Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die skeepswrak wat Kaapstad begin het

In 1647 het ’n Hollandse skip, die Haarlem, naby Bloubergstrand gestrand. Was dit nie hiervoor nie, het Jan van Riebeeck dalk nooit vyf jaar later aan wal gestap nie, skryf Elsabé Brits.

Voorlopige opgrawings wat deur dr. Bruno Werz, ’n maritieme argeoloog en uitvoerende hoof van die Afrika-instituut vir marine en onderwaternavorsing, -eksplorasie en -opleiding (Aimure) gedoen is, op soek na die historiese skip, die Haarlem. Foto: Aimure/Brone Werz

Op 25 Maart 1647 het die Haarlem, ’n skip van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) onderweg terug na Europa, volgepak met skatte soos speserye, porselein en tekstiele, naby Bloubergstrand gestrand. Hoewel dit sedert 1500 een van sowat 2 500 skepe was wat aan die Suid-Afrikaanse kus ondergegaan het, is dié skip van groot historiese waarde.

Die stranding het regstreeks daartoe gelei dat ’n permanente verversingstasie vyf jaar later aan die Kaap gevestig is, vertel dr. Bruno Werz. Werz is ’n maritieme argeoloog en uitvoerende hoof van die Afrika-instituut vir marine en onderwaternavorsing, -eksplorasie en -opleiding (Aimure). Ná jare se ondersoek is hy nou 95% seker hy weet waar dié wrak lê – hy en sy span soek net die geld om dit uit die sand te bevry.

Dr. Bruno Werz (regs), maritieme argeoloog, bekyk een van die artefakte wat hulle reeds gevind het. Foto: Aimure

Kort ná die ramp is 58 van die oorlewendes deur ander skepe opgepik, maar 62 het besluit om agter te bly en om te sien na die goedere wat hulle herwin het en te wag vir nog skepe. Hier het hulle ’n tydelike fort gebou in die omgewing van Tableview, wat hulle “Vastigcheyt Zandenborch” – die Standkasteelfort – genoem het.

Onder die groep was Leendert Jansz, ’n handelaar wat ook dagboek hier gehou het. Die dagboek strek van 25 Maart 1647 tot 14 September van dié jaar. Hulle is eers ’n jaar later, in Maart 1648, gered, toe die VOC se retoervloot onder leiding van Wollebrandt Geleynsz de Jongh die oorlewendes en die voorraad opgepik het.

Toevallig was Jan van Riebeeck ’n amptenaar onder diegene wat in 1648 die Kaap aangedoen het saam met die retoervloot vanaf die Ooste, onder leiding van de Jongh. Hy het nie ’n idee gehad hy sou hierheen kom nie.

Met sy terugkeer het Jansz en ’n amptenaar, Mattijs Proot, ’n dokument genaamd ’n “Remonstrantie” opgestel. Dit was byna soos ’n hedendaagse verslag wat hulle op 26 Julie 1649 aan die Here XVII voorgelê het. Daarin het hulle voorgestel ’n verversingstasie en tuine behoort in die Kaap aangelê te word.

Hulle het gemeen Tafelbaai is veilig, daar is baie vars water, goeie grond en vis, hout en die plaaslike Khoi was “vriendelik” en “bereid om te werk en handel te dryf”. Hulle was selfs bereid om Hollands te leer en hulself te “bekeer”. Met min belegging sou die plek sommer gou baie geld maak.

Kaap van Storms

‘n VOC-kaart van Tafelbaai uit die nasionale argief in Den Haag wat met ’n groot kruis aandui waar die Haarlem kan wees.

En só het dit begin. Binne ’n 100 jaar was dit nie net ’n plaaslike verversingspos nie, maar kolonisasie van die binneland het begin. Daar was konflik van meet af aan. Die Kaap van Storms het letterlik en figuurlik sy naam gestand gedoen.

Werz is die outeur van die boek The Haarlem Shipwreck (1647): The Origins of Cape Town en hy vertrek binnekort na Europa om geld te probeer insamel om die wrak op te grawe. Hy dink dit kan sowat R26 miljoen kos, en hulle sal die projek betreklik vinnig kan voltooi – binne drie maande.

‘n Metaalplaat wat uit ’n laag koper en ’n laag lood bestaan wat op skepe van die VOC gebruik is. Dié metaalplaat word tans ontleed. Foto: Aimure/Bruno Werz

’n Aantal jare gelede het Werz en sy span begin soek na die wrak. Hy vertel soektogte in argiewe hier en in Nederland het aan hom stukkies inligting besorg, onder meer ’n VOC-kaart van Tafelbaai in die nasionale argief in Den Haag wat met ’n groot kruis aandui waar die Haarlem kan wees.

Hy het later nog ’n kaart gevind wat meer akkuraat is wat aandui waar die wrak is in verhouding tot Rietvlei, ’n ou aanlegplek vir skepe van die VOC. Dit is 1,5 Hollandse myl in ’n direkte lyn na die skip. Een Hollandse myl is 7,4 km ver.

Die wrak lê suid van die Dolphin Beach-hotel tussen Bloubergstrand en Milnerton. Hulle sal nie hoef te duik om die skip te vind nie – die wrak is onder die hoogwatermerk onder die sand, vermoedelik sowat drie meter diep begrawe deur Vader Tyd.

“Die enigste probleem is dat dit in die vlakwater lê en ons ’n muur daar rondom moet bou om die water uit te hou. En dit sal geld kos.

"Die skip was 45 m lank en tien meter breed – so die muur moet groter as dit wees, sodat ons kan werk ook,” vertel hy.

’n Tasbare stuk geskiedenis

’n Ysterbout wat gevind is, wat op VOC-skepe gebruik is. Foto: Aimure

Hulle het al voorheen permitte ontvang om toets-opgrawings te doen. Só het hulle met ’n magnetometer wat metaal opspoor die spesifieke area bepaal. Daar is versteurings onder die sand wat ooreenstem met die grootte van die skip. Daar is iets groots – op die regte plek.

Tydens aanvanklike opgrawings het hulle ’n ysterstang gevind wat gebruik is in die konstruksie van skepe, asook hout wat aan metaal vassit. Hulle het ook ’n ander stuk metaal wat bestaan uit koper en lood en ’n bout gevind. Daar het 19 ysterkanonne in die ruim agtergebly, asook vier ankers – so die span weet waarna hulle soek.

“Ek is verbaas niemand anders het nog na die Haarlem gesoek nie. Ek weet van geen skeepswrak ter wêreld wat só ’n invloed op ’n land se geskiedenis gehad het as dié een nie. Sonder die Haarlem sou Suid-Afrika dalk nie die diverse land gewees het wat hy vandag is nie. Om die wrak te kry sal ’n tasbare stuk geskiedenis wees,” sê Werz.

*Bronne: The Haarlem Shipwreck (1647): The Origins of Cape Town; Unisa Press 2017; Africa Education Review & Transactions of the Royal Society of South Africa.

*Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jan Van Riebeeck
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.