Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die rooi barette van Venezuela en die EFF

Die EFF – én die ANC – beskou Venezuela al jare lank as ’n bondgenoot en rigtingwyser, al is dié Suid-Amerikaanse land se ekonomie aan flarde. Hoe is dit moontlik? Sarel van der Walt berig.

Venezuela het meer olie as Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste olieprodusent, en groot hoeveelhede aluminium-erts, steenkool, ystererts en goud.

Tog het sowat 2,3 miljoen van die land se burgers die afgelope vier jaar gevlug om weg te kom van die armoede, werkloosheid en die gebrek aan onder meer kos en medisyne.

Elf Latyns-Amerikaanse lande het intussen hul instromingsbeheer verslap om dit moontlik te maak vir Venezolane om die land te verlaat, het die BBC berig.

Die jaar nadat wyle Hugo Chávez in 1998 president van Venezuela geword het, is die land se grondwet verander en is daar gefokus op maatskaplike hervormings as deel van die “Bolivariaanse revolusie”.

Sy regering het sleutelnywerhede genasionaliseer, “deelnemende demokratiese gemeenskapsrade” ingestel en met veral die geld wat die land uit olie verdien het, sosio-maatskaplike programme in werking gestel as deel van dié revolusie.

Danksy ’n baie hoë olieprys het Venezuela aanvanklik ekonomies geblom.

Chávez het hom by die Marxistiese/Leninistiese regerings van Kuba, Bolivië, Ecuador en Nicaragua geskaar.

Uiteindelik het Chávez se ekonomiese beleid gelei tot die huidige maatskaplik ekonomiese krisis.

In 2010, sowat twee jaar voordat die krisis begin het, het Julius Malema as ANC-jeugligaleier ’n besoek aan Venezuela gebring. Hy was in verwondering.

Malema en Venezuela

Pres. Nicolás Maduro en oudpres. Jacob Zuma by ’n Brics-beraad in Brasilië. Foto: GCIS

Toe Malema later uit die ANC geskop is en die EFF gestig het, het die EFF Venezuela gereeld voorgehou as die voorbeeld hoe Suid-Afrika se uitdagings oorkom kan word.

Soos met Chávez se Fifth Republic Movement, het die rooi baret sinoniem met die EFF geword.

Die EFF beskryf homself as ’n “radikale en militante ekonomiese bevrydingsbeweging”.

Hy sien homself ook as ’n linkse, anti-kapitalistiese en anti-imperialistiese beweging.

Die ANC en sy alliansie-vennote voel ook sterk aangetrokke tot Venezuela.

Tog het Malema die afgelope paar jaar al hoe minder in sy toesprake na Venezuela verwys.

Die ANC en sy alliansievennote voel ook sterk aangetrokke tot Venezuela.

’n Afvaardiging uit Venezuela het in Julie vanjaar ’n vergadering van die ANC, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, die vakverbond Cosatu en die burgerlike organisasie Sanco bygewoon.

Die alliansievennote het later in ’n verklaring hul solidariteit betoon met die mense van Venezuela wie se soewereiniteit ondermyn word deur “Amerikaans geleide aggressie”.

Sondag het die New York Times berig die Amerikaanse regering het die afgelope jaar met rebelle in die Venezuela-weermag vergader oor hul planne om van pres. Nicolás Maduro ontslae te raak.

‘Sterk ooreenkomste’

Julius Malema, EFF-leier. Foto: Argief

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê daar is sterk ooreenkomste tussen die populistiese styl van Chávez en dié van Malema.

“Malema se ongesofistikeerde en naïewe begrip van die breë ekonomie en die impak van nasionalisering en herverdeling op langtermyn- ekonomiese vooruitsigte, toon onrusbarende ooreenkomste met Chávez se beskouinge,” sê Labuschagne.

Net soos Chávez is Malema ook ’n populis wat voorgee om vir die massas teen die elite te veg, terwyl hy en sy binnekring self ’n elitistiese rykmansbestaan voer.

“Chávez se populistiese regeerstyl en maatskaplike hervorming het wel op kort termyn voorspoed vir die arm deel van die bevolking in Venezuela gebring. Dit was omdat die hervorming hoofsaaklik deur 'n hemelhoë olieprys gesteun is,” sê Labuschagne.

Chávez het die opbrengs van die baie hoë inkomste uit olie gebruik om op kort termyn ekonomiese groei te verbeter, ekstra werksgeleenthede in die openbare sektor te skep en inkomste na veral die laemiddelklas en arm deel van die bevolking te herversprei.

Grootskaalse nasionalisering

Lyk die rooi baret nie bekend nie? Wyle oudpres. Hugo Chávez van Venezuela. Foto: Reuters

“Hy het ook grootskaalse nasionalisering toegepas en die herverdeling van grond van die elite aan die ‘grondlose’, arm deel van die bevolking laat plaasvind.”

Dié korttermyn- ekonomiese maatreëls om die ekonomie te laat groei het egter spoedig misluk, omdat langtermyn-maatreëls soos die beperking van inflasie en die balansering van die begroting nie gepak is nie.

Die regering het ook nie sy groot buitelandse skuld probeer delg nie, meen Labuschagne.

“Die fokus op korttermyn- ekonomiese en maatskaplike maatreëls, wat die armer deel van die bevolking bevoordeel ten koste van die sogenaamde elite, is deel van 'n korttermynstrategie wat opportunisties en populisties is.

“Die voorkoms van populisme is in effek ’n anti-elitistiese beskouing van sosio-ekonomiese politiek, wat primêr op die aftakeling van die elite gerig is.”

Inploffing tragies en skouspelagtig

Die wet van Transvaal geld deesdae in Venezuela. Dit is hoeveel bolívar (Venezuela se geldeenheid) ’n rol toiletpapier kos. Foto: Reuters

Die inploffing van Venezuela se ekonomie gedurende sy bewind en ná Chávez se dood (in 2013), en ook onder Maduro was net so tragies soos dit skouspelagtig was.

“Met die skerp daling van die olieprys en die skerp styging in inflasie was dié land vierkant in ’n ekonomiese vryval.

“Die regering het ook geen reserwes gehad om op terug te val nie, en kon gevolglik ook nie sy buitelandse skuldverpligtinge nakom nie,” verduidelik Labuschagne.

“Inflasie het tot 1 000% gestyg en die geldeenheid (die Venezolaanse bolívar) is op ’n keer met 95% gedevalueer.

“Die olieproduksie was spoedig terug op die vlakke van 1940. Dit is omdat daar nie geld was om nuwe onderdele in te voer nie.”

Dit gaan vir die populis oor die wil van die meerderheid waaraan uiting gegee moet word.

’n Bolívar was verlede week baie minder as ’n Suid-Afrikaanse sent werd. Dié geldeenheid was in 1989 nog 65 sent werd.

Labuschagne sê in Suid-Afrika het die voorkoms van populisme sedert die stigting van die EFF ’n destabiliserende onderafdeling van die politieke dinamiek geword.

“Die EFF, onder die opruiende leierskap van Malema, werp toenemend ’n skadu oor die politieke landskap, onrusbarend buite verhouding met sy huidige steun van minder as 10%.

“Die impak van Malema en die EFF, met hul populistiese aanslag, is so groot dat dit ander opposisiepartye se rol in die politiek grootliks gemarginaliseer het.

“Hul aansprake oor die herverdeling van grond het selfs op die regerende ANC-party ’n rigtingverskuiwende invloed gehad.

“In reaksie op die EFF se standpunt oor grond, het die ANC self op die populistiese wa gespring. Die party het in reaksie landwyd steun by die breër bevolking probeer kry vir sy grondhervormingsinisiatiewe,” sê Labuschagne.

Malema gee ook soos Chávez voor dat hy ’n kampvegter vir die armes is, maar sy eie ekonomiese program is op kort termyn gerig.

Hoewel Malema voorgee om demokratiese waardes aan te hang is die EFF se fokus eerder op algemene soewereiniteit (stemreg) vir die massas, groepsregte en die wil van die meerderheid ingestel.

Dit is volgens Labuschagne ’n kenmerk van populistiese partye dat hulle nie individuele regte, die skeiding van die owerheidsgesag en die beskermingsrol van die regerende gesag oor die uitvoerende gesag hoog ag nie.

“Dit gaan vir die populis oor die wil van die meerderheid waaraan uiting gegee moet word.

“Malema gee ook soos Chávez voor dat hy ’n kampvegter vir die armes is, maar sy eie ekonomiese program is op die kort termyn gerig – nasionalisering, grondgrype en staatsbeheerde sosialisme.

“Dit alles ondanks die voorbeelde uit die geskiedenis van ’n land soos Venezuela wat ekonomies ineengestort het.

“Hierdie ongesonde mengsel van populisme sal die Suid-Afrikaanse ekonomie spoedig op die randjie van die afgrond bring.”

Romantisering van die geskiedenis van bevryding

’n Vrou stap verby leë winkelrakke in Caracas, die hoofstad van Venezuela. Foto: Reuters

Dr. Piet Croucamp, ’n politieke wetenskaplike van die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus, sê die EFF se romantisering van Venezuela gaan nie oor die gehalte en die effektiwiteit van die interne ekonomie en politieke stelsel in Venezuela nie.

“Die romantisering gaan oor die geskiedenis van politieke bevryding.

“Hulle (die EFF) romantiseer die weerstand wat uit Venezuela gekom het teen diegene wat hulle as die gemeenskaplike vyand (kapitalisme) sien.

“Die gemiddelde EFF-ondersteuner het geen goeie begrip van wat in die politiek en die ekonomie van Venezuela gebeur het, tans gebeur en wat die gevolge daarvan is nie.

“Soos Marx en Lenin het die staat in Venezuela ‘goeie bedoelings’ gehad, maar die uiteinde was skrikwekkende nagevolge.

Die wortels van daardie romantisering lê in ’n bepaalde geskiedenis – in weerstandspolitiek.

“Die bedoelings van die staat was om die armes en die werkersklas op te hef.

“Nie een van die EFF-lede in die parlement sal vir jou mooi kan verduidelik wat die probleem met die ekonomie in Venezuela is nie, hoekom daar ’n ineenstorting is, hoekom daar verarming is of hoekom die mense vlug nie,” sê Croucamp.

“Jy moet hul romantisering van Venezuela, China en Kuba altyd in ’n historiese perspektief beoordeel.

“As jy die EFF kritiseer en sê ‘julle romantiseer ’n ekonomiese stelsel wat ineengestort het’, mis jy die punt.

“Die wortels van daardie romantisering lê in ’n bepaalde geskiedenis – in weerstandspolitiek,” sê Croucamp.

“Onthou, politiek gaan oor opvattings, oor geskiedenis, oor storievertelling . . . Politiek het nie noodwendig te make met die werklikheid nie.”

Meer oor:  Eff  |  Julius Malema  |  Venezuela  |  Ekonomiese Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.