Ek het Conrad Sidego as kadetverslaggewer ontmoet in die Rapport-Ekstra-kantoor op die 16de verdieping van die Media24-gebou in Kaapstad.

Johann Maarman
Netwerk24
Hy was van Tulbagh en ek van Malmesbury en ons het onmiddellik gekliek. Hy het sommer na my verwys as Haan en ek na hom as die Lang Man.
Kort voor sy dood het ek hom in die hospitaal gaan besoek. Hy was toe nie daar nie, want hy moes na ’n ander hospitaal gaan vir chemoterapie. Ek het vir hom ’n boodskap gelos met die woorde: “Haan was hier.” Hy het ’n dag daarna teruggebel.
Hy het saggies gepraat en ek kon hom amper nie hoor nie. Hy het grappies oor homself gemaak en ons het gelag. Hy het gesê die eerste keer toe Amy (met wie hy later in die huwelik sou tree) hom na hul huis nooi, was Amy se ma se woorde: “Is dit al wat jy in die grote Kaap kon kry? Ek soek ’n oopkop man vir jou, Amy!”
“My kop is nou deur die dokters oopgemaak en Amy se ma het ten einde laas vir Amy ’n oopkop man gekry!”
Kort voor sy dood het Conrad aan my geskryf: “Haan, ek is nou in die Here se wagkamer. Ek wag maar my beurt af.
“Die lewe is kort, ou maat, en ek gooi nou al ’n lang skaduwee op die laat agtermiddag van my lewensdag. Jy daarenteen het nog die voorreg van ’n etenstydskadu wat hier neffens jou val!
Hoe ook al. Korter of langer skadu’s wat ons gooi – die tyd is aan’t uitloop vir al ons reisigers.
“Hoe ook al. Korter of langer skadu’s wat ons gooi – die tyd is aan’t uitloop vir al ons reisigers.
“Ou Haan, dankie vir jou t’rugkoms na my toe. Ek sal vanaand beter slaap, sonder gym. Dié is suurstof vir my siel dat ons weer kan praat ten spyte van ons politieke verskille. Jy is ’n oud-UDF-man, ek is maar so tussenin.
“Dankie man. En om dit te vier moet jy eendag tog tussen jou geletterdheidsklasse se druk tye kom moerkoffie drink, maar sonder die moer want ek het gedink dis net die ‘moer’ wat tussen ons oorgebly het!
“Met die moerigheid opsy geskuif, lig ek weer my beker van dankbaarheid. En die vermeende moerigheid is uit die lug (gesuiwer)”.
En dan sluit die Lang Man af:
“Wanneer ouma slapenstyd die kers doodgeblaas het en ons moeg gespeelde lywe het tot rus gekom onder die lappieskombers, dan het sy amper ’n soort slaap-seën oor ons uitgespreek met die woorde ‘rus genag’. Met die jare het ek in die buitewêreld gehoor van rustige nag, sonder die reuk van ’n gedoofde kers wat bokant die blaker hang, opstyg en my ouma se donker kamer vul.
“Rus genag . . .”
En nou, Connie (net jou beste vriende kon jou so noem!), moet ek maar groet. “Rus sag, Lang Man. Ek is diep dankbaar en diep bevoorreg dat ek jou geken het. En jammer dat ek oor jou huil, Lang Man.”
Johann Maarman is eindredakteur van Die Burger.