Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die tyd vir praat is verby
Foto ter illustrasie: getty images

Met die verskyning in Vrydag se Staatskoerant van die kennisgewing van voorneme om die Wysigingswetsontwerp op Kieswette ter tafel te lê, het ek gewonder: Hoe gaan ons ’n land van filosowe, ideoloë en bevryders in ’n nasie van “doeners” omskep?

Gaan ons aanhou debatteer en teoretiseer oor wat moet verander, of gaan ons oplaas optree?

Gaan ons skouers in wanhoop optrek en ons infrastruktuur, finansies, die burokrasie en die politieke stelsel blameer, of gaan ons die moue oprol en optree? Die tyd vir praat is verby; ons het ’n nasie om te bou.

Ná ’n aansoek deur die New Nation Movement het die konstitusionele hof in Junie in ’n historiese uitspraak bevind die Kieswet is ongrondwetlik.

Daar is spesifiek bevind die wet stroop gewone burgers van hul reg om nie by ’n politieke party aan te sluit as hulle vir ’n openbare amp wil staan nie, en beslis onafhanklike kandidate moet toegelaat word om aan verkiesings deel te neem, vry van die streng beperkings van politieke partye.

Die parlement is 24 maande gegee om die Kieswet te wysig. Talle belangegroepe sal in hierdie tydperk geraadpleeg word – politieke partye, die burgerlike samelewing, die akademie en, die belangrikste van almal, Jan en San Alleman.

Die tyd om ons kiesstelsel te hervorm het aangebreek, en ons moet almal deelneem en die strewe van die Vryheidsmanifes – “die mense sal regeer” – verwesenlik.

Die wese van die hervorming van die Kieswet is om te verseker dat mense hul regeringsverteenwoordigers regstreeks kan verkies.

Die wese van die hervorming van die Kieswet is om te verseker dat mense hul regeringsverteenwoordigers regstreeks kan verkies. Dit bring besluitneming nader aan die mense; dit is in wese selfregering en selfbeskikking.

Ons het te lank op ’n hiërargiese benadering staatgemaak om ons land se dringendste kwessies aan te pak. Dis tyd vir ’n ommekeer.

Kom ons los ons woonbuurt-, gemeenskaps-, dorps- en stadsprobleme eerste op. Dit kan die beste vermag word deur diegene wat plaaslik betrokke is. Dienaar-leierskap beteken ons begin in ons eie agterplase, en ons glo helde en heldinne uit die gemeenskap behoort in openbare ampte verkies te word.

Ons wysigingswetsontwerp sal die belange van elke Suid-Afrikaner dien deurdat mag nader aan die mense gebring sal word deur die regstreekse verkiesing van verantwoordbare gemeenskapsleiers as lede van die parlement en van provinsiale wetgewers.

Die wetsontwerp sal die volgende bewerkstellig:

  • Onafhanklike kandidate sal die reg hê om hulle in verkiesings verkiesbaar te stel;
  • ’n Kleiner nasionale parlement en provinsiale wetgewers;
  • ’n Deursigtige partylys-stelsel;
  • Kiesafdeling-gegronde verkiesings in 52 kiesafdelings;
  • ’n Enkele oordraagbare stem om seker te maak geen stem word vermors nie; en
  • Elektroniese verkiesings.

Dit is belangrik om te noem dat hierdie wetsontwerp nie “anti-partye” is nie.

Synde ’n stigterslid van ’n politieke party gedurende die demokratiese oorgang, sal ek altyd die onskatbare rol erken wat politieke partye vervul het en steeds vervul. Maar hulle kan nie die enigste opsie wees nie.

Ek is ten gunste van hierdie wetswysiging om die volgende vyf redes:

1. Dit is in die Suid-Afrikaanse Grondwet gefundeer. As ons glo ons is ’n grondwetlike staat, moet ons grondwetlikheid respekteer.

2. Ons het verantwoordelike, verkose lede van wetgewers nodig wat regstreeks aan hulle gemeenskappe verantwoordbaar is. Dít is deur die jare deur etlike verslae en kommissies aanbeveel, waarvan die bekendste die Van Zyl Slabbert-kommissie se verslag van 2003 is.

3. Miljoene kiesers het nie in die laaste verkiesing gestem nie. Ons het ’n nuwe verkiesingstelsel nodig wat deur die meerderheid van Suid-Afrikaners aanvaar word en waaraan hulle deelneem.

4. Ons kort ’n wyer, meer diverse versameling vaardighede en ervaring van mense wat graag wil help regeer, maar nie aan ’n politieke party wil behoort nie.

5. Plaaslike regering in Suid-Afrika het so te sê ineengestort. Ons wetsontwerp verdeel die nasie in 52 kiesafdelings vir verkiesingsdoeleindes.

Elke kiesafdeling sal op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak verteenwoordig word, waardeur inter-regerings­betrek­kinge versterk sal word.

Noudat die kennisgewing van voorneme om die Wysigingswetsontwerp op Kieswette ter tafel te lê in die Staatskoerant verskyn het, word kommentaar ingewag. Almal moet hulle stemme laat hoor en geskrewe voorleggings oor die voorgestelde inhoud van die wetsontwerp teen 30 September per e-pos aan die speaker van die Nasionale Vergadering by speaker@parliament.gov.za stuur. Lees die wetsontwerp, memorandum en beleidskrif by osa.org.za

Dis nou die tyd om eienaarskap te neem van hierdie mag wat aan die mense gegee word en ons geliefde land te red. Die hoogste diens wat enigiemand kan bied, is om hul eie en die volgende generasie op die hart te dra. Dit is nou ons tyd!

Dr. Louis is ’n sakeman en aktivis van die One South Africa Movement.

Meer oor:  Partye  |  Kiesers  |  Wysigingswetsontwerp  |  Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.