Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die triljoenrand-sprokie

Betaaltelevisie was die fondament waarop die grootste maatskappye in die land gebou is, skryf David Meades.

Koos Bekker, Jamie Uys en Ton Vosloo by M-Net se amptelike bekendstelling op 21 November 1985.

Een van die grootste korporatiewe suksesse van postapartheid-Suid-Afrika is die Nasionale Pers, wat herdoop is tot Naspers.

Die maatskappy het die weiveld van Koos (Jacobus Petrus) Bekker geword, wat in die eerste paar jaar van die nuwe millennium een van die land se rykste mense geword het.

Naspers moes eintlik, soos die eens magtige Sanlam, ook voor die eise van die nuwe gedienstigheid van die Afrikanersakewêreld geswig het.

Die kanse was goed dat hy in hierdie milieu ook ekonomies sou duik, as dit nie vir die visie van iemand soos Ton Vosloo was nie.

Vosloo het as joernalis by die Pers begin en is later as redakteur van Beeld aangestel. Hy was die aangewese besturende direkteur van Naspers, om oor te neem by die baie verligte adv. Dawid de Villiers, ook bekend as Lang Dawid, wat destyds vir homself naam gemaak het as die leier van die Suid-Afrikaanse regspan met die hofsaak oor Suidwes-Afrika by die Wêreldhof in Den Haag.

In alle billikheid teenoor De Villiers, wat in die gange by die Pers se hoofkantoor in Keeromstraat bekend was as “Die Advokaat”, moet ek ook noem dat hy die man was wat by ’n reeds baie verligte Nasionale Pers die groep op korporatiewe gebied weggelei het van die ou Afrikaner-volkskapitalisme.

                                                                              ***

Vosloo was in 1983 redakteur van Beeld toe hy uit die bloute aangestel word as die man om ’n jaar later by Die Advokaat oor te neem.

Vosloo vertel dat hy, toe hy by Beeld oorgeneem het, met ’n groot probleem gekonfronteer is. Die koerante en tydskrifte het almal noustrop getrek en elke jaar ’n groter en groter advertensie-inkomste aan TV afgestaan. Naspers het dus besluit dat daar iets ingrypends gedoen moet word om dié maatskappy te herposisioneer.

Die direksie bewillig R50 000 om die nuwe idee te ondersoek.

’n Alternatief sou wees om deel van die TV-bedryf te word, maar met die monopolie wat die staat daaroor gehad het deur die staatsagentskap, die SAUK, was dit byna onmoontlik.

Of wás dit moontlik? Hierdie vraag word binne ’n paar jaar beantwoord toe Vosloo ’n baie interessante oproep uit Amerika kry.

Die man wat hom bel, was ’n Suid-Afrikaanse student wat besig was met sy MBA aan die Columbia-Universiteit in New York. Hy sê hy wil graag met Vosloo oor betaaltelevisie in Suid-Afrika praat.

Die man wat so entoesiasties oor die foon geklink het, was ’n 31-jarige boerseun uit Heidelberg, Transvaal, se wêreld. Sy naam was Jacobus Petrus Bekker, maar almal het hom sommer net “Koos” genoem.

Die jong man, wat sy BCom op Stellenbosch voltooi het en daarna na Wits is om meer te leer hoe daar aan daardie kant van die draad gedink word, het gemeen betaaltelevisie is moontlik, ondanks die regulatoriese beperkinge op ’n onafhanklike TV-stasie in Suid-Afrika. ’n Kabelnetwerk kan op beperkte skaal TV-dienste aanbied, was sy mening.

Een van Nasionale Pers se senior manne, Jan Prins, is toevallig in daardie tyd in New York en Vosloo vra hom om kontak te maak met Bekker. Sy terugvoering is baie goed en Vosloo besluit daar en dan om die jongeling vir ’n persoonlike onderhoud Suid-Afrika toe te bring. Die res is geskiedenis.

Die direksie bewillig R50 000 om die nuwe idee te ondersoek en Bekker begin in die Kaap as ’n soort persoonlike assistent van Vosloo werk.

Bekker was in vervoering oor die nuwe konsep wat in Amerika besig was om pos te vat. Dit was om TV na die woonhuise te vat, deur Home Box Office, wat uiteindelik in HBO, die reus van vandag, sou ontwikkel. Vosloo gaan gesels met minister Pik Botha, wat in daardie stadium ook beheer gehad het oor TV in die land. Nasionale Pers kry voorlopige toestemming vir ’n baie beperkte TV-diens.

Botha praat toe later weer met Vosloo en stel voor dat hulle ook die ander groot koerantgroepe nadertrek, anders sou hulle klagtes by hom wat Pik is nooit ophou nie. Die gevolg is dat SAAN, Argus, Perskor en die klein, onafhanklike Natal Witness ook belange in die nuwe groep kry, wat as M-Net of MultiChoice bekend sou wees. Daar was ook 20 ander onsuksesvolle aansoeke vir ’n betaaltelevisiediens. Nasionale Pers se belang in die nuwe groep was toe sowat 22%, maar hy het bestuursbeheer gehad.

Die nuwe diens sukkel en Bekker werk uit dat hulle 150 000 intekenaars sou moes kry voor hulle sou kon gelykbreek. Twee jaar later vra Nasionale Pers die staat om M-Net se lisensievoorwaardes uit te brei, wat verstaanbaar hewig deur die SAUK teengestaan word. Maar M-Net kry sy sin en die geweldige sukses later deur DStv was die uiteindelike gevolg.

Die een ding volg op die ander en Bekker voel om sy vlerke wyer te span. Die keuse val op die hele Europa, met Amsterdam as basis. Hy besluit om self die nuwe aanslag te lei en koop sommer ’n huis langs die Amstelrivier, wat hy terloops steeds vandag het. Die nuwe maatskappy se naam is MultiChoice International Holdings (MIH) en kort voor lank het hulle weens ’n paar oornames oor ’n groot deel van Europa TV-stasies. Hulle kry ook die Rupert-groep as ’n aandeelhouer deur sy Europese filiaal. Dié groep het self ook TV-belange begin bymekaarmaak en dit by MIH se Filmnet ingegooi.

Maar in 1996 kry Bekker ’n oproep van Vosloo. Vosloo vertel hom dat hy nou 63 is en gaan aftree. Hy wil graag hê Koos moet by hom kom oorneem en dus terugkom Suid-Afrika toe.

Niemand kon dink Naspers sou meer werd wees as Richemont?.?.?.

Maar nou moet ek eers die storie so ’n paar jaar terugneem, na die probleme wat hulle ondervind het toe die Europese bedrywighede ernstig in die wiele gery is deur die valutabeperkinge in Suid-Afrika ná die skuldstilstandooreenkoms. Die sterk uitbreiding in Europa het langer geneem om wins te maak en meer kapitaal was nodig, wat die Suid-Afrikaanse aandeelhouers nie kon verskaf nie omdat streng valutabeheer nie die owerhede kon oorreed om méér geld uit die land te neem nie.

Richemont, met Johann Rupert aan die stuur, het baie geld in Europa gehad en hy kon meer kapitaal instoot om ’n groter sê in Filmnet te hê.

SAAN en Argus het intussen saamgesmelt en ’n filiaal van JCI geword, wat ook aansienlike kapitaal in Europa gehad het. Hy word toe ook ’n aandeelhouer in Filmnet.

Bekker begin dringend na ander kapitaalbronne soek en kry ernstige belangstelling uit Amerika van ’n maatskappy met die naam Hughes Electronics. Dit is oorspronklik deur die legendariese Howard Hughes gestig en later aan General Motors verkoop. ’n Filiaal van hierdie groep is Direct TV.

Sy baas, Jim Malone, en Bekker kom sommer gou goed oor die weg en Malone is bereid om $1 000 miljoen in Filmnet te sit. Dit sou meer as genoeg wees om MIH op ’n gesonde voet te plaas.

Ek was in daardie tyd, omstreeks 1996, ’n aandelemakelaar en skryf in ’n gereelde rubriek in Rapport dat ek verneem het daar is groot dinge by MIH aan die broei. (Ek is in 1979 weg as vaste joernalis by Rapport, waarna ek na Beeld geskuif het.) Bronne in die binnekringe van Naspers het my vertel dat Vosloo op pad Londen toe is om ’n ooreenkoms te onderteken as voorsitter van MIH, waardeur hulle Ma­lone as aandeelhouer sou inbring.

Maar toe hulle bymekaarkom om die finale kontrak te onderteken, is daar skielik groot besware van Richemont se kant. Rupert en Malone raak in hewige argumente betrokke.

Malone het glo net daar en dan besluit dat hy nie langer belang stel nie. Hy vat sy goed en loop. Terloops, Malone gaan daarna van krag tot krag, en word een van Amerika se bekendste mediamagnate deur sy Liberty Media-groep.

Rupert pluk ’n haas uit die hoed en stel die MIH-direksie daarvan in kennis dat hy ’n beter voorstel het. Hy sit ’n skriftelike aanbod op die tafel waarin die Franse TV-groep Canal Plus bereid is om Filmnet teen ’n prys oor te neem wat nét te goed is om waar te wees.

Bekker was platgeslaan. Uit die bloute lyk dit nou of al sy werk om oor jare ’n TV-netwerk op te bou tot ’n einde kom. Met Malone terug in die VSA het hulle toe geen ander keuse nie en aanvaar die aanbod vir Nethold, beheermaatskappy van Filmnet.

MIH het 50% van Nethold gehad en sou eers die bedrywighede van die groep in Afrika (ook DStv in Suid-Afrika), die Midde-Ooste en die Middellandse See-streek kry, wat na MIH oorgedra sal word. Vir die balans wat MIH deur die belang in Nethold gehad het, sou hy 6,1 miljoen nuwe aandele in Canal Plus kry, sowel as $45 miljoen se kontant. Daarna sou Richemont 15% van Canal Plus hou en MIH 5%. MIH het hierdie belang nie te lank gehou nie en verkoop.

Vosloo en Bekker het met ’n beswaarde gemoed teruggevlieg Suid-Afrika toe. Die verhoudinge met die Rupert-groep is erg versuur en dit was waarskynlik baie jare lank die geval.

Wat ek later verneem het, is dat Johann Rupert kwalik geneem is dat hy in die geheim gepraat het met Canal Plus se besturende direkteur, Pierre Lescure. Vosloo en Bekker het nie hiervan geweet nie.

In die Financial Times het destyds ’n beriggie hieroor verskyn, waaruit dit geblyk het dat die onderhandelinge tussen Rupert en Lescure begin is met ’n geheime vergadering in die Purdey-winkel in Londen.

Daar is geskryf dat Rupert gewag het in ’n agterkamer van die winkel wat die beroemde Purdey-haelgewere verkoop het en deel van Richemont se luuksegoedere-afdeling was. Lescure het binnegekom en eers na gewere begin kyk. Toe verdwyn hy na die kamer waar Rupert gewag het.

Dit was ’n groot teleurstelling vir Bekker en hy het hom waarskynlik daaraan getroos dat die prys van Canal Plus eintlik te goed was om waar te wees. En ’n mens kon dit seker nie weier nie? Dit was egter die einde van sy verblyf in Nederland, wat in elk geval ook sou gebeur omdat hy nou terug Kaap toe moes gaan om die leisels by Vosloo oor te neem.

Wat ek nog nie genoem het nie, is dat Bekker ook in ’n stadium deur middel van die M-groep vir hulle een van twee lisensies vir ’n selfoonmaatskappy gekry het, wat toe MTN geword het. Die aandeelhouers van MultiChoice het ewe groot belange in MTN gekry, asook in MWeb wat intussen as internetdiensverskaffer begin is.

JCI het intussen beheer oor Times Media en Argus, en dus oor hul belange in MTN en MIH, gekry. JCI en Nasionale Pers kom ooreen om hul onderskeie belange in die M-groep te konsolideer deur ’n uitruil van aandele in MTN en MIH. Daar kry JCI beheer oor MTN, en Nasionale Pers effektief beheer oor MIH. Nasionale Pers het toe ook al die belange van Perskor en Natal Witness gekry.

Ná die JCI-transaksie word MIH dus ook deel van Nasionale Pers. Van die individuele aandeelhouers in die ou M-Net, onder andere Koos Bekker en Cobus Stofberg, het toe ook hul aandele vir aandele in Nasionale Pers verruil.

MIH word toe heeltemal deel van Nasionale Pers en ’n mens kan beslis die stelling maak dat die teleurstelling ná die Nethold-debakel vir Koos Bekker en die Nasionale Pers-aandeelhouers in ’n geleentheid verander is, deur die vestiging van ’n maatskappy met ’n baie blinker toekoms.

Om die waarheid te sê, niemand het eens naastenby gedink dat Naspers – wat só hernoem is ná sy notering op die JSE – uiteindelik meer werd as Richemont sou wees nie.

En nou praat jy nie sommer van “net-net” nie. Naspers se markkapitalisasie was vroeg in 2018 oor die R1 000 miljard. Dit is dus ons eerste plaaslike “triljoenrand-groep”.

Daarteenoor is die hele Rupert-groep, dis nou Richemont, Remgro en Reinet, minder as R650 miljard werd.

Bekker het, pas nadat hy baas van Naspers geword het, die direksie daarvan oortuig om hom met aandele te betaal en nie ’n salaris en/of bonusse nie. Dit het hom ná die geweldige styging in die Naspers-aandeelprys die afgelope tien jaar ’n fabelagtige ryk man gemaak.

  • Hierdie artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit die boek Afrikaner-kapitalisme: Van brandarm tot stinkryk, deur David Meades. Dit word uitgegee deur Naledi.
  • Rapport word uitgegee deur Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Koos Bekker  |  Ton Vosloo  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.