Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die oorlog se spore en letsels lê steeds wyd

Die Anglo-Boereoorlog het feitlik elke dorp in Suid-Afrika geraak, al was daar nie oral skermutselings nie. Wilna de Klerk vertel hoe Cradock die oorlog beleef het.

Britse magte het dikwels plattelandse dorpe se kerke gefortifiseer en as hul hoofkwartier gebruik – ook dié Moederkerk op Cradock. Die toring is as uitkykpunt gebruik.

Die Anglo-Boereoorlog is 120 jaar in die verlede, maar getuienis van die stryd tussen Boer en Brit is nog oral op en om Cradock te sien.

Geen gevegte, buiten sekerlik die bekgevegte tussen inwoners wat pro- of anti-Brits was, het op die dorp plaasgevind nie, maar die teenwoordigheid van soldate was ’n algemene gesig. Nie alleen het die Engelse ’n groot perdedepot op die destydse skougronde, waar die Laerskool Cradock vandag is, gehad nie, maar die NG Moederkerk (1868) se toring is deur hulle as uitkykpunt gebruik. Daar is sandsakke tussen die pilare op die voorstoep gepak en Engelse soldate kon van bo af die inwoners dophou.

Doodsvonnis en teregstelling

Dit was op die Markplein voor die kerk se suidelike deur waar die eerste doodsvonnis op Cradock oor ’n Kaapse rebel uitgespreek is. ’n Groot aantal inwoners het op bevel van maj. C.C. Wiseman Clarke, kommandant vir die Cradock-distrik, op die oggend van 12 Julie 1901 op die plein saamgekom om die vonnisoplegging van Johannes Petrus Coetzee (21) aan te hoor.

Só is die toneel destyds deur C. Jordaan opgeteken: “De militairen hadden bezit genomen van de Ned. Geref. Kerk. De kerkdeuren waren met zandzakke toegestopt, ook op het dak waren mudden zand, die als schansen dienst deden, en ook hier waren gewapende soldaten, die telken als er kreten warden aangeheven met hul geweren op het leien dak stampen.”

Coetzee is die volgende oggend in die teenwoordigheid van soldate, sowat 30 gedwonge toeskouers en die plaaslike leraar, ds. J.C. Reyneke, in die tronk se agterplaas gehang.

Ds. Reyneke is ook nie ontsien nie. Terwyl hy daardie oggend nog by die lyk van jong Coetzee gestaan het, is hy deur die Britse bevelvoerder, kol. Sawyer, ontbied en in September 1901 vir 18 maande opgesluit en vir tien maande as predikant geskors. Van sy gemeentelede is gebrandmerk as “undesirables” en na ’n kamp op Port Alfred gestuur.

Ná die oorlog het die kerkraad die omvang van skade deur kol. Sawyer se troepe ondersoek. ’n Eis van £200 vir skade aan dakleie en die erg beskadigde plafon is ingedien. Die kerk het ook £25 geëis vir elke maand wat sy gebou deur soldate gebruik is. Dis nie bekend of die Britte ooit betaal het nie.

Die Lancashire Fusiliers het hierdie skaakbord op ’n klip by ’n seinpos op Salpeterkop in die Bergkwagga Nasionale Park uitgekerf.

Twee ander rebelle, veldkornet Wilhelm Stephanus Kruger (34) en Francois du Randt (20), asook ’n Vrystaatse burger, Dirk S. Breedt van Bethulie, is in die plaaslike tronk aangehou voordat hulle op die oewer van die Groot Visrivier deur ’n Britse vuurpeleton doodgeskiet is – Kruger op 1 Oktober 1901 en Du Randt op 5 April 1902.

Hulle is aanvanklik op die rivieroewer begrawe, maar later is ’n gedenkteken vir hulle in die plaaslike begraafplaas opgerig. Dit is in Oktober 1975 deur die destydse Raad vir Oorlogsgrafte na die tuin van die NG Moederkerk verskuif.

Die graf van die Boeregeneraal Pieter Hendrik Kritzinger is ook in dié begraafplaas.

Afstammelinge en ander belangstellendes besoek graag die grafte van Britse soldate wat in die omgewing gesterf het. Die Loyal Guild of Women het hulle reeds in 1904 begin beywer om die stoflike oorskot van 70 van dié soldate te herbegrawe. Waar families nie opgespoor kon word vir grafstene nie, is grafte met ysterkruise gemerk. Die meeste hiervan is mettertyd gesteel en vir skroot verkoop, maar ’n plaaslike historikus, Douglas Ferguson, het navorsing gedoen sodat die name op graniettablette aangebring kon word.

Nog grafte van soldate wat in die Cradock-omgewing gesneuwel het, is op plase in die distrik te sien. In die Bergkwagga Nasionale Park is daar 15 sulke grafte aangedui met ’n groep klipstapels, maar dit is nog nie vasgestel of dit Boere of Britte is wat daar gesneuwel het nie.

Daar is verskeie wagposte in die Oos-Kaapse platteland waar Britse troepe teksverse op rotse uitgebeitel het. Hierdie een by Eerste Krans lees: “The heavans [sic] declare the glory of God and the firmament sheweth His handy-work”.

’n Boer lees speel-speel seine

Die NG kerk se dak was ook toegerus met ’n heliograaf waarmee Engelse soldate met soortgelyke stasies op Oukop en Salpeterkop in die distrik in verbinding was. Op Salpeterkop het soldate die tyd verwyl deur ’n skaakbord op klip uit te beitel.

’n Boer van die distrik wat hulle seine kon lees, het glo sy tyd verwyl deur lustig saam met die niksvermoedende soldate skaak te speel.

Van die soldate wat op Oukop (die kruin is skaars 3 km van die stadshuis) waggehou het, het daar ’n teksvers uit Markus op ’n rots gekerf: “What gaineth it a man if he gains the whole world and loses his own soul.”

Op Eerste Krans is die eerste vers van Psalm 19 uitgebeitel (weliswaar met ’n spelfout): “The heavans [sic] declare the glory of God and the firmament sheweth His handy-work”.

Toe die Britse magte aan Cradock onttrek is, het hulle hierdie snuifhouer as blyk van waardering geskenk aan die Cradock-mansklub in Dundasstraat.

Gedurende die oorlog het die offisiere van die Sherwood Foresters die fasiliteite van die Cradock-mansklub, voorheen ’n statige ou woonhuis aan Dundasstraat, gebruik. As blyk van waardering het hulle ná die oorlog verskeie artikels aan die klub geskenk, onder meer die menasietafel, 12 stoele en ’n skryftafel van Birmaanse kiaat (teen R100 000 verseker). Die tafel se konstruksie is anders as gewone 12-sitplek-tafels. Dit het ook net vier pote en nie die gebruiklike vyf of ses van so ’n lang tafel nie.

Nog ’n geskenk van die Engelse was ’n snuifhouer in die vorm van ’n ramshoring met ’n deksel van silwer.

Een boer wat ná die ramp van die oorlog weer opgestaan het, was Carolus van Aardt van die plaas Roodewal. Die Van Aardts was sedert 1797 perdeboere en hul diere was landwyd bekend. In 1900 het die Britse magte 350 van sy teelmerries, ry-, kar- en trekperde gekonfiskeer.

Kort daarna is Van Aardt ná ’n misverstand na die interneringskamp op Port Alfred gestuur. Ná sy vrylating het hy teruggekeer na ’n verwaarloosde plaas met leë stalle. Hy het besluit om eerder te begin botter maak en elke pennie wat hy in die hande kon kry gebruik om dragtige melkkoeie te koop. Verbasend gou het hy tot 3 500 kg botter per jaar verkoop. Sy kinders kon gaan studeer en hy het selfs geld aan bure en vriende voorgeskiet.

Carolus van Aardt se gerestoureerde botterkar is te sien in Willem van Aardt se plaas­museum op Mulberry Grove in die Cradock-distrik.

Meer oor:  Wilna De Klerk  |  Cradock  |  Oorleef  |  Anglo-Boereoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.