Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die sakewêreld het nou BA-grade nodig. . .

Vergeet van BCom-Rek of ’n MBA. Die sakewêreld het nou BA-gegradueerdes nodig, meer as ooit tevore, skryf Edward Nadas.

Grafika : iStock

The Defects of an University Education, and its Unsuitableness to a Commercial People is ’n taamlik onbekende werk wat in 1762 deur die Skotse Metodiste-priester William Thom publiseer is.

In die essay lê Thom die argument voor dat universiteitsopleiding toe te intellektueel was en studente nie die nodige beroepsopleiding gegee het om hulle voor te berei op die arbeidsektor in die 18de eeu nie. Dit was nog voordat sy landgenoot Adam Smith die basis vir moderne ekonomie neergelê het met The Wealth of Nations (1776).

Vandag kan korporatiewe maatskappye en sakeondernemings egter hulself ’n mededingende voorsprong gee deur meer waarde te heg aan gegradueerdes en potensiële werknemers met ’n kwalifikasie in die lettere en wysbegeerte.

Kenners in die sogenaamde STEM-velde (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) gedy in die korporatiewe wêreld en is oral in groot aanvraag, veral in die era van Groot Data.

Nietemin kon niemand die sosiale verwikkelinge, kulturele kronkelpaaie en etiese slaggate van vandag se sakewêreld voorsien nie. Maatskappye word daagliks meegesleur deur die diepsinnige teenstrydighede van die moderne wêreld.

Kyk nou maar na die vliegtuigvervaardiger Boeing se korporatiewe kopsere.

Berigte in The New York Times en Wall Street Journal suggereer dat sy bestuur selfvoldaan en agterlosig geword het, twee faktore wat gelei het tot die twee 737 Max 8-vliegtuigrampe. Soos Boeing se markaandeel begin krimp en sy mededinger Airbus hom verbygesteek het, het die maatskappy onverantwoordelike risiko’s begin neem – in hul ontwerp, die toetsprosesse, die opleiding van vlieëniers en die manier hoe hulle die eerste Lion Air-vliegramp hanteer het.

Sommige van die vliegtuig se probleme was gesetel in die STEM-dissiplines, soos die vliegtuigsagteware wat nie behoorlik getoets is nie. Vir dié soort uitdagings is die lugvaart- en ingenieursgrade van Dennis Muilenburg, hoof van Boeing, ’n goeie beginpunt.

Die verhaal van ’n idioot, vol van klank en woede

’n Agtergrond in die menslike en geesteswetenskappe sou Muilenburg miskien kon help om die dieperliggende probleme by sy maatskappy vroeër raak te gesien het.

Wat by Boeing gebeur het, is ’n tydlose, universele storie van ambisie en trots, ’n algemene tema in die geesteswetenskappe se filosofie- en literatuurklasse.

’n Maatskappy bestaan uit mense en waar daar mense is, is daar probleme en uitdagings.

Sosioloë noem die morele tekortkominge “disfunksionele organisatoriese dinamika” en dit word dikwels in ’n sekere korporatiewe kultuur aangemoedig. Historici en politieke wetenskaplikes bestudeer ook deurentyd die verwoestende draaie wat maatskappye in ’n uiters mededingende mark maak, sowel as kapitalistiese konflik.

Boeing se gevallestudie is buitengewoon, maar sosio-kulturele uitdagings bly ’n algemene verskynsel in die sakewêreld.

Oliemaatskappye staan voor uitdagings soos herwinbare energie en die opkoms van elektriese motors. Hulle benodig akademiese kundigheid oor die relevante wetenskap en tegnologie, maar ook ’n geskiedkundige bewustheid oor hoe tegnologiese veranderings die bedryf – in teorie en praktyk – kan ontwrig.

Maatskappye kan ook uit ander se foute uit die verlede leer wanneer hulle moet besluit oor onsekerhede wat deur tegnologiese veranderings meegebring word. ’n Maatskappy bestaan uit mense en waar daar mense is, is daar probleme en uitdagings.

’n Korporatiewe hoof wat byvoorbeeld kennis van feminisme en vrouestudies het, is beter toegerus om subtiele, maar deurdringende uitdagings soos genderkwessies te hanteer.

’n Korporatiewe hoof wat byvoorbeeld kennis van feminisme en vrouestudies het, is beter toegerus om subtiele, maar deurdringende uitdagings soos genderkwessies te hanteer. Hulle kan byvoorbeeld onderbewustelike genderdiskriminasie van binne die organisasie identifiseer, aanpak en in die kiem smoor voordat dit buite die organisasie in ’n openbare turksvy ontaard. Hulle is beter toegerus om besluite te neem oor diversiteit, regverdige en gelyke salarisse en verstaan vroue se uitdagings rondom balans in hul beroeps -en persoonlike lewe.

Dan is daar die werklik groot vrae oor ’n maatskappy se doelwitte en sy bestaansreg. Talle lande en ondernemings is tans bereid om ongebreidelde produksie en ekonomiese groei na te jaag – ondanks die sosio-maatskaplike en omgewingsimpak.

Daar kan van geen enkele baas verwag word om die kultuur mens-alleen te verander of uit te daag nie. Inteendeel, die meeste aandeelhouers en politici sal gou laer trek teen ’n filosofiese baas wat welstand en matigheid belangriker ag as aggressiewe groei.

Maar ’n uitvoerende hoof wat geskiedenis of filosofie op universiteit geneem het, kan dalk minder roekeloos optree. Die selfbeheersing kan dalk eendag net voordelig vir sy maatskappy wees.

’n Tekort aan BA-grade?

Terwyl meer geesteswetenskapkenners broodnodig binne die korporatiewe en sakewereld is, is die kwalifikasie nie juis so algemeen onder die sakewêreld se bestuurshoofde nie.

As jy ’n soektog doen na uitvoerende hoofde op LinkedIn, is rekenaarwetenskappe die algemeenste studierigting by mense wat die postitel beklee by maatskappye van 50 werknemers of meer. Ekonomie is tweede, gevolg deur sakestudies, bankwese en finansies en elektriese ingenieurswese.

Voornemende studente toon ook nie meer soveel belangstelling in die geesteswetenskappe nie.

Die studierigting word getreiter deur postmoderne, onverdraagsame remskoenpolitiek en kleingeestige vakterreine wat geesteswetenskappe se aansien verdof.

Die afgelope dekade het die getal gegradueerdes met ’n graad in geskiedenis of filosofie met 12 % geval, luidens Universities UK. In die VSA het die getal studente wat geskiedenis as hul hoofvak geneem het, in dieselfde tydperk met 30% geval, volgens die Amerikaanse onderwysstatistieksentrum.

Vanaf 2011 tot 2016 het die getal BA-grade wat in politiek en staatsleer, Engels en geesteswetenskappe toegeken is, met ten minste 10% geval, terwyl spesialiseringsrigtings soos ingenieurswese met ’n derde toegeneem het, en wetenskap en inligtingstegnologie met meer as die helfte.

Akademici in lettere en wysbegeerte doen ook nie veel om hul studierigtings aanlokliker te maak nie. Die studierigting word getreiter deur postmoderne, onverdraagsame remskoenpolitiek en kleingeestige vakterreine wat geesteswetenskappe se aansien verdof.

Die tendense dui dalk op ’n betreurenswaardige simmetrie in die akademiese en korporatiewe wêreld.

In die sakewêreld het besighede belangstelling verloor in die voordele wat ’n breër studierigting hul toekomstige werknemers bied. Op universiteit gee talle akademici weer nie hul studente die nodige leiding om praktiese en nugtere vrae te vra wat hulle kan toerus hul sakevernuf beter te ontwikkel nie.

Dit is ’n verlies, meen John Mackey, die man wat dit reggekry het om ’n enkele gesondheidswinkel in Austin, Texas, uit te bou tot die Whole Foods-sakeryk wat $14 miljard werd is.

Sy hoofvakke op universiteit was filosofie en godsdiensstudies. Mackey skryf sy sukses toe aan die geesteswetenskappe en dat hy geen formele kwalifikasies of ervaring in ekonomie of sakestudies het nie.

As ’n entrepreneur moes ek nie eens sekere vooroordele van my studies ‘ontleer’ nie en ek kon nuwe vars moontlikhede raaksien.
John Mackey, stigter van Whole Foods

Vandag sou iemand hom waarskynlik aangeraai het om in te skryf vir ’n kursus in data-ontleding.

In Thom se leeftyd was al die maatskappye waarskynlik klein en eenvoudig genoeg sonder om op iets soos “Morele Filosofie” (wat Adam Smith terloops by die Universiteit van Glasgow doseer het) staat te maak.

Samelewings en instellings is egter gedurig aan die verander om aan sy gemeenskap se vereistes te voldoen. Vandag het sakeondernemings teaters geword waar epiese dramas en boeiende konflikte afspeel. Hulle het nou die geesteswetenskappe nodig, meer as ooit.

Die artikel het oorspronklik op Reuters Breakingviews verskyn. Edward Hadas is ’n finansiële ontleder en joernalis en die voormalige sakeredakteur van Reuters Breaking News.

Meer oor:  Boeing  |  Maatskappye  |  Studierigting  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.