Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die oorverdowende stilte van Suna se stem
Heinz Mödler.

Suna Venter (1985-2017) is nie meer met ons nie, maar dit beteken nie sy het verloor nie. Inteendeel. Sy het haar boelies verslaan met die swaard van waarheid en geregtigheid. Al verweer waarna hulle kon gryp, was aanvalle van intimidasie en geweld op haar liggaam en psige. In so ’n mate dat haar hart ingegee het.

Suna is verlede week dood weens stresgeïnduseerde kardiomiopatie, ook bekend as “gebrokehart-sindroom” of takotsubo-sindroom.

Stres veroorsaak gewoonlik simptome soos angstigheid, slapeloosheid, bewerasies en hartkloppings.

Maar is dit werklik moontlik om te sterf weens te veel stres?

Daar is twee belangrike senuweestelsels wat die liggaam se funksies ondersteun. Die een is willekeurig, en jy kan self besluit of jy wil sit, staan, hardloop of sluk.

Die ander een is outonoom, wat onbewuste funksies soos hartklop, bloeddruk, dermbewegings en hormoonafskeiding beheer.

Om fisiologiese veranderinge teweeg te bring word chemiese stowwe afgeskei om die elektriese boodskap in die senuwee oor te skakel na ’n bevel op sellulêre vlak in die teikenorgaan. Een van hierdie stowwe, die sogenaamde senuwee-oordragstowwe, is adrenalien.

Indien die hoeveelheid adrenalien-afskeiding hoog bly, kan die hart ingee.

Adrenalien het verskeie funksies, maar ’n verhoging in bloeddruk en hartklop is veral belangrik.

Wanneer die liggaam in gevaar is, word massiewe hoeveelhede adrenalien afgeskei om jou in staat te stel om byvoorbeeld oor ’n ondenkbaar hoë muur te spring (die sogenaamde veg-of-vlug-reaksie).

Tydens stres word daar ook verhoogde vlakke van adrenalien in die bloed gevind.

Indien hierdie vlakke chronies hoog bly, sal die persoon nie net ’n verhoogde hartklop en bloeddruk ondervind nie, maar ook moontlik abnormale ritmesteurnisse en hartspierveranderinge.

Indien die hartspier sodanig verswak dat dit nie genoeg bloed aan die organe kan lewer nie, word van ’n kardiomiopatie gepraat. Dis ’n baie ernstige toestand en dikwels is al behandeling ’n hartoorplanting.

Tydens stresgeïnduseerde kardiomiopatie verander die hart se vorm om te lyk soos ’n takotsubo-fles waarmee Japanners seekatte vang: ballonvormig met ’n klein opening waardeur die seekat kan inglip.

Dit verhinder die hart om doeltreffend saam te trek, en die persoon gaan in hartversaking.

Die tipiese simptome van kardiomiopatie is soos dié van ’n hartaanval – borskaspyn, drukking op die bors en kortasem. Gelukkig herstel die meeste mense volkome met die korrekte behandeling.

Indien die hoeveelheid adrenalienafskeiding egter hoog bly en die hart word nie met medikasie ondersteun nie, kan die orgaan geheel en al ingee.

Of Suna se hart ingegee het uitsluitlik weens stres en of sy dalk ’n onderliggende harttoestand gehad het wat die stressituasie vererger het, is vrae wat net ’n lykskouing sal kan beantwoord.

Wat uiteindelik op Suna se doodsertifikaat geskryf gaan staan, is egter nie meer belangrik nie. Dit is die oorverdowende stilte van haar stem wat nou belangrik is. Veral vir diegene wat bygedra het tot haar verhoogde adrenalienvlakke.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, kunstenaar en skrywer.
Meer oor:  Suna Venter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.