Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dié mite moet buk vir 6

Hy het na al die redenasies oor lyfstraf geluister en wonder waarom ons steeds dink ons kan die land reg moer, skryf Bun Booyens.

Foto:

My eerste pak slae tuis het ek beleef toe ek nog baie klein was – drie jaar oud, skat ek. Ek onthou net vae grepe.

Ons het pas na ’n huurhuis op die dorp getrek. Een middag het my broer Martin, twee jaar ouer as ek, in paniek van die straat af die huis in gevlug en met die trappe op na ons kamer toe geskarrel. ’n Paar sekondes later het ’n vrou wat ek nie geken het nie by die huis ingestorm agter hom aan. Ek is agterna om te kyk wat gaan aan.

Bo in die kamer het Martin onder die bed ingekruip om te skuil. Die vrou het met haar arm gevoel-voel, hom aan die been beetgekry en daar uitgesleep. Sy het op die bed gaan sit, hom oor haar skoot getrek en net daar met die plathand ’n pak slae gegee.

Die hele episode was vreemd vir my, want Martin was oor die algemeen ’n gehoorsame kind en ek het nog nooit voorheen iemand sien pak kry nie, allermins deur ’n wildvreemde vrou.

Die volle verhaal het later uitgekom. Martin en twee van sy nuwe vriende, Bugs en Jieks, het buite die huis gesit en gesels en hulle het glo vir hom gesê die lekker ding van hierdie buurt is dat jy karre met klippe kan gooi.

Toe daar ’n motor aankom, het hulle elk ’n hand vol gruisklippe opgetel. Die res kan jy raai. Op die telling van drie het Bugs en Jieks nié gegooi nie en gevlug. Martin het wel gegooi.

Ek onthou eintlik net een pak slae wat ek by my pa gekry het. Toe ek vyf was, het ons na ’n studentekoshuis getrek, waar my pa die koshuisvader geword het. Ek het elke dag oral saamgegaan na waar die studente ook al was – in hul karre gaan “dice” op die Polkadraaipad, koshuisrugby gaan kyk, by hulle op die grasperk gesit wanneer hulle koffie in die vierkant gedrink het. In die proses het ek die f-woord by hulle aangeleer sonder om te besef dis ’n vloekwoord.

Een aand aan die etenstafel in ons kombuis het ek toe vir my oudste broer – ons noem hom vandag steeds Boeta – gesê: “Gee vir my die fokkin jam, Boeta.”

My pa het my na die klein badkamer gevat en ’n beduidende pak slae met een van sy pantoffels gegee. Dis omtrent al wat ek onthou van lyfstraf in ons huis. Niemand het eintlik pak gekry nie, hoewel my oudste broer en suster, albei amper tien jaar ouer as ek, dikwels gesê het: “Toe ons so oud soos jy was, het ons pak gekry as ons gedoen het wat jy nou doen.”

Die afgelope maand het ek omtrent al die redenasies oor lyfstraf tuis gehoor, behalwe dalk een. Miskien was dit destyds nie nodig om my tuis pak te gee nie (buiten nou oor die misverstand met die konfyt), want my twee broers en ouer suster het my in toom gehou – trouens, almal van ons het mekaar, waarskynlik onbewustelik, in so ’n manier beteuel, dat dit nie nodig was vir hulle om in te gryp nie.

Dalk werk dinge tuis ook op daardie “it takes a village”-beginsel, net op ’n kleiner skaal. Net soos die groter gemeenskap ’n stille, dog deurslaggewende rol speel in die grootmaak van ’n kind, vervul jou boeties en sussies dieselfde rol in die huis. Wanneer ’n gesin dan sy ekwilibrium vind, wanneer elkeen sy rol verstaan en die grense vir almal duidelik is, raak lyfstraf deur jou ouers half oorbodig.

Een kerfie vir elke hou. Kort ná die Junie-vakansie was ons liniale vol.

Ek het redelik beskermd grootgeword, maar weet wel dat ’n paar kinders in ons skool erg by die huis pak gekry het. Dit was ook asof daar iets anders – iets groters – daar fout was. Jy het nie dikwels by daardie huise gaan speel nie.

Op skool het ek wel baie pak by die onderwysers gekry.

In st. 5 het ek en Bouwe van der Meulen, die woelige seun van ’n Hollandse immigrant, elke drag slae wat ons gekry het met ’n klein kerfie op ons 30 cm lange hout­liniaal gemerk. Een kerfie vir elke hou. Kort ná die Junie-vakansie was ons liniale vol.

Ek het egter destyds nie veel oor lyfstraf gedink nie. Dis maar hoe dit was. Al wat my ’n bietjie laat wonder het, was hoekom rottanghoue gewoonlik net in gelyke getalle uitgedeel is. Twee, vier of ses houe. Selde een of drie, en nooit vyf nie. Dit was, “Sak vir vier!” of “Sak vir ses!”, nooit vyf nie.

Een ding val my wel nou by: As lyfstraf dan so ’n goeie afskrikmiddel is, hoekom het ons destyds so aanhoudend pak gekry? Hoekom het ons nie ná twee of drie dragte slae ons les geleer nie?

Terug na die huis. Gee ek my drie kinders pak? Nee. Ek en my vrou het die kwessie nooit bespreek of plegtig onderneem om een of ander utopiese, geweld­lose opvoeding na te streef nie. En laat ek sommer dadelik erken ek het min geduld en ’n lae weerstand teen geraas.

Toe ons eerste twee kinders – sussies, twee jaar uit mekaar – nog klein was, het ek ’n Kombi gekoop sodat elk van hulle én hul skaaphond, Piekels, ’n eie, eksklusiewe sitbank kon hê en daar géén verder dispute kon wees oor wie vat wie se plek nie. Stilte sou heers terwyl ons reis. Ek was verkeerd. Die skermutselings in die Kombi het nou net oor ’n groter area gewoed, in so ’n mate dat ek in een befaamde insident in die ry vir my vrou gevra het om die stuurwiel vas te hou omdat ek agtertoe wou klim om die orde te gaan herstel. Sy het my gekeer.

Dit was nie amptelike lyfstraf nie, maar ek het ’n paar blindelingse swaaihoue na agter gemik, met my een hand op die stuur. (Ter versagting, die breekpunt het gekom toe ’n Spur-ballon tussen my en die stuurwiel ingesweef het.)

Ek wil dus nie oor lyfstraf preek nie, want ek is nie ’n kenner of naastenby ’n modelouer nie. Dalk was ek net gelukkig met my kinders, want ek raak dikwels driftig en kwaad – maar selfs dan het ek geen aptyt daarvoor om my kinders te slaan nie.

Een ding wat my wel voor die bors stuit, is die opvatting wat ek deesdae so dikwels teëkom dat ons dinge in Suid-Afrika gaan kan reg moer. Dat ons respek en orde hier kan vestig deur ’n oor-en-weer gebliksem en dat ons só die “dissipline” gaan herstel.

Ek onthou my magtelose frustrasie toe die destydse minister van sport, Fikile Mbalula, met ’n vorige Wêreldbeker-toernooi die Bokke afgesien het met die woorde: “Moer hulle!” En wanneer ek deesdae na die gestamp en gestoot in die parlement kyk en na die skop-skiet-en-donder-praatjies van ons politici luister, wonder ek: Hoeveel van hulle is as kind tuis erg geslaan?

  • Booyens is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Lyfstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.