Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die prys van gratis nuus

Die herrie rondom Huffington Post se blog oor wit mans is onder meer ’n tragiese waarskuwing wat wys hoe die maniere waarop gratis joernalistiek befonds word, tot die ondergrawing van daardie joernalistiek se betroubaarheid en geloofwaardigheid lei, skryf Danie Marais.

Danie Marais.

“Ek koop nie meer koerant nie. Nuus24 is my home page,” het die ginekoloog vir my omtrent nege jaar gelede kort voor die geboorte van my dogter gesê.

Daardie dag in sy spreekkamer het ek helder besef: Ek en my beroep is in die moeilikheid. Die idee dat ek hom nie vir sy verloskunde hoef te vergoed nie, sou vir my absurd wees, maar blykbaar het die idee dat jy vir betroubare nuus en die joernalistieke kundigheid en koste wat daarmee gepaard gaan, moet betaal, ewe absurd geword. Dít terwyl mense tog vir meer as drie eeue heel vanselfsprekend vir ’n koerant betaal het.

Maar koerante wat nuus op digitale platforms gratis beskikbaar stel, maak mos geld uit advertensies?

Ongelukkig nie naastenby genoeg nie. Advertensies in die drukmedia is weens swak en steeds dalende sirkulasiesyfers nie gewild by adverteerders nie, terwyl digitale advertensies baie minder geld inbring.

Volgens ’n verpletterende insetsel oor die ellendige toestand van die Amerikaanse koerantwese in die satiriese TV-program Last Week Tonight with John Oliver, het koerante in die VSA vanaf 2004 tot 2014 hul digitale advertensie-inkomste verhoog van $1,5 miljard tot $3,5 miljard. Gedurende dieselfde periode het hulle egter $30 miljard minder uit advertensies in gedrukte media verdien. “Dis soos om ’n gelukkige pennie op te tel op dieselfde dag wat ’n 16-jarige kuberkraker in België jou hele bankrekening leegmaak,” het Oliver sardonies geskerts.

Weg gebaan vir ‘goue era’ van korrupsie

Maar mense maak tog geld uit nuus op die internet?

Ja, maar die sakemodel wat winsgewend is, is ’n uiters bedenklike een. Sean Blanda som dit op in ’n blog getiteld “Medium, And Why You Can’t Stand the News Anymore”.

Volgens Blanda moet enige nuusbron of koerant as volg te werk gaan om geld uit gratis digitale nuus te probeer maak:

Stap 1: Vergroot jou reikwydte op sosiale media (hoofsaaklik Facebook) deur inhoud te skep wat mense wil deel op sosiale media.

Stap 2: Gebruik jou groot reikwydte op sosiale media om advertensieruimte op jou webblad te verkoop deur middel van hoofsaaklik geoutomatiseerde reklame-tegnologie soos Google AdSense.

Step 3: Span jou gewildheid op sosiale media verder in deur adverteerders te help om sogenaamde “native advertising” of geborgde inhoud te skep waarin die grense tussen reklame en redaksionele inhoud so vaag is dat die meeste lesers nie seker is of hulle nou ’n artikel of promosie lees nie.

Stap 4: Herhaal vanaf stap 1.

Ou vorme van nuusdekking het te duur geword.

Blanda wys daarop dat hierdie strategie relatief skadeloos kan werk vir ’n webwerf wat draai om leefstylartikels. Maar wanneer dit gaan oor nuusdekking, baat hierdie metodes om inkomste te genereer allermins by duur ondersoekende joernalistiek. Inteendeel, al die ou vorme van nuusdekking, wat behels dat plaaslike en nasionale koerante verslaggewers en fotograwe stuur om behoorlik te gaan ondersoek instel na ’n voorval, ’n hofsaak of ’n vergadering in die stadsaal, het te duur geword.

Daar is eenvoudig geen manier om hierdie noodsaaklike waghondfunksies gewild genoeg te maak om dit ook winsgewend te maak nie. En dit baan die weg vir ’n “goue era van korrupsie” volgens David Simon, een van die skeppers van die veelbekroonde polisiedrama The Wire, wat jare lank ’n verslaggewer by The Baltimore Sun was.

Is klein hondjies nuus?

Hierdie sakemodel dwing immers almal in die nuusbedryf om hul reikwydte op sosiale media en hul hoeveelheid clicks ten alle koste te verhoog. Die gevolg is goedkoop churnalism waarmee enige nuus wat die lesers graag wil hê, herverpak word sonder die nodige verifikasie van feite en verkieslik met ’n sensasionele opskrif wat lesers laat klik en deel.

John Oliver illustreer hierdie dilemma treffend in sy bogenoemde uitsending met ’n toesprakie van Sam Zell – die miljardêr wat in 2008 die Tribune-mediamaatskappy aangekoop het. Zell het hiermee die grootbaas van koerante soos die Los Angeles Times, Orlando Sentinel en Chicago Tribune geword. Oliver wys hoe Zell ’n groep joernaliste van die Orlando Sentinel toespreek en sê: “My benadering tot joernalistiek is baie eenvoudig – ek wil genoeg geld maak om julle te kan bekostig. Julle moet my help deur joernaliste te wees wat fokus op dit wat ons lesers wil hê om só meer inkomste te genereer.”

Hierop sê een van die joernaliste: “Wat lesers wil hê, is oulike klein hondjies, en ons moet tog ook die gemeenskap ingelig hou?” Zell reageer deur ongeduldig te antwoord: “Jy konfronteer my nou met klassieke joernalistieke arrogansie deur te besluit klein hondjies tel nie. Hopelik bereik ons die punt waar ons inkomste genoeg is om klein hondjies en Irak te kan dek, oukei? En, wel, f*k jou!”

Sosiale media dra by tot polarisasie

Zell se skreiende uitspraak herinner my sidderend aan die woorde van die voormalige Afrikaanse koerantredakteur Piet Cillié, wat in Eet jou rape (1980) geskryf het: “In die lewe bestaan ’n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te egter die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ’n goeie dosis van wat hulle behoort te wil hê.”

Cillié se woorde klink na hopeloos wêreldvreemde wensdenkery in ons era waar digitale nuusblaaie so bont met klik-aas en skisofrene advertensies flikker dat dit sweerlik ’n gevaar vir epilepsielyers inhou. Dramaties dalende sirkulasiesyfers dwing koerante egter voortdurend om ’n “digitaal eerste”-model in te stel. En sodra dit gebeur, is die druk daar om die geloofwaardigheid wat jy danksy jou onwinsgewende nuusafdeling het, te verkoop aan adverteerders. Dít doen jy dan deur die stappe te volg wat Blanda hierbo uiteensit.

Dis egter nie net oulike hondjies en katjies wat die publiek wil hê nie. Wat op sosiale media werk, is (a) nuus wat ’n heftige emosionele reaksie by lesers ontlok en (b) inhoud wat pasgemaak is vir ’n spesifieke identiteit. Dit wil sê, nuus of menings wat ’n spesifieke groep lesers se oortuigings en vooroordele versterk.

Só dra sosiale media skrikwekkend by tot die polarisasie van gemeenskappe in die Trump-era. Want om jou reikwydte op sosiale media te vergroot, voer jy verskillende teikengehore presies wat hulle wil hoor in die hoop dat hulle dit verder sal deel met ander mense wat ook reeds só dink en voel.

Die huidige skandaal rondom die plasing van ’n kwaadstokende blog deur die Suid-Afrikaanse Huffington Post is ’n sprekende voorbeeld van die gevolge waartoe hierdie sakemodel lei. Hoe anders verklaar jy dié internet-nuusblad se plasing van “Shelley Garland” se “meningstuk” waarin “sy” beweer wit mans behoort hul stemreg ontneem te word, aangesien hierdie groep die ekonomie byna geheel en al oorheers?

Sou Verashni Pillay, die kurator van Huffington Post en voorheen redakteur van die Mail & Guardian, so ’n rubriek sonder die nodige verifikasie van feite en bronne geplaas het as sy nie desperaat was om haar nuuswebwerf se verkeer ten alle koste te verhoog nie?

Die histrioniese reaksies van regses en linkses op sosiale media was immers die voorspelbare en gewenste polariserende effek. Die feit dat die ware skrywer van dié gewraakte blog, Marius Roodt, intussen te kenne gegee het hy wou kyk wat die mees verregaande stuk is wat hy gepubliseer kan kry, maak van dié hele affêre ’n tragiese waarskuwing.

Dit wys duidelik hoe die maniere waarop gratis joernalistiek befonds word, tot die ondergrawing van daardie joernalistiek se betroubaarheid en geloofwaardigheid lei.

Internet maak van almal Homer Simpsons

Hierdie sakemodel is egter al wat werk omdat ons almal, ek inkluis, sogenaamde freetards geword het wat verwag om ons nuus verniet te kry.

Sodra iemand ’n betaalmuur oprig, snork ons van verontwaardiging. En nee, ek het ook nog nooit vrywillig ’n skenkinkie gemaak aan The Guardian nie, hoewel dié Britse koerant se webwerf my elke keer wanneer ek een van sy artikels lees, vriendelik versoek om dit te doen.

Dié treurige stand van sake herinner my aan ’n klassieke episode van The Simpsons waarin klein Lisa smoorverlief raak op ’n sjarmante aflosonderwyser.

Hierdie onderwyser moedig die kinders in sy klas aan om ’n uitstalling by die stadsmuseum te besoek. Lisa neul om te gaan en ’n erg onwillige Homer word deur sy vrou, Marge, aangesê om sy dogter te neem. By die museum se ingang staan ’n houer vir donasies. Homer vra die opsigter of dit beteken hulle moet betaal om in te gaan en hy’s in sy noppies toe die opsigter nee antwoord.

Hou ook rekening met die Homer Simpson-faktor.

Net daarna daag die aflosonderwyser op en maak gereed om geld in die donasieboks te gooi, waarop Homer, tot Lisa se enorme verleentheid, op die onderwyser afstorm en skree: “Nee, stop! Jy hoef nie te betaal nie!”

Geen strategie het ’n kans op sukses as dit nie ook met die Homer Simpson-faktor rekening hou nie. En blykbaar het die internet van ons almal Homer Simpsons gemaak. Maar as ons nie bereid is om te betaal vir betroubare nuus en goeie joernalistiek nie, gaan dit ons nog duur te staan kom.

Trouens, ons betaal reeds.

* Danie Marais is die bestuurder van PEN Afrikaans, ’n digter, ’n vryskutjoernalis en -omroeper. Sy jongste bundel is Pruimtwak & skaduboksers (Tafelberg).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.