Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die mooiste, mooiste maand? Ja, HOOP-maand!

Leer vandeesmaand die simptome van algemene psigiese siektes en herken en erken dit in jou lewensmaat, ’n kollega, of vriende, of ’n niggie, of ’n pa of ma. Of in jouself, skryf Lizette Rabe.

Oktober is amptelik Suid-Afrika se Bewusmakingsmaand vir Psigiese Gesondheid. Foto: iStock

Oktober was nog altyd, in Leipoldt se woorde, ons “mooiste, mooiste maand”. Dis lentetyd, tyd vir ’n nuwe begin. En nou is dit ook amptelik Suid-Afrika se Bewusmakingsmaand vir Psigiese Gesondheid – nie net ’n maand van nuwe begin nie, maar nou ook nuwe HOOP vir almal wat met psigiese siektes saamleef.

Die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid het vir die eerste keer vanjaar Oktober amptelik as Bewusmakingsmaand verklaar –’n teken van hoe belangrik dit geword het dat ons ook vanuit owerheidsweë die stilte en die stigma moet verbreek.

Herken die simptome

Jy het waarskynlik depressie ontwikkel as jy vir langer as twee weke

* hartseer, angstig of “leeg” voel;

* sukkel om te konsentreer, of sukkel om te onthou;

* besluiteloos is;

* moeg en sonder energie is,

* waardeloos, hopeloos, negatief, prikkelbaar en desperaat voel;

en rusteloos voel;

* wanneer niks meer interessant is nie;

* nie kan slaap nie, of sleg slaap, of te veel slaap;

* jy te veel of te min eet; en

* jy selfs al onwillekeurige selfdoodgedagtes ervaar:

* Maak asseblief onmiddellik ’n afspraak met jou huisdokter.

Ja, ons het nog altyd saam met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) op 10 Oktober bewusmaking van die belangrikheid van psigiese gesondheid gekweek. Immers, sonder ’n gesonde funksionerende brein kan daar geen sprake van gesondheid wees nie. Ook die Suid-Afrikaanse Federasie vir Psigiese Gesondheid (SAFMH) het Oktober gebruik om bewusmaking van psigiese gesondheid te kweek. Hulle wou juis ook voorspraak maak dat bewusmaking deel moet wees van Suid-Afrika se Beleidsraamwerk vir Psigiese Gesondheid, en daarmee saam, die sogenaamde Strategiese Aksieplan. Anders beteken al daardie mooiklinkende beleide en aksieplanne absoluut niks nie, want sonder bewusmaking floreer onkunde, en op onkunde floreer stigma. Ook die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het die afgelope paar jaar Desember as Bewusmakingsmaand van Nasionale Gestremdheidsregte verklaar, waaronder hulle ook psigiese gesondheid ingesluit het.

Maar einde verlede jaar is toe sowaar amptelik in ons Staatskoerant aangekondig dat die hele Oktober vanaf 2019 nou Suid-Afrika se Psigiese Gesondheidsbewusmakingsmaand sal wees. Volgens die SAFHM is hulle nie seker hoekom die regering dit gedoen het, en regeringswoordvoerders kon ook nie duidelike antwoorde gee nie, maar daar word gemeen dit volg moontlik op die ombudsverslag van die Life Esidimeni-tragedie waarin 143 mense gesterf het. En, sê Bharti Patel, die nasionale uitvoerende direkteur van SAFHM, daar is “beslis baie druk” op die departement van gesondheid om psigiese gesondheid te prioritiseer, want ja, daar is baie druk, van alle kante, op ons gewone mense en ons psigiese gesondheid.

Kennis is mag

Ons kan onsself bemagtig deur eerstens te besef dat psigiese gesondheid die waarborg vir fisiese gesondheid is.Foto: iStock

Maar wat beteken bewusmaking, en wat kan ek en jy in hierdie maand van bewusmaking doen? Dis eintlik eenvoudig: kennis is mag. En ons kan onsself bemagtig deur eerstens te besef dat psigiese gesondheid die waarborg vir fisiese gesondheid is. Sonder eersgenoemde kán ’n mens nie optimaal funksioneer nie. Dus: Leer ken die simptome van psigiese siektes, en aanvaar dat dit siektes is, soos ander, en dat hulle nie sal weggaan as jy hulle ignoreer nie. Inteendeel, soos ander siektes, sal hulle erger word.

Die feit dat Oktober nou amptelik ons bewusmakingsmaand is, is ook van belang omdat navorsing wys dat selfdoodrisiko – ironies genoeg – in die lentemaande verhoog. Dus: In die Suidelike Halfrond is daar ’n verhoogde voorkoms van fatale depressie-episodes in ons lentetyd; in die Noordelike Halfrond is dit in hul lente, hoofsaaklik April en Mei.

Baie moet nog gedoen word om die stigma rondom psigiese siektes te verbreek.

Maak dus hierdie Oktober ook jóú maand van ’n nuwe begin. Leer ken die simptome van algemene psigiese siektes soos depressie en angs (sien die kassie), en herken en erken dit in jou lewensmaat, ’n kollega, of vriende, of ’n niggie, of ’n pa of ma. Of in jouself.

Baie moet nog gedoen word om die stigma rondom psigiese siektes te verbreek, maar ons moenie anders daaroor dink net omdat dit siektes bokant ons nek is nie. Inderdaad moet ons juis meer aandag daaraan gee, want ons brein is ons belangrikste orgaan – inderdaad: die enjin van ons bestaan. En om HOOP te omhels, het jy die heel eerste belangrike stap gedoen om oor die afgrond van psigiese siektes te kom, veral as dit lewensbedreigend begin raak. Dis met goeie rede dat selfdoodvoorkoming die WGO se tema vir vanjaar se Bewusmakingsdag op 10 Oktober is, want statistiek dui aan dat te veel mense nie die simptome herken nie en dat die siekte só tot ’n fatale fase kan ontwikkel.

Psigiese siektes neem krisisafmetings aan

Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie. Foto: iStock

Die doel van die WGO se tema is nie alleen om die publiek op te voed oor psigiese siektes nie, maar ook om te help om die stigma wat deur onkunde veroorsaak word, te verbreek – onkunde wat te dikwels daartoe lei dat simptome nie herken word nie. In ’n Amerikaanse studie is bevind dat depressie in tieners tussen 14 en 17 jaar tussen 2009 en 2017 met 60% gestyg het. Onwillekeurige selfdoodgedagtes, selfdood-ideasie genoem, het in sommige gevalle meer as verdubbel. In Mei vanjaar, gedurende die VSA se Psigiese Gesondheidsbewusmakingsmaand, het die voormalige presidentsvrou en kampvegter vir psigiese gesondheid, Rosalyn Carter, gesê ons staan aan die vooraand van ’n wêreldwye psigiese gesondheidsrevolusie, want psigiese siektes is besig om krisisafmetings aan te neem.

Hulp en inligting

Lifeline 24-uur-krisislyn: 0861 322 322

Soek hier ’n sielkundige of psigiater in jou omgewing

SADAG: 0800 567 567 of SMS 31393

Die boodskap is: Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie. Navorsing wys dat in meer as 90% van selfdoodgevalle depressie die oorsaak was. As die siekte so ver gevorder het dat daardie onwillekeurige selfdoodgedagtes waaroor jy geen beheer het nie, in jou brein begin vorm, moet jy dringend professionele hulp soek. As dit enige ander siekte was, sou jy in die hoësorgeenheid van jou naaste hospitaal opgeneem geword het. Deur bewusmaking kán ons onsself bemagtig teen die mens se wreedste siekte, ’n siekte wat al die stil sluiper genoem is.

Daarom: Maak Oktober die begin van jóú nuwe begin. Breek die stilte, breek die stigma. As jy simptome in jou of iemand anders herken, doen iets daaraan. Boweal: Hou vas aan Hoop. Dit sál beter gaan, want depressie en verwante siektes, soos die verskillende angsstoornisse, ís behandelbaar, net soos ander biologiese siektes. Met die nodige professionele sielkundig-terapeutiese en psigiatries-mediese hulp gáán jy beheer neem oor daardie swart hond. En hom na jóú laat luister, nie andersom nie.

* Professor Lizette Rabe van die Universiteit Stellenbosch het die Ithemba-stigting – ithemba beteken hoop – gestig vir bewusmaking en om navorsing te steun. Die Hoop Hike, ’n staproete van 3,5 of 10 km, en die Hoop Bike, ’n 25 km-bergfietsroete, word vanjaar in die Kaap op 13 Oktober op die Blaauwklippen-landgoed, Stellenbosch, en in die Noorde op 27 Oktober by Van Gaalen’s, Skeerpoort, gehou. Depressie is ’n siekte, nie ’n swakheid nie – kom Loop vir Hoop!

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.