Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die SAUK verraai armes

Wat is die nut daarvan om ’n span na die Wêreldbeker-rugbytoernooi te stuur om ons land te verteenwoordig as die openbare uitsaaier die meerderheid burgers die reg om vir die span te skree ontneem? Michael le Cordeur sê die regering en die SAUK het veral arm mense in die steek gelaat.

24 Junie 1995: Francois Pienaar hou die Webb Ellis-trofee omhoog terwyl Nelson Mandela (links) toekyk nadat die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het. Foto: getty images

Ek onthou my eerste kennis­making met die All Blacks soos gister. Die 1970-toerspan met die legendariese Brian Lochore as kaptein het byna twee maande lank in Suid-Afrika en die destydse Rhodesië getoer.

Dit was die eerste keer sedert 1960 dat die Nieu-Seelanders weer voet aan die Suid-Afrikaanse wal gesit het. Vir sowat ’n dekade het Nieu-Seeland geweier om teen Suid-Afrika te speel omdat die destydse re­gering die Maori-spelers toegang geweier het.

Ek onthou hoe opgewonde ons was om die span in aksie te sien op Dinsdag 4 Augustus 1970 toe die All Blacks in my tuisdorp, Wellington, die Boland met 35-6 geklop het.

Ek was maar net 11 jaar oud, en het weinig van politiek verstaan.

In 1976 was die All Blacks weer hier, hierdie keer met ses niewit spelers in hul geledere: die Maori’s Sid Going (skrumskakel), Billy Bush en Kent Lambert (stutte), Bill Osborne (senter) en Tane Norton (haker), asook die Samoaans-gebore Bryan Williams (vleuel).

Ek was in matriek. Hoewel my hart gebrand het om weg te glip toe die All Blacks op Woensdag 14 Julie 1976 teen die Boland in Wellington gespeel het, was dit verbode om van die skool te dros. Ons skoolhoof, mnr. Willie Arendse, was onverbiddelik streng.

Toe skielik stap mnr. Arendse die klas binne en sê: “Klas, ons sal vandag vroeër sluit . . .”

“Yes!” was uit voordat mnr. Arendse sy sin kon voltooi.

Hy het omgedraai, na my gekyk, en toe voortgegaan: “ . . . sodat Michael die All Blacks se wedstryd kan gaan bywoon.” Mnr. Arendse was ná alles tog ’n mens, en ’n wonderlike vaderfiguur.

Van agter die suidelike doellyn, waar ons gestaan het (die enigste plekkie wat gereserveer was vir bruin en swart mense), kon ons ons vergaap aan die All Blacks, wat die wedstryd met 42-6 gewen het.

Teen daardie tyd het ons reeds vir lief geneem daarmee dat ons as bruin spelers nooit vir die Springbokke sou speel nie.

Daarom was dit ’n natuurlike reaksie om met spelers soos Going en Williams te identifiseer. Hulle sou ons herinner dit is wel moontlik om jou land op internasionale vlak te verteenwoordig al is jy nie wit nie.

Ons wou só graag na die toets op TV kyk, maar ons kon nie. Televisie was nuut in Suid-Afrika en net die rykes kon ’n TV-stel bekostig. Toe luister ons maar op die radio.

Begin van die sportboikot

Toe Francois Pienaar die Webb Ellis-trofee omhoog gelig het, het ons gehoop ons gaan ’n blink nuwe toekoms tegemoet. Maar hoe het die hoop nie beskaam nie . . .

Maar die 1976 All Black-span van Andy Leslie met sterre soos Laurie Mains (heelagter) en die agsteman Alan Sutherland (wat later met Mej. Suid-Afrika, Vera Johns, getrou het) sou een van die mees omstrede toere wees. Apartheid was op sy felste, en die gevoel het bestaan dat die All Blacks met die toer hul steun gee aan die apartheidsregering.

Die teenstand was só erg dat 25 Afrika-lande hulle uit protes aan die 1976 Olimpiese Spele in Montreal, Kanada, onttrek het.

Die Maori-All Blacks het “honorary whites”-status in Suid-Afrika ontvang. Die bebaarde Bush het die lewe vir die Suid-Afrikaanse re­gering moeilik gemaak, tot groot ontsteltenis van sy premier, Rob Muldoon.

Maar vir die All Blacks was dit ’n toer wat hulle liefs wou vergeet.

Nie alleen het hulle die reeks met 3-1 verloor nie (hulle kon slegs die Nuweland-toets wen), hulle was ook die muishond van die rugbywêreld.

Die teenstand teen die toer sou uiteindelik lei tot die sportboikot teen die Springbokke, maar ook die res van Suid-Afrika se sportspanne.

Ook ek kon nie meer onskuldig pleit nie.

Dit was 1976. Die Soweto-opstande het momentum gekry, en die toerwedstryde van 1976 sou die laaste wees wat ons (aan die nierassige kant van die Suid-Afrikaanse sportsentrum) kon bywoon.

Dit het taboe geword om enige sport van apartheid-Suid-Afrika te ondersteun. “No normal sport in an abnormal society” sou in elke vergadering van nierassige sport onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sport (Sacos) weergalm.

As die hoop wel beskaam

Dis nou 43 jaar later en Suid-Afrika speel vandag weer teen die All Blacks.

Baie water het intussen in die see geloop. Nelson Mandela is vry­gelaat, apartheid het tot ’n val gekom, en ’n nuwe Suid-Afrika het in 1994 aangebreek.

Toe Madiba in 1995 met die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi met Francois Pienaar se Springbok-trui op Ellispark op loop, het ons almal – ek inkluis – geglo ons stap die Beloofde Land binne.

Die Springbokke het, in Pienaar se woorde, die steun van die hele land gehad, en nie net dié van ’n klein groepie wit mense nie.

En toe Pienaar en Madiba die Webb Ellis-trofee omhoog lig, het ons gehoop ons gaan ’n blink nuwe toekoms tegemoet waar almal in vrede en harmonie sal leef in ’n land wat ’n tuiste sal bied aan elke Suid-Afrikaner.

Maar hoe het die hoop nie beskaam nie . . .

Aan die vooraand van Suid-Afrika se wedstryd teen Nieu-Seeland vandag het Suid-Afrikaners die afgelope tyd ’n somber prentjie van die eens beloofde land gekry:

Ons het van die hoogste misdaadsyfers ter wêreld; 57 mense word elke dag vermoor; ’n vrou word elke drie uur verkrag; meer as 52 000 gevalle van geslagsgeweld is die afgelope jaar aangemeld; die polisie het heeltemal beheer verloor en moet deur die weermag ondersteun word; ons kinders kan nie lees nie; en meer as die helfte van hulle gaan saans honger slaap omdat byna die helfte van ons land se mense werkloos is.

Die ellende ken oënskynlik geen perke nie.

Maar daar is darem een ligstraaltjie: Die Springbokke speel vandag. Ons sal vasgenael voor die kassie sit en kyk en hoop. Twee uur lank sal Suid-Afrika van geweld verlos wees.

Die laaste strooi

Maar dan kom die laaste strooi: Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners sal nie die skouspel op TV kan volg nie. Slegs diegene wat DStv se duurste pakket kan bekostig, sal na die rugby kan kyk.

Die SAUK het nie (meer) geld nie. Die verskonings en al die jammer sê laat my koud.

Dit kan nie vergoed daarvoor dat by die 90% van Suid-Afrika se bevolking, meestal die armstes en bejaardes, ’n basiese mensereg ontneem word nie.

En dít omdat die regering en die raad wat hy aangestel het, hul plig om toesig te hou versuim het. Byna nege jaar lank het hulle met gevoude arms gesit en toekyk hoe ’n paar individue hierdie land bankrot steel.

As hierdie land in 1976 ’n abnormale land was, is hy vandag ’n abnormale én bankrot land.

Wat is dan die nut daarvan om ’n span na die rugbytoernooi te stuur om ons land te verteenwoordig as die grootste deel van die burgers die reg om na die wedstryd te kyk ontneem word?

Hulle het immers hul lisensiegeld betaal. Die SAUK is ál wat dié mense het. Die bitterheid het van voor af kom nesskop in my binneste.

Ja, ek sal na die wedstryd kan kyk, want anders as 43 jaar gelede kan ek dit vandag bekostig.

Maar, soos 43 jaar gelede is die meeste Suid-Afrikaners steeds brandarm. Hulle het net die SAUK (of dít wat daarvan oor is). Of het die regering vergeet ons is die ongelykste land ter wêreld?

Aan diegene wat hiervoor verantwoordelik is, net dít: Ek hoop dat wanneer julle in jul private taxi (SAL) en met ons belastinggeld na Japan vertrek, julle aan die agter­geblewenes sal dink wat nie eens die wedstryd op radio kan volg nie.

Want hoe ek ook al daarna kyk, ek kan tot geen ander slotsom kom nie: Ons regering het ons mense, veral die arm mense, in die steek gelaat.

  • Le Cordeur is professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Sauk  |  Wêreldbeker-Rugbytoernooi  |  Tv  |  Uitsaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.