Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die rol van uitvoerende bevele in VSA se politiek

Die uitvoerende bevele wat Amerikaanse presidente uitreik, mag dalk vreemd lyk vir die meeste Suid-Afrikaners. Pieter Labuschagne verduidelik hoe dié stelsel werk.

Pres. Joe Biden van Amerika onderteken ’n uitvoerende bevel wat een van oudpres. Donald Trump omkeer wat bepaal het dat transgender persone nie in die weermag mag dien nie. Foto: AP

Een van die eerste take wat die nuwe Amerikaanse president, Joe Biden, uitgevoer het, was om ’n reeks van 15 uitvoerende bevele te onderteken.

Van die belangrikste van dié uitvoerende bevele, was die meer doeltreffende bekamping van die Covid-19-pandemie.

Biden het ook met sommige van die uitvoerende bevele beleidsrigtings van sy voorganger, Donald Trump, gekanselleer deur dit met nuwes te vervang.

Biden se nuwe opdragte aan federale staatsdepartemente en -agentskappe het onder meer wetgewing van die Trump-administrasie opgehef wat strydig met die stryd teen klimaatsverandering was.

Die uitreiking van uitvoerende bevele deur die Amerikaanse president mag dalk vir ons hier in Suid-Afrika vreemd lyk.

Wat is ’n presidensiële uitvoerende bevel? Is die president, die hoof van die uitvoerende gesag, se uitreiking van uitvoerende bevele nie in wese ’n omseiling van die wetgewende gesag van die Amerikaanse kongres nie? Skaad die “inmenging” deur die uitvoerende gesag in die wetgewende gesag se regulerende funksies nie die absolute skeiding van owerheidsgesag in Amerika nie? Indien dit wel op inmenging neer kom, sou die uitvoerende bevele ondemokraties en selfs onkonstitusioneel wees?

Oudpres. George W. Bush op die toneel van die 9/11-aanvalle in 2001. Hy kon met uitvoerende bevele vinnig en doeltreffend in ’n krisistyd optree. Foto: Getty Images

Die meeste lande, soos Suid-Afrika, met parlementêre stelsels wat nie ’n presidensiële stelsel soos in Amerika het nie vind die uitvoerende bevele vreemd.

In wese is ’n uitvoerende bevel ’n skriftelike presidensiële opdrag, gegrond op sy konstitusionele en statutêre magte, wat gerig word aan federale agentskappe, hoofde van die verskillende departemente en federale werknemers. Die oogmerk daarvan is om goeie en doeltreffende regering te verseker, maar met sekere bepaalde voorbehoude.

Die konstitusionele prerogatief om uitvoerende bevele uit te reik, dra daartoe by dat die president, veral in die geval van ’n nasionale krisis, vinnig kan optree.

Bush kon 40 afsonderlike regeringsagentskappe in een instelling kombineer om vinnige, doeltreffende en gekoördineerde optrede te verseker.

Die voormalige president George W. Bush kon ná die terreuraanval op 11 September 2001 betreklik vinnig ’n uitvoerende bevel uitreik. Hy kon 40 afsonderlike regeringsagentskappe in een instelling kombineer om vinnige, doeltreffende en gekoördineerde optrede te verseker.

Bush het ook op die wyse die departement van binnelandse veiligheid op kabinetsvlak gevorm. Bush se uitvoerende bevele het dus vinnige en doeltreffende optrede in dié krisistyd verseker.

Ten einde die agtergrond van die uitvoerende bevele te begryp, is dit eerstens belangrik om na die verskil tussen die parlementêre en presidensiële regeringstelsels te kyk.

Parlementêre- en presidensiële regeringstelsels

Oudpres. Donald Trump van Amerika het verskeie uitvoerende bevele uitgereik. Foto: AP

Soos die naam aandui, word daar in die parlementêre stelsel groter klem op gesagsuitvoering deur die parlement (wetgewende gesag) gelê terwyl in die presidensiële stelsel die uitvoerende handeling sterker om die president (uitvoerende gesag) sentreer.

Hoewel die president en/of premier in albei stelsels die belangrikste uitvoerende amptenaar is, verskil hulle wesenlik van mekaar.

In die parlementêre stelsel regeer die premier (uitvoerende gesag) sterk deur die parlement (wetgewende gesag). In die meeste parlementêre stelsels is die premier en die kabinet lede van die wetgewende gesag, omdat daar net ’n gedeeltelike skeiding van owerheidsgesag tussen die uitvoerende en wetgewende gesag is.

In die presidensiële stelsel is daar sterker skeiding van owerheidsgesag, tussen die president (uitvoerende gesag) en die wetgewende gesag. In die presidensiële stelsel word uitvoerende gesag deur die Withuis – die kantoor van die president – beoefen.

Die uitvoerende bevele is ’n bykomende doeltreffende metode of konstitusionele meganisme wat die president kan gebruik om doeltreffende bestuur te verseker. Die uitvoerende bevele stel die president in staat om sy presidensiële en konstitusionele verantwoordelikhede deur die federale agentskappe uit te voer.

Geskiedenis van uitvoerende bevele

Oudpres. Bill Clinton het hom in 1995 in die appèlhof vasgeloop oor een van sy uitvoerende bevele. Foto: Getty Images

Die geskiedenis van presidensiële uitvoerende bevele strek terug tot die ontstaan van Amerika, hoewel dit aan die begin nie só genoem was nie.

George Washington, eerste president van Amerika, het reeds vroeg in die land se geskiedenis uitvoerende bevele uitgereik en het daar reeds meer as 13 000 van dié bevele die lig gesien.

Die konstitusionele gesag vir uitvoerende bevele is in die Amerikaanse grondwet in art. II vervat, wat bepaal dat die president uitvoerende gesag ontvang.

Die president kan aspekte van die staatsbeleid wysig en selfs as opperbevelvoerder van die gewapende magte oorlog verklaar hoewel ’n oorlogsverklaring eers deur die kongres goedgekeur moet word.

Die regsprekende gesag sal nie toelaat dat die president deur sy uitvoerende bevele met die wetgewende bevoegdheid van die kongres inmeng nie.

Uitvoerende bevele is grondwetlik en wetlik bindend, maar kan natuurlik op regsgronde uitgedaag word. Nog net twee aansoeke by die hooggeregshof vir tersydestelling van uitvoerende bevele is toegestaan.

Die eerste keer was in 1952 toe die destydse president, Harry S. Truman, probeer het om ’n einde aan stakings in Amerika tydens die Koreaanse Oorlog te maak.

Truman het alle staalfabrieke onder federale regsjurisdiksie geplaas om groter beheer oor nywerhede uit te oefen.

Die hooggeregshof het dié uitvoerende bevel nietig verklaar omdat hy bevind het dat Truman probeer het om wette te maak eerder as om wetgewing meer doeltreffend te maak of om duidelikheid daaroor te verskaf.

In dié geval was dit duidelik dat die hooggeregshof die konstitusionele wetgewende bevoegdhede en magte van die kongres beskerm het omdat dit in die grondwet gewaarborg word.

Dit is uit die uitspraak ook duidelik dat die skeiding van owerheidsgesag baie sterk in die presidensiële stelsel eerbiedig sal word en deur die regsprekende gesag beskerm sal word.

Die regsprekende gesag sal nie toelaat dat die president deur sy uitvoerende bevele met die wetgewende bevoegdheid van die kongres inmeng nie.

Pieter Labuschagne

In die meer onlangse verlede (1995) het die hooggeregshof ’n uitvoerende bevel van Bill Clinton tersyde gestel.

Clinton het deur middel van ’n uitvoerende bevel die federale regering probeer verhoed om ’n kontrak met organisasies aan te gaan wat plaasvervangers vir stakers wou reël.

Die appèlhof vir die distrik van Columbia het bevind dat Clinton se uitvoerende bevel regulatories van aard was. Dit het ingemeng met bestaande nasionale federale wetgewing (die wet op arbeidsverhoudinge) wat reeds magte aan werkgewers bied om permanente plaasvervangers aan te stel.

Dit het net weer bewys dat Amerikaanse howe deurentyd die skeiding van owerheidsgesag sal verseker en dit streng polisieer.

Die eenvoudigste manier is natuurlik om ’n uitvoerende bevel nietig te verklaar of om dit 'om te keer' – soos wat Biden besig is om met Trump se bevele te maak.

Die president kan steeds probeer om die kongres deur sy uitvoerende bevele te omseil omdat die twee huise nie nodig het om dit goed te keur nie. Maar die kongres kan wel die finansiering vir ’n uitvoerende bevel afkeur deur wetgewing daaroor aan te neem.

Die president kan weer op sy beurt die wetgewing veto, maar dan kan die wet weer voor die kongres en senaat vir goedkeuring dien.

Die eenvoudigste manier is natuurlik om ’n uitvoerende bevel nietig te verklaar of om dit “om te keer” – soos wat Biden besig is om met Trump se bevele te maak.

Bekendste uitvoerende bevele

Abraham Lincoln het slawerny met ’n uitvoerende bevel afgeskaf toe hy die Amerikaanse president was. Foto: Getty Images

Abraham Lincoln het gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog in die 1860’s habeus corpus deur uitvoerende bevele opgeskort en die Emansipasie Proklamasie uitgereik wat slawe vrygestel het.

Franklin Roosevelt, wat die meeste uitvoerende bevele van enige president uitgereik het, het in 1942 op dié manier beveel dat interneringskampe vir Amerikaners van Japanse afkoms tot stand moet kom.

In 1957 het Dwight D. Eisenhower ’n uitvoerende bevel uitgereik dat federale soldate na Little Rock in Arkansas gestuur moet word om te verhoed dat die eksklusiewe wit skool die Central High School nie beskadig word nie.

John F. Kennedy en sy opvolger. Lyndon B. Johnson, het uitvoerende bevele uitgereik teen rassediskriminasie met betrekking tot federale behuising.

Ronald Reagan het ’n uitvoerende bevel as Amerikaanse president uitgereik wat die gebruik van federale fondse vir die propagering van aborsie verbied het. Foto: Getty Images

Ronald Reagan het in 1984 ’n bevel uitgereik om ’n einde te maak aan die gebruik van federale fondse vir die propagering van aborsie. Clinton het dié bevel in 1993 met een van sy eie omgekeer.

George W. Bush het in 2001 ’n uitvoerende bevel uitgereik om openbare toegang tot dokumente en geskrifte van oudpresidente stop te sit. Barack Obama het egter in 2009 ’n uitvoerende bevel uitgereik om dit nietig te verklaar.

Die Amerikaanse presidensiële stelsel is uniek met groot klem op die skeiding van die owerheidsgesag en die stelsel van wigte en teenwigte.

Dit maak die uitreiking van uitvoerende bevele so interessant, want dit druis op die oog af in teen dié skeiding. Die regsprekende gesag in die regstaat sal egter nooit toelaat dat die president dié besondere prerogatief misbruik nie en die skeiding van owerheidsgesag in die gedrang bring nie.

’n Nuwe president wat vorige uitvoerende bevele kan omkeer, is ook ’n verdere waarborg en vorm deel van die unieke balans in die presidensiële stelsel.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  George W. Bush  |  Ronald Reagan  |  Bill Clinton  |  Amerika  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.