Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die storie stu voort; jy keer dit nie

Kan daar ooit ‘iets goeds’ kom van die dood van ’n geliefde vriendin, ouma en ma, vra Frederik de Jager.

Deelnemers aan die skryfskool sit op Lenatjie se stoep. Voor sit die aanbieders, die skrywers Kerneels Breytenbach, Ingrid Winterbach en Eben Venter.

Daar is iets van Griekeland en iets van Suid-Afrika in hierdie storie, iets van Nederland, en iets van ’n baie, baie donker land. Toe maar, vra die donker land.

Ons kry in Griekeland besoek uit Nederland. Sy is van kindsbeen vriende met my maat, en toe met die Nederlander getroud. Dit is ’n herontmoeting vol vreugde. Nederlanders is opgetoë mense, en die professor ’n platjie, ons skater dit uit oor die skuins misverstande tussen Nederlands en Afrikaans. En sy, die dogter Rust, kan aksente praat wat jou ’n kar kan laat omgooi op die haarnaalddraaie van ons eiland.

En op Griekse grond voel ons ons almal ekstra uitgelate. Ons is kinders teen die algehele ouderdom van die eiland waar Achilles in mite en Aristoteles in werklikheid geloop het, albei net anderkant die volgende berg. Wie kan hulle klop met erns? Ons antwoord in lafheid. Ons raak skoon simpel in Afrikaans.

Maar mens moet oppas vir die valstrikke van taal. Vir die angel versteek in onbevange idioom. Byvoorbeeld: Van lag kom huil. Daardie keihard siniese wysheid wat die ou mense deur ervaring geleer het.

‘Winnie sal altyd hier bly voortleef,’ skryf een in die gasteboek.

Skaars ’n week nadat ons besoekers vort is, kom die foonoproep uit Wellington. Haar ma, die skrywer Winnie Rust, is in hul huis om die lewe gebring. ’n Leeftyd van goedheid, hulp aan die hulpeloses, die tot verhaal bring van stories waaroor Suid-Afrika se geskiedenis met stewels aan gehardloop het, alles met wreedheid gestuit.

Ons staan naby aan én ver van hierdie familie. Die slag tref hulle en ons is net omstanders, maar ons sien dit, voel dit van ver af.

Intussen moet die wiele aanhou draai. Ons gaan voort met ons program van skeppende werksessies. Mense kom draai by ons verby van Australië en Suid-Afrika in die suide, van die VSA en Europa in die weste. Hul kreatiwiteit en hulle selwe kom los, hulle skryf, hulle skilder. Party het nie eens geweet hulle kan nie.

Terwyl die skepping deur hul vingers vloei, soos bloedlating, voel hul gees verlig en vry. Veel uitgelatenheid volg in die loop van dié jaar.

Ver in Suid-Afrika draai die wiele van geregtigheid. En dit maal die pynlikhede die een ná die ander om en om. Koerante skryf, digitale tonge flap. Die familie Rust se donkerste oomblikke moet onder die versengende lig gebring word, hul privaatste selwe publieke goed gemaak word.

Winnie se laaste boek word nog in dieselfde jaar postuum gepubliseer. Was sy in lewe, sou dit haar jongste boek genoem gewees het.

Intussen kom ’n ander Rust-dogter by ons aan. Om weg te kom van die plek waar elke klip, wolk, stem uitroep wat met hulle gebeur het. Sy wil tot verhaal kom; dit wil sê ’n wending vir die in bloed gestolde narratief vind wat tot ’n uitweg kan lei. Ons eiland is ’n simpatieke plek as jy iewers soek waar jy jou gees oor die waters wil uitstuur.

En toe begin ons dink aan ander waters. Waar die Goukourivier in die Indiese Oseaan vloei, is ’n dorpie aangelê wat die ou mense om sy afgeleënheid Stilbaai genoem het. Daar lê ek en my maat laag tydens ons laaste weke in Suid-Afrika nadat ons ons huise verkoop, ons goed uitgedeel en opgepak het, ons vliegdatum na Griekeland afwagtende. Februarie 2016.

Kom tannie Winnie, kort duskant 77 jaar, op haar fiets aan om ons uit te nooi vir ’n aandjie by haar en haar man. Op die stoep van Lenatjie, die eenvoudige plankhuisie vernoem na ’n Rust-oumagrootjie. Families van die plase het met ’n ossewa daar aangekom, vol vakansiegees. Ons vier sit en praat uit oor die see, nie 50 m van die stoep se rand nie. Dié gesprek draal nog dae en weke lank by ons albei.

Van dáár na die doodsberig, ’n gruwel van ’n berig.

En ons besluit só behoort dit nie net te eindig nie. By die kreatiewe skryfwerkseminare wat ons op ons eilanddorp fasiliteer, stu die woord aan die vingerpunte van selfs die beskimmeldste selftwyfelaar. Waarom sou dieselfde nie op ’n plek soos Stilbaai kan gebeur nie?

Stilbaai vanweë die verbintenis met Winnie Rust, vanweë die beskikbaarheid van sulke ou strandhuise, en omdat ons gehoop het ons kan daar eenkant op die soom van die land ook ’n koesterende ruimte skep soos dit ons in Griekeland geluk by ons bly-eet-praat-besigheid wat ons The Talking Table noem.

Toe ons die familie Rust vra of ons die werkseminaar na Winnie mag noem en in haar nagedagtenis aanbied, het die antwoord onmiddellik en entoesiasties gekom.

En daarby nog die aanbod dat ons Lenatjie kan gebruik.

Daar is in laat Februarie baie verblyf in Stilbaai beskikbaar ná die uitloop van die gety vakansiegangers, maar ons wou juis die ou huise hê, waarvan daar gelukkig nog enkeles aan die waterkant oor is. Dié wat nie platgeslaan is vir die 7 miljoen-waarde van hul erf en vervang is deur ’n smaaklose monstruositeit van welvaartsvertoon nie.

En dit in ons behoeftige land.

Saam met Lenatjie kon ons twee ander van die ou huisies betrek. Daar kon ons ’n innigheid en eenvoud vind wat klop met die onopgesmukte ervaring wat ons gaste in Griekeland beleef.

Wat ook klop met wat Winnie bly gemaak het.

Binne ’n week was die vyf dae uitverkoop. Ook moeilik anders, met ons drietal aanbieders: Kerneels Breytenbach, Eben Venter en Ingrid Winterbach. Ook hulle het onmiddellik ingestem. Jy het nodig om te verstaan wat niemand kan verduidelik nie, en hulle het die idee onderliggend aan ons werkseminaar sonder meer aangegryp.

En so het die 11 deelnemers opgedaag, hul kamers gevind. Wie op ’n stoep moes slaap, het dit sonder murmurering gedoen. ’n Krakerige enkelbedjie, ’n vensterraam wat sywaarts in die plankmuur wegskuif, wankelende vloerplanke, skewe mure. Foto’s van die geslagte teen die mure, kaste vol bordspeletjies, ’n aflosrak vol leesboeke wat ná elke seisoen se besoekers agtergelaat word. En twee, drie treë van waar in ’n huis jy jou ook al bevind: die see, die see. Ruisend soos ons selde die Egeïese See hoor.

Eben het gewerk met “jou notaboek as uitkyktoring op die wêreld en met skryf oor jou familie” – met ontroerende voorbeelde uit sy eie werk. Ingrid het die kursusgangers geneem deur “geheime van dialoog, van tekstuur in prosa, en van die skrywersgereedskap van detail”. Kerneels het dit uitvoerig gehad oor “die interne logika van ’n roman, daardie onsigbare vormgewer”. Hy het uit sy ervaring as ouduitgewer raad gegee oor die pad van publikasie.

Om hulle het voornemende skrywers versamel, elk uit eie kwesbaarheid vandaan, elk onder die indruk van wie hulle voorafgegaan het.

“Winnie sal altyd hier bly voortleef,” skryf een in die gasteboek.

En hulle het geskryf, gekreun, hul oefeninge voorgelees en bespreek – die aanbieders krities simpatiek. Saans het ons langtafel gemaak dat die planke buig onder die kos en die geselskap. Gaste het kom kla: Dit moet nog nie ophou nie. Maar hulle is vort: noord, wes en oos. Skryf is in laaste instansie vir jou binnekamer.

Op die laaste aand het ons saam ons glase gelig en gesê: “Die storie gaan voort.” En ons het onderneem om dieselfde te doen volgende jaar en elke jaar voortaan met hierdie Winnie Rust Skryfwerkseminaar. Want die storie wil voortstu. Jy kan dit nie keer nie.

  * Frederik de Jager is ’n ouduitgewer en mede-eienaar van The Talking Table op Lesbos in Griekeland (info@thetalkingtable.com)

Meer oor:  Eben Venter  |  Winnie Rust  |  Kerneels Breytenbach  |  Stilbaai  |  Moord  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.