Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die rustige rowers

Die gemak en selfvertroue waarmee die Stander-bende hul rooftogte uitgevoer het, was verstommend, skryf Allan Heyl.

Polisiefoto’s van Stander nadat hy op 10 Februarie
Polisiefoto’s van Stander nadat hy op 10 Februarie 1984 in Fort Lauderdale, Florida, in hegtenis geneem is omdat sy motor nie ’n lisensie gehad het nie.

’n Paar dae later het André my amper sprakeloos gelaat met een van sy opmerkings.

“Jy begin my bekommer,” het hy gesê. “Jy is nou al ’n hele tyd uit die tronk en jy het steeds nie ’n kar nie en het nog nie weer ’n bank beroof nie?”

Ná ’n oomblik van verbystering het ek teruggekap: “Om wat te bereik? Waar pas dit in ons planne in? Jy is die een wat rondlê en lees, die swembad skoonmaak en tuin-tuin speel met jou rose.”

“Ek dink jy het jou nerve verloor,” het André gesê.

“O, jy dink so?”

“Ja, ek doen. Een van die dae gaan ek in daardie Cortina klim en op die een punt van die dorp begin en elke bank beroof totdat ek aan die ander kant uitry.”

Kom ons gaan treat onsself, het André gesê. Ek ken net die plek.

Dit was alles praatjies, maar met André het jy nooit geweet wat agter sulke ydel praatjies lê nie.

“Lyk my ons wil iets aan mekaar bewys,” het ek gesê. “So, hoe lyk dit ek klim môre in ’n kar, gaan beroof ’n bank en dan wag ons vir jou dramatiese reaksie die volgende dag.” My antwoord was kalm, alhoewel ek ver van bedaard hieroor gevoel het.

Ek het die nag in Linmeyer in die suide van Johannesburg geslaap en die volgende oggend het Mac (Patrick Lee McCall) my by ’n motorhandelaar in Germiston afgegooi. Ek het my tyd gevat om die karre deur te kyk en uiteindelik op ’n Opel Rekord 2.2 met min kilometers op besluit. Ek het die verkoopsman gevra of ek dit vir ’n toetsrit kan neem en hy het dadelik ingestem. Hy het eers bestuur en toe gestop sodat ek ook ’n gevoel vir die kar kan kry. Terwyl hy omgestap het na die passasiersdeur het ek al die deure gesluit, agter die stuur ingeglip en stadig weggetrek terwyl die verkoopsman langs die kar draf en aan die venster slaan. Ek het vir hom gewaai en vet gegee.

Later die dag het ek nog ’n stel nommerplate gekry wat aan ’n soortgelyke Opel behoort en ’n derdepartyskyfie.

Daarna het ek twee banke begin dophou en die roete en die omgewing leer ken. Of André se uitdaging nou per ongeluk of doelbewus was – hierdie rooftogte sou my antwoord daarop wees.

Die volgende oggend, net toe ek gereed maak om uit te gaan, vra Mac in die verbygaan wat ek vir die dag beplan.

“Ek gaan ’n bank beroof,” het ek tot my spyt gesê. Hy wou hy saamgaan. “Dit is twee banke, Mac”.

Mac het sy tipiese skuifelpassie gedoen en gehuiwer terwyl ek besig was om my finale voorbereidings te tref. Maar voordat ek die kar kon aanskakel, was hy by.

“Dit behoort doodeenvoudig te wees,” het ek gesê. “Jy dek my van die deur af en alles sal orraait wees.”

En dit is presies hoe dit gebeur het. Ons was blitsvinnig uit die gebied en het net nodig gehad om op ’n stil plek te stop om die nommerplate om te ruil.

Terug in Linmeyer het ek die buit in drie verdeel. “Nee,” het Mac geprotesteer. “Ons het die rooftog uitgevoer en dit is . . . uhm, ah . . . en dit is die manier waarop ons . . . uhm . . . waarop André en ek . . . uhm . . . besluit het.”

Dit was sekerlik nie ’n geval dat ons besluit het om André hiermee uit te sny nie, maar ek het met Mac se plan saamgegaan om die vrede te bewaar. Mac het die helfte van die R13 000 gevat en is met ’n spoed by die deur uit.

’n Paar uur later het André gebel.

“Ek het dit pas op die nuus gehoor,” het hy laggend gesê. “Twee? Jy het twee gedoen?” Hy het so gelag, hy kon skaars ’n woord uitkry.

“Waarvan praat jy?” het ek gesê terwyl ek ongeërg probeer klink.

Dit het André net meer plesier verskaf.

Jammer daaroor. As ek aan daardie hopie raak, gaan die alarm af.

Dit was ongewone gedrag van hom. Gedurende die dag, wanneer hy sober was, was hy gewoonlik stil, gekontroleerd en ernstig.

“Luister hier,” het ek gesê, terwyl ek probeer ernstig klink. “Daar is geen manier waarop dit ek was wat twee banke beroof het nie, want ek het blykbaar my nerve verloor.”

Ek en André het die volgende dag ontmoet en ek het hom sy deel van die orige kontant gegee terwyl ek Mac se rekenkundige metodes verduidelik.

“Bleddie tipies. Gutter scum,” was André se reaksie.

                                                                        ***

Op Dinsdag 29 November 1983 het ek en André ’n bietjie met die hemelblou Cortina gaan ry. Met Mac wat vir die afsienbare toekoms moet wegkruip in die Linmeyer-huis nadat hy in ’n ongeluk beseer is, het ons ’n paar weke gehad om onsself toe te wy aan die oorspronklike plan: om banke te beroof. Op dié oggend was daar onder die komberse op die agtersitplek twee haelgewere, ’n Ruger-geweer en ’n groot hoeveelheid ammunisie.

Ek en André het vroeër ’n vreemde argument gehad. Ek het uit die huis gekom met die hardeware terwyl André by my wou weet wat de hel ek doen.

“Waar gaan jy met al daardie gewere?”

Ek het in my spore gestop. “Waarom het ons die moeite gedoen om hulle in die hande te kry as ons hulle nie gaan gebruik nie?” wou ek weet.

André het sy Ruger-rewolwer oorgehaal. “As ek nie myself hiermee uit die moeilikheid kan skiet nie, gaan daardie goed my beslis nie help nie.”

“Dis net dom,” het ek gesê. “Wat sal vyf rondtes help in ’n ernstige skietgeveg?”

“Wel, as dit is wat jy wil hê, moenie van my verwag om jou te help nie.” Hy kon soms baie kinderagtig wees.

Allan Heyl destyds.
Allan Heyl destyds.

Ons het geen idee gehad waarheen ons op pad is nie omdat ons geen planne gemaak het oor watter banke om te beroof nie. Omdat ek ’n dubbele rooftog met Mac uitgevoer het, was ek seker dat meer as twee waarskynlik is.

Terwyl ons ry, het André die moontlikheid van ’n rooftog op ’n groot tak van die United Bougenootskap in Voortrekkerweg, Alberton, geopper. Hy het lank reeds gedroom daarvan om op dié tak toe te slaan, so dit is waarheen ons is.

Ons het een recce verby die bank gery, toe ’n U-draai gemaak en ’n kort entjie daarvandaan stilgehou. Albei van ons het swart pruike en swartraambrille gedra en André ’n swart snor. Hy het presies net soos die prentjie gelyk wat van hom in die media versprei is.

In sy hand was ’n klein blou seilsak en ek het my .357 in my hand gehad, toegemaak met ’n bruin sweetpak. Ons het die kar ongesluit gelaat met die sleutel in die asbak.

In die bougenootskap was daar 12 tellers en ’n enkele ry kliënte wat reg oorkant die eerste teller begin het. Dit het by my opgekom dat, met ons eenderse vermomming en blou jeans, ons onsself baie opmerklik gemaak het. Ek het daarom vir André gefluister dat ek by een van die
kliënte-lessenaars sal sit terwyl hy in die ry gaan staan.

“Kry ’n manier om by die eerste teller uit te kom, ek sal jou daar kry.”

Hy het geknik en oog geknip. Dis hoe eenvoudig ons strategie was.

Ten spyte van die feit dat die ry lank was, het dit vinnig beweeg. Toe André die voorpunt bereik, het hy teruggestaan om ’n vrou toe te laat om voor hom te gaan.

Hy was nou in die ry vir die eerste kassier. Ek het ongeërg nader geloop om by hom aan te sluit en só posisie ingeneem dat ek kon sien wat André doen, maar ook my oog op die ry kliënte kon hou. Die laaste ding wat ons wou hê, is ’n cowboy wat probeer heldhaftig wees.

André het die teller gegroet en diskreet vir haar die wapen in sy linkerhand gewys wat nog deels in die seilsak was. Saggies het hy gesê: “Geen alarms, sit die kontant op die toonbank. Ons wil net die geld hê, ons sal jou nie seermaak nie. Ek belowe.”

Sy het gemaak soos sy beveel is. Vinnig en vaardig het André die geld in die sak geprop.

Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit Allan Heyl Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit Allan Heyl se boek, Bank Robber, uitgegee deur Penguin. Dit kos R280.

Daarna is ons na die tweede teller toe. “Verskoon ons asseblief,” het ek aan die kliënt by die toonbank gesê en hy het beleefd teruggestaan. Daarna het ek aan die teller gesê om die kontant op die toonbank te sit.

En so het ons voortgegaan, asof die hele operasie versigtig gechoreografeer was. Ná die vyfde teller het André na my geloer en ons het instemmend geknik. Dit was tyd om te gaan.

Terwyl ons na die uitgang loop, het ’n wag in uniform vir ons die deur oopgemaak en ons vriendelik tot siens gegroet. Ek het teruggekyk en tot my verbasing besef dat die kliënte nog geduldig in die tou staan en wag. Niemand het eers na ons gekyk nie.

Ons is vinnig na die kar. André het die sak met geld op die agtersitplek gegooi en die kar aangeskakel. Ek het buite gestaan om vir hom dekking te gee ingeval daar enige aksie was. Rondom ons het die dag stil en kalm sy gang gegaan.

Daarna het ek in die motor geklim en André het tot in die straat gery. Terwyl ek die kontant uit die sak op die agtersitplek uitdop en met ’n kombers toemaak, het ek deur die agterruit ’n man in ’n wit hemp en die sekuriteitswag gesien wat in ons rigting wys.

“Dit het goed gegaan,” het André gesê. “Daar is geen punt om langer te bly as wat ons welkom is nie.”

“Nee, geen rede nie,” het ek saamgestem, “maar volgende keer moet ons ’n groter sak bring.”

Hy het na my gekyk en gegrinnik. “Dis nou jou beurt.”

“Blackheath. D.F. Malan­rylaan. Oorkant die Cresta-sentrum.”

Met die snelweg langs was dit nie meer as ’n halfuur se ry nie. Gou was ons in die voorstede en verby Northcliff Corner. Daar naby was ’n arkade en binne was ons teiken: ’n tak van Barclays Bank.

Dit was ’n baie klein tak in vergelyking met Alberton en daar was geen kliënte nie. Stil en diskreet het ons die vier tellers opdrag gegee om hul geldlaaie skoon te maak en die geld op die toonbank te plaas. Ewe stil het hulle aan ons eise voldoen.

Terug in die kar het ek besef ons het veel meer geld gekry as in die Alberton-rooftog.

“Hoe lyk dit met nog een bank,” het ek vir André gesê. “Ek ken die agterstrate van Rosebank en daar is ’n perfekte laaste stop voordat ons op die hoofweg klim Houghton toe.”

Fyn, het hy gesê.

So het ons gevleg deur Craighall Park en Parktown-Noord, op met Tyrwhitt-laan tot in die hart van Rosebank. Ons het op die hoek stilgehou, oor ’n lae heining gespring en is in by die winkelsentrum. Ons bestemming was ’n klein tak van Trust Bank met ’n enkele teller. Daar was geen kliënte nie.

Ons het stil-stil die teller aangesê wat om te doen. “Geen probleem,” het hy gesê. “Julle ouens doen julle werk en ek doen myne.”

Hy het die laai oopgemaak en ons van die geld gegee. “Alles,” het ek gesê.

In reaksie het hy teruggestaan, sy kop geskud en sy palms na bo gehou. “Trigger alarm. Jammer daaroor. As ek aan daardie hopie raak, gaan die alarm af.”

“Jy sê vir ons dis al wat jy het?” het André gesê.

“O nee. Daar is nog baie in die laai.” Hy het na nog ’n laai gewys. “Maar dis gesluit. Die ou met die sleutels is hier weg net voordat julle ingekom het.”

Ons was op die punt om tou op te gooi, toe ’n lang, ouerige, welgeklede man inkom en by een van die kliënte-lessenaars gaan sit met sy rug na ons toe.

“Sien jy ons backstop daar?” het André aan die teller gesê, terwyl hy na die welgeklede man wys. “Hy gaan ’n ogie op jou hou, so moenie daardie alarm druk voordat ons nie vir ten minste ’n minuut weg is nie. Jy wil hom nie ontstel nie.”

Albei van ons het gesukkel om ons lag te hou oor André se waaghalsigheid.

“Moenie oor my bekommerd wees nie,” het die teller gesê, terwyl hy sy julle-doen-julle-ding-en-ek-doen-myne-mantra herhaal.

Teen die tyd dat ons terug was by die kar, was André dik van die lag. Hy was in sy element, om genot te put uit die verwarring wat hy saai.

Van Rosebank na Houghton was glad nie ver nie en binne ’n ommesientjie was ons besig om die geld die huis in te dra. Ek reken ons het in minder as twee uur naby aan 100 km gery om drie banke te beroof.

Ons het al die geld op die dubbelbed in die hoofslaapkamer uitgepak en die volgende uur bestee om dit te tel. Dit was R21 000. Elkeen van ons het R2 000 geneem en die balans weggesluit in ’n wit tas in die instap-aantrekkamer.

“Kom ons gaan treat onsself,” het André gesê. “Ek ken net die plek.”

Die “plek” was die gimnasium op die swembaddek op die eerste vloer van die Landdrost-vyfsterhotel in Joubertpark.

Dit het gelyk asof al die personeel daar vir André ken. Hulle het hom entoesiasties gegroet terwyl hulle vir ons handdoeke, seep, sjampoe en deodorant aangegee. Ons het ons oorgegee aan ’n sauna-sweetsessie voordat ons in ’n borrelbad geklim het waar ons elke halfuur na die nuusbulletins geluister het met ons eskapades as die hoofnuusberig.

Dit was ook daardie middag dat André my vertel het dat hy beplan om in ’n huurhuis in Fort Lauderdale, Florida, te gaan bly. Ek het nie eens geweet dat hy vir eiendom in Amerika soek nie.

Meer oor:  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.