Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die US is op pad na kultuurloosheid

50 jaar gelede was dit ondenkbaar dat Afrikaans op Stellenbosch so uitgeskuif sou word, skryf Hermann Giliomee.

Prof. Hermann Giliomee Foto’s: Jaco Marais en Getty Images

Die Nazi-leier Hermann Göring het na bewering by geleentheid gesê: “As ek die woord kultuur hoor, voel ek lus om my rewolwer uit te pluk.”

Alhoewel die Universiteit Stellenbosch se bestuur nie heeltemal so ver wil gaan nie, wil dit lyk of kultuuroordrag in Afrikaans, wat in 1918 gedefinieer is as een van die universiteit se hoofdoelstellings, in gevaar is.

Die bestuur wil nou Afrikaans uitskuif as doseer- en kommunikasietaal, terwyl sommige lede van die personeel so ver gegaan het om studente te verbied om Afrikaans te praat in gevalle waar Engelssprekendes teenwoordig is.

Dit lyk na ’n totale aanslag op Afrikaans.

Die verwikkelings het die Demokratiese Alliansie genoop om die afgelope week ’n feitesending onder aanvoering van sy leier, John Steenhuisen, na die Universiteit Stellenbosch te stuur.

Sosiale kapitaal wat vernietig word, vernietig ook optimisme.

Steenhuisen en kie het gevind dat gevalle van intimidasie nie tot een koshuis beperk is, soos wat sommige woordvoerders van die universiteit nou beweer nie, maar in verskeie koshuise voorgekom het. Studente het vertel dat hulle selfs verbied word om Afrikaans te praat wanneer daar iemand in hul geselskap is wat nie die taal magtig is nie.

Afrikaanse studente het ook vertel van die intimidasie wat hulle ondervind wanneer hulle klagtes oor die marginalisering van Afrikaans opper.

As iemand in 1975 sou voorspel het dat Afrikaans binne 50 jaar as voertaal in die lesingsaal en as kommunikasietaal op Stellenbosch sou sneuwel, sou hy of sy as swak ingelig beskou gewees het. In die eerste driekwart van die eeu het Afrikaans ongelooflike groei ondervind. Die Afrikaanse skole en universiteite het gebloei en die Afrikaanse boek- en koerantwêreld het van krag tot krag gegaan.

Jean Laponce, ’n Frans-Kanadese taalkundige wie se Languages and Their Territories (1987) wêreldwyd beskou word as een van die gesaghebbendste werke oor taalverplasing, beskou Afrikaans as een van net vier tale – die ander is Hindi, Hebreeus en Maleis-Indonesies – wat in die eerste agt dekades van die 20ste eeu van ’n spreektaal of patois ontwikkel het tot ’n hoogkultuur-taal wat as skryf- en spreektaal op alle vlakke van die samelewing, ook in hoogs tegniese en tegnologiese vakrigtings, gebruik word.

Die US het ’n sleutelrol in hierdie ontwikkeling gespeel. Dit word gesimboliseer deur die feit dat die kantoor van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op die kampus gehuisves word.

Hoe het dit gebeur dat Afrikaans van hierdie posisie van prestasie getuimel het tot die punt waar die owerheid op Stellenbosch dit oorweeg om dit op die kampus nek om te draai? Die proses het reeds in die laaste paar dekades van die vorige eeu begin.

Engels het met rasse skrede opgekom in die Weste as die taal waarin die meeste wetenskaplike publikasies verskyn het. In die proses het tale soos Frans, Duits, Nederlands en Italiaans op groot skaal status ingeboet. Terselfdertyd het universiteitsowerhede in Europa en die VSA al hoe meer klem begin lê op publikasies as die norm waaraan akademici gemeet word wanneer dit by aanstellings en promosie kom. Publikasies in gerekende Engelse tydskrifte het al hoe belangriker geword vir finansiering van navorsing.

In die vroeë 1980’s het hierdie wêreld ook vir die Afrikaanse universiteite aangebreek nadat die staat besluit het om geldelike toekennings in die natuurwetenskappe en ingenieurswese op grond van internasionale norme te maak. Diegene wat op grond van hul gepubliseerde werk as topnavorsers aangewys is, sou voortaan ruim toekennings van die staat ontvang. Die ander sou elders steun moes gaan soek.

Prof. Jack de Wet, ’n boorling van die Vrystaat wat later naam as navorser aan die Universiteit van Oxford gemaak het, is gevra om ’n stelsel van keuring te ontwerp. Hy het nie doekies omgedraai oor die groot agterstand by sekere Afrikaanse universiteite nie. By die Universiteit van Kaapstad was die getalle van die twee topkategorieë navorsers 13 en 18 onderskeidelik en by Wits was dit 12 en 41. By die US was dit 3 en 8 en by die Universiteit van Pretoria nog swakker.

Vir die US was hierdie verslag ’n groot skok. Die universiteit het dadelik begin soek na topnavorsers wat bereid was om na die US te kom. Daar word algemeen vermoed dat die versekering gegee is dat die universiteit nie rigied die klousule sou toepas wat bepaal dat vaste aanstellings slegs gemaak sou word as die persoon ná twee of drie jaar vaardig genoeg is om in Afrikaans klas te gee nie.

Daar is volop getuienis dat hierdie ontwikkeling gelei het tot die grootskaalse aanstelling van dosente wat nie Afrikaans baasgeraak het nie.

In 1994 het die Afrikaner-nasionaliste nie net hul mag verloor nie, maar ook die ideologie van die volksbeweging.

Afrikaners voel polities kwesbaar en onseker, maar daar is steeds by hulle ’n sterk behoefte aan politieke samehorigheid en ’n politieke gemeenskap waarin hulle tuis voel.

Daarvolgens het Afrikaanse skole, universiteite, die sakewêreld en die landbou nie net hul eie korporatiewe belange bevorder nie, maar ook die belange van die Afrikaanse gemeenskap. Dit was ondenkbaar dat ’n universiteit soos Stellenbosch sou besluit om hoofsaaklik in Engels klas te gee en daarmee die land, en die Wes-Kaap in besonder, sonder ’n instelling laat waar onderwysers behoorlik vir Afrikaanse skole opgelei kon word.

Niek Grové, registrateur van die Universiteit van Pretoria, opper die geldige punt dat ’n “hiper-individualisme” ná 1994 by die hoërinkomstegroepe posgevat het. “Mense leef na binne. Hulle leef vir hulself. Hoe meer individualisties ons word, hoe swakker word die bande met familie, vriende, bure, klubs, kerkgemeenskap en groepe. Op dié wyse word sosiale kapitaal vernietig.

“Sosiale kapitaal wat vernietig word, vernietig ook optimisme,” sê hy.

Maar benewens die kiesstelsel het ander probleme die Afrikaners in die gesig gestaar. Anders as Engelssprekendes is dit vir Afrikaners met die ervaring van ’n volksbeweging veel moeiliker om as individue in die politiek op te tree en hulle wil nie graag op die rand staan of geïsoleer wees nie.

Prof. Lawrence Schlemmer het ná ’n deeglike studie van die Afrikaners by wyse van meningspeilings en sosiologiese navorsing daarop gewys dat ’n nuwe geslag, wat ná 1994 mondig geword het, nie weet hoe om sosiale netwerke en sosiale kapitaal ten behoewe van hul gemeenskap en hul taal te mobiliseer nie.

Hulle voel polities kwesbaar en onseker, maar daar is steeds by hulle ’n sterk behoefte aan politieke samehorigheid en ’n politieke gemeenskap waarin hulle tuis voel. Onwetende en onbedoeld raak hul dilemma al hoe groter. As groepmense het hulle die behoefte aan solidariteit, maar as individue wil hulle graag byderwets, verlig en bevry voorkom.

Daar is verskeie aanduidings dat die voertaal in skole en universiteite nie ’n prioriteit was vir die NP-onderhandelaars tussen 1992 en 1996 nie. Piet Marais, minister van onderwys, was nie eens lid van die NP se onderhandelingspan nie.

Op 16 September 1993 het Marais sy leier, FW de Klerk, gewaarsku dat “onderwys nie soos dit hoort ons onderhandelaars se prioriteit is nie”. Hy het bygevoeg dat hy in informele gesprekke met ANC-onderhandelaars die duidelike indruk gekry het dat die beweging “onverdraagsaam is teenoor Afrikaans en teenoor die eis dat Afrikaanse universiteite voortgaan om hul missie met kulturele inhoud te vul”.

Hy het by De Klerk daarop aangedring dat ’n lys opgestel word van dié dinge waaroor dit eintlik gaan en van die ondernemings wat die NP sy kiesers gegee het en watter nog nie nagekom is nie. In daardie stadium is reeds oor al die sleutelkwessies met betrekking tot hoër onderwys ooreengekom. De Klerk het by Marais daarop aangedring om met die ANC-onderhandelaars te praat om die kwessie te heropen, maar Marais kon niemand kry wat belangstel nie. Die ANC was hoogs tevrede met die taalklousules.

In reaksie het die verteenwoordigers van die US Konvokasie al hoe meer druk probeer uitoefen dat die US ’n volwaardige aanbod in Afrikaans maak. John Coetzee, ontvanger van die Nobelprys vir letterkunde, het die voorstel van die konvokasie van US-alumni vir ’n volle aanbod in Afrikaans gesteun. Hy het dit moeilik gevind om die universiteit se stap te verstaan.

Die oordrag van ’n bepaalde kultuur is immers een van die vernaamste funksies van universiteite, soos ook beklemtoon in lord Robbins se 1983-verslag oor Britse universiteite.

Coetzee het sy gevoelens in ’n e-pos-boodskap aan my soos volg uitgedruk: “My sympathies are all on your side. The crucial fact, for me, is that the official Taalbeleid document does not once use the word ‘kultuur’. The university management seems to conceive of language as an instrumental communication system without any culture-bearing role.”

In 2006 het ek vir Laponce ’n uiteensetting gegee van die US se jongste voertaalbeleid, waarin die T-opsie (waar Engels én Afrikaans in die klasse gepraat is) tot die finale voorgraadse jaar deurgevoer is. Laponce se kommentaar was: “It confirms what I resisted to believe. Either the oral lecture is of no great importance or the essential is covered in what is spoken in English, and then as you rightly predict the system is to the eventual advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.”

En dis presies hoe die saak ontvou het.

* Hermann Giliomee is saam met Law­rence Schlemmer die skrywer van ’n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus (Sun Press, 2006).

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Us  |  Afrikaans  |  Universiteit Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.