Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die prins wat wonde moes heel

Mangosuthu Buthelezi se 90ste verjaardagpartytjie was nie ’n dag vir baklei nie, skryf Waldimar Pelser. 

Mangosuthu Buthelezi Maandag op Ulundi. Foto: Anthony Mitchell

‘Die meeste van ons mense is werkloos,” sê die koning van die Zoeloes aan die wit sakeman met die wilde wenkbroue wat in die voorste ry in ’n swart pak met ’n rooi das reg langs prins Mangosuthu Buthelezi op die wit leersofa sit.

“Neem die boodskap saam met jou terug na Amerika: Nooi hulle om in die koninkryk te kom belê, en elke enkele van daardie projekte sal ek beskerm – met my krygers.”

Dit is Maandagmiddag 27 Augustus in Ulundi, die geil groen hart van Zoeloeland, en vir die tweede keer in sewe weke sê koning Goodwill Zwelithini dat sy krygers, wat agter ons hurk in ’n kamp, gereed is om die belange van die Zoeloe­volk te beskerm.

Die vorige keer toe Zwelithini sy manskappe as ’n (retoriese) wapen ingespan het, was op 4 Julie, toe hy op ’n imbizo van die Zoeloevolk gewaarsku het dat

die miljoene hektaar vrugbare aarde wat danksy ’n pakt tussen die Nasionale Party en die Zoeloes besit word deur die Ingonyama-trust, nie onderwerp durf word aan grondhervorming nie. Die omstrede ooreenkoms oor Zoeloestamgrond, wat op 24 April 1994 gesluit is, het die weg gebaan vir die Inkatha-Vryheidsparty om aan die verkiesing drie dae later deel te neem. Verlede jaar het ’n hoëvlakpaneel onder Kgalema Motlanthe aanbeveel die trustakte moet gewysig word, want die hoofmanne saai amok. Zwelithini, wat rondry in ’n swart BMW 7-reeksmodel met die nommerplaat HM1, kon sy ore nie glo nie.

“Dalk het die tyd gekom vir KwaZulu-Natal om sy grense te sluit en sy eie sake te bestuur. Ek het mnr. Ramaphosa gewaarsku – as die regerende party moet hulle nie die fout maak om die Zoeloes se grond weg te vat nie, want alle hel sal losbars,” het Zwelithini in Julie gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa, natuurlik, het dadelik bes gegee.

Mangosuthu Buthelezi Maandag op Ulundi. Foto: Anthony Mitchell

Vandag is die koning egter allermins veglustig: Vandag word sy krygers as ’n gebaar van kameraadskap aangebied aan beleggers soos Arnold Zulman, wat ook ’n gas van Buthelezi is, wat dalk vrees dat hul fabrieke genasionaliseer sal word saam met wat ook al anders die regering onteien wanneer hy weldra die kans kry.

Dit is nie ’n dag vir oorlogspraatjies nie. In helder rooi en swart doeke, krale in geel, pienk en groen, noupassende Europese pakke en ontwerpersonbrille is ons hier om die 90ste verjaardag te vier van ’n kolos van die politieke landskap, prins Mangosuthu Buthelezi.

Van vroegdag af het die BBP’s stilgehou. ’n Swart Audi se bestuurder het ’n umqhele op sy kop, die bokvelbandjie wat wys hy is ’n getroude Zoeloeman. Prinses Nonjabula Nobutleeh, ’n kleindogter van Us’ngaye, soos Buthelezi ook heet, dring daarop aan dat ek by haar en haar ma op die koninklike familie se stoele kom sit.

Nadat ek my die tweede keer verskoon, ten einde die skyn van professionele afstand te handhaaf en te keer dat ek weens ’n misverstand dalk in die familie in trou, word die voorste gestoeltes gevul met oudpres. Jacob Zuma, Sihle Zikalala, die ANC se voorsitter in KZN, en natuurlik die Londense popster Toya Delazy (28).

Delazy, oftewel Latoya Nontokozo Buthelezi, is ’n kleindogter van die prins.

Sy het ’n klein Twitter-storm ontketen deur haar te klee in ’n ibheshu, die kalfsvelrompie wat Zoeloemans gewoonlik dra, sodat “Zoeloemeisies met verskillende genders nie die verkeerde maat lok nie”.

Agterna het sy aan haar 52 800 volgelinge op Instagram by ’n foto van haarself gesê: “Ek sal so graag wil sien dat meer van julle jul kultuur koester en ek sal werk om te verseker dat die koninkryk van die Zoeloes ’n veilige plek is vir Zoeloemeisies met verskillende genders.”

Delazy het belowe om op 23 September namens gay Zoeloevroue te praat op ’n byeenkoms van Zwelithini waar hy wil hoor wat vroue oor die grondkwessie sê, en wat dit beteken om in 2018 ’n Zoeloe-vrou te wees. Sondag voeg sy by: “As daar ’n man in hierdie koninkryk is wat ’n probleem daarmee het dat ek die status quo skuif – kom ons ontmoet kaalvuis. HIERDIE IS DIE AMPTELIKE UITRUSTING vir Zoeloemeisies met ander genders. Dankie aan my familie dat julle my aanvaar en my gister omhels het. x.”

Heelwat ander mooi dinge word op die dag gesê oor haar oupa – oor “Gatsha”, wat nou “Shenge” is, ’n naam wat in helder kleure hier pryk op die romp van ’n ululerende vrou in die ewige geskaaf van modernisering teen tradisie wat Suid-Afrika kenmerk.

In sy samevatting van die huldeblyke aan Buthelezi het prof. Otty Nxumalo, ’n koerantman en selfverklaarde skepper van Zoeloe-neologismes, eers uit Psalm 103 aangehaal oor die Here se “goedertierenheid oor die wat Hom vrees” en toe voortgegaan oor Buthelezi: “Hy is skrywer, digter, musikant, filantroop, sosioloog, politikus, kunstenaar. Hy is onverdrote, veerkragtig, vergewensgesind, ’n motiveerder, ’n inspireerder, ’n versoener. Hy is reguit.”

Zuma sê Buthelezi se Engels “is so groot soos dié van regsgeleerdes”, hy is ’n “leier en ’n vaderfiguur”, hy “berispe dié wat met disrespek optree” (lees: die EFF) – en hy het “nooit uitverkoop aan die Boere nie”.

Die skare is op hul voete wanneer iNkosi Biyela die rol prys wat Buthelezi gespeel het om tradisionele owerhede te vestig wat “soveel werk vir ons mense geskep het”.

Uit die laaibak van ’n ou, wit Toyota-bakkie word ’n huldeblyk gelaai: Dit is ’n veselglas-leeu.

Dan rys uit die skare die meesleurende lied wat die Zoeloes in 1889 gesing het toe die Britse owerhede hul koning, Dinuzulu, as krygsgevangene St. Helena toe gestuur het.

In sy eie toespraak beklemtoon ook Buthelezi sy koninklike herkoms.

“Ek het al patriotte van elke kleur en oortuiging geken,” sê Buthelezi, wat al gedien het as “inkosi, kanselier, hoofminister (van KwaZulu), onderhandelaar, eerste minister (van die koning), kabinetsminister en selfs waarnemende president” (in welke hoedanigheid hy in 1998 opdrag gegee het dat die Suid-Afrikaanse weermag Lesotho binneval).

Hy lê klem op sy diens aan die Buthelezi-stam, waarvan hy op 25 al hoofman geword het, en die Zoeloevolk.

Oor die huwelik tussen sy ma en sy pa, iNkosi Mathole Buthelezi, wat die destydse koning se tradisionele eerste minister was, sê hy: “Die seun uit hul huwelik moes ’n eeue oue wond heel. Ek is gebore met die voorafbestemde lot om die Zoeloevolk te dien en sy oorlewing, eenheid en krag te verseker.” En oor sy diens tydens apartheid in ’n Bantoestan-regering, waarvoor hy soveel hoon moes verduur, sê hy hy is gekies om dit te doen om “die stelsel van binne af te ondermyn”.

Sy idole is ANC-ikone: dr. Pixley ka Isaka Seme, ANC-stigter, Albert Luthuli, Z.K. Mathews.

Buthelezi het al met baie mense meningsverskille gehad – en botsings tussen Inkatha en die ANC was destyds dodelik. Maar oor sy omgaan met teenstanders sê hy: “My gewete is skoon.”

Die bloedige wedywering in KZN is immers deesdae nie meer tussen die IVP en die ANC nie, maar tussen ANC-faksies onderling. Die teenwoordigheid van Suid-Afrika se eerste Zoeloepresident by die vierings sou voorts ’n manifestasie daarvan kan wees dat die ANC nie die IVP as ’n dreigement ag nie: Buthelezi se 43 IVP-LP’s in 1994 was in 1999 34, teen 2004 28, en 18 teen 2009. Vandag is daar 10.

Een van hulle is Liezl van der Merwe, die Afrikaanse vrou wat al in 2006 by die IVP se media-afdeling aangesluit het.

“Prins Buthelezi is nie net my leier en kollega nie, hy is ook ’n groot Christen en baie trots op sy Zoeloekultuur. Hy is ’n trotse oupa, pa en liefdevolle man vir sy vrou, prinses Irene,” sê Van der Merwe agterna aan Rapport.

“Vir my het hy geleenthede gebied wat ek nooit elders sou kry nie. Hy moedig mens altyd aan om nuwe dinge te leer. Ek het al deur die wêreld saam met hom gereis en selfs vir prins Harry van Brittanje saam met hom ontmoet.

“Maar die grootste lesse wat ek by prins Buthelezi geleer het, is dat jy nooit jou beginsels in politiek moet prysgee nie. Moenie bang wees om te veg vir wat reg is nie, al sou dit jou ongewild maak.”

Van der Merwe sê haar leier het ’n “baie duur prys betaal omdat hy nie die ANC se gewapende stryd en sanksies teen Suid-Afrika wou ondersteun nie”.

“Vir dié keuses is hy ’n ‘sell-out’ genoem, wat hom steeds baie seer maak. Maar as ek hom vra oor die keuses, dan sê hy altyd: ‘Liez, if I had to make those decisions again, I would not change a thing’.”

Meer oor:  Mangosuthu Buthelezi  |  Ivp  |  Zulu  |  Koning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.