gesondheid en grondwetlike regte hierdeur geskend word, doen die Ekurhuleni-metro bloedweinig om die probleem die hoof te bied. Carla Lewis berig.

Op ’n goeie dag hang die talmende walms van menslike ontlasting dik en bedompig oor Bonaero Park, ’n buurt neffens die O.R. Tambo-lughawe in die Ekurhuleni-metro.

Op ’n slegte dag, wanneer die verouderde, verweerde rioolstelsel oorlaai word, bevind die buurt se inwoners hulself letterlik kniediep in nommer twee, hul erwe ’n pappery van rioolvuil.

Andre du Plessis, ’n DA-raadslid vir Bonaero Park, wys na die sloot wat die Ekurhuleni-metro by die vleiland gegrawe het om rioolvuil op te vang. Die vleiland word nou as ’n stortingsgebied gebruik om die buurt se rioolkrisis te bestuur.

Wanneer Bonaero Park se WhatsApp-gemeenskapsgroepie begin gons oor iemand se dreinpype wat weer lol, voel Leana Schutte ’n beklemming in haar gemoed.

“Ek het amper maandeliks probleme met riool wat in my erf lek,” vertel sy.

Sy is maar net een van Bonaero Park se talle inwoners wat daagliks worstel met rioolvuil en menslike afval in hul agterplaas en strate.

“Die ergste geval was in November verlede jaar. Toe ek die middag tuis kom, sien ek reeds rioolvuil wat tussen my en my bure se grensmuur sypel.”

Sy het dit by die metroraad aangemeld.

Toe sy die volgende oggend wakker word, was haar erf ’n vuilput.

“Ons was amper kniediep in die crap,” sê sy.

“Ek kan nie vir jou die reuk beskryf nie. Dit slaan jou asem weg, dit maak jou naar. Niemand, nie eens die honde nie, kan buitentoe gaan nie en jy moet al jou vensters toehou.”

Ten spyte daarvan dat Schutte die probleem reeds die vorige dag aangemeld het, het die Ekurhuleni-metroraad se werkers eers die middag opgedaag om die verstopte pype oop te maak. Haar grasperk was eers laataand weer sigbaar.

Ons was amper kniediep in die crap.
Rioolvuil vloei deur ’n sloot wat die Ekurhuleni-metro gegrawe het om oortollige rioolvuil in Bonaero Park te herlei.

“Ons moes egter die oorblyfsels van die rioolwater opruim,” vertel sy.

Sy sê Ekurhuleni het aan hulle geen bystand gebied om die erf te ontsmet of skoon te maak nie.

“My grasperk was bedek met die oorblyfsels van menslike uitwerpsels en frummels gebruikte toiletpapier. My ma en die huurder van die kothuis het ingespring en die grasperk met besems skoongewas. Maar jy kan nie al die uitwerpsels verwyder nie. My grasperk het vir weke lank ’n stink, slymerige lagie gehad. Wanneer die son bak op ’n warm dag, het dit steeds gestink.”

’n Paar blokke van Schutte af woon Butch Vernon, ’n pensioenaris.

“Bonaero Park se rioolprobleme is nie nuut nie. Ek het tien jaar gelede hier ingetrek en van dag een af het ons reeds gesukkel.”

Sy eiendom in Aeroparquestraat lê in ’n duik en is die laagste punt in die straat. Wanneer dit reën of die rioolpype verstop raak, word Vernon se erf die opvangsgebied vir al die omliggende eiendomme se gemors en stormwater. Hy beskryf sy buurt as ’n vuilput met ’n konstante stank.

“Kyk hoe lyk die strate!” beduie hy en wys na die mangate. By een sypel rioolvuil uit, ’n ander is besig om te verkrummel en ’n sinkgat te vorm. Ekurhuleni se oplossing hiervoor is om twee verkeerskegels langs die gat te pak. Die straat het plek-plek dik lae gebruikte toiletpapier wat met die tyd saamgepers het in ’n soort papier-maché.

Hy reken hy dien minstens vier tot vyf keer ’n maand ’n klagte in by die metroraad, wat elke keer net ’n tydelike verstelling doen.

Vernon moes al keerwalle by sommige van sy huis se ingange bou sodat die rioolvuil en vuil stormwater nie by sy huis inspoel nie.

Nog ’n jaar in die rioolvuil

Butch Vernon moes keerwalle by sy huis se ingange bou om te keer dat die riool by sy woning insypel.

Bonaero Park se water- en sanitasieprobleme het al in die parlement gedraai. Vanjaar het dit darem gelyk asof ’n lig aan die einde van die tonnel vir die inwoners brand nadat die departement van water en sanitasie in Februarie ingestem het om te begroot vir die omgewing se riool- en waterkrisis.

Beeld het verskeie navrae aan die Ekurhuleni-metroraad gerig oor wanneer die krisis aangepak gaan word.

Die metroraad het egter op nie een van die navrae gereageer nie (lees die kassie).

’n Woordvoerder van die metro het verlede jaar aan die Mail & Guardian gesê die stad het spesialis-konsultante aangestel om die rioolprobleme in die Pomona-, Blaaupan- en Bonaero Park-omgewing op te los. Die rioolopgraderingsprojek sou volgens die woordvoerder in die 2021-’22- finansiële jaar begin nadat ’n watergebruikslisensie en omgewingsimpakstudie goedgekeur is.

Maar nou lyk dit asof die inwoners vir minstens nog ’n jaar met die riool en flodder moet saamleef, aangesien geld vir die projek eers vir die 2022-’23- finansiële jaar geoormerk is, sê die DA in ’n verklaring.

Andre du Plessis, DA-raadslid vir Bonaero Park, meen dis onaanvaarbaar.

Butch Vernon van Bonaero Park wys na ’n gebreekte mangat voor sy huis. Ekurhuleni se oplossing vir die probleem is om twee verkeerskegels langs die gat te pak.

“Die inwoners moes nou al amper ’n dekade lank saamleef met toestande wat hul grondwetlike regte skend en hul gesondheid aantas en benadeel. Sou hulle genoop word om nog ’n jaar te wag, sal Ekurhuleni vir nog ’n jaar die Grondwet, die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en die Nasionale Waterwet oortree.”

Hy is al 20 jaar lank die DA-raadslid vir die buurt.

“Die afgelope dekade is die buurt se riool- en waterkwessies seker een van my grootste kopsere,” vertel hy, terwyl ons op die oewer van “Poo Lake”, die inwoners se bynaam vir die Bonaero Park-vleiland, rondloop.

Die ongelukkige naam is weens ’n lekkende rioolpyp wat deur die vleiland loop en die slote wat die Ekurhuleni-metroraad gegrawe het om rioolvuil op te vang en na die vlei te herlei, verduidelik Du Plessis.

Wanneer die wind draai, klap die klankie jou tussen die oë, Covid-19-masker en al.

Du Plessis reken hy kry minstens twee klagtes per week oor rioolvuil in erwe en strate.

Die vlei was sowat ’n dekade gelede ’n broeiplek vir flaminke, sê Du Plessis.

Die swerms watervoëls wat jaarliks hier kom broei het, is nou vort. Pleks van pienk, is daar nou net ontlasting.

Gereelde pendelaars op Atlasweg sal die spikkels ligpienk onthou wanneer ’n mens verby die vleiland gery het.

Nou is dit toegegroei met riete en ander indringerspesies en die voëllewe het weggekwyn, behalwe vir ’n paar Indiese spreeus en ’n eensame hadida wat van ’n kragpaal snater.

So lyk dit wanneer jou erf met rioolvuil oorspoel word. Leana Schutte het in November dié foto van hul bure se huis geneem. Foto: Leana Schutte

“Die oorspronklike rioolpypleiding het reeds ’n dekade gelede probleme begin gee omdat dit oud en verweer was. Die pypleiding het om die vleiland geloop. Die pype het ook gelek en daar het talle afvalstowwe tot in die pype gesypel wat dan na ’n pompstasie sowat ’n kilometer van die vlei af weggevoer is.

“Die pompstasie kon egter nie al die ekstra afval hanteer nie en sou dan uitbrand.”

Du Plessis sê die Ekurhuleni-metro het tenders gevra vir ’n nuwe rioolpypleiding, wat in 2011 gebou en voltooi is.

Die pype is egter onder die vlei aangelê. Volgens du Plessis het die projek Ekurhuleni sowat R2,8 miljoen gekos.

“Die konstruksiemaatskappy het egter nie die regte boortoerusting gehad om ’n pypleiding in dié tipe terrein aan te lê nie. Die pypleiding is voltooi met verskeie mangate, maar het byna dadelik nadat dit voltooi is, probleme begin gee.

“Dit het verstop geraak, gekraak en rioolvuil het by die vleiland ingesypel.”

Omdat daar ook ’n konstante oorvloei van rioolvuil van ander gebiede in die buurt is, gebruik Ekurhuleni die vlei as ’n stortingsterrein vir rioolvuil en stormwater.

Hy wys die slote wat van die pad na die vlei gegrawe is, wat ook veronderstel is om enige rioolvuil op te vang en na die vlei te herlei.

“Ek kan nie dink dat dit enigsins wettig is nie,” sug hy.

Wat sê die wet?

Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne en ’n kenner van omgewingsreg, sê dat die Nasionale Waterwet watergebruik reguleer en die Waterdienstewet water- en sanitasiedienste.

Een probleem wat in die Na­sionale Waterwet uitgelig word, is die storting van afval, wat rioolvuil insluit, wat ’n waterbron soos ’n rivier of ’n vleiland kan besoedel, sê hy.

“Jy mag dit eenvoudig nie doen nie.”

Wat in Bonaero Park aangaan, klink vir hom soos ’n besliste oortreding van albei wette, asook die Nasionale Omgewingsbestuurswet.

Daar is ook geen munisipale verordeninge wat voorsiening maak om van rioolvuil ontslae te raak deur slote te grawe by ’n vleiland en dan van die rioolvuil in die vleiland te stort nie, sê Rabie.

Daar is nie ’n tekort aan wetgewing nie, maar toepassing skiet ver tekort.

“Die moontlike uitsondering is noodsituasies – soos die riool wat nou by die mangate uitborrel en die eiendom of die inwoners kan benadeel.”

Art. 20 van die Nasionale Waterwet maak voorsiening vir noodstappe, maar dui aan dat die verantwoordelike entiteit dit so gou moontlik nadat hulle van die voorval te wete gekom het, by verskeie owerhede moet aanmeld.

Die verantwoordelike persoon of entiteit moet ook volgens wetgewing alle redelike stappe doen om die uitwerking van die voorval te bekamp of te minimaliseer, skoonmaakprosedures onderneem en die uitwerking van die voorval herstel.

“In ’n noodsituasie mag daar stappe gedoen word – maar dit moet tydelike stappe wees – om seker te maak die situasie bedreig nie die biodiversiteit van die natuurlike waterhulpbron nie,” sê Rabie.

Hy meen egter Bonaero Park se probleme, wat die inwoners nou al amper ’n dekade hoofbrekens besorg, klink nie soos ’n noodgeval nie en die owerhede kon al verskeie stappe gedoen het om die probleem op te los.

Jy mag ook nie jou eie nood­situasie skep nie.

“Daar is wat my betref ook ’n ooglopende oortreding van die sorgsaamheidspligte wat deur die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewingsbestuurswet voorgeskryf word.

“Veral laasgenoemde wet bevat duidelike en swaar strafbepalings.

“Daar is nie ’n tekort aan wetgewing nie, maar toepassing skiet ver tekort,” meen hy.

Ontwikkeling sonder insae

Die vleigebied en lekkende rioolpypleiding is egter nie die enigste probleem vir Bonaero Park se inwoners nie.

Die Gautengse regering het onlangs ook verskeie nywerheidsontwikkelings reg langs Bonaero Park goedgekeur.

Hul nuwe bure sluit in ’n voedselverwerkingsfabriek, ’n meubelvervaardiger en ’n juwelevervaardiger.

Du Plessis sê die metroraad het nie voldoende water- en sanitasie-infrastruktuur aangelê om die nywerhede te akkommodeer nie.

Die fabrieke plaas ook nou ekstra druk op Bonaero Park, hoofsaaklik ’n residensiële area, se reeds verouderde riool- en waterinfrastruktuur.

Wanneer die rioolpype verstop raak, sal daar saam met die riool ook afsnysels van groente ronddryf, sê Vernon moedeloos.

Ek voel vasgevang. My eiendom is niks werd nie, want niemand wil ’n huis in ’n rioolput koop nie.

Deon Aspeling, ook ’n inwoner van Bonaero Park, is vies omdat hy reken die inwoners kon nooit hul insae gee oor die nywerheidsontwikkelings nie.

“Ek het verskeie petisies opgestel en handtekeninge van inwoners gewerf waar hulle hul misnoeë te kenne gegee het.

“Ons het by die supermarkte gestaan om mense bewus te maak van die impak wat die ontwikkelings op hul huispryse en lewensgehalte kan hê.

“Ek verstaan ook nie hoe wetgewing toelaat dat ’n nywerheidsgebied en ’n woonbuurt so na aan mekaar kan wees nie. Daarom maak dit my so kwaad dat van die metroraadslede sê ons kla nou te laat.”

Vernon sê die riool- en watersituasie laat hom heeltemal magteloos voel.

“Ek voel vasgevang. My eiendom is niks werd nie, want niemand wil ’n huis in ’n rioolput koop nie.

“Ons ly duisende rande skade weens die riooloorspoelings. Boonop wil geen versekeringsmaatskappy my verseker nie omdat die risiko te groot is.

“Ek betaal eiendomsbelasting en diensleweringsgeld aan ’n munisipaliteit wat net ons geld vat en hulle nie aan ons steur nie,” sê hy, sy stem dik van frustrasie en hulpelose woede.

Carla Lewis is 'n senior redaksielid van Beeld. 


Die volgende vrae is aan Ekurhuleni gerig:

Beeld het reeds op 23 Februarie per e-pos navrae aan Zweli Dlamini, Ekurhuleni se hoofmediabeampte, gestuur met ’n spertyd van sowat ’n week om kommentaar oor Bonaero Park se water- en rioolkrisis te lewer. Dlamini het ontvangs van die e-pos erken en sy twee kollegas Solly Mashabela en Agnes Masilo versoek om kommentaar te lewer.

• Wie se besluit was dit om slote na die vleiland in Bonaero Park te grawe om die oortollige riool daarna te herlei?

• Is daar enige omgewingsimpakstudies gedoen om die impak van die rioolwater om die vleiland en sy biodiversiteit te bepaal?

• Is daar onlangs enige toetse gedoen om die gehalte van die water en die teenwoordigheid van moontlike skadelike patogene te bepaal? Indien wel, is dit moontlik om toegang tot die verslae te kry?

• Wie was die maatskappy wat die tenderkontrak gekry het in 2011 om die rioolpyp deur die vleiland op te rig?

• Daar is bewerings dat die maatskappy nie die nodige kundigheid of toerusting gehad het om die pyp te bou nie. Is daar al enige ondersoeke van stapel gestuur oor hoe die tenderkontrak toegeken is en is die kontrakteurs genader om herstelwerk te doen?

• Is daar is ’n spesifieke datum geoormerk wanneer die rioolstelsel en waterprobleme se opgradering gaan begin?

• Hoe staan die Ekurhuleni-munisipaliteit die inwoners van Bonaero Park by om hul blootstelling aan rou riool en skadelike patogene te verminder?


Meer oor:  Kempton Park  |  Rioolvuil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.