Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die tirannie van ‘geleefde ervarings’

Kritiese debat op Suid-Afrikaanse kampusse word deesdae op allerlei wyses gepootjie, skryf Tian Alberts.

Daar is ’n nuwe epidemie wat op kampusse in Suid-Afrika die rondes doen, en nes die voorganger daarvan, politieke korrektheid, smoor dit gesprekke en debatte oor belangrike kwessies in die kiem.

Die heersende reëls van die spel behels nou dat niks gesê of gedoen mag word wat aanleiding kan gee tot die “miskenning” van die “geleefde ervarings” van sogenaamde gemarginaliseerdes nie.

Vrydenkende studente en liefhebbers van debat en oop gesprekke het oor jare – ten spyte van brandmerking en teenstand – politieke korrektheid as bedreiging vir ’n oop, vrye kampussamelewing aan die kaak gestel. Die idee dat sekere standpunte eenvoudig nie ingeneem mag word nie omdat dit “beledigend” of “onsensitief” kan wees, het nie die toets van tyd deurstaan nie.

Soos menige ander postmoderne leerstuk wat ’n oorsprong in goeie bedoelings en ’n strewe na geregtigheid gehad het, het politieke korrektheid in ’n stilmaak­meganisme ontaard om uitdrukkings wat politieke hegemonie oor leierskapstrukture en geslote bestekke van “aanvaarbare” idees bedreig het, dood te smoor. Studente het langsaam die absurditeit daarvan besef, en die ystergreep van politieke korrektheid op wat veronderstel was om ’n vryemark van idees op kampusse te wees, verbreek.

Vandag is ’n baie meer ondeursigtige leerstelling wat andersdenkendes as slegte mense tipeer wanneer hulle nie in hul spoor trap nie, die meester van gedinge.

Dit werk soos volg: Wanneer daar belangrike besluite geneem word, moet daar eers na die “geleefde ervarings” van alle betrokkenes geluister word – soms vir ure aaneen – en hierdie “geleefde ervarings” word dan deurslaggewend vir die uitslag van die gesprek en besluitneming. Feite, navorsing en die behoeftes van die breë studentekorps – soos byvoorbeeld in ’n meningspeiling opgeneem – is van min of geen belang, en waag jy dit om laasgenoemdes te opper, word jy summier daarvan beskuldig dat jy geleefde ervarings “misken” en lyk en voel jy soos ’n slegte, onsimpatieke mens.

Die oogmerk is gereeld om die debat tot ’n vroeë einde te bring.

Geleefde ervarings is natuurlik belangrike aanvullers om insig en begrip by gesprekke te help kweek – veral wanneer daar besluite geneem word wat ’n impak op studente se ervarings sal hê. Die oogmerk wanneer geleefde ervarings geopper word, is egter gereeld nie bedoel om insig en begrip te kweek nie, maar om feite te probeer troef, andersdenkendes te pootjie en die debat tot ’n vroeë einde te bring voordat alternatiewe gevolgtrekkings gemaak kan word.

“Geleefde ervarings” verwys ook slegs na die ervarings van sogenaamde gemarginaliseerde studente. Dit is problematies, want gemarginaliseerde studente word natuurlik geïdentifiseer op grond van ras, geslag en ander onveranderbare liggaamlike eienskappe – nie op grond van persoonlike omstandighede van individue wat kenmerkend aan marginalisering is nie. Daarom kan ’n wit man – ongeag unieke persoonlike omstandighede – outomaties nooit in aanmerking kom vir “gemarginaliseerde” status nie.

Die uiteinde, en waarskynlik ook die oogmerk van hierdie metodiek, is dat op grond van eienskappe soos ras, nie-gemarginaliseerde mense se bydraes tot gesprekke en debat vanuit die staanspoor geen geloofwaardigheid geniet nie en as problematies beskou moet word wanneer dit nie die bestaande monopolie van idees versterk nie. Dit is dus ’n kru uitsluitingsmeganisme wat diskrimineer op grond van eienskappe waaroor mense geen beheer het nie.

Die negatiewe rimpel­effek van hierdie verskynsel op universiteitskampusse moenie geringgeskat word nie. Binne die “veilige ruimtes” wat by universiteite ontstaan as tipe plaasvervanger vir omgewings vir debat is daar weinig geleentheid vir regstreekse konfrontasie met nuwe beskouings en idees. ’n “Veilige ruimte” is ’n omgewing waarin feite nie saak maak nie en gemarginaliseerde persone nie verdere ongemak hoef te verduur deur na menings te luister wat hulle as problematies ag nie of menings van “bevoorregtes” in die algemeen.

Diegene wat as gemarginaliseer beskou word weens hul biologiese eienskappe word deur fasiliteerders aangemoedig om hul “geleefde ervarings” te deel en “bevoorregtes” (die res) moet eerder luister. Min wesenlike oor-en-weer-diskoers vind oor die meriete van kwessies plaas en die diskresie rus geheel en al by “gemarginaliseerdes” om te besluit watter menings problematies is en verbied moet word.

Die uiteindelike gevolg is dat baie studente nie leer om te argumenteer, aan nuwe wêreldbeskouings blootgestel word of die geringste intellektuele arbeid hoef te verrig om hul wêreldbeskouings te kwalifiseer of om hul eie bydraes in die wêreld waarin hulle leef ordentlik te verstaan nie. In hul veilige ruimtes hoef hulle niks meer moeite te doen nie as om te beweer dat iemand ander se mening “problematies” is, omrede dit kwansuis geleefde ervarings ontken.

Dit is moeilik om te dink dat dié studente vanuit die glaskas van “veilige ruimtes” sal kan oorleef in die regte wêreld, wat gereeld ongenaakbaar en uitdagend is.

Die probleem met die nuwe landskap op universiteitskampusse is eenvoudig dat intellektuele diskoers verval het tot ’n spel waarin diegene wat op die hoogste morele waardigheid kan aanspraak maak, as die oorwinnaars wegstap. Die doelstelling van debat het verskuif vanaf ’n strewe om nader aan die waarheid te beweeg na ’n behoefte om as ’n “goeie” mens aangesien te word deur portuurgroepe. Die erkenning van gemarginaliseerdes se “geleefde ervarings” en verafskuwing van diegene wat sogenaamd “geleefde ervarings” misken deur feite en logika aan die dag te lê, is ’n maklike manier om op ’n morele meerderwaardigheid aanspraak te maak en as oorwinnaar weg te stap.

Hierdie probleem is nie eie aan Suid-Afrika nie; inteendeel is dit weer dogma wat oorgespoel het na Suid-Afrika en ooreenkomstig die plaaslike omstandighede aangepas is. Op Duitse universiteitskampusse kan kritici van Angela Merkel se immigrante-beleid in groot moeilikheid beland omdat hulle skynbaar die “geleefde ervarings” van immigrante misken – self al het hul kritiek niks met immigrante se ervarings te make nie, maar geheel onpersoonlik is en suiwer daarop gemik is om regeringsbeleid te kritiseer. In die VSA word gassprekers gereeld deur links-ekstremistiese “anti-fascistiese” en “anti-haat”-groepe by kampusgeboue uitgeboender wanneer laasgenoemde verwag dat daar uitlatings gemaak kan word wat sommige studente se “geleefde ervarings” sal misken.

Plaaslik by die Universiteit Stellenbosch het die SR-lid Mariné Bothma op 16 November in ’n meningstuk ’n “nuwe slag­offerkultuur op kampus” onder die loep geneem. Die onmiddellike reaksie op haar ontleding (wat gereeld met stawende literatuur aangevul is) was nie weerleggings op meriete nie, maar eerder ’n aanval op haar karakter en etikettering van haar bedoelings omdat sy skynbaar “gemarginaliseerdes” se geleefde ervarings misken en beledig.

Wat hierdie onverdraagsames eintlik probeer sê het, is: Hoe durf ’n SR-lid krities staan teenoor die hiper-politieskorrekte monopolie van idees op kampus? Weet sy dan nie dat dit eenvoudig nie gedoen word nie?

Die groot ironie van alles is dat wanneer diegene wat op paternalistiese wyse deur leiers en personeel gemotiveer word om hul status as “gemarginaliseerde” te koester, besluit om die idee dat hulle gemarginaliseer is te verwerp, word hulle vinnig veroordeel. Hul geleefde ervaring van ontmagtiging en stigmatisering wanneer ander ’n gemarginaliseerde status op hulle wil afdwing, maak dan nie saak nie.

Op die ou end sal personeel, strukture wat verantwoordelik is vir die fasilitering van kritiese gesprekke, asook studente self moet besluit tot watter mate hulle nuwerwetse uitlandse idees op kampusse wil inbring en wil toelaat dat dit debat, gesprekvoering en besluitneming oorheers. Per slot van rekening is kampusse veronderstel om instellings vir ongebreidelde intellektuele ontdekking en deurbrake te wees. Op hierdie oomblik is intellektuele strewes egter onderdanig aan die tipe onverdraagsaamheid wat ’n konsep soos “geleefde ervarings” ophemel tot ammunisie wat debat in die wiele ry.

* Tian Alberts is ’n derdejaar-BCom Regte-student aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Kampusse  |  Universiteite  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.