Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die slagting van die middelklas

Die hele doel met die inperking is om die middelklas te vernietig en daarom sal dit nie opgehef word nie, skryf Ivo Vegter.

Die liefdadigheidsorganisasie Meal SA en verskeie vennote uit die geloofs- en sakesektor het Woensdag kospakkies in die Iterileng- informele nedersetting in Pretoria uitgedeel. Foto: Alet Pretorius, Gallo Images

Die regering se eie adviseurs noem die verlengde staat van inperking “onwetenskaplik” en “onsinnig”.

Die Verenigde Nasies se kinderfonds, Unicef, waarsku dat die inperking meer mense kan doodmaak as die virus, waaronder 1,2 miljoen kinders. Statistieke Suid-Afrika (SSA) het reeds oor die verlammende ekonomiese impak berig. Volgens enige logika moet die staat van inperking beëindig word, maar dit sal nie gedoen word nie, want dit pas die ANC se agenda om dit te handhaaf.

Teen die middel van April reeds het die voorsitter van die minister van gesondheid se ministeriële advieskomitee en die land se hoof-epidemioloog, prof. Salim Abdool Karim, gesê dat die inperking sy doel bereik het om die spits van Covid-19-infeksies uit te stel en om die gesondheidsdienste kosbare tyd te gee om gereed te maak vir wat kom en dat die verlenging van die inperking geen groot bykomende voordele inhou nie.

Op 6 Mei het die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, hierdie siening herhaal: “Wat ons wetenskaplike fokus betref, kon ons die hoogtepunt van die uitbreking vorentoe skuif. As ons die inperking sou verleng, sou dit die hoogtepunt nie wesenlik vertraag nie.”

Tog is ons tot die einde van die maand steeds op ’n vlak van inperking wat nie veel verskil van die strawwe inperking van die eerste vyf weke nie en in sommige opsigte selfs strenger is.

Slegs 14,4% van ondernemings het gesê hulle is vol vertroue dat hulle die pandemie sal oorleef.

En selfs dan is dit moontlik dat die groot metro’s, waar die meeste van die land se ekonomiese aktiwiteit plaasvind, geen verligting sal kry nie. En wanneer die verwagte hoogtepunt in Augustus of September bereik word, sal daar weer hoër inperkingsvlakke opgelê word.

Die regering dring daarop aan dat hy volgens die beste beskikbare wetenskap handel, maar soos Steven Friedman verlede week in die Mail & Guardian geskryf het, is die regering se Covid-19-wetenskapmasker besig om af te gly.

Die beskikbare wetenskap is nie baie goed nie, soos ons gesien het met die manier waarop die veel geprese model van die Imperial College London uitgerafel het en waarop baie vroeëre besluite gegrond was.

Pres. Cyril Ramaphosa het wel in sy toespraak op 13 Mei – die een waarin hy basies niks gesê het nie – gemeld dat die kabinet “vasbeslote en verbind is daartoe . . . om deursigtig te wees, die nasie in sy vertroue te neem en dit gereeld te doen . . .”, en ander sulke welluidende uitsprake.

Amilcar Cabral het gepraat van “klasse-selfmoord”. Foto: Getty Images

Die beraadslagings van die nasionale bevelsraad bly egter “geklassifiseer”, die projeksies van die epidemiologiese modelle wat veranderinge in die inperkingsvlakke sou noodsaak, bly geheim, en slegs die mees basiese inligting word aan die publiek bekend gemaak.

Die regering het die land glad nie in sy vertroue geneem nie. Hulle het bloot die bepalings van die staat van inperking gedikteer, dikwels tot in die belaglikste besonderhede.

‘Onwetenskaplik en onsinnig’

Boonop is hulle blitsvinnig om enige van hul wetenskaplike adviseurs wat durf uitpraat in die openbaar te repudieer – soos wat die afgelope week met dr. Glenda Gray, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en ook voorsitter van die navorsingsubkomitee van die ministeriële advieskomitee; dr. Ian Sanne, medeprofessor aan die kliniese MIV-navorsings-eenheid aan Wits en uitvoerende hoof van Right to Care en prof. Marc Mendelson, hoof van infeksiesiektes en MIV-medisyne aan die Universiteit van Kaapstad en voorsitter van die kliniese subkomitee van die advieskomitee.

Al drie het met News24 gepraat en hewige kritiek oor die inperking uitgespreek en gesê dat dit “onwetenskaplik en onsinnig is”.

Gray was van mening dat die inperking heeltemal opgehef moet word ten gunste van nie-farmaseutiese ingrype soos hande was, maskers, sosiale afstand en ’n verbod op byeenkomste. “[Dis] amper asof iemand regulasies uit hul duim suig en gemors implementeer,” het sy aan News24 gesê.

In ’n onlangse opname deur SSA oor die gedrags- en gesondheidsimpak van die pandemie kon byna al die respondente die belangrikste simptome van Covid-19 opnoem en kon hul risiko vir infeksie verminder deur hande was, sosiale afstand te handhaaf, groot skares te vermy en tuis te bly. Dit wys dat nie-farmaseutiese ingrypings baie suksesvol kan wees.

Sanne het aan News24 gesê dat die inperking ’n negatiewe uitwerking op die land se gesondheidsorgstelsel het en dat daar eenvoudig nie omgesien word na tussen 40% en 60% van pasiënte met chroniese siektes soos MIV en suikersiekte nie. Daar was ook ’n aansienlike afname in die inentings van kinders, het hy gesê, wat kan beteken dat nog dodelike epidemies in die toekoms by ons kan kom spook.

Die grootste kommer is nie meer gesondheid nie, maar ekonomiese oorlewing.

In die SSA-opname het 54,1% van die mense wat gesondheidsorggeriewe wou besoek, maar daarteen besluit het, dit gedoen uit vrees dat hulle Covid-19 kan opdoen, terwyl nog 25,5% bang was dat hulle gearresteer of beboet sal word omdat hulle buite hul huise was.

“Infeksies is onvermydelik. 60% van die bevolking sal oor die volgende twee jaar besmet word, maar inperking gaan nie die infeksiekoers beperk nie,” het Mendelson aan News24 gesê, en bygevoeg dat daar ’n vinnige “de-eskalering” na vlak 1 behoort te wees.

Offer kinders op, beskerm bejaardes

Gray het gewaarsku dat gevalle van wanvoeding vir die eerste keer in dekades in hospitale kop uitsteek (die regering het dit intussen ontken).

Volgens dr. Stefan Peterson, hoof van gesondheid by Unicef, is algehele inperkings in lande soos Suid-Afrika nie ’n doeltreffende manier om Covid-19 te beheer nie.

Hy het aan The Telegraph gesê dat die risiko van kinders in ontwikkelende lande om aan malaria, longontsteking of diarree te sterf, besig is om buite beheer toe te neem weens die pandemie en dat dit baie swaarder weeg as enige bedreiging wat die koronavirus inhou.

Unicef het gewaarsku dat 1,2 miljoen kinders kan sterf as gevolg van inperkings wêreldwyd, wat die waarskynlike aantal Covid-19-sterftes sal oortref. ’n Studie deur navorsers van die Johns Hopkins-Universiteit het ook bevind dat die ontwrigting van gesondheidsdienste ’n rampspoedige uitwerking op moeder- en kindersterftes kan hê.

In wese probeer ons oumense en mense met bestaande siektetoestande beskerm ten koste van moeders en kinders.

Ekonomiese prys

Intussen blyk die ekonomiese prys van die uitgebreide inperking – nou in sy agtste week – duidelik uit SSA se “Business Impact”-opname. Die tweede sodanige opname is op 14 Mei gepubliseer en strek oor die laaste twee weke van April.

Slegs 14,4% van die ondernemings het gesê hulle is vol vertroue dat hulle die geld het om die pandemie te oorleef. Slegs 6,7% het gesê dat hulle meer as drie maande se sluiting sou kon oorleef.

Altesame 83% van die respondente het gesê hulle verwag dat die ekonomiese skade as gevolg van die afswaai erger sou wees as die finansiële krisis van 2008-’09, en 75,7% het gesê dat dit aansienlik erger sou wees.

Meer as die helfte van die ondernemings wat aan die studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle nie die nodige materiaal, goedere of dienste kon bekom om hul daaglikse bedrywighede voort te sit nie. Byna die helfte het gesê dat hulle verwag dat hul arbeidsmag sal afneem en 14,9% het reeds 80% of meer van hul arbeidsmag oorbodig verklaar.

Teen die einde van April het die ineenstorting Suid-Afrika reeds 8,6% van al sy ondernemings gekos. Klein en mediumgrootte ondernemings is die swaarste getref. Min mense kon voortgaan om handel te dryf, meer moes tydelik sluit en meer het hul deure permanent gesluit.

In sy opname oor die gedrags- en gesondheidsimpak het SSA bevind dat die grootste kommer onder respondente oor die pandemie en die inperking was dat dit “sou bydra tot ekonomiese ineenstorting”. Meer as 99% van die respondente het gesê dat hulle ietwat, baie of uiters bekommerd is.

Hef die inperking op

Ons het dus ’n situasie waar die regering se eie raadgewers die voortgesette inperking teenstaan, gesondheidsowerhede waarsku dat ’n staat van inperking meer (en jonger) mense kan doodmaak as wat Covid-19 sal en die ekonomie kritiek gewond is. En dit wat van die ekonomie oorbly kan en sal nie ’n volgehoue inperking oorleef nie. Die grootste kommer onder die algemene bevolking is nie meer gesondheid nie, maar ekonomiese oorlewing.

Daarbenewens is daar verskeie grondwetlike vrae rakende die wettigheid van die nasionale bevelsraad, die gebrek aan parlementêre toesig oor die uitvoerende gesag, die geheimhouding oor die regering se data en besluitneming en baie van die spesifieke regulasies. Rampwetgewing skort nie die Grondwet op nie, wat beteken dat die hele projek om mense in hul huise op te sluit, ’n militêre aandklokreël af te dwing, permitte te vereis om rond te kan beweeg en besighede te sluit, talle regte skend wat die burgers kragtens die land se Grondwet geniet.

Die president het beloof dat die regering “sal verseker dat alle regeringsbesluite in goeder trou geneem word, dat dit redelik is en op empiriese bewyse gegrond is, en dat dit nie meer skade berokken as wat dit goed doen nie”.

’n Voortgesette inperking skend al hierdie kriteria. Dit moet opgehef word, so vinnig as wat redelikerwys moontlik is.

Dit sal egter nie gebeur nie. En die rede hiervoor is dat dit so reg in die draaiboek van die ANC speel.

Klasse-selfmoord

Ek het al voorheen daarop gewys dat Ramaphosa ’n toegewyde sosialis is. Hy het reeds gesê: “Ons het besluit om nie net ons ekonomie terug te neem na waar dit was voor die koronavirus nie, maar om ’n nuwe ekonomie te smee . . . om die ekonomie te herstruktureer en inklusiewe groei te bewerkstellig. . . . ons sal ’n ooreenkoms vorm vir radikale ekonomiese transformasie . . . Ons nuwe ekonomie moet gegrond wees op regverdigheid, bemagtiging, geregtigheid en gelykheid.”

Dit is die bloudruk van ’n sosialistiese ekonomie. Sy voormalige – en waarskynlik huidige – mededinger vir die presidentskap, Nkosazana Dlamini-Zuma, was ook duidelik: “ . . . Covid-19 bied ons ook ’n geleentheid om die implementering van ’n aantal lank reeds ooreengekome strukturele veranderinge te bespoedig om heropbou, ontwikkeling en groei moontlik te maak. Hierdie geleenthede vra meer opofferings en – indien nodig – wat Amílcar Cabral ‘klassemoord’ genoem het, waarin ons moet saamstaan agter ’n gesamentlike saak.”

Cabral was ’n revolusionêre sosialis en leier van die bevrydingsbeweging in Guinee-Bissau, wat in 1973 vermoor is slegs maande voordat hy hierdie doel bereik het.

Tom Meisenhelder skryf in 1993 dat Cabral geglo het dat “werklike sosiale verandering inheemse beheer oor die magte van produksie beteken, terwyl blote politieke onafhanklikheid sou lei tot ’n blote voortsetting van imperialisme as neokolonialisme”.

Volgens Cabral vereis die sosialistiese revolusie dat die kleinburgerlike leierskorps van die bevrydingsbeweging, wat andersins in hul eie eng klasbelang sou optree en die monopolie van kapitalisme as ’n bevoorregte klas sou voortsit, hulself sal moet verbind tot ’n soort klasse-selfmoord.

Dit wil sê, die leiersklas moet sy klasposisie, voorregte en mag, sowel polities as ekonomies, aan die werkende massas oorgee. Slegs dan kan die werklike sosialistiese demokrasie, waar die proletariaat in die besit van produksiemiddele is en die staat wegkwyn, bereik word.

Dit is natuurlik alles ’n koorsdroom. Dit het nog nooit, maar nooit, gebeur nie. Maar die vestiging van ’n sosialistiese of “staatskapitalistiese” staat onder ’n outoritêre regering het beslis al gebeur.

Om die waarheid te sê: Histories was dit nog altyd die uiteinde van elke liewe sosialistiese revolusie.

Versigtige slagting van die bourgeoisie

Die ANC is verbind tot ’n tweede, sosialistiese revolusie bewerkstellig deur die kommunisties geïnspireerde nasionaaldemokratiese revolusie waartoe die party homself opnuut op elke kongres verbind.

Of die ambisie van individuele faksies is om ’n “ontwikkelingstaat” te skep waar markkragte in die belang van die gemeenskap ontgin word (à la China), of ’n outoritêre staatskapitalistiese samelewing wat ryp is vir plundering en korrupsie (à la Rusland), ’n agrariese paradys (à la Kambodja) of ’n sosialistiese utopie (à la Zimbabwe of Venezuela), moet die mag van die kapitalistiese klas, die bourgeoisie, die middel- en hoër klasse, eers vernietig word.

Die Covid-19-inperking doen presies dit. Reeds op 9 April het Ramaphosa uitgesien na “ ’n proses van fundamentele heropbou”. Dit vereis ook vernietiging.

Al die tekens van sosialistiese ywer is daar. Die regering het outokraties, xenofobies, paranoïes en onderdrukkend geword. Met apologie aan Mr. Robot: Wat ons nou aanskou, is die versigtige slagting van die bourgeoisie.

Die einddoel blyk te wees om die dinamiese markekonomie waaroor die staat geen beheer het nie, te vernietig, om die arm massas afhanklik van die regering te maak vir hul mees basiese behoeftes soos ’n inkomste en kos, die regering se besit uit te brei oor groter dele van die ekonomie en groot ondernemings in diens van die staat te stel.

Al die vermeende foute – soos om ondernemings te beveel om ’n meerderheid Suid-Afrikaners in diens te neem, voedselhulp aan arm wit gemeenskappe te weerhou, swart ekonomiese bemagtigingsvereistes ’n voorwaarde van ondersteuningspakkette aan ondernemings te maak, om private liefdadigheidsorganisasies wat voedselhulp verskaf met veeleisende permitvereistes te kniehalter en regulasies op te stel wat lyk of dit spesifiek gemik is om die gees van die middelklas te verpletter – speel so reg in dié agenda.

Die klere-kruipers

Gewone burgers en klein ondernemings het amper geen stem in hierdie saak nie. Hulle kommer en voorstelle word gereeld geïgnoreer onder die dekmantel van “konsultasie”.

Groot sake-ondernemings, wat die minste geraak word deur die inperking en selfs onder ’n nuwe sosialistiese of staatskapitalistiese regime ’n wins kan maak, het lafhartig geraak in hul weerstand. Kyk maar na die kruiperige dankbaarheid en lof wat die klerebedryf Ebrahim Patel toegeswaai het nadat hy hulle genade betoon en toegelaat het om T-hemde te verkoop, mits dit onder warm klere gedra word.

Die verlengde inperking, waartydens alle handel ook bestuur sal word deur wispelturige kommunistiese uilskuikens sal nie opgehef word soos wetenskaplikes, kleinsake-drukgroepe, akademici en die algemene publiek pleit nie.

Dit sal voortgesit word, nie ten spyte van die skade wat dit aan die ekonomie doen nie, maar as gevolg daarvan.

Viva la revolución!

  • Ivo Vegter is ’n vryskutjoernalis.
  • Die artikel het aanvanklik verskyn op die webblad Daily Friend en word gebruik met vergunning van die Instituut vir Rasserverhoudinge.
Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Marc Mendelson  |  Glenda Gray  |  Regulasies  |  Ekonomie  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.