Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die mites waarin ons glo

George Orwell het gesê die mites waarin ons glo, is geneig om waar te word. Rhynie Greeff kyk na hoe dit gebeur het dat mites soos dié oor William Webb Ellis ons gekoesterde waarheid geword het.

Die Springbokkaptein Siya Kolisi bekyk die Webb Ellis-trofee nadat die Bokke vroeër die maand die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gewen het. Foto: getty images

Ek het êrens gelees ’n verslaggewer se verhouding met ’n politikus is soos dié van ’n hond met ’n lamppaal.

In Maart 2010 het ek dit egter anders ondervind toe ek as mediaverteenwoordiger saamgerits het op oudpres. Jacob Zuma se staatsbesoek aan Brittanje.

Dit was vir my meer asof ek in ’n dieretuinhok was en die politikus ’n besoeker aan die dieretuin.

So was ek en ander media-papegaaie tydens Zuma se seremoniële verwelkoming ingehok op ’n verhogie in die middel van die koninklike Horse Guards-paradegrond om te beloer hoe die legendariese prins Philip en Zuma met stywe lippe en stywe bene linies stywe soldate inspekteer.

Voor die staatsdinee in die Buckingham-paleis besoek ek die banketsaal. Skielik kom koningin Elizabeth onverwags daar aan.

’n Paleisbeampte jaag my en ’n paar ander joernaliste inderhaas na ’n kombuisgang. Daar staan Haar Majesteit 3 m van my af en praat met ’n man. So nou en dan loer sy verby die man na my wat daar ingehok staan. Dit was ’n aardige gevoel om te kyk in die oë van ’n legende wat na mý kyk.

In Downingstraat 10 sit ek en ’n troppie mediagediertes in ’n mediakonferensie. Ek bestudeer premier Gordon Brown se verveelde gesigsuitdrukking terwyl hy luister na Zuma se staccato-uitspraak met daardie klem op onverwagte plekke in elke sin: Dit was. So. Al. Uhm. Kug-kug.Asof. Hy in. Kug-kug. Een woord-sinne. Uhm. Praat.

Allermins die spraakstyl van Nommer 10 se legendariese Winston Churchill.

Sint Joris en sy fantasie-draak

In terme van legendes oorrompel die “Robing Room” in die Britse parlementsgebou my egter. Dis waar die koningin haar vorstelike staatskroon en seremoniële gewaad kry voor sy parlementsittings formeel in die Britse hoërhuis open.

Ek wag weer eens ingehok agter ’n lintversperring vir Zuma se aankoms en verwonder my aan die kunswerke in die Robing Room.

Skielik ondervind ek ’n Monty Python-oomblik, want die kunswerk is absurde fantasie verwyder van die werklikheid. Daar is twee bronsbeelde – “Die Heilige Sint Joris (St. George) wat die Draak Doodmaak” en “Die Heilige Sint Michiel wat Satan Verslaan”.

Sint Joris se embleem van ’n rooi kruis op wit het die Engelse vlag geword, ten spyte daarvan dat Joris in Turkye gebore is, nooit sy voet in Engeland gesit het nie en (sonder om draad te steek) nooit eens ’n draak gesien het nie.

Sint Joris en sy fantasie-draak het onlangs die see van rooi-en-wit in die Jokohama-stadion by die eindwedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi geskep.

Die Robing Room het verskeie reusemuurskilderye van koning Arthur, Camelot, sir Lancelot, sir Tristram en ander ridders van die ronde tafel.

Die legende van koning Arthur word ook uitgestal in 18 uitgekerfde eikehoutpanele.

Hoe amusant is dit dat die Britse monargie en die parlement ’n mitologiese koning met ’n towerswaard vier waarvoor geen bewyse bestaan nie. Engelse heersers – van Hendrik VIII tot koningin Victoria – het net eenvoudig die legende van Arthur en sy Camelot toegeëien vir hul eie doeleindes. En hoekom nie?

Kersvader is ook ’n mite, maar hy verskaf plesier.

Ons almal beleef ons eie waarhede, maar ’n mite is ’n storie wat nie eintlik waar is nie en nogtans ons almal op ’n manier roer. Dis ’n storie wat ons met ons verbeelding verder aan die lewe hou.

Tuinvullis in die kruik?

Dit is soms moeilik om mite van waarheid te onderskei.

Ons almal beleef ons eie waarhede, maar ’n mite is ’n storie wat nie eintlik waar is nie en nogtans ons almal op ’n manier roer. Dis ’n storie wat ons met ons verbeelding verder aan die lewe hou.

Vat nou maar die krieketreeks om die As tussen Engeland en Australië. Dit dateer van 1882 toe Australië Engeland vir die eerste keer op tuisbodem geklop het en ’n koerant, die Sporting Times, hierdie in memoriam geplaas het:

In Affectionate Remembrance of English Cricket, which died at The Oval on 29th August, 1882,

Deeply lamented by a large circle of sorrowing

friends and acquaintances.

R. I. P.

N.B.—The body will be cremated and the ashes taken to Australia.

In 1883 het dames van Melbourne ’n klein terracotta-kruikie met die as van ’n krieket-dwarsbalkie aan die Engelse kaptein, Ivo Bligh, oorhandig — die As.

Tot vandag is dit egter onseker watter as in die kruik is.

In sy boek Feite, flaters, fiksie skryf Anton Prinsloo dat Bligh die kruik laat val, die asinhoud verloor, en toe met sy eie uitgebrande tuinvullis vervang het. Oeps.

Maar, nou ja, soos met Kersvader maak dit nie saak wat waar of nie waar is nie. Elke twee jaar of so is die Engelse en Australiërs in emosionele vervoering oor die reeks om die As en daardie kruikie.

Ellis ‘was a bit of a cheat’

Dit bring ons by rugby en die Webb Ellis-trofee wat die Springbokke in Japan teen Sint Joris se mense gewen het.

Ons het gejuig toe Siya Kolisi die Webb Ellis-trofee in die lug hou, ’n trofee ter ere van die mannetjie wat vir die eerste keer tydens ’n sokkerwedstryd by ’n skool genaamd Rugby met die bal begin hardloop het.

Maar het hy? Daar is twyfel.

Kolisi kon netsowel die Mackie-trofee in die lug hou. Mackie?

In 1876 het Mathew Bloxam, ’n oudleerling van die Rugby-skool, wat nie eens ’n tydgenoot van William Webb Ellis was nie, geskryf dat Ellis in 1824 met die bal gehol het.

Toe sê Bloxam dit was in 1823 en weer later dat dit in 1825 was. Deesdae word 1823 as datum aanvaar maar niemand weet regtig nie, want – fluitjie vir ’n strafskop! – Bloxam was die enigste bron van die storie oor Ellis, wat toe al vier jaar dood was.

Dit was ook 53 jaar ná die insident. (Dis soos iemand wat vandag nuus openbaar oor iets wat by ’n skool gebeur het in 1966.)

Twintig jaar lank was Bloxam se storie so vergete soos ’n stadige senter langs ’n skoppende losskakel.

Tot 1895, toe ’n groep oudleerlinge van die Rugby-skool, Old Rugbeians, besluit om die vae gerug na te vors. Teen daardie tyd het die eindfluitjie nie net vir Ellis nie, maar ook vir Bloxam geblaas.

By gebrek aan getuies het die Old Rugbeians toe oudleerlinge van Ellis se tyd gekontak. Niemand kon vir William Webb Ellis onthou nie, behalwe een ou wat gesê het Ellis “was a bit of a cheat”. En niemand kon ’n gehardlopery met die bal bevestig nie.

Lancelots in Rassie se Camelot

Thomas Hughes, skrywer van die boek oor die Rugby-skool, Tom Brown’s School Days, het met die 1895-ondersoek verklaar dat die eerste bal-hardloper by die Rugby-skool eintlik ene James Mackie was – 15 jaar ná Ellis se 1823-datum.

Ongelukkig is Mackie uit die skool geskors en hy was dus ’n ongewensde rolmodel. Op dié manier het Ellis, ’n beter rolmodel wat ’n predikant geword het, toe die hardloop-eer gekry.

Maar selfs vóór Ellis en Mackie was daar Middeleeuse spele waar hordes ouens met die bal in die hand gehardloop het (met 15 spelers aan ’n kant).

George Orwell het dit opgesom met: “Die mites waarin ons glo, is geneig om waar te word.”

Dís die basis van ons waarheid oor koninklikes, fantasie-ridders, Kersvader en die As-kruikie.

Só het die legendariese mite van William Webb Ellis ons gekoesterde waarheid geword, die trofee ons plesier, en ons Springbokke almal Lancelots in Rassie se Camelot.

  • Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat.
Meer oor:  Glo  |  Waarheid  |  Mites  |  William Webb Ellis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.