Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die spoke van apartheid

Pres. Cyril Ramaphosa word geprys as ’n uitsonderlike onderhandelaar, maar hy sou graag wou sien wat by die onderhandelingstafel sou gebeur het as Ramaphosa plekke kon ruil met die NP-onderhandelaars en hoe hy dit dan sou regkry om apartheid te versuiker en wit bevoorregting te verskans, het Leon Wessels oor sy nuwe boek, Encountering the Ghosts of Apartheid, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Leon Wessels sê hy loop hom nog dikwels vas in die spoke van die verlede. Foto: Argief

Encountering the Ghosts of Apartheid is Wessels se derde boek oor sy politieke wedervaringe; hy was vir 22 jaar in die politiek betrokke en was onder meer ’n NP-onderhandelaar, ondervoorsitter van die Grondwetskrywende vergadering en ’n menseregte-kommissaris.

Die uitgewer (Naledi) beskryf dit as die kroniek van die politieke en morele evolusie van ’n Afrikaner binne die Suid-Afrikaanse politieke konteks; iemand wat sy konserwatiewe agtergrond ontgroei het om ’n revolusionêre woordvoerder vir verandering en die erkenning van die ongeregtighede van die verlede te word.

Die boek, soos die titel aandui, kyk ook na die spoke van ons apartheidsverlede wat steeds met ons is en wat ons volgens Wessels eenvoudig móét konfronteer as ons die toekoms met vertroue tegemoet wil gaan.

En van die toekoms gepraat: ’n papierboek is lesers nie nou al beskore nie vanweë die staat van inperking en hulle sal daarvoor moet wag totdat die wêreld weer tot normaal terugkeer.

Dit voel seker vreemd dat dit nie ’n papierboek is wat ’n mens kan bekyk en bevoel en beruik nie?

Dit is uitgestelde opwinding. Korona probeer hard, maar sal nie hierdie vreugde gesteel kry nie! Die drukkersbedryf (soos ander bedrywe en ons almal) sal weer kop optel en dan sal ek die vreugde om die boek vas te hou, smaak.

Hoe voel jy oor die idee van ’n elektroniese boek?

Ek is al vir baie jare vriendelik ingestel teenoor die elektroniese boek (hier is omtrent 100 op my Ipad) – dit is so maklik om te koop en met my iPad byderhand, dra ek ’n hele biblioteek saam met my.

Die boek volg op ’n uitgebreide manuskrip wat jy verlede jaar by die Argief vir Hedendaagse Aangeleenthede by die Universiteit van die Vrystaat deponeer het. Dit is ook jou derde boek oor jou rol en belewenisse van die Suid-Afrikaanse politiek in ’n baie deurslaggewende tyd in die land se geskiedenis.

Ek dink elkeen het ’n verantwoordelikheid om te verduidelik hoe hulle met mag omgegaan het toe hulle in gesagsposisies was. Almal se belewenisse is belangrik en so kry latere geskiedskrywers die geleentheid om die verskillende gesigspunte uit te pluis en ’n geheelbeeld te vorm. Ons stoei (spook) nou (2020) met die koronavirus en nou blyk dit dat daar baie min in 1918 oor die Spaanse Griep opgeteken is. Daar is sekerlik lesse te leer uit daardie epidemie. Deeglike geskiedskrywing sou sekerlik daarmee gehelp het.

As ’n mens na die titel kyk, is dit duidelik dat jy dink die “spoke van apartheid” is nog met ons?

Ek loop my dikwels vas in ’n spook. Ons mede-burgers het nie die verlede vergeet nie. Ons praat nou nog oor die Anglo-Boereoorlog. Ons vergeet nie. Hoe durf ons van ander verwag om te vergeet?

Waarom gebeur dit? Is dit omdat ons, ons verlede nog nie behoorlik gekonfronteer het nie?

Ons onthou ons eie pynlike verlede, maar is lui (skaam) om na ander se ervaringe te luister.

Hoekom dink jy is (van) ons onwillig om dit te doen?

Om die kwasterighede van die verlede in die oë te kyk is nie maklik nie.

Hoe hinder dié spoke ons nog vandag?

Omdat die spoke nie getakel word nie, kan jy nie die toekoms helder sien nie. Sodoende sal jy nie weet hoe om ’n toekoms op ’n onvaste verlede te bou nie. Die spoke moet ons nie pootjie nie, maar kan ongelukkig nie weggewens word nie.

Hoe kan ons die spoke van apartheid (dalk vir eens en vir altyd) besweer?

Moet jou nie deur spoke laat afdreig nie. Daar sal altyd spookstories wees. Kyk die verlede (ou spoke) met al sy grieselrighede in die oë en sleep hulle saam met jou landgenote (“others”) die toekoms in. As jy dit alleen wil doen of wil wegwens, sal jy oorweldig word.

Die ondertekening van die Grondwet in 1996. Leon Wessels en pres. Cyril Ramaphosa staan weerskante van oudpres. Nelson Mandela. Foto: Gallo Images

Wat sal jy sê vir mense wat beweer dat ons van die verlede moet vergeet en net moet aanbeweeg? Kan ons aanbeweeg deur die verlede net te vergeet? Jy haal die Amerikaanse skrywer William Faulkner aan wat op ’n keer gesê het “the past is never dead; it’s not even past; the past is merely a dimension of the present.”

Dit is vir my ’n uitstekende beskrywing van ons hier in Suid-Afrika. Faulkner is reg. Anders gestel: jy mag klaar wees met jou verlede maar dit is nie te sê jou verlede is klaar met jou nie. Ek wil in die toekoms leef, maar kan dit nie sonder my verlede doen nie.

Is daar sprake van ’n skuldgevoel onder veral Afrikaners oor ons verlede? Het jy so ’n skuldgevoel gehad? En hoe het jy dit hanteer of afgeskud?

Ek het ’n bewustheid van die verlede, maar nie ’n skuldgevoel nie. Die verlede is daar; ek is jammer dat dit my so lank gevat het om eers die onwerkbaarheid, toe die brutaliteit en later ook die immoraliteit van die ou beleidsrigtings te verstaan, maar dit bring nie mee dat ek deur ’n skuldgevoel só in die grond geboor word dat ek nie kan deelneem aan hedendaagse debatte oor swak dienslewering en misdaad (korrupsie en geweldsmisdaad) nie.

Daar is mense wat sê dat jy en ander ministers van jou tyd “verraaiers” is/was wat pak gekry het by die onderhandelingstafel en julself nou probeer regverdig. Jou kommentaar daarop?

Ek lag. (Pres.) Cyril Ramaphosa word aangeprys as ’n uitsonderlike onderhandelaar – as ons by daardie onderhandelingstafel plekke kon ruil sou ek graag wou sien hoe Ramaphosa apartheid versuiker en wit bevoorregting verskans.

Leon Wessels saam met oudpress. Nelson Mandela en FW de Klerk ná die aanvaarding van die Grondwet in 1996. Foto: Gallo Images

Kon dinge enigsins anders verloop het?

Ja, as ons met die inwerkingstelling van die driekamerparlement meer inklusief was en ruimte gemaak het vir alle Suid-Afrikaners, kon ons ’n rustiger oorgang bewerkstellig het.

Jy het al gesê dat oudpres. FW de Klerk het geen ander keuse gehad as om die toespraak van 2 Februarie 1990 te maak nie en dat dit onmoontlik was om die onderhandelinge te “beheer” omdat dit sy eie loop geneem het.

Die onderhandelinge kon nie gemanipuleer word deur magspeletjies nie. Universele standaarde was daar vir almal om te sien. Enigiets wat kort geval het sou nie slaag nie. Verder: om daardie tafel was ons die gesig van die verlede. ’n Bitter verlede! ’n Verlede wat nou nog by ons spook. Dit is ook wensdenkery om vandag te glo ’n tweede referendum moes gehou word.

Wil jy hierop uitbrei?

Dit was eenvoudig nie praktiese politiek nie. Die tyd het uitgeloop vir diegene wat die onvermydelike (onverdunde demokrasie) wou uitstel. Regter Johann Kriegler is reg: “Hierdie onrealistiese gebrom misken bowendien die wese van verteenwoordigende regering”.

Waarom wil jy eerder in die nuwe as die ou Suid-Afrika bly?

Dit is nie eens ’n oorweging nie. Die ou bedeling kon net deur mag staande bly. Die demokratiese regstaat bied ruimte om met mekaar arm te druk, tekortkominge van die regering uit te wys en saam vorentoe te beur.

Ons beleef nou baie moeilike tye. Het jy hoop vir die toekoms?

Dis opmerklik hoe genaakbaar ons in dié tyd (ten minste digitaal en waar ons beperkte kontak het) teenoor mekaar is. Daar is uitsonderlike moeilike tye wat wag. Maar Suid-Afrika is nie die enigste land wat bo-kerf trek nie. Ons is immers nie geïsoleer nie en ook nie die politieke muishond van die wêreld soos tydens die apartheidsjare nie. Ek hoop hierdie tyd leer ons medemenslikheid en wakker ’n gees van samehorigheid aan.

* Encountering Apartheid’s Ghosts – from Krugersdorp to Constitution Hill word deur Naledi uitgegee. Dit is beskikbaar as e-boek by amazon.com en kos R220.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Fw De Klerk  |  Leon Wessels  |  Johann Kriegler  |  Suid-Afrika  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.