Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die oplossing ‘is wel binne SA se bereik’
Mense betoog vroeër vanjaar in Kaapstad teen die beëindiging van ’n R350-toelae wat ingestel is om armoede te verlig te midde van die Covid-19-pandemie. Foto: Gallo Images

Dit is binne die regering se vermoë om die armoede in die land uit te roei. Maar om dit aan te pak verg politieke wil, skryf Raymond Willemse, wat ’n gesprek oor dié tema bygewoon het.

Armoede en die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika word as een van die grootste maatskaplike probleme in die land beskou.

Maar, sê prof. Fiona Tregenna van die Universiteit van Johannesburg se departement van ekonomie, lande wat armer is as Suid-Afrika en selfs swakker staatska­pasiteit het, het al daarin geslaag om armoede uit te wis. Daarom moet ’n mens nie voorgee dat die staat nié die mag het om die uiterse armoede uit te roei nie.

Tregenna het onlangs aan ’n webinaar deelgeneem wat deur die wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) in samewerking met die South African Research Chairs Initiative en Unisa aangebied is.

Die tema was: “Wat moet die staat doen om armoede en ongelykheid te verminder?”

“Die basiese-inkomstetoelae is ’n hulpmiddel. Ons kan breedvoerig debatteer oor die finansiering en die voor- en nadele, asook ander opsies,” sê Tregenna.

Sy redeneer armoede is nie ’n onoplosbare probleem nie.

’n Politieke kwessie

“Ons kan dit aanpak as ons regtig wil. Anders moet ons eerlik wees dat dit nie vir ons as ’n land ’n prio­riteit is nie. Wanneer armoede aangepak word, is daar outomaties ’n afname in ongelykheid,” sê Tregenna.

“Die vermindering van armoede en ongelykheid is nie weens ’n gebrek aan kapasiteit of vaardighede in die staatsdiens nie. Dis ’n politieke kwessie.”

Wat volgens haar duidelik is, is dat hoë vlakke van armoede en ongelykheid uiteindelik enige groei beperk. Armoede moet volgens haar daarom nie net getakel word “omdat dit die regte ding is om te doen nie”, maar omdat werkskepping en ekonomiese groei sentraal staan in die saak.

Sy waarsku teen die ontstaan van ’n magdom van ánder maatskaplike en ekonomiese probleme indien armoede en ongelykheid nie hanteer word nie. “Die gevolge van uiterse armoede en ongelykheid is moeiliker en veeleisender vir ’n staat om die hoof te bied. Dit is ’n vraag van politieke wil of ons ’n einde daaraan wíl maak.”

’n Omgee-staat

Prof. Haroon Bhorat van die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid oor ontwikkelingsbeleid sê Suid-Afrika se ekonomie het in die afgelope 40 jaar met gemiddeld 0,29% gegroei.

Daarom is daar volgens hom beperkings op wat die staat aan armoede kan doen.

“As die ekonomie nie vinnig genoeg groei nie, gaan daar ’n minimale uitwerking op armoede en ongelykheid wees.”

Suid-Afrika se uitdaging is dat hy een van die ongelykste samelewings ter wêreld het. Om dié rede probeer die staat “so welwillend moontlik wees” in die verskaffing van hulp.

Een voorbeeld hiervan is die regering se Covid-19-stimulusplan, sê Bhorat. “Suid-Afrika het meer bestee (aan sy mense) en was meer ondersteunend as lande soos Kanada, Suid-Korea, China en Brasilië. Ons het ’n duidelike fiskale benadering gevolg wat in voeling met die behoeftes van die armes was.”

Bhorat sê volgens studies is Suid-Afrika se maatskaplike hulp eintlik baie goed.

“Ons bereik diegene wat dit nodig het. Ons kry dit egter nie reg om die doeltreffender besteding hiervan te verseker nie. Die administratiewe koste om toelae uit te betaal, is hoër as in ander lande. Dit beteken ons bestee goeie geld ondoeltreffend.

“As ons die Covid-19-toelae doeltreffender kon bestuur het, sou dit tot 61% van die bevolking kon bereik het.”

Besin oor beleid

Busani Ngcaweni van die regering se eenheid vir beleidsontleding en -navorsing sê wanneer armoede in die land bespreek word, is daar fundamentele vrae wat gevra moet word.

“Waarom, ná verskillende herhalings van makro-ekonomiese beleidsvorming, het ons nie die groei behaal wat ons wou hê nie? Waarom is daar nie ’n toename in werkgeleenthede om armoede te verlig nie? Die pandemie het sake nog verder versleg. Met ons beperkte bronne moet ons met kreatiewer maniere vorendag kom om armoede te verminder.”

Ngcaweni meen daar moet ook gekyk word na die hantering van beleid. “Oor die goeies is daar nie goeie kommunikasie nie. Ander tye klou ons vas aan ’n beleid wat nie werk nie.” En selfs mét makro-ekonomiese beleide ervaar ons steeds standaard- ekonomiese groei, sê hy.

“As ons op dié roete gaan bly, gaan die president se ekonomiese herstelplan vir die pandemie dieselfde uitslae lewer as al die vorige planne.”

’n Nuwe koers

Andrew Boraine, hoof van die vennootskap vir ekonomiese ontwikkeling in die Wes-Kaap, glo Suid-Afrika benodig ’n nuwe ontwikkelingspad en die herontwikkeling van ’n nuwe, bekwame staat.

“Ná die onlangse onluste en plundery het baie mense ’n beroep gedoen om ’n nuwe koers. Ek stem hiermee saam. Ons verskil egter hóé dit moet gebeur.”

Daar is groter sosiale konsensus nodig oor hoe so ’n nuwe pad sal lyk, sê Boraine. “Wat dit ook al behels, beleidsverandering en nuwe regeringsprogramme gaan op sigself nie genoeg wees nie. Die staat kom nie die mas op om die huidige kwessies te hanteer nie.”

Volgens Boraine is daar baie faktore wat gelei het tot die ondergang van die staat.

“Dis oor die jare nog verder verswak weens korrupsie, staatska­ping, faksiegevegte in die regerende party, ’n gebrek aan aanspreeklikheid en onsamehangende beleide. Die uitwerking van die Covid-19-pandemie en die sluiting van die ekonomie het tot die probleem bygedra.”

Op sy eie kan die staat nie komplekse kwessies soos armoede en werkloosheid probeer oplos nie.
Andrew Boraine

Boraine voer aan openbare vertroue in die staat het ook drasties verswak. “Die staat se hantering van die droogtekrisis ’n paar jaar gelede, die pandemie, die onlangse onluste en die taxi-geweld in die Wes-Kaap is redes dat vertroue in die staat afgeneem het. Dít terwyl die burgerlike samelewing baie beter vaar.”

Boraine glo op sy eie kan die staat nie komplekse kwessies soos armoede en werkloosheid probeer oplos nie.

“Die staat moet besef verhoudings is belangrik. Dit moet ’n samelewingsbenadering volg. Alliansies en vennootskappe kan tussen die staat, gemeenskappe en verskillende sektore bevorder word.”

Om die staat te herbou om ’n nuwe ontwikkelingsweg te ondersteun moet die regulerende stelsels en die “toksiese institusionele staatskultuur wat ontstaan het”, volgens Boraine eers opgelos word omdat dit dienslewering belemmer.

Afwyking het volgens hom ’n vloekwoord geword. “Bestuurders doen baie moeite om afwykings te vermy om ’n skoon oudit te kry, selfs as die risiko dienslewering verongeluk.

“Kwessies soos die hantering van armoede en ongelykheid word nou amper nooit op bestuursvergaderings geopper nie weens die oorweldigende fokus op die nakoming van regulasies. Departemente sal eerder sit sónder ’n kontrak-verlenging en dienste opskort as om aansoek te doen om ’n afwyking.

“Die tragedie is dat al die regulasies en nakomingsprosedures nie verhinder dat die stelsel wel misbruik word nie.

“Maar dit verhinder wel die staatsdiens om betrokke te raak by gemeenskappe om meer buigsaam teenoor hul behoeftes op te tree, wat die vertrekpunt is om armoede en ongelykheid aan te pak.”

Ondanks die staat se tekortkominge glo Boraine in die rol van ’n ontwikkelingstaat, veral in ’n land met ontsaglike armoede en ongelykhede. “Ons moet die staat herbou sodat hy minstens sy basiese funksies, soos die betaling van toelaes, op tyd doen, asook om onderwys- en gesondheidsdienste te lewer.”

Om dit te kan doen, reken Boraine, moet die staat eers die basiese goed regkry voordat hy komplekse take aanpak.

“Die opbou van staatskapasiteit sal nie slaag as die beroerde politieke toestand, insluitende partypolitiek, nie verbeter nie.

“Dit benodig ook politieke oplossings. As dit ineenstort – wat ons by munisipaliteite opmerk – is dit moeilik om ’n bekwame staat te herbou.”

* Willemse is ’n redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Raymond Willemse  |  Sa  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.