Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die man wat nie wil dans nie

Die Britse rockgroep Pink Floyd se ‘The Wall’ is een van daardie albums waarvan alle ware rockliefhebbers veronderstel is om te hou, maar hy luister baie eerder na Abba, skryf Desmond Painter.

Roger Waters tydens Pink Floyd se The Wall-toer in 1980 in Londen. Foto’s: Getty Images

Op 30 November 1979 – verlede maand presies 40 jaar gelede, is Pink Floyd se 11de langspeelplaat, The Wall, uitgereik.

Dit is een van daardie albums waarvan enige rockliefhebber veronderstel is om te hou. Jy hoef nie te verduidelik hoekom nie, ’n blote goedkeurende verwysing daarna is genoeg om jou te onderskei van die gewone pop-gepeupel.

Dit is immers Pink Floyd van wie ons praat, verskaffers van ernstige musiek. Benewens eksistensiële temas en slim kultuurkritiek, is hulle ’n rockgroep wat uitgesponne konsep-albums opgeneem het en soms ironieloos daarna verwys het as “rock-operas”.

Selfs die grote Bob Dylan, darem ’n Nobelpryswenner vir letterkunde op sy dag, het op ’n keer na homself verwys as bloot ’n “song and dance man”. Ek glo nie dit is woorde wat jy ooit uit Roger Waters, destyds Pink Floyd se voorste kultuurdier, se mond sal hoor nie.  

Ons het ‘The Wall’ te danke aan die feit dat Roger Waters ’n eersteklas poephol is.

Die konsep waarom The Wall gebou is, spruit inderdaad uit die spanning tussen die populisme van rock as ’n musikale en kulturele idioom, wat in die 1970’s nog in hoogbloei was, en Pink Floyd se hogere intellektuele en kulturele ambisies. Waters het destyds toenemend geïrriteerd geword met die skynbare hedonisme van sy gehore. Hulle het konserte bygewoon en, eerder as om aandagtig na sy filosofiese gemymer en musikale eksperimente te luister, hulle kommin gedra deur dinge te doen soos bier te drink en te lag.

Rogers het begin fantaseer daaroor om ’n muur te bou tussen hom en sy gehoor, sodat hy sou kon optree sonder om hulle te sien. In 1977 het hy een aand sy moer heeltemal gestrip en in ’n lid van die gehoor se gesig gespoeg. Dink daaraan. Ons het The Wall te danke aan die feit dat Roger Waters ’n eersteklas poephol is.

Maar uit slegte maniere is kuns toe wel gebore. The Wall vertel die storie van ’n beroemde maar lewensmoeë rockster, Pink, wie se toenemende isolasie, wat deels eksistensiële krisis is en deels psigiese ineenstorting, gesimboliseer word deur die bou van ’n muur. Die depressiewe en onstabiele Pink kyk terug op sy lewe, ná die dood van sy pa in die Tweede Wêreldoorlog, sy grootwordjare met ’n enkelouer-ma, sy ervaring van ’n verdrukkende skoolsisteem, ’n ontroue lewensmaat, die eksesse van ’n rock ’n roll-leefstyl, ensovoort: ’n Reeks traumas wat telkens nog ’n baksteen in die muur word wat hy rondom hom bou.

“We don’t need no education...” The Wallse kulturele en selfs politieke resonansie kan wel nie onderskat word nie.

Met die muur voltooi, bevind Pink homself geestelik afgetakel en vasgevang in ’n nihilistiese wêreld van seks, dwelms en rock ’n roll, een waarin sukses en die roem wat dit bring self ook bydra tot die vervreemding wat deur die muur gesimboliseer word. Pink se wêreld word een van hallusinasies, projeksies en donker politieke fantasieë. Hy verbeel homself as ’n Fascistiese diktator wat neo-Nazi-byeenkomste toespreek en uitvaar teen swart mense en gays. Uiteindelik, depressief en op die rand van volslae waansin, word hy oorweldig deur skuldgevoelens, word kritiese selfbesinning moontlik, en begin hy die muur rondom hom afbreek.

Dit is ’n boeiende verhaal, en veral interessant omdat dit duidelik nie net op Waters se eie ervarings as jong man in die ná-oorlogse Engeland en as wêreldberoemde rockster geskoei is nie, maar ook op die lewe van Syd Barrett, die voormalige stigterslid wat die groep in 1968 verlaat het ná ernstige dwelmmisbruik en geestesongesteldheid.

Pink Floyd het in die jare nadat Barrett die groep verlaat het, dikwels eer betoon aan hom. Die beste voorbeeld is sekerlik die negedelige komposisie “Shine On You Crazy Diamond” uit 1975. The Wall verteenwoordig nog ’n poging om sin te maak van die tragedie van Barrett se lewe, en om dit deel te maak van die groep se eie mitologie.

Maar Waters het nooit beoog dat The Wall bloot ’n besinning oor sterstatus, dwelmmisbruik en waansin moes wees nie. Dit is eerder ’n poging tot maatskaplike kritiek op hoe die individu uitgelewer is aan outoritêre stelsels, kulturele standaardisering en liefdeloosheid, en hoe hierdie dinge bydra tot psigiese vatbaarheid vir fascisme op die politieke toneel. Dit is nie net as individue dat ons mure om onsself bou nie. Dit is ook en veral in groepsverband dat ons mure bou om ander uit te sluit – en, dikwels, uit te wis.

Syd Barrett het die groep in 1968 verlaat ná ernstige dwelmmisbruik en geestesongesteldheid.

The Wall se kulturele en selfs politieke resonansie kan nie onderskat word nie. Benewens die feit dat dit vir 15 weke heel boaan die Billboard Top-100 geboer het en wêreldwyd een van die grootste verkopers van alle tye is, het veral een van die treffers op die album, “Another Brick in the Wall, Part 2”, ’n soort politieke lewe onafhanklik van die tematiek van die album verkry. Toe dit in Suid-Afrika as strydlied in protesoptogte teen apartheid opgeneem is, in die tyd van “Liberation before education”, het die staat dit summier verbied. “We don’t need no education” en “Teacher, leave those kids alone!” het politieke slagspreuke geword en die versinnebeelding van rock as ’n vorm van jeugdige rebellie. En nie net in Suid-Afrika nie.

Waters het hierdie resonansie deur die jare gemelk vir al wat dit werd is. As solokunstenaar, nadat hy Pink Floyd in die middel 1980’s verlaat het, het hy The Wall toegeëien as sy eie en meer as een suksesvolle konserttoer daarmee onderneem. Waters het The Wall inderwaarheid die skyn-relevansie van ’n politieke manifes gegee, ’n soort vooraf bereide analise van en protes teen enige vorm van fascisme, waar dit ook al voorkom. Duitsland, Israel, die VSA: As daar ’n muur is, letterlik of metafories, staan Rogers gereed om The Wall te hersirkuleer.

Dit is op ’n manier nie veel anders as Elton John se bywerking destyds van “Candle in the Wind” om, naas Marilyn Monroe, sommer ook vir prinses Diana te huldig nie.

Nee, ek was nog nooit ’n groot aanhanger van Pink Floyd nie, en veral nie van Roger Waters nie. Ja, die klassieke album The Dark Side of the Moon. Ja, die oorrompelende liedjie “Wish You Were Here”. Ek hoor jou. Daar is baie om van te hou en baie wat inderdaad ook indrukwekkend is in Pink Floyd se katalogus. Dit sou onmoontlik wees om ’n geskiedenis van rock te skryf sonder om by hulle stil te staan.

Tog is dit vir my problematies wanneer ’n rockgroep ’n versamelalbum kan uitgee met die titel A Collection of Great Dance Songs – wat so voor die hand liggend ironies bedoel word. Pink Floyd is te dikwels rock sonder die roll. Hulle wil nie dans nie, en hulle wil nie hê jy moet dans nie. En Roger Waters se vingerswaaiende politieke beterweterigheid is dikwels net te veel.

Op ’n manier verkies ek Pink Floyd se tydgenote Abba, selfs al is dit dan net uit ’n domastrante behoefte om weerstand te bied teen die swaarwigtigheid en selfbelangrikheid van albums soos The Wall. Want hoe “interessant” dit ook al is, en al is dit ook nou intussen verwerk tot ’n regte egte opera, vind ek dit vandag tog ’n ongelyke album. Ja, daar is meer as ’n handvol ordentlike liedjies op hierdie album; maar daar is ook meer as ’n handvol wat, alhoewel hulle die narratief ondersteun, musikaal halfgebak is.

* Prof. Desmond Painter is verbonde aan die departement sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.