Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dié met mag en geveerde neste

Behoort ’n mens  gedwing te word om belasting te betaal aan ’n diefagtige staat, wonder Koos Malan.

Bande wat brand – ’n algemene gesig by betogings in Suid-Afrika. Foto: Sharon Seretlo

‘Geregtigheid wat ontneem word, wat anders is koninkryke as grootskaalse rowery? Maar is rowery nie dieselfde as klein koninkryke nie?” – Augustinus (354-430 n.C.), De civitate Dei Boek I

Regerings kan nie sonder meer op burgerlike onderdanigheid reken nie. Hulle verdien ook nie sonder meer burgerlike bereidwilligheid om belasting te betaal nie. Selfs al is belastingwetgewing kragtens die voorgeskrewe proses verorden en in ’n vorm vervat wat al die eienskappe van wetgewing en dus van geldende reg vertoon, kwalifiseer dit nie noodwendig as moreel-gegronde reg wat op die burgery se gehoorsaamheid aanspraak kan maak nie.

Regerings moet in die openbare belang van alle individue en groepe regeer. Dit is die kern van grondwetlike regering en politieke legitimiteit. Versuim regerings om dit doen, is hulle nie meer egte regerings nie en verbeur hulle hul aanspraak op openbare gehoorsaamheid.

Wanneer 'n oënskynlike regering slegs tot sy eie materiële en dergelike voordeel en die van ’n beperkte kring van meelopers optree en die res uitbuit, uitsluit en benadeel, is hy ’n oligargie. Dit is die verderflike soort regime wat Aristoteles (onder meer in Boek 3.7 van sy Politeia) en talle regs- en politieke denkers daarna verdoem het.

Oligargie

Die begrip oligargie is in die huidige Suid-Afrika besonder ter sake, want die ANC-regime is wesenlik oligargies. Ingevolge sy eie beleidsdokumente matig die ANC vir homself buitensporige mag aan en verryk homself en sy ingewyde kring van kornuite.

Hy bedryf enersyds ’n omkoopokrasie deur 'n breë spektrum van groeperings se verkiesingsteun met die verskaffing van voordele te koop. Andersyds het hy miljoene armes met toelaes aan afhanklike onderdaanskap uitgelewer en sodoende ook hul verkiesingsteun verseker.

Terselfdertyd beoefen hy 'n politiek van rassesolidariteit waardeur hy die verhouding tussen homself en sy grootliks swart steunbasis versterk. Dit doen hy deur die skuld vir sy mislukkings te pak op die wit minderheid, witmonopoliekapitaal en dergelike sondaars om sodoende van die verantwoordelikheid vir hul eie vergrype en mislukkings te probeer ontkom.

Geld is die lewensbloed van hierdie oligargie. Die regime gebruik sy bevoegdheid om ? standhoudende stroom geld, genaamd belasting, te verseker om sy oligargie te onderhou.

Magsaanmatiging

Volgens sy herhaaldelik verklaarde ideologie van transformatisme (soos beliggaam in die nasionaal-demokratiese revolusie), soos herhaaldelik uitgespel in sy “Strategy and Tactics”-beleidsdokumente, wil die ANC in beheer wees van alle hefbome van mag: Die wetgewer, uitvoerende gesag, regbank, hoofstuk 9-instellings, die staatsdiens, instellings van openbare diensverskaffing soos Eskom, Transnet, die weermag, polisie, professionele instellings en opvoedkundige instellings. In 2012 is die private sektor tot hierdie lys gevoeg.

Geld is die lewensbloed van hierdie oligargie.

Alle instellings moet gevolglik staatsdepartementaliseer en onder die beheer van die ANC-kaders geplaas word. Representivity (verteenwoordigendheid) vervul hierin ’n sleutelrol. Die oogmerk is dat alle georganiseerde sfere verteenwoordigend van die nasionale bevolkingsprofiel moet wees. Dit sal sorg dat alle sfere met inbegrip van die pas vermelde instellings en sfere, swart en onder swart beheer is. Daar is meer as 70 wette waarin die representivity-beginsel in bykans elke sektor van die samelewing afgedwing word. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die beginsel in 2013 só onomwonde met betrekking tot aanstellings op die regbank onderskryf dat hy verklaar het dat selfs meriete daarvoor moet swig. Oudregter Johann Kriegler het dit tydens ’n lesing by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) dus heeltemal gelyk dat representivity die be all en die end all-beginsel van die huidige orde geword het.

Weens kaderontplooiing moet dit juis uitgesoekte swart mense wees wat hiervoor aangewend word, naamlik lojale kornuite van die ANC. Die huidige voorsitter van die ANC en minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, het dit by herhaling bevestig. Kaderontplooiing is dus nie ’n eienskap van enige bepaalde faksie van die ANC nie, maar inherent aan die ANC as sodanig. Dit is deel van transformatisme.

Selfverryking en kaderbevoordeling

Tipies oligargies is selfverryking ’n wesenskenmerk van die ANC-regime. Een van die hoofdoelwitte is daarom juis dat politieke mag vir selfverryking gebruik word. Dit geskied langs drie weë:

  • Eerstens deur regstreekse toegang tot die staatskas – ons belastinggeld;
  • Tweedens, deur gunslone – omkoopgeld – te ontvang vir die toestaan van staatskontrakte;
  • Derdens deurdat ANC-politici en staatsamptenare sommer self teen buitensporige pryse met die staat kontrakteer. Dit is ’n wydlopende praktyk waardeur talle ANC-politici, senior staatsamptenare en amptenare van staatsmaat­skappye – die hoofkomponente van die oligargie – hulself verryk.

Omvattende getuienis hieroor is voor die Zondo-kommissie gelewer. Pres. Cyril Ramaphosa self het in Oktober 2019 by geleentheid van die Financial Times Africa Summit in Londen gesê dat korrupsie R500 miljard beloop. Reeds in Januarie 2015 het die Instituut vir Interne Ouditeurs van Suid-Afrika (IIA SA) volgens BusinessTech egter berig dat korrupsie van die voorafgaande 20 jaar reeds R700 miljard beloop het. (Sommige stel dit egter op R1 000 miljard). Die orgie van Covid-19-verwante korrupsie het hierdie bedrag ’n aansienlike verdere hupstoot gegee.

Ivor Chipkin toon enkele weke gelede in ’n verslag van die Government and Public Policy (Gapp)-dinkskrum waaroor breedvoerig in die Daily Maverick berig is dat die ANC nou wesenlik uit die strydende elite bestaan wat twis oor mag en geld – en dat die aanwending van belasting vir die ANC ’n middel geword het om aan die mag te bly klou.

Die regstreekse groeiende aanslag teen private eiendomsreg word nou die vierde middel van selfverryking.

C-BEE

Swart ekonomiese bemagtiging vertoon dalk legitiem wanneer dit aan die hand van sy volle naam beoordeel word, naamlik broad-based black economic empowerment (B-BBEE). Hierdie volle naam is egter bedrieglik, want dit is vals dat bemagtiging breed tref en groot getalle swart mense daarby baat.

Inteendeel, B-BBEE behels, soos Wil­liam Saunderson-Meyer dit onlangs in Politicsweb saamvat, in werklikheid C-BEE oftewel Comrade-Based Economic Empowerment. As sodanig is dit bloot ’n bestanddeel van die oligargie, waaruit slegs ’n minuskule fraksie van ANC-politici, kader-amptenare en skyn-sakelui voordeel trek.

Die “sakelui” verryk hulself deur teen uitspattige pryse met die staat te knoei-kontrakteer en betaal gunslone aan regime-politici en kader-amptenare wat die kontrakte aan hulle toeken. Só koop die regime die lojaliteit van sy meelopers en hou hulself aan bewind en in beheer van die staat se geldkoffers. Die Zondo-kommissie het male sonder tal hiervan verneem. Gewone mense – wit en swart – wat nie naby die regime beweeg nie, is daarvan uitgesluit. Van breedtreffende bemagtiging is daar geen sprake nie.

Dit kom natuurlik teen ’n prys, naamlik die belastings wat die publiek moet opdok om die gewoonlik buitensporige pryse van sogenaamde bemagtigingskontrakte te finansier. Dit kom ook teen die prys van die swak dienste wat dikwels voortspruit uit die kontrakte met die C-BEE-kontrakteurs. Die verval van die Johannesburgse metro is waarskynlik die omvattendste voorbeeld hiervan.

‘Affirmative action’

Soos B-BBEE vertoon regstellende aksie ook ’n oënskynlike legitieme etiket, want regstellende aksie moet mos vir die eertydse diskriminasie vergoed.

Regstellende aksie het egter lankal omgesit in ’n oligargiese praktyk. In die naam van regstellende aksie is die staatsdiens met lojale ANC-kaders bevolk wat nie geskik is vir die poste waarin hulle aangestel is nie. Uitermate druk word op die amptenare geplaas wat wel bekwaam is, maar wat net nie kan vergoed vir die brouwerk van die hordes onbekwame en lakse kaders nie.

Die ANC het die staatsdiens boonop met derduisende onnodige aanstellings tot ’n logge liggaam vergroot. Bowendien is staatsdiens-salarisse met rasse skrede verhoog – hoër as vergelykbare poste in die private sektor. Gevolglik word ’n buitensporige persentasie van die staat se begroting vandag deur die staatsdiens opgeslurp – drie maal soveel byvoorbeeld as lande soos Rusland, Brasilië en Nigerië.

Van breedtreffende bemagtiging is daar geen sprake nie.

R.W. Johnson het gepas hierna as Suid-Afrika se verorberende burokratiese regime verwys.

Vanuit die ANC se oligargiese hoek is kaderontplooiing doelmatig. Dit vorm deel van die omkoopokrasie waarmee die ANC hierdie amptenare omkoop, wat hom – die ANC – opeenvolgend in verkiesings staande hou.

Weer eens kom dit teen die hoë prys van belastings om hierdie logge en geldverspillende liggaam te finansier en sodoende by te dra om die oligargie te stut.

Toelaes

Daar is fraaie bepalings in die Grondwet wat voorsiening maak vir sosio-ekonomiese regte en die howe het herhaaldelik ewe mooi woorde hieroor gesê. Nadat die getal mense wat toelae ontvang in die 2004-’05-boekjaar vaart begin kry het, ontvang 18 290 592 oftewel 32% van die bevolking volgens inligting wat die departement van maatskaplike ontwikkeling vroeër vanjaar verstrek het en waaroor BusinessTech berig het, tans staatstoelae.

Hierdie toelae vertel oënskynlik die weldadige verhaal van ’n versorgende staat. In werklikheid is die verhaal treurig. Dit skets die erbarmliker verhaal van stygende werkloosheid, wat in die tweede kwartaal vanjaar volgens die eng definisie die rekord van 32,6% bereik het.

Dit is hoofsaaklik te wyte aan ’n onverstandige ekonomiese beleid, wat ekonomiese vertroue verwoes het. Mense behoort as deel van ’n gesonde ekonomie selfversorgend te wees – te werk en sake te doen. Ekonomiese selfstandigheid skep boonop onafhanklike gesindhede en maak van mense werklike burgers eerder as staatsafhanklike onderdane wat op versorging aangewese is.

Oligargies beskou, is toelaes vir die ANC verkieslik, want dit laat hom sorgsaam lyk en maak mense staatsafhanklik, waardeur die toelae-ontvangers tot herhaalde ondersteuning vir die ANC in opeenvolgende verkiesings gekoop word.

Weer eens gebeur dit teen die prys van belastings waarvoor belastingbetalers moet opdok om te vergoed vir dwase ekonomiese beleid en voortspruitende werkloosheid. En die groeiende toelaes waarvoor die belasting moet finansier, dra natuurlik by om die oligargie te stut.

Onderdanigheid en belasting

Die bedeling wat oor die afgelope dekades onder die beheer van die ANC gevestig is, handhaaf slegs die skyn van demokrasie, soos dat die ANC in verkiesings in die kussings gehou word. In werklikheid is die bedeling oligargies. Die ANC hou die oligargie in stand deur 'n breë spektrum van ondersteuners se bystand met die verskaffing van voordele te koop. Sodoende word die klein knoeiknoets van ANC-ingewydes en -meelopers van politieke mag en geveerde neste voorsien.

Die lewensbloed van die oligargie is die geld wat die regime van die burgery vorder en wat die legitieme etiket “belasting” dra. Die legitimiteit hiervan is egter bedenklik, want belasting in die ware sin van die woord is slegs betaalbaar aan 'n regering wat in die openbare belang regeer.

’n Oligargie egter, soos die ANC-regime wat die land wanbestuur en homself en sy kornuite tot die nadeel van die res verryk, is nie meer ’n egte (staats)regering nie en sy belasting word die voorwendsel vir bates wat onder die sanksie van straf van die burgery afgepers word. Dan doem die oeroue beeld van dieftige bende wat ons teister eerder as ’n daadwerklike regering wat oor Suid-Afrika regeer helder voor ons op.

Verontwaardiging oor die betaling van geld wat as belasting paradeer, is dan geregverdig, want niemand behoort verplig te voel om vir 'n dieftige oligargie borg te staan nie.

* Prof. Koos Malan is verbonde aan die regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.