Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die stil gevaar van meneer Wag ’n Bietjie

Suid-Afrika kan nie nóg ’n verlore dekade  bekostig nie, skryf Bongani Madondo.

Buite my kamervenster is die weer erg goor. Dis Desember in Johannesburg. Die son is nooit daar as jy hom nodig het nie en skyn andersins altyd op jou agterent wanneer jy dit nie wil hê nie. Die versoeking is groot om hierdie 200 jaar oue HP-kontrepsie by die venster uit te gooi en die pad te vat.

Nou die dag kry ek ’n oproep van ’n vriend van my grootworddorp van wie Karl Marx my lankal vervreem het (die ou haat boeke en teorie en voer aan, heel korrek, dat ek nie meer in voeling is met “my mense” nie).

Wanneer kom jy huis toe? wil hy weet.

Dis wat swart mense dié tyd van die jaar doen: Ons “gaan huis toe”.

Ek steur my nie aan hom nie, maar sê vir hom ek is op pad.

In werklikheid baljaar ek in my pajamas en dink aan Boris Johnson . . . Ek sit hier en dink aan Boris en die werkersklas-hordes wat volgens die analiste vir Brexit gestem het om geen ander rede nie as die versinde begeerte om Brittanje weer wêreldklas te maak.

Jinne, mense gee net nie op nie.

Hy glimlag steeds, maar ons is nie meer geamuseer nie.

En tog is ek huiwerig om miljoene wit lede van die werkers- en middelklas bloot af te maak as “rassistiese dwase”, soos wat die norm is op sosiale media, wat by die uur al hoe meer antisosiaal word, en om spoggerige etenstafels.

Laat ek nie doekies omdraai nie: As ’n mens kyk in die rigting van die “Weste”, lyk dit of wit populistiese leiers daarin geslaag het om dormante, maar hardnekkige idees oor wit heerskappy oor alle klasse heen weer op te sweep, natuurlik meestal onder die werkersklas, vir wie nog altyd gelieg word.

Eers is die werkersklasse misbruik en versaak deur die kulturele en intellektuele elite. Nou word hulle misbruik voordat hulle weer versaak word deur die vuilgoed-elites.

Dis egter net te maklik vir die neus-in-die-lug kommentariaat om die dikwels beledigde proletariaat vir alles te blameer.

En tog is dit nie asof die “massas” nie weet wat ons van hulle dink nie, of – erger! – dat ons glad nie aan hulle dink nie, en dit is ook in Suid-Afrika die geval.

Hulle registreer hul griewe en vrese by die stembus.

Nietemin: Dit is die idee van “huis toe” – van ons land, nie net my dorpie nie – waarmee ek my op die oomblik bemoei.

Hoe – ek krap my kop – sal ons kollektiewe verlede op enige betekenisvolle manier help om ons nuut te maak, en om hierdie derde dekade van die 21ste eeu nuut te maak?

Suid-Afrikaners is dikwels ’n bra bedorwe en vergeetagtige spul. Ons vergeet hoe, nie te lank gelede nie, ons die Palestyne van die wêreld was; nou is ons meer soos die Iere.

Dekades nadat die twee etniese en koloniale oorloë van die Europese stamme aan die suidpunt van Afrika julle almal so diep verwond het, het Suid-Afrika se meerderheid die wêreld se gunsteling-mislukte staat geword, nie weens hul eie optrede nie, so hoor ons, maar weens die gemors wat júlle mense veroorsaak het.

Nee, wag. Hierdie skrywe is nie nog ’n treurmare oor historiese skuld nie.

Ons was vir ’n hele ruk die wêreld se gunsteling-“ag tog” en -“ag shames”, wat die hele wêreld aan ons kant gehad het in ons kleurvolle stryd, wat soms behels het dat ons sigare kou in die Weste saam met ander tipes aan die ander kant van die “koue gordyn” wat bedwelm was deur Karl Marx.

Dis natuurlik toe ons nie besig was om petrolbomme te gooi nie.

Maar gou het ons, soos die Iere – die ware “negers” van Europa wat dit uiteindelik sou maak nie net tot in Amerika nie, maar tot in die Withuis – die Uniegebou oorgeneem en kon ons die land lei.

Maar het ons ooit gelei?

Wat, waarheen, vir wie, en hoe?

Wat my bring hierby: Soos Suid-Afrika wankel op die rand van ’n nuwe dekade, kan ons saamstem dat die laaste twee of selfs drie dekades oorheers is deur groot, baldadige (soos wanneer hulle die hele land kaal gesteel het) persoonlikhede.

Die 1990’s was ongetwyfeld Nelson Mandela s’n. Nie net hier nie, maar oral.

Toe drentel die man met die sigaar by die kroeg in.

Mbeki – al was hy te veel van ’n kortgat om die grootman van die Temboe se groot skoene te vul – was tog ’n strategiese reus. Teen die einde van Mandela se dekade het Mbeki die land en trouens die vasteland aangegryp met sy toespraak “I Am an African”. Só het hy die 2000’s vir homself opgeëis . . . voordat hy sy goeie reputasie, versiende beleid, sy vasvat van die vakbonde, sy kwasi-intellektuele aura en sy relatief goeie bestuursvernuf opgemors het.

As Mbeki nie die gewoonte gehad het om laat in die nag in donker wetenskaplaboratoriums in te wandel terwyl gewone mense lankal in la-la-land is nie, sou sy naam dalk steeds met trots van die bergpieke verkondig word.

Bygesê, ons almal stem deesdae saam dat sy cowboy-houding teenoor die groot farmaseutiese maatskappye vandag nog relevant is.

Dalk moet dié stryd net op ’n ander manier gestry word.

En nee, ek kan nooit vir Mbeki die skuld gee vir die Mugabe-gemors nie: Bob, die ou slang, sou nooit na Mbeki geluister het nie, wat ook al die ekonomiese gevolge vir sy mense was.

Vra maar vir Blair . . .

Diegene wat Mbeki blameer vir die Zimbabwe-treurspel, lewe in ’n droomwêreld: Zim was ’n soewereine land lank nadat die Koue Oorlog verby was, en hy was reg dat hulle hul eie probleme moet oplos.

Nou het sowel Mbeki as Bob die speelveld verlaat. En, ’strue as Bob, Zimbabwe sal inderdaad nog minstens 20 stinkende jare nodig hê om daai gemors uit te sorteer.

Op papier moes niks boonop erger gewees het as Mbeki se vigsbeleid nie, wat natuurlik eintlik ANC-beleid was, want Mbeki was immers nooit ’n monarg nie.

Mbeki is nooit onttroon weens sy gek standpunte oor die wetenskap nie, maar eerder vir sy arrogante geloof dat hy gebore was om te lei.

Niks moes ooit erger kon wees as dít nie . . .

En toe kom die Zoeloe-hoofman met sy dansies, wat nog te sê van sy roterende span korrupte Indiese nannies, en toe gly Suid-Afrika min of meer 5 000 jaar agteruit na ’n hondsdol Bisantynse tydperk waar mense mekaar verorber het vir middagete.

Om te sê Zuma was die kluts kwyt, is ’n oefening in orale geldmors. Ons is vasgevang in niemandsland, grootliks weens hom, maar dis ook nie alles sy skuld nie.

Hy’s tog nie alleen verantwoordelik vir Eskom nie?

Maar hy moet beslis pa staan daarvoor dat hy Suid-Afrika se afgang die donker in verhaas het.

Wat Cyril betref, wel, bring my sakdoek, toe?

Terwyl almal weet hy het sy huidige pos met die haarfynste meerderheid gekry by Nasrec 2017 – soos sy vyande hom pal herinner – het die man nog nie regtig begin lei nie.

Ramaphosa het die kans om die dekade sy dekade te maak. Ek het hom al ontmoet en het direk ná sy oorwinning by Nasrec in sy reusehuis in Hyde Park met hom gesels. Die onderhoud was lank en hy was sjarmant. Hy het self die rooibostee vir ons geskink en trots vir my sy versameling etniese kuns gewys.

Als oulik, dankie.

Hy het ook soveel inspirerende goed gesê dat Paulo Coelho en die Nepalese monnike sal bloos – oor hoe die staatsdiens reggeruk sal word; oor hoe die lang arm van die gereg die skurke gaan begin gryp; oor hoe dapper sy ekonomiese transformasie sou wees, oor Eskom en so aan.

Dis twee jaar later en ek sal lieg as ek vir jou sê die Cyril met wie ek gesels het, is nie dieselfde Cyril met wie ons vandag opgeskeep is nie: Hy glimlag steeds, maar ons is nie meer geamuseer nie.

Sy glimlag is ’n grynslag.

Dis 2020, ’n nuwe dekade, en ons weet nie wat sy glimlag vir ons beteken nie. Want wie kan nou die toekoms voorspel? En tog het Suid-Afrika nie in Cyril ’n president wat vertroue inboesem nie.

Sal hy die volgende dekade na sy beeld vorm? As hy dit doen, is ons in die moeilikheid.

Want sy politiek is die politiek van huiwering en besluiteloosheid, die politiek van “wag ’n bietjie”. Dít is die man wat vir 20 vet jare – en die noodwendige 20 maer jare wat daarop volg – gewag het om na vore te tree.

Ons kan nie nog ’n vermorste dekade bekostig nie.

* Bongani Madondo is die skrywer van onder meer Sigh, the Beloved Country: Braai Talk, Rock ’n Roll & Other Stories (Picador Africa).

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Thabo Mbeki  |  Jacob Zuma  |  President  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.