Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die slim lang spel

Cyril Ramaphosa speel ’n slim spel deur indirek druk op sy teenstanders binne die party te plaas, skryf Dirk Kotzé.

Die voorspellings dat Ace Magashule se skorsing in die ANC ’n opstand sou veroorsaak, het ná ’n week nog nie waar geword nie.

Oudpres. Jacob Zuma se gewaande demonstrasie van die mag van die volksmassa het ook nog nie plaasgevind nie. Wat hét dan gebeur en beteken dit dat pres. Cyril Ramaphosa ’n strategie het wat nou begin duidelik word?

Dit kan vergelyk word met die verandering van die see se getye. Die verskuiwing van hoogwater na laagwater is omtrent onmoontlik om waar te neem. Eers ná ’n halfuur of langer is dit moontlik om die verskil te sien. Dit is ook nou duidelik dat ’n soortgelyke politieke getyverandering besig is om plaas te vind. Hoe het Ramaphosa dit reggekry?

Dit kan opgesom word in ’n strategie wat duidelik goed beplan is, wat indirek funksioneer en wat risiko’s soveel moontlik probeer beperk. Die indirekte strategie sit nie ’n meesterplan op die tafel nie, maar lyk of dit lukraak of ongekoördineer werk. Dit vermy blootstelling en verhoed dat die opposisie duidelike teikens kan identifiseer.

Skuiwe teen die interne opposisie word indirek gemaak deurdat ondersoeke deur kommissies van ondersoek, parlementêre prosesse of hofprosesse tot gevolgtrekkings oor persone kom. Ramaphosa kan dan op grond van hul aanbevelings teen persone optree sonder om homself te kompromitteer.

Een aspek van sy strategie wat duideliker geword het, is die druk wat hy op die NUK plaas.

Ramaphosa het ’n kuns ontwikkel om druk op sy teikens te plaas deur hierdie ondersoeke en deur die indruk te wek dat hy ten gunste is van regsoptrede teen verdagte persone. Hierdie optrede wat nie direk deur Ramaphosa self uitgevoer word nie, skep sielkundige stres en onsekerheid en het op die duur baie negatiewe finansiële implikasies vir die betrokke persone. Dit is eintlik ’n vorm van verlamming wat intree sonder dat Ramaphosa self daarvan beskuldig kan word. Zuma se probleme met regsverteenwoordiging, wat ’n finansiële komponent insluit, is ’n goeie voorbeeld daarvan.

Terselfdertyd word die organisatoriese of institusionele magsbasis van Magashule en Zuma se ondersteuners weggekalwe. Die Premiersliga was voor 2017 een van die belangrikste magsinstrumente van die Zuma-Magashule-groep. Op die oomblik bestaan hierdie liga nie meer nie. In Noordwes is ’n tussentydse provinsiale komitee aangestel. Die vorige premier, Supra Mahumapelo, is ook vir vyf jaar geskors. In die Vrystaat is die provinsiale leierskorps deur die appèlhof ontbind.

In Mpumalanga is geen leiersverkiesing sedert 2017 gehou nie en word faksiegeweld in die provinsie deur die ANC ondersoek. Die KwaZulu-Natalse provinsiale leierskorps is nie ontbind nie, maar Ramaphosa het deur sy openlike ondersteuning van hulle, hulle eintlik vir homself gekoöpteer. Net die streekleier van eThekwini (Durban), Zandile Gumede, wat self van korrupsie aangekla is, is nie aan sy kant nie.

Die indirekte strategie sluit ook die geelwortel van verkose poste in die munisipale verkiesing in. Vir Ramaphosa-ondersteuners is daar nou ’n politieke toekoms in die ANC; vir Magashule-ondersteuners heel moontlik nie. As hulle nou krities van Ramaphosa sou wees, sal die kanse op ’n benoeming in die munisipale verkiesing baie verminder. Dieselfde geld ’n moontlike kabinetspos, juis in die tyd wat Ramaphosa oor ’n kabinet­skommeling praat.

’n Ramaphosa-strategie is waarskynlik nie in een stadium beplan nie, maar het oor tyd ontwikkel. Een aspek daarvan wat die laaste tyd duideliker geword het, is die druk wat hy deurgaans op die nasionale uitvoerende komitee plaas. Sedert die tweede helfte van 2020 vergader hulle feitlik elke maand; in Augustus selfs twee keer. Ramaphosa se boodskap bly dieselfde: Korrupsie kan nie geduld word nie; die oppergesag van die reg moet gerespekteer word; en die Zondo-kommissie moet sy werk kan doen. Mettertyd het dit ’n morele atmosfeer geskep wat die Magashule-Zuma-kamp en “radikale ekonomiese transformasie” (RET)-ondersteuners nie kon keer nie.

’n Deel hiervan was Ramaphosa se aandrang op die implementering van die nasionale konferensie se besluit dat persone wat van korrupsie in die hof aangekla is, opsy moet staan. Magashule en ander kon dit beswaarlik teenstaan omdat hulle juis Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy nie konferensiebesluite (oor grond, die Reserwebank en ander) implementeer nie.

Nog ’n drukkrag is die Zondo-kommissie. Sy meedoënlose druk op openbare blootlegging van korrupsie het baie van die Magashule-Zuma-ondersteuners op die agtervoet. Zuma se weiering om voor die kommissie te getuig is sekerlik die beste bewys van hoe hierdie druk reeds ’n verlammende uitwerking op hulle het. Enige suggestie dat die kommissie deel van ’n politieke strategie is, of dat die howe polities gekaap is, word gelykgestel aan persone wat van korrupsie aangekla word en die publiek het min simpatie daarvoor. ’n Soliede regbank word as so prinsipieel vir konstitusionalisme gesien dat enige poging om dit onder verdenking te bring duidelik ’n ongewilde strategie is.

’n Faktor ten gunste van Ramaphosa wat nie altyd genoeg erkenning geniet nie, is die oorweldigende invloed van die institusionele mag van die president (as ANC- en nasionale president).

Geen ander posisie in die ANC of die regering kan naastenby daarmee vergelyk word nie; ook nie die sekretaris-generaal s’n nie. Die beste illustrasie hiervan is wat met Zuma gebeur het. Ten spyte van talle uitdruklike hofuitsprake en parlementêre mosies van wantroue kon hy nie van sy pos onthef word nie. Eers nadat hy nie die mag van die ANC-president gehad het nie, is hy gedwing om te bedank. Thabo Mbeki was in dieselfde situasie.

Ramaphosa het die gekombineerde mag van albei ampte en dit maak enige poging om hom te verwyder net onmoontlik.

Magashule se reaksie op die NUK se besluit om hom te tydelik te skors, deur ’n soortgelyke kennisgewing aan Ramaphosa te stuur, maar sonder die NUK se goedkeuring, was ’n teken van desperaatheid. Dit wys op die gebrek aan politieke mag of ’n plan om ondersteuning op ’n breë basis te mobiliseer. Meer nog is dit vir baie ANC-ondersteuners wat besorg is oor die gebrek aan dissipline en etiese verval in die organisasie ’n onverteerbare stap.

Die morele aanspraak wat Magashule en ander maak dat hul bevordering van radikale ekonomiese transformasie deur Ramaphosa en sy ondersteuners ondermyn word, raak dan nog meer kwesbaar.

Een van Ramaphosa se aanvanklike swak punte was sy kommunikasie met die publiek. Dit is aanvanklik aan die sekretaris-generaal en ANC-woordvoerders oorgelaat, en het nie altyd sy boodskap duidelik gestel nie. Met die Covid-19-pandemie het dit begin verander. Ramaphosa het die media meer doelgerig as ’n kommunikasiemedium begin gebruik. Hy het ook begin om die terugvoering van NUK-vergaderings self te doen en Magashule daarvan uit te sluit. Die RET-narratief is daarmee ’n openbare forum ontsê en nou kan hy self sy boodskap bepaal.

Internasionale reaksie die afgelope tyd is ’n aanmoediging vir die Rama­phosa-agenda. Die Amerikaanse en Britse besluit om sanksies teen die Gupta-familie in te stel, kan gelees word as hul erkenning dat Suid-Afrikaanse stappe teen korrupsie nou meer konkreet van aard is en ondersteuning verdien. Die feit dat Suid-Afrika saam met Indië, Australië en Suid-Korea genooi is om die G7-beraad in Junie by te woon, is ’n uitsonderlike bewys dat Suid-Afrika internasionaal geag word as ’n land wat deel van globale besluite gemaak moet word.

Dit sou nie kon gebeur as die Ramaphosa-leierskap nie vir hulle baie meriete getoon het nie.

  • Prof. Dirk Kotzé doseer politieke wetenskap aan Unisa.
Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Skorsing  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.