Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die president se seun en die R500 000

Die gewraakte skenking van Bosasa aan pres. Cyril Ramaphosa se verkiesingsfonds het die Suid-Afrikaanse politiek geskud, skryf James-Brent Styan en Paul Vecchiatto in dié geredigeerde uittreksel uit The Bosasa Billions.

Op 6 November 2018 het ’n kalm pres. Cyril Ramaphosa na die podium in die parlement gestap vir sy laaste vraag-en-antwoord-sessie van die jaar.

Hy het rede gehad om stilletjies selfversekerd te wees. Sedert hy in Februarie 2018 as president oorgeneem het, het hy daarin geslaag om ’n mate van kalmte in die parlement teweeg te bring.

Onder sy voorganger, Jacob Zuma, het dié kwartaallikse seksie dikwels ontaard in ’n geskree, ’n gekibbel, ’n klomp opposisielede wat opgestaan en “op ’n punt van orde” iets wou sê en ANC-lede wat weer daarteen kapsie gemaak net.

Ramaphosa het geen idee gehad dat hy in ’n lokval instap nie.

Sy selfvertroue is verder gestu deur die feit dat die eerste vraag oor die VBS Mutual Bank was wat vroeër deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank onder administrasie geplaas is nadat dit R2 miljard se beleggersgeld weens korrupsie verloor het.

Daarom moet ons optree teen diegene wat verantwoordelik is vir die vernietiging van VBS en al daardie private maatskappye, staatsbeheerde instellings en ander dele van die staat en wat probeer om ons land se toekoms te steel
Pres. Cyril Ramaphosa

Daar was ANC-amptenare ook by dié skandaal betrokke, maar dit het gedreig om die EFF van Julius Malema te verswelg.

“Ter wille van ons mense en ons ekonomie glo ek dat ons duidelik moet wegbreek van daardie korrupte bedrywighede en ’n nuwe era van integriteit en eerlikheid in ons openbare en private instellings inlui.

“Daarom moet ons optree teen diegene wat verantwoordelik is vir die vernietiging van VBS en al daardie private maatskappye, staatsbeheerde instellings en ander dele van die staat en wat probeer om ons land se toekoms te steel,” het Ramaphosa gesê.

Wat Ramaphosa nie geweet het nie, was dat Angelo Agrizzi [voormalige bedryfshoof van Bosasa] ’n paar maande vroeër ’n geheuestokkie met Bosasa-dokumente aan die DA, die amptelike opposisieparty, gegee het.

Een daarvan het gewys dat die president se seun, Andile, ’n sakeman met sy eie konsultasiefirma, na bewering R500 000 van dié onderneming gekry het.

Maimane se parlementêre bom

Mmusi Maimane, leier van die DA, het eerste vrae in die parlement gevra oor Bosasa se skenking van R500 000. Foto: Argief

Mmusi Maimane, leier van die DA, het stadig opgestaan om sy vraag te vra – die eerste van vier opvolgvrae wat opposisiepartye toegelaat word nadat die belangrikste geskrewe vrae beantwoord is.

Dit was duidelik dat hy die parlement se aandag wou vestig op ’n gewigtige saak. Hy het eerstens op ’n kalm en beredeneerde manier met Ramaphosa saamgestem oor die plundering by VBS.

Maimane het toe sy bom laat bars deur te sê die dokument wat hy in sy hande het, bewys dat Bosasa R500 000 in ’n rekening genaamd “EFG2’’ inbetaal het wat na bewering met Andile Ramaphosa verbind kan word.

Hy het ook ’n beëdigde verklaring van die Bosasa-ouditeur, Peet Venter, gehad wat beweer het dat die uitvoerende hoof van Bosasa, Gavin Watson, hom beveel het “om dié oorplasing vir Andile Ramaphosa te maak”. (Venter het later voor die Zondo-kommissie gesê hy het gedink dit is “vreemd” dat Watson hom dit laat doen het.)

“Meneer die President, ons kan nie dat familielede baat vind nie. Ek wil u vandag hier vra dat u die nasie in u vertroue neem en enige wanopvattings oor dié kwessie uit die weg ruim,” het Maimane gesê voordat hy gaan sit het.

Ramaphosa het nors gelyk. Hy het gesê hy is ’n “ruk gelede” van die kwessie verwittig en hy het sy seun gevra waaroor dit gaan.

“Hy bestuur ’n onderneming, ’n finansiële konsultasiefirma, en konsulteer vir ’n aantal maatskappye en een van daardie maatskappye is Bosasa, waar hy sy dienste oor entrepreneurskap aanbied, veral oor die verkrygingsproses. Hy adviseer plaaslike sowel as internasionale ondernemings,” het Ramaphosa gesê.

En ek kan u verseker, meneer Maimane, as dit blyk dat daar enigiets onwettigs of korrup is in die manier waarop hy dié kwessie hanteer het, sal ek die eerste wees, absoluut die eerste, om seker te maak hy doen verantwoording, selfs al beteken dit dat ek die een is wat hom polisiekantoor toe neem.
Pres. Cyril Ramaphosa oor sy seun, Andile

Sommige parlementslede van die opposisiepartye het hom kliphard gekoggel.

Ramaphosa het voortgegaan: “En die betaling, kan ek julle verseker, ek het hom van aangesig tot aangesig gevra of die geld wederregtelik, onwettig, bekom is en hy het gesê dit was ’n diens wat gelewer is, hy het my selfs ’n kontrak gewys wat hy met Bosasa onderteken het. En die kontrak maak melding van kwessies oor integriteit, kwessies van teenkorrupsie en so aan.”

Die geraas uit die opposisiebanke het toe só erg geword dat die speaker moes ingryp en hulle stilmaak.

“Orde. Laat ons luister na die president se antwoord,” het Baleka Mbete gesê terwyl sy deur haar bril se lense na die opposisiebanke gegluur het.

Ramaphosa het voortgegaan: “Ek het seker gemaak dat ek soveel inligting oor dié saak kry as wat ek kan. Hy bestuur ’n deursigtige en eerlike onderneming as ’n adviesdiens. Ek het absoluut geen idee of spesmaas gehad nie.

“En ek kan u verseker, meneer Maimane, as dit blyk dat daar enigiets onwettigs of korrup is in die manier waarop hy dié kwessie hanteer het, sal ek die eerste wees, absoluut die eerste, om seker te maak hy doen verantwoording, selfs al beteken dit dat ek die een is wat hom polisiekantoor toe neem.

“Ek sal in staat wees om dit te doen. Ek is duidelik daaroor. Ek het aan my kinders gesê om geen sake met die regering te doen nie, maar van tyd tot tyd sommige van dié gebiede, sommige van die bedrywighede kan na vore kom, maar ek wil hê julle moet weet die filter wat ek as hul pa gebruik, as daar enigiets onwettigs of korrupsie is, sal ek die eerste een wees wat – as dit nodig is – hulle self tronk toe neem. Ek sal dit doen, want ek sal dit nie toelaat nie.”

’n Tweede antwoord

Pres. Cyril Ramaphosa beantwoord Donderdag vrae in die parlement. Foto: Jaco Marais

’n Week later het Ramaphosa ’n brief aan die speaker gestuur waarin hy skryf dat meer inligting aan die lig gekom het en dat die R500 000 nie vir sy seun bedoel was nie, maar dat dit ’n skenking was aan Cyril Ramaphosa se veldtog van 2017 om president van die ANC te word.

Toe die president op 6 November 2018 sy antwoord gegee het, was hy onder die indruk dat die DA verwys na maandelikse betalings wat sy seun vir konsultasiewerk gekry het.

Maimane was nie tevrede met Ramaphosa se antwoord nie en het hom daarvan beskuldig dat hy die parlement mislei. Op 23 Februarie 2019 het Maimane die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, gevra om die aangeleentheid te ondersoek.

Ramaphosa se nuwe antwoord het Malema ook woedend gemaak en hy het gedreig om die staatsrede in Februarie te ontwrig as die president nie met die waarheid vorendag kom nie. Malema se dreigement is nie uitgevoer nie nadat hy Ramaphosa vooraf ontmoet het.

News24 het later vasgestel dat die sogenaamde “EFG2’’-rekening ’n prokureurstrustrekening vir die ANC was by die regsfirma Edelstein Farber Grobler. Dit is daargestel vir die fondse vir Ramaphosa se veldtog om as ANC-president verkies te word.

Sy [pres. Cyril Ramaphosa] se reaksie . . . was gevolglik ’n eerlike fout omdat hy geen eerstehandse kennis gehad het nie.
Paul O'Sullivan

Venter se inligting was nie akkuraat nie omdat hy na bewering verkeerdelik deur Watson ingelig is dat die EFG2-rekening vir die “Andile Ramaphosa Stigting’’ was.

Die geld is uit Watson se persoonlike rekening oorbetaal en is deur verskeie rekenings van frontmaatskappye, insluitende dié van Venter se suster.

Die DA het ook ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aansoek gedoen om insae te kry in die besonderhede van die konsultasiekontrak tussen Bosasa en Ramaphosa jr. Hul versoek is toegestaan, maar tot hul ergernis is die bedrae wat Bosasa aan Andile betaal deurgehaal en kon daar nie gesien word hoeveel dit was nie.

’n Niewinsgewende organisasie genaamd Forensics for Justice het pro bono namens Ramaphosa jr. opgetree. Die vooraanstaande forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het namens Forensics for Justice aan Maimane, Dali Mpofu, die EFF se voorsitter, en die parlement se gesamentlike etiekkomitee geskryf dat die president verkeerd ingelig is.

“Toe julle die kwessie in die parlement te berde gebring het, het die president [verkeerdelik] aangeneem dat julle verwys na betalings wat deur sy seun ontvang is, maar hy het geen spesifieke kennis van wat daardie betalings mag wees nie hoewel hy kennis het van ’n adviserende ooreenkoms waarvan hy ’n kopie gekry het . . . Sy reaksie . . . was gevolglik ’n eerlike fout omdat hy geen eerstehandse kennis gehad het nie.”

O’Sullivan het in sy korrespondensie daarop gewys dat die president nie geweet het wie tot sy verkiesingsfonds bygedra het nie sodat niks aan hulle verskuldig sou wees nie. Die oorspronklike bedoeling was om die R50 000 terug te gee. “Dit was egter nie moontlik nie omdat die fondse deur ’n derdeparty-onderneming se bankrekening gekanaliseer is. Die derdeparty is nou in likwidasie en dit is duidelik dat die bankrekening onwettig bedryf is.”

Die R500 000 is toe in ’n spesiale trustfonds deponeer en O’Sullivan het gesê die Ramaphosa-veldtog sal nie ’n aansoek van die Batebeslagleggingseenheid (in die kantoor van die hoof van die nasionale vervolgingsgesag) teenstaan om daarop beslag te lê as die “opbrengs van misdaad” nie.

Ramaphosa se ‘ANC-probleem’

Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, saam met oudpres. Jacob Zuma. Foto: Verskaf

Die president se grootste politieke probleem was nie die opposisiepartye nie, maar om die verdeeldheid binne die ANC te bestuur. In Desember 2017, skaars ’n jaar vroeër, het hy die presidentsverkiesing van die party gewen ná ’n uitmergelende leierskapstryd teen Nkosazana Dlamini-Zuma, wat pas beëdig is as ’n parlementslid nadat sy haar termyn as voorsitter van die Afrika-Unie voltooi het.

Hy het met die kleinste van meerderhede gewen en sy beheer oor die party was allesbehalwe stewig.

“Ramaphosa was in die aanloop tot die verkiesingskonferensie vasbeslote om nie soos sy voorganger enige staatsbates te gebruik nie. Hy was vasbeslote dat die geld wat gebruik word van skenkers en private bronne moes kom,” het Juli Kilian, ’n voormalige ANC-LV gesê.

“Die groot probleem as dat sy personeel donasies aanvaar het sonder om vas te stel van waar dit gekom het.”

Op 7 Maart 2019 by nog ’n parlementêre vraag-en-antwoord-sessie het Ramaphosa steeds geweier om te sê hoeveel geld sy seun by Bosasa gekry het. Tot die groot teleurstelling van die DA en die EFF het hy gesê dat die inligting kommersieel sensitief is, maar dat hy dit aan die OB gegee het.

Hulle [Bosasa] wou elke klein hoekie van die staat beheer en dit was beslis nie toevallig nie dat hulle skielik ’n sakeverhouding met Andile begin het letterlik maande voor die ANC se konferensie van Desember 2017.
Juli Kilian

Volgens ’n diepte-ondersoek deur News24 na Andile Ramaphosa se transaksies met Bosasa is ’n “adviserende” ooreenkoms tussen die partye bereik slegs ’n paar dae voordat Cyril Ramaphosa as ANC-president verkies is.

Die eerste faktuur is in Februarie 2018 ingedien.

Op 27 Maart het Ramaphosa jr. in ’n onderhoud gesê dat sy maatskappy Blue Crane Capital (hy is die besturende direkteur) R2 miljoen deur Bosasa betaal is vir raadgewende dienste tussen Februarie 2018 en Desember 2018.

“[Om sake te doen met ’n beleërde maatskappy soos Bosasa] was ’n ernstige fout aan ons kant,” het Ramaphosa jr. gesê en die skuld daarvoor op ’n “onvoldoende omsigtigheidsondersoek” gepak.

Die seun van die president is aktief op Twitter as @RamaphosaAndile bekend as “Ramz”.

Op 31 Maart 2019 het hy twee video’s op sy Twitter-tydlyn geplaas waarin hy persoonlik sy sakeverhouding met Bosasa verduidelik het.

Hy het in die video’s gesê die geld wat Blue Crane van Bosasa gekry het was nie vir hom nie, maar vir die onderneming. “Die geld is gebruik vir projekte wat ons gedoen het. Dit was nie ’n geskenk of ’n guns nie, ons het werk gedoen en die projekte bestaan.”

Ramaphosa jr. het aan News24 erken dat hulle nie heeltemal onbewus was van mediadekking van die onderneming (Bosasa), maar dat die een van die bewerings (teen Bosasa) in ’n hof getoets is nie. Hy het bygevoeg dat geeneen in die regering of in Bosasa formeel aangekla was toe hy sake met hulle begin doen het nie.

Kilian het gesê die gebeure was nie toevallig nie.

“Kyk net na Bosasa se gedragspatroon. Hulle het kos aan die tronke verkoop, hulle het die oranje oorpakke verkoop wat die gevangenes gedra het, hulle het die kringtelevisiestelsels verskaf, slimtelevisies, toegangsbeheer en selfs die heinings.

“Hulle wou elke klein hoekie van die staat beheer en dit was beslis nie toevallig nie dat hulle skielik ’n sakeverhouding met Andile begin het letterlik maande voor die ANC se verkiesingskonferensie van Desember 2017.”

* The Bosasa Billions: How the ANC Sold Its Soul for Braaipacks, Booze And Bags of Cash word deur Lapa uitgegee en kos R295.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.