Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Die Taal’ wat áls kan doen

Sy lyding onder die apartheidsbewind is onlosmaaklik met sy kennis van Afrikaans verbind, skryf John Schlapobersky.

Die Schlapobersky-gesin op vakansie in Durban in 1956. Die sewe-jarige John sit heel regs.

Ek voel geëerd en is diep geraak deur hierdie uitnodiging van Rapport om te skryf oor my ondervinding van en verhouding met Afrikaans.

My agtergrond behoort ’n aanduiding te wees waarom hierdie kwessie oor taal vir my so belangrik is.

Die vraag wat ek graag in hierdie artikel wil beantwoord, is: Kan mens ’n taal liefhê én haat? Die antwoord is ja.

Taal verteenwoordig die waardes van sy sprekers, deurdrenk van sy idioom, temperament, manier van voel, aanspreekwyses en die algemene omgangswyse, wat dikwels in sy musiek neerslag vind.

Ons ken hulle intiem. Ons ken hulle nie net nie – dit is die medium waardeur ons alles ken. Die stemtoon en die woorde waarmee ’n moeder haar baba vertroos; waarmee ’n sportvrou, geanimeerd en gevul met opwinding, haar spanmaats op die veld omhels; die manier waarop ’n geliefde se naam gevul word met ondeurgrond­bare emosie in die diksie van haar minnaar. Dit is alles baie spesifiek tot ’n taal en haar sprekers.

Dit ontstel my selfs 52 jaar later.

Hoe belangrik is die stem – die manier waarop dit dra, maar ook laat val?

Dink aan woorde van genade tydens die sterwensuur, die gebed of smeking by geboorte, die dood, huwelik, ordening en inhuldiging.

Gelewer soos dit hoort is ’n seën opbouend en selfs transformerend. As die spreker struikel, struikel die seremonie ook.

                                                                                   ***

Ek het Afrikaans op hierdie maniere geken deur my grootword, blootstelling en opvoeding as ’n Suid-Afrikaner. Ek het dit egter ook op ’n ander manier geken – ’n manier wat jy nie uit vrye wil sou kies nie – as die taal van dié wat my gemartel het.

My ma is gebore en getoë op ’n plaas in die ou Wes-Transvaal, kort ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Die grond is geleë in die Magaliesberg, naby Krugersdorp, en die plaas, Ruthville, dra steeds die naam wat haar ouers in 1922 aan die grond gegee het ter herdenking van haar geboorte.

John op 19-jarige ouderdom – twee jaar voordat hy gearresteer is.

My grootouers en hul enigste dogter het as Afrikaanse Jode gewoon in ’n boeregemeenskap waarvan baie steeds nie vrede gemaak het met die uitslag van die Anglo-Boereoorlog nie en steeds na hulself verwys het as “bittereinders”.

Een van die bekendste figure onder hulle – wat later baie aktief in die Ossewabrandwag sou word, was Robey Leibbrandt. Leibbrandt het van Potchefstroom gekom en Suid-Afrika se bekendste Nazi geword.

As kinders het ons na my ma se verhale oor sy politieke bedrywighede tydens die Tweede Wêreldoorlog geluister, van sy inhegtenisneming en gevangenisstraf en van sy vrylating deur die eerste minister, dr. D.F. Malan, een van die eerste dinge wat hy gedoen het nadat die Nasionaliste in 1948 aan bewind gekom het – drie maande nadat ek gebore is.

My pa was toe steeds “up north”, waar hy met onderskeiding teen fasciste soos Leibbrandt geveg het. Pa het in die ingenieurskorps gedien waar hy in die voorste linies landmyne onskadelik gestel het tydens die Italiaanse veldtog.

Sy eenheid het die mees verskriklike ongevalle tydens die gevegte gely en tot die dag van sy dood het hy ’n foto van hulle op sy muur gehad – geneem op die dag voordat hulle na die front gegaan het. Net een keer het hy vir my – foto vir foto – die handjievol gewys wat lewend teruggekeer het.

My ouers het kort ná sy demobilisering ontmoet en teruggekeer na Suid-Afrika. Hul hofmakery het plaasgevind in die skadu van die politieke onrus in die land, toe genl. Jan Smuts sy steun onder sy eie mense verloor het in die aanloop tot die verkiesing.

Die Bybel wat John tydens sy aanhouding by hom gehad het.

Hierdie mense – landgenote in hegte gemeenskappe – was die mense wat my ma as haar vriende en bure beskou het.

Ná die blootstelling aan soveel dood en vernietiging het my vader die aanbod van ’n gratis plek op universiteit van die hand gewys – ’n opsie wat vir alle wit dienspligtiges beskikbaar was ná hul terugkeer. Hy wou liewer saam met my ma gaan bou aan hul boerderyonderneming deur te kweek en te plant en nuwe lewe te skep.

Hul ywer is geblus nadat Afrikanernasionalisme die sentiment in die Magaliesberg teen “uitlanders” laat draai het. Hulle het daarom besluit om die plaas te verkoop en die gebied sak en pak te verlaat nadat my ouma dood is.

Daarna het hulle aangesluit by die Fakkelkommando, ’n organisasie van oudstryders wat teen Afrikanernasionalisme en die Brandwag georganiseer het. ’n Hele lewe in stryd was hul voorland.

                                                                                 ***

My vader se blootstelling aan lewe en dood in die stryd teen fascisme is ook ondervang deur die lot van die lede van ons familie wat in Litaue agtergebly het en deur die Nazi’s uitgewis is.

Van ’n uitgebreide familie van tientalle gesinne en hul nageslag, almal deel van die Schlapobersky-familie, het uiteindelik net twee oorleef: My oupa se jongste suster, wat deur die Russe uit ’n konsentrasiekamp gered is; en ’n klein dogtertjie wat as kind deur Katolieke Litauers weggesteek en later deur hierdie een oorlewende tante gered is.

Ons het in Londen saam met FW de Klerk gehuil.

Sy is ’n paar jaar ouer as ek – amper 80 – en woon in Haifa, Israel, waar sy ’n toonaangewende siviele ingenieur geword het, die moeder van drie en ouma van vyf.

Ons het hierdie emosionele register saamgevat in ons eie beeld van Afrikaners wat, hoewel hulle ons as Jode geduld het, swart mense behandel het met die wreedheid wat ons Joodse voorouers in Europa moes verduur.

Ons het na Swaziland, destyds ’n Britse protektoraat, verhuis in ’n gedoemde poging om weg te kom van hierdie vyandige plek waar my ouers ’n plaas gekoop en ons grootgeword het. In teenstelling met familie en vriende in Johannesburg wat in ’n goue Joodse ghetto gewoon het, was ons baie meer blootgestel aan Afrikaans vanweë ons ligging in Swaziland.

Afrikaans was ’n verpligte tweede taal en op reis tussen ons huis op die plaas en ons vorige huis aan die Rand het ons deur die hartland van die Afrikaanse boerdery in Oos-Transvaal gereis. Die trein van Parkstasie na Breyten en die treinverbinding na Mbabane was ’n reis waarvoor Afrikaans noodsaaklik was. My broer vermaak ons steeds as hy ons aan die gang wil kry deur die uitroep van die kondukteur: “Opstaan, word wakker, volgende stop Breyten, almal uit.”

Ek het steeds aangename herinneringe aan hierdie woorde en glimlag selfs nou terwyl ek hulle skryf.

                                                                            ***

My inhegtenisneming ingevolge art. 6 van die Wet op Terrorisme van 1967 het op Vrydag 13 Junie 1969 (vandag presies 52 jaar gelede) plaasgevind. Dit het – soos ek in my jongste boek vertel – uit die bloute gekom.

Die polisie in die spesiale tak wat my by Wits in hegtenis geneem het, het my verseker dat ek ’n prokureur kan sien sodra ek in Pretoria kom. Maar hulle het my eerder na maj. Swanepoel gebring wat vir my gewag het in die Kompol-gebou, waar hulle die talle goed waarop by my huis beslag gelê is, bymekaargemaak het.

Die skrywer, links voor, saam met sy sibbe Colin, David en Marian.

Sy voorkoms was vreesaanjaend en hy het saam met sy trawante in Afrikaans op my begin skreeu.

Omdat ek nie geweet het wie en wat hy is nie, het ek stilletjies gevra of ek ’n prokureur mag sien, soos belowe is.

Die ontploffing van woede was ontsettend en ontstel my selfs 52 jaar later, terwyl ek daaroor skryf. Ek weet nie waar die chutzpah vandaan kom nie, miskien was dit my grootoom Tzodik se gees wat na my uitgereik het uit die doodsput, waar die Nazi’s hom vermoor het.

Ek het my man gestaan ??en, steeds op ’n baie beheerste manier (in Engels) gesê: “As u wil hê dat ek u vrae moet beantwoord, sal u asseblief Engels met my praat. Ek verstaan ??nie ’n woord wat u sê nie.”

Dit was soos bloed vir ’n haai en hy het vir my gekom, steeds in Afrikaans, asof hy kon byt.

“Dit is die taal van jou eie land, ons taal, en jy sê vir my dat jy geen woord verstaan nie. Jy is net ’n f****n Joodjie.

“Hoe durf jy hier bly sonder om ons taal te leer?”

Hy het hom verder opgewerk en vier of vyf van sy kollegas het meegedoen.

Nadat dinge hul gang gegaan het, het hulle my na ’n klein ondervragingskamer geneem waar ek op ’n baksteen moes staan en hulle het my in Engels begin ondervra. Ek het geweet dat ek ’n klein bietjie voordeel teen hulle gewen het.

Dit het gehelp om my te beskerm en dit het my gehelp om ander te beskerm gedurende die vyf dae en nagte van slaapgebrek wat gevolg het – waarvan ek baie op daardie baksteen deurgebring het. Omdat hulle in Afrikaans met mekaar oor my gepraat het, kon ek meestal volg wat aangaan.

                                                                                   ***

Die taalkwessie het ook ander draaie gegooi nadat ek gestuur is na Pretoria se dodeselle.

Op dag 11 was die bewaarder wat my vir my stort kom haal het ’n ander een – iemand wat ek nog nie tevore gesien het nie. Hy het geen Engels gepraat nie en gelyk of hy pas gehuil het. Hy was ’n jong seun van hoogstens 18 of 19 jaar oud, en dit het gelyk of hy nog nie begin skeer het nie.

Toe ons in die gang afloop na die badkamer vra ek hom in Afrikaans: “Meneer, is iets verkeerd?”

Hy het verduidelik dat hy daardie oggend in die galgkamer gehelp het. Normaalweg het dit hom nie gepla nie, maar daardie oggend het iets gebeur.

“Die k****r wat vandag opgehang is,” het hy vertel, “was jonger as ek.”

Hy het verder verduidelik dat die mense wat deur die nag gesing het, die veroordeeldes was. Ons het hulle nie op Vrydag- of Saterdagaande gehoor nie omdat die laksman nie oor naweke gewerk het nie.

Skielik het ek besef waar die vertroostende stemme vandaan gekom het wat ek die hele tyd gehoor het, en wáárom hulle gesing het.

                                                                                  ***

’n Ander “taalepisode” het op dag 33 gebeur toe ’n tweede besoek van my ma toegelaat is en sy uitgevind het dat ek nie kan praat nie.

Die lang periode van eensame opsluiting het my stem aangetas. Sy is toegelaat om my na ’n nabygeleë kafee te neem vir ’n maaltyd onder begeleiding van drie polisiemanne.

Ek het stadig weer my stem teruggekry en toe ek na Swanepoel se kantoor terugkeer, het my ma in Afrikaans vir hom gesê: “Wat wil julle van ons seun hê? Wil jy hom vernietig?”

Sy kakebeen het amper op die grond geval – hy het nie geweet dat sy Afrikaans magtig is nie. Hy het haar in Afrikaans gevra hoe sy “Die Taal” so vlot kon praat en sy het vir hom gesê dat sy ’n “Afrikaanse Jood” is en dat sy die taal as haar eie beskou. Sy het onder Afrikaanse mense grootgeword op ’n plaas in die Magaliesberg, nie ver daarvandaan nie.

                                                                                ***

Nobukhosi Zulu, ’n koördineerder by die SA History Archive, het my help soek na die polisie- en ondervragingsverslae tydens my aanhouding terwyl ek aan my boek gewerk het.

Die meeste daarvan is in die laaste dae van apartheid vernietig, maar sy het wel my arrestasiebevel gevind en toe sy dit aan my stuur, gevra of ek dit uit Afrikaans wil laat vertaal.

Toe ek haar gerusstel dat ek Afrikaans goed genoeg kan lees en self kan vertaal vir die aanhangsels tot my boek, het ek soos volg vir haar geskryf:

Hierdie is geredigeerde uittreksels uit die boek When They Came for Me deur John R. Schlapobersky. Dit word uitgegee deur Jonathan Ball.

“In my memoires – wanneer dit uiteindelik gepubliseer word met die materiaal wat jy vir my gevind het – sal jy sien watter groot rol Afrikaans gespeel het tydens my aanhouding en ondervraging. Terwyl ek in die hande van die polisie was, het ek daarop aangedring dat ek niks verstaan nie, daarom moes hulle my in Engels ondervra.

“Maar omdat hulle my saak in Afrikaans voor my bespreek het, kon ek ’n bietjie uitvind oor wat aangaan, wat hulle weet en hoe ek myself en my vriende kon beskerm.”

Toe Nelson Mandela in 1994 as president ingehuldig is met FW de Klerk en Thabo Mbeki as sy adjunkte, het De Klerk sy ampseed in Afrikaans afgelê en hy het gehuil terwyl hy dit doen.

Terwyl ons op TV hier in Londen gekyk het, het ons saam met hom gehuil.

Sedertdien kon ek die taal en sy sprekers vir die eerste keer verdra en inderdaad waardeer, en ek gebruik die bietjie Afrikaans en Swati wat ek ken wanneer ek terug is in die land.

                                                                                   ***

Dus sluit ek hierdie stuk af met die idees waarmee ek my artikel begin het: Woorde van seën, soos uitgespreek tydens geleenthede soos die aflê van ’n ampseed, kan die harte van gebrokenes heel en die kettings van haat ontsluit.

Ek sing graag “Sarie Marais” en vele ander volksliedjies wanneer ek alledaagse takies in die huis doen en vind gereeld dat ek met myself in Afrikaans of Swati praat.

Onlangs het ek “Die donker” ontdek soos gesing deur die Stellenbosse Universiteitskoor onder leiding van André van der Merwe. Dit is ’n opbouende ervaring wat my soms oorrompel. Ek sit in trane voor die skerm en kyk na hierdie pragtige, jong gesigte in al die land se kleure.

Hulle sing oor “my oom se plaas” en dit herinner my aan Ruthville, by Syferbult. Ek weet wat die emosies beteken wanneer hulle sing “Begrawe my hart onder ’n klein tambotieboom en strooi my as oor die Bosveldhorison” en ek droom van ’n geleentheid om dit saam met hulle te kan sing.

Dankie aan Rapport vir die geleentheid gegee om hieroor te skryf.

* John Schlapobersky is ’n sielkundige. Hy is as jong man deur die destydse Veiligheidspolisie aangehou weens sy anti-apartheidsbedrywighede.

Meer oor:  Afrikaans  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.