Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die nuwe Weste . . .
’n Ondersteuner hou Woensdag in New York ’n plakkaat omhoog met die woorde “Blacks for Trump”, terwyl honderde ander teen Donald Trump betoog het.Foto: Bloomberg

Die kloof tussen die heersende liberale gesagsorde en die patriotiese Westerse publiek het te groot geword. Daar het ’n diepe ontevredenheid en selfs woede ontstaan teenoor politici, die media en die wêreldekonomie, skryf Flip Buys.

Amerika het ’n land geword waar die Republikeinse Party die sterkste sedert 1922 staan.

Nie net het 60 miljoen Amerikaners Donald Trump onverwags as president verkies nie, maar Republikeine beheer die senaat en die huis van verteenwoordigers; 33 uit 50 state se goewerneurs is Republikeine, asook twee derdes van die deelstate se wetgewers.

Daarby gaan hulle nou konserwatiewe regters aanstel, wat die politiek nog jare lank kan beïnvloed.

Hierdie gebeure is deel van ’n groter politieke grondverskuiwing in die Weste.

Die eerste skok vir die regerende elites was die Brexit-uitslag in Brittanje. Dié swaai na regs was egter lank reeds duidelik in Oos-Europa, waar regse partye reeds lande soos Hongarye, Pole en Slowenië regeer.

Daarby groei regse partye nou vinnig in liberale lande soos Nederland, Oostenryk, Frankryk, Switserland, Finland, Denemark en selfs Duitsland.

Regse leiers praat reeds oor die stigting van ’n soort Europese Christenbond as teenvoeter vir die Europese Unie (EU).

Dit is nie maar net praatjies nie, soos komende verkiesings in Oostenryk, Nederland en Frankryk sal wys.

Niemand kan voorspel of die EU hierdie politieke verandering sal oorleef nie. Meer lande kan dalk, soos Brittanje, hul onafhanklikheid “terugneem”.

Die vraag is, wat is die onderliggende redes vir hierdie grondverskuiwing? Die oppervlakkige ontledings wat dit vyandig as die denke van verregse rassiste en ongeskoolde dommes probeer afskryf en bespotlik maak, vuur eerder die momentum aan. Baie kiesers voel reeds dat die liberale elite beterweterig op hulle neersien en hulle net vir stemvee misbruik. Dit help ook nie om “populistiese” leiers soos Trump en andere, wat net sê wat mense dink, te verwyt nie. Hierdie leiers ry net die golf; hulle het dit nie geskep nie.

Die kort antwoord is dat dit grootliks ’n demokratiese opstand van gewone kiesers teen die gevestigde magsorde se globalistiese beleidsrigtings is. Dit is reeds in 2004 deur gesaghebbende politieke wetenskaplikes soos prof. Samuel Huntington – ’n Demokraat van Harvard – in sy boek Who Are We?voorsien.

V erdeling

Huntington het gewaarsku dat Westerse elites gevaarlik uit voeling raak met die publiek, veral waar dit sake soos patriotisme, identiteit en buitelandse beleid raak. Volgens hom word die publiek veral gekwel deur persoonlike veiligheid en gemeenskapsbelange soos taal, kultuur, godsdiens en nasionale identiteit.

Daarteenoor staan die elite beleidsrigtings voor soos globalisering, oop grense, oop immigrasie, liberale maatskaplike waardes en die belange van nie-Westerse minderhede in Westerse state.

Die publiek se Westerse patriotisme staan dus teenoor die ­elite se liberale internasionalisme. Die liberale elite is klein, maar magtig vanweë hul oorverteenwoordiging in die regerende groepe, die media, die sake-elite en die kunste. Hierdie gedenasionaliseerde elite sien hulself as wêreldburgers. Hul waardes en gedrag verskil skerp van die patriotisme en nasionale identifikasie van die groter publiek.

Huntington het die groeiende kloof tussen die groepe gesien as die oorsaak van die kommerwekkende afname in vertroue in demokratiese instellings.

Daarom het hy gewaarsku teen die politieke groepe se geneigdheid om die breë publiek se voorkeur vir landsbelang, identiteit en kultuur te ignoreer.

W oede

Die kloof tussen die heersende liberale internasionalistiese gesagsorde en die patriotiese Westerse publiek het mettertyd te groot geword. Daar het ’n diepe ontevredenheid en selfs woede ontstaan.

’n Groeiende deel van die publiek voel dat die politici net hul eie belang dien, dat die media hulle wil manipuleer, dat politieke korrektheid wil voorskryf wat hulle mag dink en sê, en dat die wêreldekonomie hulle verarm. In die VSA het mense boonop begin voel dat hul kinders misbruik word om verafgeleë oorloë te voer ter wille van die elite se politieke doelwitte pleks van nasionale belang.

Die gevolge kan nou gesien word in ’n Westers-wye demokratiese opstand teen die gesagsorde se liberale agenda. Die publiek vind aanklank by regse partye se standpunt dat die elite eerder internasionale belange as hul eie nasionale belange dien, dat oop grense en grootskaalse immigrasie hul lewenswyse bedreig, en dat hul heersers Westerse waardes ter wille van internasionalisme opoffer.

Brexit, die Europese kontinentwye swaai na regs, en die Republikeinse oorwinning in die VSA is die politieke wraak op die internasionalistiese elite in die politiek, die staatsburokrasie en die media.

W at volgende?

Die vraag is, wat gaan volgende gebeur? Dit is duidelik dat die media en die politieke gesagsorde se geloofwaardigheid ’n groot knou gekry het. Voorheen betroubare meningspeilings was skouspelagtig verkeerd met Brexit en die Trump-verkiesing, moontlik omdat die elite onbewus hul eie menings probeer weerspieël of hulself begin glo het. Die liberale internasionaliste sal die demokratiese wil van die Westerse publiek moet begin respekteer as hulle nie opsy gevee wil word nie.

Die beledigende verwysings na “verregse ondemokratiese populiste” waarmee die elite konserwatiewe politici besmeer, gaan die woede en vervreemding net vererger. Die politieke mags­elites sal die ondenkbare moet doen: Hulle sal na hul kiesers se drome en vrese moet begin luister, en hul kiesers se demokratiese wil moet uitvoer as hulle nie uitgeskop wil word nie.

Dieselfde geld die media wat te dikwels met politieke preke aan hul gehoor wil voorskryf pleks daarvan om hulle gebalanseerd in te lig en te respekteer.

Horisontale bondgenootskap

Opkomende konserwatiewe politici dink reeds aan ’n soort “horisontale bondgenootskap” van lande en gemeenskappe wat dieselfde waardes deel, maar sonder om voorskriftelik te wees.

Dit staan teenoor die “vertikale verdeling” tussen mededingende magsblokke, soos in die ou en nuwe Koue Oorlog.

Hulle glo dit kan politieke, kulturele en godsdienstige grense oorspan, en wêreldvrede en die internasionale ekonomie bevorder. So kan die VSA, die te stigte losse “Christelike Europese Bond”, Rusland en selfs lande soos Indië en China met mekaar saamwerk sonder die verwaande aandrang dat hulle liberale Westerse waardes moet aanvaar.

Politieke leiers in die Weste moet kennis neem dat die wêreld dalk onder hul voete verander. Die liberale elite se projek om die “wêreld soos hul lande te maak en hul lande soos die wêreld”, kan op die rotse van die openbare mening te pletter loop.

Gewone Westerlinge begeer eerder ’n besadigde Westerse herlewing as ’n liberale Westerse oorheersing of die selfaftakeling van die Westerse kultuur.

Vir die elite is hul liberale ­ideologie voorop; vir die publiek hul Westerse kultuur.

Dít is die nuwe Weste.

  • Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Meer oor:  Donald Trump  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.