Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die NG Kerk gee gehoor aan Jesus se wekroep om liefde

Die NG kerk is nou op ’n beter plek as ooit tevore, skryf Neels Jackson.

Neels Jackson se boek Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming het pas by Lux Verbi verskyn.

Daar word gereeld gesê dat dit sleg gaan met die NG Kerk, dat dit ’n oorblyfsel van die verlede is en dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat dit, soos die Nasionale Party, in die vergetelheid verdwyn. Al wat nou oorbly om te doen, is sterwensbegeleiding.

Ek het die afgelope drie dekades ’n nou pad saam die kerk gestap – as lidmaat, as kerksake-verslaggewer van Beeld, en later vyf jaar lank as redakteur van Kerkbode. In my boek Drie dekades van verandering teken ek my belangrikste indrukke op van hoe die NG Kerk sedert 1990 verander het. En my oorheersende indruk is dat dit nou, in 2021, baie beter gaan met die kerk as in 1990.

Die siening van ’n agteruitgaande kerk berus onder meer op die veronderstelling dat dit 30 jaar gelede goed gegaan het met die NG Kerk, dat dit ’n gesonde en florerende kerk was. Maar dit was nie die geval nie.

Vir ’n groot deel van die vorige eeu was die NG Kerk vasgevang in die greep van ’n ideologie wat haar verblind het vir belangrike aspekte van haar eie boodskap. Dit het die kerk gelaat met ’n verskraalde evangelie. Die evangelie wat vir NG Kerk-lidmate bekend was, was een van persoonlike verlossing en eng persoonlike moraliteit. Dans en drink en dobbel is as sonde beskou, maar nie die miskenning van ander mense se menswaardigheid nie.

Maar in daardie tyd het die NG Kerk begin om die diep Christelike ding te doen om skuld te bely. Die kerkverband het selfondersoek gedoen, besef sy was verkeerd, skuld bely en begin om ’n nuwe koers in te slaan. Die afskeid van apartheid was nie ’n maklike of eensklapse gebeurtenis nie. Dit was ’n lang en moeisame proses. En dis ’n proses wat waarskynlik nooit heeltemal afgehandel sal word nie. Die kerk sal maar altyd teen rassevooroordele, ook dié in eie geledere, moet bly stry.

Dit is ’n roeping om sout vir die aarde te wees.

Maar die proses van bekering het ’n paar dinge met die NG Kerk laat gebeur. Een ding is dat dit die kerk gestroop het van die selfvoldaanheid waarmee sy lank soveel aspekte van die samelewing van bo af probeer beheer het.

Nog ’n ding wat gebeur het was dat dit die ou gereformeerde oortuiging dat ’n gereformeerde kerk altyd moet bly reformeer, laat herleef het. Op ’n manier het daar in die NG Kerk ’n vrymoedigheid gekom om te herbesin oor talle aspekte van kerkwees.

Kyk maar wat alles sedertdien verander het: Van die posisie van vroue in die NG Kerk; die verhoudinge met ander kerke tot kerklike strukture en gay lidmate.

Myns insiens was die belangrikste skuif van die afgelope drie dekades egter die wyse waarop die NG Kerk ’n dienende kerk geword het. Dit gaan oor die skuif van ’n kerk wat vroeër van bo af na die samelewing gekyk het, na ’n kerk wat van onder af in die samelewing werk. Want in die proses het die NG Kerk in sy breë verband en al meer van sy gemeentes in hul eie kring die ou roeping van die kerk begin herontdek.

Dit is Jesus se wekroep om Hom te volg op ’n pad van selfopofferende liefde, ’n pad van diens aan veral die minstes in die samelewing. Dit is ’n roeping om sout vir die aarde te wees, om geur te gee en om te help heel maak – en om daardeur God se lig vir die wêreld te wees.

Hierdie skuif, wat begin het en al meer momentum kry binne die NG Kerk, het natuurlik gepaard gegaan met die teologiese ontwik­ke­ling binne die NG Kerk.

Een van die teologiese ontwikkelings was die groeiende besef dat mense, veral gemarginaliseerde mense, mense wat swaar kry, vir God belangrik is – en dat hulle ook vir die kerk belangrik moet wees. Nog ’n skuif was dié van ’n verskraalde evangelie van blote persoonlike verlossing na die evangelie wat Jesus verkondig, naamlik die evangelie van die koninkryk van God. Dit sluit natuurlik persoonlike verlossing in, maar gaan veel verder. Dis ’n evangelie van diens, ’n evangelie wat wil heel maak.

In hierdie drie dekades was daar baie teologiese woelinge in die NG Kerk, beskuldigings dat die kerk haar rug op die Bybel keer en dat die NG Kerk die spoor byster raak. Dertig jaar gelede was daar ’n stortvloed van mense wat aan die teologiese regverdiging van apartheid wou vashou. Terwyl hulle ’n standpunt probeer verdedig het wat deur Christene oor die wêreld heen as dwaalleer bestempel is, het hulle die NG Kerk van dwaalleer beskuldig.

Dit lyk my dit is ’n patroon wat dikwels herhaal word. Diegene wie se eie teologie die armste is, is die luidrugtigste as dit by beskuldigings teenoor die kerk kom. Dink maar aan al die beskuldigings dat die NG Kerk Christus se opstanding uit die dood sou misken. ’n Mens hoef maar net raak te sien dat gemeentes reg deur die kerk Paasfees deesdae met baie groter oorgawe vier as 30 jaar gelede, om te weet die beskuldiging hou nie steek nie.

Beteken dit dat die prentjie van die NG Kerk nou net maanskyn en rose is? Allermins.

Kerkeenheid is dalk die enkele probleem waarmee die NG Kerk nog die meeste sukkel.

Lidmaattalle daal baie, maar dis ook nie net sleg nie. Ek dink die NG Kerk is beter daaraan toe met minder lidmate wat almal uit oortuiging aan die kerk behoort, as met groot getalle mense wat, soos voor 1990, weens kulturele druk lidmate was.

En uiteindelik is die proses van genesing presies dit: ’n proses. Party prosesse, soos die volledige aanvaarding en verwelkoming van gay lidmate, gaan gepaard met spanning en twis, maar deur dit alles vorder die NG Kerk ook op hierdie pad. En ten spyte van verwyte uit eie geledere (soos in 1990 met apartheid) vorder die kerk hiermee omdat sy oortuig geraak het dat dit is hoe Jesus met mense sou werk.

Na alles is dít die maatstaf waarmee ’n mens ’n kerk moet meet. Nie aan lidmaattalle, of politieke invloed of mag nie, maar aan die mate waartoe die kerk haarself verbind het tot die navolging van Christus. Wat dit betref, lyk dit my, is die NG Kerk nou op ’n baie beter plek as 30 jaar gelede.

* Neels Jackson is ’n joernalis en skrywer wat spesialiseer in kerksake.

Meer oor:  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.