Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Die Stem’: ’n Lied wat verdeel of versoen?

Moet “Die Stem”deel van Suid-Afrika se volkslied bly of het die land ’n splinternuwe lied nodig wat dié lied én “Nkosi Sikelel’ iAfrika” vervang? Enige debat oor die voortbestaan van “Die Stem” ontlok emosies en dikwels word gevra of dit werklik tot versoening bydra en of dit net ’n tweede asem gekry het as deel van ’n kompromie wat langs die onderhandelingstafel bereik is, berig Gert van der Westhuizen.

Ivor Price (heel regs), Donderdag se gespreksleier van Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, neem ’n selfie saam met Max du Preez (heel links), Dennis Cruywagen en Deon Maas. Foto: Jaco Marais

Het die doodsklok uiteindelik vir “Die Stem” gelui nadat dit onlangs op ’n ANC-byeenkoms doelbewus nie gesing is nie? Dit lyk of die meeste van die land se inwoners hulle nie langer daarmee wil vereenselwig nie omdat die EFF ook niks daarvan wil weet nie. Of is die saak nie heeltemal só eenvoudig nie?

Die debat oor “Die Stem” het Donderdag heelwat reaksie gelok by Die Burger se Praat Saam-gespeksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

Max du Preez, joernalis, politieke kommentator en skrywer, Dennis Cruywagen, joernalis, politieke kommentator en skrywer, en Deon Maas, skrywer, joernalis en media-persoonlikheid, het gedagtes oor die toekoms van “Die Stem” uitgeruil.

Du Preez en Maas glo albei dat “Die Stem” nie meer ’n toekoms het nie, terwyl Cruywagen glo die huidige volkslied moet ter wille van versoening behou word.

Ek dink dit was ’n fout om “Die Stem” as deel van die volkslied te behou.
Max du Preez

Volgens Du Preez kan twee strofes van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” eerder as ’n gebaar van versoening in Afrikaans en Engels vertaal word. Hy glo ’n nasionale lied moet ’n simbool wees wat ’n nasie verenig. “Hulle moet hulle daarmee kan vereenselwig en dit moet hulle inspireer.

“Ek dink dit was ’n fout om “Die Stem” as deel van die volkslied te behou. Daar is niks verkeerd met die woorde nie, dit is die assosiasie met die verlede wat pla.”

Maas is hewig teen die behoud van “Die Stem”, maar glo “Nkosi Sikelel’ iAfrika” het ook nie meer bestaansreg as deel van die nasionale lied nie. “Ons het ’n heeltemal nuwe lied nodig. Ons huidige volkslied was ’n kompromie wat bedoel was om net tydelik gesing te word. Dit verteenwoordig ’n spesifieke era en tyd in Suid-Afrika se geskiedenis en daai tyd is verby.”

Cruywagen, met ’n T-hemp aan met die gesig van die vermoorde swartbewussynsleier Steve Biko op, meen die huidige volkslied moet steeds gesing word omdat dit versoening bevorder.

“Die keerpunt van 1994 was versoening. Dit is nog nie verby nie. Ons het dit nog nie eens bereik nie,” het Cruywagen gesê. “Dit herinner mense miskien aan die ou Suid-Afrika. Maar dit herinner my aan die ou Suid-Afrika wat ons oorwin het en wat vir die nuwe Suid-Afrika plek moes maak.”

‘Die Stem’ is ‘net vir idiote aanvaarbaar’

Maas, wat vroeër gesê het “Die Stem” is net vir idiote aanvaarbaar, glo dis nie net dié lied se verbintenis met die apartheidsverlede wat pla nie. Dit bevorder beslis ook nie versoening nie, sê hy. ’n Heeltemal nuwe lied is nodig vir ware versoening.

“Op Loftus hoor jy elke keer hoe sag die eerste deel van die volkslied gesing word. Daarna bulder mense die tweede deel uit met hul vuiste op hul harte,” het hy gesê. “Ek kan nie glo ek sit hier as ’n wit dude wat ’n coloured dude moet oortuig ons moet van ’n rassistiese lied ontslae raak nie,” het hy aan Cruywagen gesê.

Cruywagen het die toeskouers later laat lag toe hy geantwoord het dat hy nie dieselfde hang-ups oor “Die Stem” as Maas het nie.

“Ek ken onderdrukking, nie onderdrukking deur mede-Afrikaners wat vir my sê ek is aweregs in die Afrikaner-gemeenskap nie, maar rêrige onderdrukking. Ek ken hom. Ek ken onteiening, ek ken dit baie intiem. Ek ken honger, maar ek ken ook versoening.

“En ek sê vir jou jy kan maar vir my sê ek is ’n idioot, dis okay. Ek het al erger goed as dit in my lewe ervaar. Jy sal moet opoffer as jy hierdie land wil bou en ek is bereid om op te offer en te sê die volkslied moet behoue bly.”

Die hele volkslied is ’n musikale oddity. Dit begin met ’n rustige gesang waarna dit in marsmusiek oorgaan.
Deon Maas

Maas het herhaal dit is nie net “Die Stem” wat hom pla nie. “Die hele volkslied is ’n musikale oddity. Dit begin met ’n rustige gesang waarna dit in marsmusiek oorgaan.”

Die Christelike aard van die volkslied neem boonop nie mense van ander gelowe soos Moslems in ag nie, het Maas bygevoeg. Agnostici kan ook nie daarby aanklank vind nie. Hy glo ook “Nkosi Sikelel’ iAfrika”is ’n ANC-lied en nie ’n nasionale een nie.

“Ek wil ook nie my volkslied deel met ander lande nie.”

Volkslied moet Afrikaanse deel behou

Du Preez het saamgestem dat die volkslied musikaal krap en dat dit boonop te lank is. Hy het nie ’n probleem daarmee dat Tanzanië en Zambië se volksliedere dieselfde wysies as “Nkosi Sikelel’ iAfrika” het nie. Dit is eerder ’n kompliment as enigiets anders, het hy gesê.

“Nkosi Sikelel’ iAfrika” is boonop baie belangrik vir die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking. Die minderheid sal meer strategies moet begin dink in ’n era van toenemende polarisasie waarin pres. Jacob Zuma besig is om rassehaat op ’n siniese wyse aan te blaas.

“Daarom glo ek die DA moet ’n voorstel doen dat dit vervang word en dat strofes van “Nkosi” in Engels en Afrikaans vertaal word. As dit deur die regering afgeskaf word, sal dit as strafmaatreël gesien word,” het Du Preez, gesê en bygevoeg dat hy graag wil hê dat die volkslied wel ’n Afrikaanse deel insluit.

Maas het gesê die sogenaamde millennials het nie veel van ’n begrip vir die volkslied en waar dit vandaan kom nie. Hy glo wel Suid-Afrikaners moet hul geskiedenis onthou sodat hulle nie die foute van die verlede herhaal nie, maar die tyd van die “ou mense soos ons” is verby.

“Ons moet luister na die jong mense en hul menings. Ons is nie die stem van dietoekoms nie.”

Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Deon Maas  |  Max Du Preez  |  Die Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.