Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die seun wat verseg het om op te gee

As 16-jarige is Emmanuel Taban deur Soedannese regeringsmagte ontvoer en gemartel. Hy het die Moslemgeloof aangeneem in ’n poging om te oorleef, maar het ná ’n paar maande by ’n godsdiensskool gevlug. In dié uittreksel uit sy boek, The Boy Who Never Gave Up, vertel hy hoe hy te voet na Eritrea ontsnap het.

Dr. Emmanuel Taban het as 16-jarige seun uit Soedan ontsnap en 18 maande later in Johannesburg aangekom.

Een dag, teen drie-uur die middag toe almal anders tydens die hitte geslaap het, het ek saam met ’n seun na die oase in Gedaref in die ooste van Soedan gegaan (waar die godsdiensskool was). Ons het die water gaan haal waarmee ons voor die aandgebede gewas het.

Ek het ’n brood en ’n bottel water in my klein rugsak weggesteek. By die oase het ek gewag om seker te maak dat daar niemand anders in sig was nie voordat ek my metgesel in die water gestamp en so vinnig soos ek kon gehardloop het tot ek by ’n hoofpad aangekom het en ek hom nie meer kon hoor skree nie.

My hart het in my bors gehamer met ’n mengsel van opwinding omdat ek vry was en die ontsettende gevolge wat ek geweet het my lot sal wees as ek gevang word.

Ek het die pyn van die ondervragingsessies in die Withuis (’n berugte tronk in Juba) alte goed onthou en ek was daarvan oortuig dat ek nie ’n tweede kans sou kry nie.

Ek het aanhou hardloop solank my bene en longe dit toegelaat het en ferm begin stap toe dit donker geword het.

Ek het die pad gekry wat ek geglo het my na Juba sal neem, en ek het in die bos aan die kant daarvan weggekruip elke keer as ek ’n motor of mense hoor naderkom het.

Ek was seker dat die kalwa regeringsoldate agter my sou aanstuur en dat hulle my sou doodmaak as hulle my kry. Hulle sal weet dat ek hulle verraai het.

Tog, ondanks die adrenalien wat deur my gevloei het, of dalk weens dit, het dit gevoel asof ’n groot las van my skouers gehaal is.

Ek was op my eie buite in die wêreld en weer vry om my eie lot te bepaal. Wat ek nie besef het nie, was dat ek ’n verkeerde afdraaipad gevolg het; ek was besig om in ’n oostelike rigting te reis pleks van die suidwestelike rigting wat my na Juba sou lei.

Stap tot 36 uur lank sonder ophou

Dr. Emmanuel Taban vertel sy verhaal in ‘The Boy Who Never Gave Up’. Dit word deur Jonathan Ball uitgegee.

Dit was nie lank voordat my waterbottel leeg was nie. Ek kon dit volmaak uit plasse in die pad, maar daar was nie genoeg water om myself mee te was nie.

Baie van die plasse moes ook al vir dae in die hitte gelê het en ek was bekommerd dat die stilstaande water my siek kan maak. Maar dors het die oorhand gekry en iets moes my beskerm het teen moontlike skadelike gevolge.

Destyds het ek gedink dit is te danke aan die beskermende magte van God, maar nou wonder ek of dit nie dalk my lot was om die baie gevare rondom my te oorleef nie.

As ek nodig gehad het om te slaap, het ek net in die bos gaan lê nadat ek seker gemaak het daar is geen slange nie; net soos ek as kind saam met my ma en sibbe gedoen het. Tog was daar steeds die risiko dat wilde diere my kon aanval terwyl ek slaap.

Wie is Emmanuel Taban?

Dr. Emmanuel Taban het in 1994 as 16-jarige seun uit die oorloggeteisterde Soedan gevlug nadat regeringsoldate hom gemartel het omdat hulle hom valslik daarvan beskuldig het dat hy vir rebellemagte spioeneer.

Hy het letterlik die verkeerde pad gevolg in sy ontsnap-poging en pleks daarvan om met sy familie herenig te word, het hy in Eritrea beland.

Hy het in die daaropvolgende maande op ’n gevaarlike reis na Suid-Afrika vertrek. Hy moes op die goedhartigheid van vreemdelinge staatmaak op dié lang reis via Ethiopië, Kenia, Tanzanië, Mosambiek en Zimbabwe na Suid-Afrika.

Hy het meestal per voet of per bus gereis.

Hy was vasbeslote om met sy opvoeding voort te gaan toe hy 18 maande later Johannesburg bereik.

Hy het sy skoolopleiding met die hulp van Katolieke sendelinge voltooi, as ’n geneesheer aan Medunsa gekwalifiseer en in pulmonologie gespesialiseer.

“Emmanuel se vaardighede en toewyding as geneesheer en sy hardnekkige weiering om deur terugslae ontmoedig te word, het gelei tot ’n belangrike deurbraak in die behandeling van Covid-19-pasiënte wat ’n suurstoftekort ondervind het,” lui ’n uitgewersnota.

Met die volgende paar dae se stap, het ek nie gehou by die beperkinge van dag en nag nie; ek het eenvoudig net aangehou, soms vir tot so lank as 24 uur of selfs 36 uur op ’n keer. Gedurende die dag was ek in die warm son, maar ek was gewoond aan hoë temperature en dit het my nie teruggehou nie.

Wanneer ek ander mense teëgekom het, het ek weggekyk en nooit enige interaksie met hulle gehad nie. Ek het nie geweet waar hul simpatie lê en hoe hulle sal reageer nie.

Ek het agtergekom dat ander mense, eerder as wilde diere, veel meer van ’n gevaar vir my ingehou het.

Ek wou soos ’n skadu by hulle verbygaan, ’n anonieme seun wat geen indruk op hul geheue sou laat nie.

As ek nou terugkyk, kan ek my ’n duisend dinge verbeel wat op enige oomblik verkeerd kon loop en daartoe kon lei dat ek langs die pad bly lê het, doodgeskiet of vermink deur wilde diere.

Maar in daai vroeë dae van die reis het dit gelyk asof niks verkeerd gaan nie. Ek was uitgelate oor die skielike vryheid om enige pad wat ek kies te volg. Met tye het dit gevoel asof God as’t ware vir my ’n platform neergesit het waarop ek kon loop en al die gevare verwyder het wat my toegelaat het om veilig te reis.

Dit was asof ek beskerm word deur ’n mag en die pad vorentoe vir my gewys word. Ek het geen vrees gehad nie en ek hoef nie twee keer oor enigiets te gedink het as om die een voet voor die ander te sit nie.

Daar was niemand wat my kon terughou nie, niemand om die wysheid van wat ek besig was om te doen kon bevraagteken nie.

Gelukkig was die meeste van die gevaarlike kreature wat buite sig op loer was net so angstig om my te vermy as wat ek as om hulle te vermy, en dit het gelyk asof al die soldate, dié van die regering en dié van die rebelle, elders besig was met meer belangrike dinge as een verlore seun.

Mense wat heeltemal anders lyk

Dr. Emmanuel Taban in sy spreekkamer in Midrand. Foto: Elizabeth Sejake

Ná ’n paar dae se stap het ek ligte op die horison gewaar. Dit was omstreeks drie-uur in die oggend en ek het geen idee gehad van waar ek was nie, maar ek het geweet ek sal die een of ander tyd met ander mense in ’n gemeenskap kontak moet maak.

Ek kon nie vir altyd in my geluksalige isolasie leef nie.

Ek kon maar net hoop dat ek ver genoeg van gevaar af weggestap het en iewers sal eindig waar daar vriendskap teenoor vreemdelinge sal wees.

Omdat ek geen idee gehad het van wat om te verwag nie, het ek in die bos geslaap. Ek het verkies om niemand in die middel van die nag raak te loop wat my vir ’n dief of vyand kon aansien voordat ek kon verduidelik nie.

Dié mense, het ek gou uitgevind, was Eritreërs. Ek het ’n grens na ’n ander land oorgesteek, een wat net ’n paar jaar oud was en waarvan ek niks geweet het nie.

Die volgende oggend is ek versigtig verder. Die eerste persoon wat ek raakgeloop het, was ’n vrou nes my ma wat tee en brood langs die pad verkoop het.

Sy het oop en vriendelik gelyk en met ooglopende nuuskierigheid na my gestaar asof daar iets vreemd aan my voorkoms was.

Soos ander mense uit hul huise te voorskyn gekom het om met hul dagtake te begin, was ek verras deur hoe anders hulle gelyk het as enigiemand wat ek vantevore gesien het.

Hul velle was ligter en hul hare langer.

Ek het toe besef dat ek in die verkeerde rigting geloop het. Ek het geen idee gehad van waar ek was en of die plaaslike mense, wat nou rondom my gestaan het en na my gestaar het, my sou verwelkom nie.

Dié mense, het ek gou uitgevind, was Eritreërs. Ek het ’n grens na ’n ander land oorgesteek, een wat net ’n paar jaar oud was en waarvan ek niks geweet het nie.

Nie net het ek sonder geld daar aangekom nie, maar ek het ook geen paspoort of identiteitsdokument van enige aard gehad nie.

Baie van die mense wat na my toe gekom het, was Eritreërs en ek kon ’n bietjie in Arabies met hulle praat.

Hulle het aan my gesê ek het in ’n dorp met die naam Teseney aangekom, wat beteken het dat ek vir meer as 250 kilometer gestap het.

The Boy Who Never Gave Up: A Refugee’s Epic Journey To Triumph wat Taban saam met Andrew Crofts geskryf het, word deur Jonathan Ball-uitgewers uitgegee. Dit kos R265.

Meer oor:  Emmanuel Taban  |  Eritrea  |  Soedan  |  Covid-19-Pandemie  |  Pulmonologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.