Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die reg om te sterf

Die kwessie van genadedood is weens ’n hofsaak weer in die nuus. Terwyl daar talle godsdienstige en morele vrae is oor die saak, bied Chris Jones drie argumente ten gunste van genadedood.

Daar is argumente ten gunste van genadedood in gevalle waar pasiënte weens terminale siekte nie meer dieselfde lewensgehalte as vroeër kan geniet nie en pyn en lyding onmenslik word.Foto: PEXELS

Dieter Harck en dr. Sue Walter gaan die hooggeregshof in Johannesburg volgende week nader oor die wettiging van aktiewe genadedood.

Harck (71) het motorneuronsiekte (MNS) en sê wanneer sy lyding weens die siekte te erg raak en hy verloor sy waardigheid, sal hy sy lewe neem. Sy grootste vrees is om hulpeloos te wees, nie te kan kommunikeer nie, onhoudbare pyn te hê, nie te kan asemhaal nie en om nie te kan eet nie.

Walter, wat ’n kwaadaardige siekte van die beenmurg het, vra saam met Harck vir die reg om – wanneer die dag aanbreek – met die hulp van ’n gewillige dokter, haar lewe te kan beëindig.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het op 6 Oktober 2016 in The Washington Post geskryf wanneer sy tyd kom, sal hy die opsie wil hê van iemand wat hom bystaan om dood te gaan. Tutu argumenteer dat sterwende persone die reg behoort te hê om te besluit hoe en wanneer hulle hierdie lewe wil verlaat.

Hy voer ook aan dat hy regdeur sy lewe hom beywer het vir die waardigheid van mense, en dat hy graag sal wil sien dat mense ook waardig kan sterf. Só ’n opsie behoort aan diesulkes onmeetbare gemoedsrus te gee.

In Kalifornië en Kanada byvoorbeeld, maak wetgewing voorsiening daarvoor dat iemand terminaal siek persone bystaan met selfdood, maar daar is steeds duisende mense oor die wêreld heen, soos ook in Suid-Afrika, wat nie dié reg het nie.

Drie teenargumente

Dis ’n debat wat al vir jare in die mediese etiek en binne godsdiensgroeperings woed. Daar is breedweg drie argumente teen aktiewe vorms van genadedood, naamlik dat die mens hierdeur God probeer speel; dat dit die rol van mediese dokters is om lewe te bewaar en nie dood te veroorsaak deur iemand daarin by te staan nie; en die sogenaamde “slippery slope”-argumente. Laasgenoemde hou voor dat ’n dokter byvoorbeeld sy posisie sou kon misbruik om die lewe van kwesbare pasiënte te neem of dat pasiënte teen hul wens doodgemaak sal word (nie-vrywillige genadedood).

Hoewel hierdie argumente deurgaans verreken moet word, verkies ek om die argumente ten gunste van die aktiewe vorms van genadedood aan die orde te stel.

Maar kom ons kyk eers ter wille van duidelikheid na die twee vorms van aktiewe genadedood en hoe ’n mens hieroor behoort te dink.

Twee soorte genadedood

Die een staan bekend as vrywillige aktiewe genadedood of in Engels “voluntary active euthanasia” (VAE).

Dit is wanneer die dood doelbewus aangebring word in die lewe van ’n pasiënt wat bevoeg is om so ’n besluit te neem, en waar daar gereken word die aanbring van die dood is in redelike belang van en gegrond op ’n ingeligte versoek van die pasiënt. In hierdie geval veroorsaak die dokter se handeling die dood.

Nie-vrywillige genadedood is eties problematies, want dit sou mense kon betrek wat nie bevoeg was om daaroor te besluit of so ’n versoek te rig nie, óf wel bevoeg was om dit te doen, maar dit nooit gedoen het nie.

Ek fokus nie hierop nie.

Die tweede vorm van aktiewe genadedood is waar ’n dokter ’n pa­siënt bystaan in selfdood of in Engels “physician-assisted suicide” (PAS). In hierdie geval verskaf die dokter intensioneel die middele aan ’n bevoegde pasiënt wat dit dan self gebruik en sodoende sy dood veroorsaak.

In Suid-Afrika is albei hierdie vorms van genadedood onwettig.

Grondwetlike vraag

Dit is belangrik om te onthou dat hoewel die meeste geloofsgroeperings hierteen gekant is, aktiewe genadedood binne ’n konstitusionele demokrasie nie primêr as ’n teologiese kwessie oorweeg en hanteer behoort te word nie.

Uiteraard mag gelowiges hieroor nadink, en hulle hieroor uitspreek, maar hulle moet nie verwag dat húl denke oor ’n saak soos hierdie rigtinggewend gaan wees rakende wetgewing hieroor nie.

Nie almal in ons land (of wêreld) is gelowig nie. En ook is daar verskille nie net tussen verskillende geloofsgroeperings hieroor nie, maar ook binne dieselfde groeperings.

’n Konstitusionele demokrasie behoort nie ’n gunsteling-godsdiens te hê nie, al sou die meerderheid mense in ’n spesifieke land aan ’n spesifieke godsdiens behoort.

Hoewel wetgewing in Suid-Afrika aktiewe vorms van genadedood verbied, is ek en baie ander van mening dat dit wel binne die Grondwet, en dit wat die Grondwet toelaat, geregverdig kan word.

Verder bring die ontwikkeling van die mediese wetenskap mee dat ál minder dinge buite ons beskikkingsmag val. Ons het meer beheer oor dood en lewe as vroeër. Hoewel lewe hoë waarde hét, is dit nie absoluut nie.

Ek dink mense wat terminaal siek is, behoort die reg te hê om self te besluit oor wanneer hulle wil sterf.

Mense neem hul lewe lank besluite oor onder meer hul gesondheid, maar wanneer hulle terminaal siek is, en dikwels in ondraaglike pyn en lyding verkeer – en saam hiermee hul waardigheid as mens verloor – dán mag hulle nie ’n besluit neem of hulle waardig wil sterf nie.

Is dit moreel aanvaarbaar om lewe aan die gang te hou as daardie lewe geen aanduibare lewensfunksie en -gehalte meer toon nie? Waar daar nie meer sprake van “persoonlikheid” is nie, net biologiese funksies?

As iemand terminaal siek is, erg ly en fisiek tot die dood afgetakel is, kan daar nie tog ’n sterk morele saak uitgemaak word dat dit in orde sou wees as so iemand, binne voorgeskrewe medies-etiese parameters, met die sterwensproses gehelp word nie?

Drie redes

Dit bring ons dan by die drie argumente (breedweg) ten gunste van aktiewe genadedood in albei vorms.

Eerstens gaan dit oor persoonlike outonomie wat gerespekteer behoort te word – oor die bevoegde persoon se morele reg om ’n eie keuse te maak, ook wat betref die einde van lewe.

Die tweede argument gaan oor die voorkoming van ondraaglike lyding. Op niemand behoort die verpligting geplaas te word om lyding enduit te deurstaan nie, en dikwels teen hoë mediese koste.

Wanneer die lewe wat ons ervaar, nie langer goed is nie, en die dood nie langer sleg is nie, en as die dood daarom bo voortgaande lewe verkies word – soos Harck beweer dit met hom kan gebeur – behoort die rol van medisyne nie dán te verander van genesing en bewaring van lewe tot ’n hulp om iemand te help sterf op ’n manier wat deernisvol, genadig en respekvol is nie?

Aktiewe vorms van genadedood is vir my nie soseer die beëindiging van lewe nie, maar eerder die verkorting van lyding en die sterwensproses.

Hierom behoort elkeen sy “oomblik” te kan kies. Aktiewe vorms van genadedood is vir my nie soseer die beëindiging van lewe nie, maar eerder die verkorting van lyding en die sterwensproses.

Ons het geen aandeel aan hoe ons in die wêreld kom nie, maar ons behoort die reg te hê in terme van hoe lank ons hier wil wees.

Die derde argument gaan oor morele ekwivalensie – met ander woorde die ooreenstemming wat daar is met ander praktyke wat reeds moreel aanvaarbaar is – in hierdie geval passiewe genadedood.

Volgens (sekere) etiekkenners behoort daar geen verskil tussen aktiewe en passiewe genadedood te wees nie. Die een is nie noodwendig beter en die ander een slegter nie – dat passief reg is, maar aktief verkeerd nie. Dan diskrimineer jy en is jy onredelik.

Ons leef in ’n land met verskillende opinies. Ons moet hierdie diversiteit van menings binne ons Grondwet verreken. Ons het dit gedoen met aborsie en die doodstraf.

Hoekom kan dit nie ook gedoen word wat aktiewe vorms van genadedood betref nie?

Dr. Jones is ’n teoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Chris Jones  |  Gesondheid  |  Genadedood  |  Siekte  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.