Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die uitvlug: KL 0504 en KL 1229 – Kaapstad, Réunion, Amsterdam, Parys

Reis in die tyd van Covid-19 is ’n vreemde ervaring, veral as jy op ’n repatriasievlug is, skryf Louis Jansen van Vuuren.

Die verlate aanloopbaan op Kaapstad se lughawe. Foto: Louis Jansen van Vuuren

Wanneer ek mooi daaroor nadink, vergelyk die gebeure van die laaste paar weke met ’n Wagneriaanse opera met ’n rits nimmereindigende bedrywe. Dis ’n warboel van kleur en beweging, maar die tonele speel klankloos voor jou oë af, want die sangers is stom agter gesigsmaskers.

Hardy, my partner, en ek is somerswerwers of swaels soos sommige mense sê. Ons woon vir die grootste deel van die jaar in Frankryk, waar ons die La Creuzette-boetiekhotel besit het, maar bring ook enkele maande by ons huis aan die Weskus om die draai van Paternoster deur. Ons het vroeg Januarie in Suid Afrika aangekom en ek het onder meer in Stellenbosch ’n kunstentoonstelling gehou. April sou ons weer terug.

Toe verrys die Groot Kiem centre stage op die wêreldarena. In die laaste twee weke van Maart 2020 ontvou dit soos ’n donker origamiblom voor die wêreld se verdwaasde oë.

Ons is oornag oorrompel.

Suid-Afrika kondig ’n algehele lockdown aan wat op 26 Maart inskop. Ons is doodgerus, want ons het mos ons kaartjies Parys toe, op gekkedag, nogal. Ons doen nie ekstra inkopies nie.

Wanneer daar weer gevlieg word, is ’n raaisel. Niemand kan sê nie.

Ek kry egter nie die gevoel van bedugtheid dat iets onaangenaams gaan gebeur, afgeskud nie.

“Hulle het ons kaartjies na Parys gekanselleer.” Hardy maak sy oë pierings. Dit is sowat ses dae voordat ons sou vertrek.

Wanneer daar weer gevlieg word, is ’n raaisel. Niemand kan sê nie.

Op Maandag 23 Maart doen ons verwoed inkopies in die Weskus Mall, die grendelstaat is om die draai. Daar is baie mense in die mall en ons word oopmond aangegaap omdat ons maskers dra.

Ons neem heel filosofies verlief daarmee dat ons die grendeltyd aan die Weskus gaan deurbring. Ons kan daagliks die osoonryke seelug inasem. Ek gaan skryf en skilder, ons gaan lees en met sonsopkoms op die stoep Wim Hof se helende asemhalingsoefeninge doen.

Waarvoor meer kan ’n mens vra?

Nie goedsmoeds die vreemde in

Vroeg die oggend van 24 Maart hoor ons via die Franse konsulaat van ’n spesiale repatriasievlug wat twee dae later om 17:00 uit Kaapstad vertrek. Net ’n paar uur voor die afsluiting begin. Daar is plek vir ons. Die konsulaat gaan later die aand ons e-kaartjies per e-pos stuur.

Dis ’n warboel van verwarring in ons huis. Ons moet inderhaas inpak en die huis vir ons vertrek regkry. Dit was omtrent ’n oormekaarvallery om onsself weer reisvaardig te kry.

Die kaartjies kom later die aand aan, maar die vlug is net tot in Frankfurt. Van Parys word geen melding gemaak nie.

Vroeg die volgende oggend bel Hardy om te hoor hoe ons dan in Parys moet uitkom. Ons word aangeraai om met die Franse konsulaat in Frankfurt te skakel.

“Dan is julle darem in Europa,” sê die dame.

Net daar en dan besluit ons om nie goedsmoeds die vreemde in te vlug nie. Ons pak weer die stoepmeubels uit en al ons handbagasie van Dettol-lappies en sproeibotteltjies.

Sy se ons moet nóú besluit. “Gaan julle of bly julle?”

“Maar wat as daar nie vlugte na Parys in nie, wat maak ons dán?” wil Hardy weet.

Ek loop op en af met die trappe asof die antwoord elders lê. Hardy probeer inderhaas ’n motor huur, maar ons kry nêrens ’n motor wat in Duitsland gehuur en in Frankryk afgegee kan word nie.

Ons het horror stories gehoor van mense wat lank in ambassades moes squat totdat hulle ’n manier kon vind om na hul tuistes terug te keer.

Net daar en dan besluit ons om nie goedsmoeds die vreemde in te vlug nie. Ons pak weer die stoepmeubels uit en al ons handbagasie van Dettol-lappies en sproeibotteltjies. Omdat ons hiper-opge-jack is, kyk ons tot laatnag na vlug-opsies in die volgende paar weke. In die middel van daardie nag bespreek ons ’n kaartjie op ’n KLM-vlug vir 13 April.

Toe daal die vrede neer. Nou gaan ons rustig in afsondering lewe. Ek plant groterige tamatieplantjies in my bokstuintjie. Die spinasie en slaaikoppe staan reeds welig. Dit gaan nie swaar wees om hier te bly nie.

President laat ons ’n traan wegpink

Die Franse ambassade laat weet ’n paar dae later dat hy twee repatriasievlugte na Parys reël, maar albei vlugte gaan via Réunion en dan nog eers na Amsterdam. Ná ’n deurnaggeselssessie besluit ons om liewer vir die meer direkte vlug op 13de April te wag.

Die lewe gaan sy gang. Ons luister na pres. Ramaphosa en vee ’n traan af wanneer hy die nasie vra om saam te staan.

Ek begin skilder. Die aande by die see word korter en kouer. Die herfsson duik vroegaand in die branders. Ek bly onrustig. Mense praat van ’n toestand van twyfel. Deur my kop rammel woorde soos pandemie, Covid-19, koronavirus en ventilators. Op Facebook preek mense oor die laaste dae wat aanbreek en deel verregaande samesweringsteorieë. Ek delete ’n klomp en probeer die pandemonium in my kop stil kry.

Op 30 Maart ontvang Hardy ’n e-pos met die nuus dat die KLM-vlug op 13 April vir eers gekanselleer is. Ons gemoedere loop gevaarlik hoog.

Die dae kom en gaan. Woensdae word verwar met Maandae. Ons kook nuwe disse met dieselfde bestanddele.

Ons gesels met ons honde-oppasser in Frankryk en reël dat hy vir nog ’n paar maande na hulle sal omsien. Hy stuur ’n paar gerusstellende video’s van die honde wat – heeltemal onbewus van ons dilemma – in die lentetuin baljaar.

Die dae kom en gaan. Woensdae word verwar met Maandae. Ons kook nuwe disse met dieselfde bestanddele. Netflix en boeke hou ons saans besig.

Op Donderdag 23 April hoor ons die aand van nóg ’n Franse repatriasievlug. Dit vertrek oor net meer as 24 uur! Dis die heel laaste repatriasievlug wat die Franse en Nederlanders reël. Die administrasieproses begin die oggend van 25 April om 05:30 in die Groenpunt-stadion in Kaapstad.

Ek gaan groet die sandpatryse vir ’n laaste keer in die duine voordat ons weer eens die pak- en toemaakproses aandurf.

Ek huil oor my land en ek huil oor sy mense

Ons moes daardie aand reeds in Kaapstad wees. Ons kom eers om 21:30 by ons vriende aan en die volgende oggend neem ons vriend Ton ons om 04:45 na die stadion.

Daar staan reeds ’n lang ry mense voor die ingang, almal netjies gespasieer en met maskers aan. Die Franse konsul wens ons alles van die beste toe. Hy benadruk dat dit die laaste repatriasievlug is.

Die vlug is gereël vir 11.15 die volgende dag. Ons beweeg met ’n slakkegang deur die ingang tot waar mediese helpers ons koors meet. Hardy se koors is 35 °C en myne 36,5 °C. Ons is aanvaarbaar gesond.

In die somber ry van mense wat een-een met hul bagasie ingeweeg word, begewe my moed my. Ek huil oor my land en ek huil oor my land se mense. Ek huil oor die wêreld en ek huil oor die wêreld se mense. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.

Die mense is vriendelik en baie gerusstellend met ons klompie skepsels wat soos skape agtermekaar aan stap. Helpers in neonbaadjies is soos borderkollies wat ons in die regte rigting dwing.

Ons loop verby ’n tafel met water en koeldranke, en elkeen kry ’n bruin ontbytkardoes met ’n appel, ’n blikkie Coke, ’n toebroodjie, ’n pakkie Oreos en ’n Lunch Bar.

Ons gaan sit in ’n saal op swart plastiekstoele wat in rye gepak is. Die stoele is ver uitmekaar. Die afwagting is tasbaar. Twee onhebbelike kinders skree onophoudelik.

Uiteindelik is dit ons beurt om in gelid na die bus te beweeg. Die geruis van kofferwielietjies oor die plaveisel is onthutsend. Ons sit een-een in ’n ry. Maskers oor die neus en mond. Ek vat aan niks.

Die son is reeds op toe ons op Nelson Mandela-boulevard langs Tafelberg se voetvoue ry. Die stad en die snelweg is dolleeg. Selfs die berg en die hemelruim lyk leeg. Weemoed is die titel van die verlate tablo.

Op die lughawe wag alle passasiers geduldig dat die reisigers bus vir bus afgelaai en ingeweeg word.

Ek was nie voorbereid op die skokkende leegheid van die lughawegebou nie. Daglig en neonligte illumineer die glasruimte so dramaties dat dit voel asof ek deel is van ’n groep figurante wat op ’n kaal verhoog uitstap.

In die somber ry van mense wat een-een met hul bagasie ingeweeg word, begewe my moed my. Ek huil oor my land en ek huil oor my land se mense. Ek huil oor die wêreld en ek huil oor die wêreld se mense. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.

Nie eens ’n klein botteltjie wyn nie

Op die Schiphol-lughawe het mense ’n veilige afstand gehandhaaf. Foto: Louis Jansen van Vuuren

Omdat die lughawe gesluit is, kon die inkomende KLM-kajuitpersoneel nie in Kaapstad afklim nie. Daarom moes ons via Réunion vlieg waar ’n nuwe bemanning sou oorneem. Ten spyte van al ons pogings, vlieg ons toe wel via Réunion . . .

Ons is op sitplekke 5A en B. Daar is weer ’n bruinpapier-kardoesie op jou sitplek. My moed sak in my skoene, want op sitplek nommer 5C lê ook ’n kardoesie.

Ons buurman is ’n jong Nederlandse Simson. Sy gewigstoot-bene en ewe welgeskape arms is met kleurryke tatoeërings versier. Ek sit teen die venster, Hardy in die middel en Simson by die gang.

Hy glimlag breed met ’n masker wat pap om sy nek hang. Ek koes dié kant toe en spuit sommer ’n paar waarskuwingskote ontsmetmiddel die lug in.

Bon voyage,” sê hy.

Toe ons uiteindelik weer die hemel invaar, word ons ’n bakkie warm kos en ’n bottel water gegee.

Die vlug is genadiglik taamlik leeg en Simson verkas gou na ’n ander ry waar hy nesskop tot in Amsterdam.

Jan Hugo, ’n vriend en wêreldbekende konsertpianis wat met ’n Franse vrou getroud is, is ook op die vlug. Vreemd hoe bemoedigend dit is om iemand te ken wat saam met jou in dieselfde bootjie of in hierdie geval, ’n Boeing Dreamliner, is.

Die vyf uur lange vlug na Réunion verloop seepglad en almal kou aan hul appels. Party mense kyk flieks en ander slaap. ’n Vriendin uit Amsterdam, wat op die eerste Air France/KLM-repatriasievlug was, het my gelukkig daarop voorberei dat geen drank op die vlug beskikbaar gaan wees nie.

Ek is ’n onrustige vlieër en het ’n ekstra botteltjie Rescue Remedy byderhand. Ek het sodoende darem met elke wip en stamp van die Boeing ’n bietjie alkohol ingekry.

Dit neem letterlike ure vir die bemanning om op Réunion om te ruil. My agterstewe is reeds deurgesit.

Toe ons uiteindelik weer die hemel invaar, word ons ’n bakkie warm kos en ’n bottel water gegee. Die lugwaardin is blond en vriendelik. “Nee,” sê sy, “nie eens ’n klein botteltjie wyn nie, Meneer!”

‘Ons soek dringend na ’n dokter’

Ons was anderhalf uur in die lug toe die aankondiging kom. “Ons soek dringend ’n dokter. As ’n dokter aan boord is, dui asseblief vir die bemanning aan waar u sit.”

Ek kry amper ’n oorval. Ek sien in my geestesoog hoe ons moet omdraai en maande lank op Réunion onder kwarantyn moet wees. Saam met 200 ander stomme siele. Ek spuit ’n dubbeldosis Rescue Remedy in my mond.

Ons word later meegedeel dat alles onder beheer is en dat ons nou kan ontspan en die vlug verder geniet.

Van die lugwaardin word ons niks wys nie.

Ons word later meegedeel dat alles onder beheer is en dat ons nou kan ontspan en die vlug verder geniet. Geniet? My bene kramp en my rug pyn. Om nie van my boude te praat nie. Ek en Hardy probeer om die oop sitplek tussen ons te benut. Sonder veel sukses.

Later hoor ons by Jan dat ’n jong Deen, wat skuins agter hom gesit het, ’n dokter benodig het omdat hy glo ’n baie sterk daggapil gedrink het om hom te kalmeer. Die pil het egter die teenoorgestelde uitwerking gehad en in plaas daarvan om te chill het hy paranoïes geword.

Dit het ’n dokter, twee bemanningslede en ’n paar slaappille gevat om hom tot bedaring te bring. Hy was die res van die vlug uit soos ’n kers.

Maar nou ja, ‘ce’st la vie’

Louis Jansen van Vuuren

Kort voor ons die volgende oggend net ná 05:00 op Schiphol-lughawe land, word ek kromgetrek oor drie smal sitplekkies wakker. Hardy het in ’n fetusposisie op die vloer tussen die sitplekke se ysterbene gelê.

Die lughawe is byna grafstil. Ons moet ’n paar uur wag voordat ons saam met Jan na Parys vlieg. Al die buitengewone reisdokumente wat ons nodig het om Frankryk binne te gaan, is ingevul en ons het nog ’n hand vol papiere vir die reis deur die Franse platteland wat die konsulaat aan ons verskaf het.

Die vlug na Parys is een van die lekkerste van my lewe. Daar is twee oop sitplekke tussen jou en jou buurman, en die vlug duur ’n vrolike 50 minute. Ons land net ná 10:00 in ’n sonnige Parys.

Ons word hartlik deur die doeanebeampte terugverwelkom. Ons neem afskeid van Jan en kom ooreen dat hy in die somer, wanneer die gruwelike kiem hopelik die wyk geneem het, vir ons op die platteland klavier sal kom speel.

Ná ’n geweldige gesukkel by Europe Car kry ons ’n motor te huur op voorwaarde dat ons dit ná twee dae gaan afgee in ’n stad wat amper net so ver van ons blyplek as Parys is. Dis omdat al die klein agentskappe gesluit is.

C’est à la cause de la pandemie, monsieur,” sê die vrou agter die skerm en trek haar skouers op.

Maar nou ja, ce’st la vie.

Ek spuit elke deurknop, handvatsel en die stuurwiel met my toorgoed en ons vat die pad. Piaf sing oor die radio: “Je ne regrette rien.”

Ons stap ná 52 uur se reis by ons Franse huis se voordeur in. Die honde is oorbluf van blydskap.

Die kruideniersware wat ons in die buurdorp kon koop, word kombuis toe gedra. Twee bottels sjampanje rinkel in die drasak.

* Jansen van Vuuren is ’n Suid-Afrikaner wat reeds meer as 20 jaar in Frankryk woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Amsterdam  |  Parys  |  Kaapstad  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.