Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die mensdom: Een groot familie

In ’n reuse-moerasland van ’n oer-Zambezi het moderne mense 200 000 jaar gelede floreer, skryf Elsabé Brits.

Prof. Vanessa Hayes, ’n genetikus, saam met die lede van die Ju/’hoansi-stam van die Koisan. Foto: Chris Bennett, Evolving Picture

Almal van ons is dalk een groot Suider-Afrikaanse familie. Dit weet ons nou danksy die oudste moeder- stamboom op aarde wat pas deur ’n span internasionale deskundiges – waarby heelparty Suid-Afrikaners ook betrokke was – voltooi is.

Die resultate van dié studie, wat onlangs in die vaktydskrif Nature gepubliseer is, wys vir die eerste keer ’n gebied in Sentraal-Botswana en rondom die Zambezirivier uit as die oer-“tuisland” waar almal van ons se voorouers eens gebly het voordat hulle daarvandaan na die uithoeke van die aardbol gemigreer het.

Wat die navorsing egter besonder interessant maak, is dat die wetenskaplikes nie tot dié gevolgtrekking gekom het deur die argeologiese opgrawing van klipwerktuie en fossiele nie, maar deur na die DNS van lewende mense te kyk – en spesifiek na die genetiese spoor wat ons oermoeders in almal van ons agtergelaat het.

Akademici verbonde aan die RhodesUniversiteit, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Limpopo het almal aan die internasionale studie deelgeneem.

‘Ons werk gaan oor lewende mense en hul voorsate.’

Prof. Vanessa Hayes, ’n genetikus aan die Garvan-instituut van Mediese Navorsing en die Universiteit van Sydney, verduidelik dat hul navorsing toon dat anatomies moderne mense reeds 200 000 jaar lank ononderbroke in die suide van Zambië en Sentraal-Botswana bly. Dié gebied, rondom die bolope van die Zambezi- en Kafue-rivier en die huidige Okavango-delta, was 200 000 jaar gelede alles deel van ’n reuse-moerasland (wat destyds ook ’n veel natter Makgadikgadi-soutpan ingesluit het) wat mens en dier kon onderhou.

In dié Eden het ons voorouers 70 000 jaar lank gelukkig en ongestoord hul lewe geslyt voordat die eerste groepe 130 000 jaar gelede na die noordooste van Afrika gemigreer het. Toe, 110 000 jaar gelede, is nog ’n groep na die suidweste, al langs die Weskus af. Van die mense het egter in die oorspronklike “tuisland” – die groter Kalahari – agtergebly waar hul nasate vandag steeds woon.

Maar hoe weet ons dit? Wat is daar in ons gene wat verklap waar ons vandaan kom?

Dit het alles te make met genetiese materiaal wat mitochondriese DNS (of mDNS) genoem word. DNS is ’n molekule bestaande uit twee “kettings” wat saam ’n dubbelheliks vorm. DNS hou die “kode” van alle lewe, en hoe die kode gerangskik is, bepaal of jy ’n slang of ’n boontjie, so lank soos Eben Etzebeth of so blond soos Faf de Klerk is.

mDNS is dié DNS wat ’n ma aan al haar nasate – sowel haar seuns as haar dogters – oordra. En deur mDNS te bestudeer, kan genetici agterkom waar ons vandaan kom.

Dink daaraan as ’n proses soortgelyk aan Hansie en Grietjie wat stukkies brood gooi om weer hul pad terug te vind huis toe. Anders as in die sprokie, verdwyn mDNS egter nooit. Genetici kan dus “terugstap” in tyd en dié genetiese inligting (die broodkrummels) op die genoom (die paadjie) vind.

“Omdat veranderings op mDNS baie, baie stadig met die verloop van tyd gebeur, is dit soos ’n tydkapsule, ’n molekulêre horlosie van ons oermoeders,” sê Hayes. Sekere klein mutasie van die mDNS is ’n aanduiding van waar jou oermoeder gebly het en hoe lank gelede sy daar gebly het.

Die oudste, bekende moeder-stamlyn van die mens wat steeds naspeurbaar is, word L0 genoem. (Daar kon dalk vroeër ander gewees het, maar dan het dit intussen uitgesterf.)

Dié stamlyn is vandag hoofsaaklik te vind onder die Koisan. So ’n stamlyn word ’n haplotipe genoem en is ’n aanduiding van jou oer- genetiese herkoms. Deur haplotipe en die klein mutasies van dié genoom te bestudeer kan genetici ook afleidings maak oor jou herkoms en jou voormoeders se migrasie-patrone.

Volgens een van die hoofnavorsers van die studie, dr. Eva Chan, is een van die groot deurbrake van die huidige studie dat hulle die tydraamwerk van die L0-haplotipe nou veel verder kan “terugstoot” – tot ongeveer 200 000 jaar gelede. Dit beteken dat anatomiese moderne mense met dié haplotipe tussen 25 000 en 50 000 jaar vroeër in Suider-Afrika rondgeloop het as wat eers gemeen is.

Hulle het oorleef sodat ons kan leef; dis in ons gene.

Wetenskaplikes het lank reeds dié haplotipe gekoppel aan ’n spesifieke streek, die huidige Kalahari-kom in Sentraal-Botswana, maar nou weet ons ook hoe lank ons voorouers hier gebly het voordat hulle noord- en suidwaarts begin migreer het.

Chan verduidelik dat die studie gedoen is deur 1 217 mense uit Suider- en Oos-Afrika se mDNS te bestudeer. Dit is gedoen deur bestaande monsters asook 198 nuwe bloedmonsters te versamel van mense wat almal aan dieselfde L0-haplogroep behoort – dit wil sê die L0-haplotipe en al sy mutasies.

Deur die data te ontleed en te kyk na die verspreiding van die L0-haplotipe en sy geringe mutasies onder die inheemse bevolkings van Suider-Afrika, kan genetici ’n vollediger evolusionêre stamboom van die moderne mens bou.

Op dié manier kan hulle ook nou bereken waar – en wanneer – die oerbevolking van een streek na ’n ander gemigreer het.

’n Konsentrasie van die L0a-mutasie onder die huidige inwoners van Oos-Afrika is ’n aanduiding van hul verwantskap aan die Koisan (almal mense met die L0-haplotipe) wat vandag nog in Botswana bly en ook ’n leidraad van wanneer hul oermoeders uit die Kalahari padgegee het.

Prof. Riana Bornman, navorser aan die Universiteit van Pretoria se skool vir gesondheidsisteme en openbare gesondheid, sê nog ’n doelwit van die studie was om die omvang van genetiese diversiteit in Suid-Afrika te ondersoek, sodat alle mense in die toekoms ingesluit kan word by genomiese geneeskunde.

“Genetiese diversiteit is die voetspoor van jou verlede, en die verlede voorspel jou toekoms. Dit is nodig dat ons ingesluit word by genomika omdat dit steeds deur Europa oorheers word.”

Vir die mediese wetenskap is hierdie inligting belangrik omdat dit dokters help om die verspreiding van genetiese oorerflike siektes (soos die hoë voorkoms van sommige kankers onder sekere bevolkingsgroepe) beter te verstaan.

Vandag is die oertuisland droog en die droë soutpanne rondom Makgadi­kgadi al getuie van wat vroeër ’n nat en moerasagtige omgewing was – soortgelyk aan hoe die Okavango vandag steeds lyk.

Die rede vir die migrasies, glo die span wetenskaplikes, was ’n verandering in die klimaat.

Prof. Axel Timmermann, direkteur van die IBS-sentrum vir klimaatfisika in Suid-Korea, het tydens ’n aanlyn konferensie verduidelik dat klimaatmodelle van die afgelope 250 000 jaar wys hoe die klimaat in dié tydperk in die oertuisland verander het.

Die stadige waggeling van die aarde terwyl hy om sy as tol, verander oor baie millennia die invloed van die son op sekere gebiede van die aardbol. Op sy beurt veroorsaak dit ’n verskuiwing in reënvalpatrone wat groen korridors open waarlangs hierdie vroeë inwoners van Sentraal-Botswana noord- en suidwaarts begin migreer het – letterlik op soek na groener weivelde.

Die genetiese navorsing word ook ondersteun deur paleontologiese ontdekkings. Paleontoloë begin al geruime tyd vermoed dat die moderne mens veel langer al op aarde is as die 200 000 jaar wat tot onlangs gemeen is.

In Marokko, op die Jebel Irhoud-terrein, is daar in 1960 fossiele opgegrawe wat destyds beskryf is as sowat 40 000 jaar oud en ’n Afrika-subspesie van die Neanderdalmens, ’n nabye familielid van die mens waarvan talle voorbeelde al in Europa gekry is.

Volgens navorsing wat twee jaar gelede in Nature gepubliseer is, en op grond van nóg vondste in dié gebied, glo wetenskaplikes nou dat dié afleiding foutief was. Die Marokko-fossiele was nie Neanderdallers nie, maar die vroegste evolusionêre fase van ons eie spesie, wat tussen 300 000 en 350 000 jaar gelede daar rondgeloop het. Die fossiele verteenwoordig minstens vyf individue wat in ’n grot gebly het. Die klipgereedskap wat met behulp van vuurtegnieke gemaak is, stem ooreen met ander werktuie van die era en op ander terreine.

Maar, maan Hayes, mense moet nie haar span se werk verwar met die ontstaan van die menslike spesie Homo sapiens nie.

Hul werk gaan oor lewende mense en hul voorsate, nie oor uitgestorwe hominiede of mensagtige wesens en fossiele nie.

“Ons maak ook nie aanspraak om terug te gaan na die begin van die mensdom nie, want ons spesie is baie groter as dit, en ouer. Ons werk gaan oor lewende mense en hul voorsate. Ons spesie het ook baie vroeër uit ander spesies ontstaan en ons is baie ouer as 200 000 jaar.”

Gegrond op mDNS weet ons egter dat alle mense verwant is aan mekaar, en in die L0-haplotipe het ons die oudste stamlyn wat in moderne mense oorleef het.

Die navorsing besleg ook uiteindelik ’n jarelange geskil met sommige wetenskaplikes wat meen dat die eerste anatomies moderne mense in Oos-Afrika gewoon het, van waar hulle oor die aardbol versprei het.

“Mense kon nie van Oos-Afrika gekom het nie, want dan het hulle na die suide afgetrek sonder om enige (genetiese) spore van hulself te laat,” sê Hayes.

Uit hul navorsing is dit ook nou duidelik dat die oerbevolking in die Kalahari-kom groot genoeg was om hul genetiese spoor (in die vorm van klein afwykings van die L0-haplotipe) op die res van die kontinent te laat.

“Die mense van Suider-Afrika het ’n aansienlike rol gespeel in die wêreldbevolking van vandag. Dit kan ons nie ignoreer nie en ons behoort opgewonde daaroor te wees,” sê Hayes.

Nou weet ons dat ons oermoeders aan die Zambezi gewoon het. Hulle het oorleef sodat ons kan leef. Dit is geskryf in ons gene.

Meer oor:  Riana Bornman  |  Vanessa Hayes  |  Eva Chan  |  Botswana  |  Menslike Oorsprong  |  Genetiese Spoor  |  Zambesi  |  Navorsing  |  Genetika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.