Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die val van koning Iqbal

Die hartseerste dag vir joernalistiek in Suid-Afrika was die dag toe Iqbal Survé beheer oor die land se grootste Engelse dagblaaie oorgeneem het, skryf Ed Herbst.

Die sakeman Iqbal Survé stel sy saak voor die Mpati-kommissie. Foto: Phill Magakoe

Wat jy ook al dink van pres. Cyril Ramaphosa, daar kan min twyfel wees dat die getuienis wat voor die Zondo-, Nugent- en Mpati-kommissie gelewer is, aangrypende kykstof uitmaak.

Die Mpati-kommissie ondersoek bewerings van onbehoorlike optrede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) – die instansie wat die maandelikse pensioenaftrekkings van amper twee miljoen staatsamptenare namens die Staatsdienspensioenfonds belê.

Dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het in 2013 die onverklaarbare besluit geneem om byna ’n miljard rand aan die omstrede sakeman en ANC-ondersteuner dr. Iqbal Survé te leen om Independent Newspapers se koerante te koop, waaronder titels soos Cape Times, Cape Argus, Pretoria News, The Star, Daily News en Diamond Fields Advertiser val.

Twee jaar later is in navorsing deur dr. James Myburgh van Politicsweb bevind dat Survé nog niks gedoen het om die lening terug te betaal nie. In November verlede jaar het Tito Mboweni, minister van finansies, onthul dat Survé weier om die lening terug te betaal en ’n maand later het die OBK die lening onder verdagte omstandighede afgeskryf.

Survé het onmiddellik nadat hy beheer oor Independent oorgeneem het, begin om senior (wit) personeellede, waaronder Alide Dasnois, redakteur van Cape Times, te ontslaan en verskeie rubriekskrywers die trekpas te gee, waaronder die doyen van arbeidsverslaggewers, Terry Bell – ten spyte van protes deur Cosatu.

Survé skryf alle kritiek aan rassisme toe.

Hy het ook beweer dat hy ’n persoonlike vriend en dokter van oudpres. Nelson Mandela was en hom “op en van die eiland” behandel het. Hy het verder beweer dat die rol wat hy as sportsielkundige gespeel het, die Springbokke gehelp het om die 1995-Wêreldbekertoernooi te wen. Navorsing deur Bell het getoon dat albei hierdie aansprake twak is.

Met Independent Newspapers nou prakties bankrot, verlaat meer en meer werknemers die maatskappy en het sy koerante die laaste paar jaar meer as 100 van sy beste en mees senior redaksielede verloor. Soveel so dat die Universiteit van die Witwatersrand verlede jaar in sy jaarlikse “State of the Media”-verslag onthul het dat, met die uitsondering van die redakteur Aneez Salie, Cape Times nie ’n enkele persoon in sy redaksiekantoor het wat meer as 16 jaar se ondervinding in die joernalistiek het nie. In sterk kontras het Netwerk24 en Die Burger se Kaapstadse kantoor tien personeellede wat 16 jaar of meer ondervinding het.

Dougie Oakes, wat onlangs afgetree het as politieke redakteur van Cape Times, skryf op die webblad Daily Maverick dat Sekunjalo se Independent Media heeltemal chaoties is, dat sy koerante voortdurend vir die publiek lieg, dat daar teen wit personeellede gediskrimineer word en dat studente-assistente uitgebuit word deur hulle ’n hongerloon te betaal en somtyds vir maande lank nie hul salarisse te betaal nie. Survé het nie enige van die aantygings ontken nie.

Joernaliste wat Survé aan die kaak stel, word gereeld op die voorblaaie van sy koerante aangeval.

Getuienis voor die Mpati-kommissie dui op ’n oënskynlike sameswering tussen Matjila en Survé, wat kan verduidelik hoekom Matjila die OBK oorreed het om 29% van die aandele in Ayo Technologies te koop teen ’n prys wat Ayo op R14,8 miljard waardeer – ten spyte van die feit dat die waarde van sy bates geraam word op slegs R292 miljoen en selfs Matjila se eie personeel gemeen het dat die prys buitensporig was.

In ’n onlangse artikel toon City Press aan dat Ayo-aandele, wat deur die OBK teen R43 elk (of ’n totale prys van R4,3 miljard) aangekoop is, se prys geval het tot R14,50 – ’n massiewe verlies vir die OBK.

Survé sê hy beskou Matjila as ’n vriend – wat nie verbasend is nie, gegewe die feit dat hy ná die OBK se belegging van R4,3 miljard in Ayo ’n allemintige R140 miljoen bestee het aan woonstelle in die Silo-kompleks in Kaapstad se V&A Waterfront.

Twee voormalige uitvoerende beamptes van Ayo Technologies, Kevin Hardy en Siphiwe Nodwele, het ook onlangs voor die Mpati-kommissie getuig dat Survé direksielede beveel het om die finansiële syfers aan te pas om die maatskappy aantrekliker vir beleggers te laat lyk.

As gevolg van hierdie skandale eis die OBK nou dat Ayo die R4,3 miljard terugbetaal, terwyl die JSE gevra het vir ’n onafhanklike oudit van die maatskappy se finansies.

Met rente skuld Survé R1,5 miljard op die oorspronklike OBK-lening om Independent Newspapers te koop. As hy nie eens dié bedrag kan of wil terugbetaal nie, wat is die kanse dat die OBK die R4,3 miljard wat hy in Ayo belê het, gaan terugkry?

Jy word geken aan jou vriende. Survé was ’n vertroueling en sakevennoot van Suid-Afrika se berugste witboordjiemisdadiger, Brett Kebble, en het in Oktober 2005 sy begrafnis in Kaapstad bygewoon. Hy het ’n jaar later in ’n insolvensie-ondersoek erken dat sy vriend hom as ’n kanaal gebruik het om sy gesteelde geld deur Survé se persoonlike bankrekening aan die ANC te skenk – ’n klassieke voorbeeld van geldwassery.

Nadat hy die Independent-koerante gekoop het, het Survé onsuksesvol probeer om met die Guptas saam te werk, ’n saak wat in litigasie geëindig het. Hy was egter ’n genooide gas by die berugte Gupta-troue in Sun City. In Oktober 2016, nadat die Gupta-koerant, The New Age, hom in ’n poging om aan aanspreeklikheid te ontkom, onttrek het aan die Suid-Afrikaanse Persraad se klagtebeoordelingstelsel, het Survé hul voorbeeld gevolg. Dit was te midde daarvan dat sy koerante destyds deur tientalle klagtes in die gesig gestaar is en onder meer die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, om verskoning moes vra oor van hul berigte.

Voor die ANC se verkiesingskonferensie verlede jaar het Survé sy gewig agter dr. Nkosazana Dlamini-Zuma ingegooi. Een van sy koerante, Sunday Independent, het daarna probeer om die CR17-veldtog te ondermyn deur valslik te beweer dat Ramaphosa ’n vrouestudent wie se studies hy finansier, seksueel uitgebuit het.

Survé is heeltemal openlik oor sy renons in wit mense. Op 7 April 2015 het hy, in ’n toespraak ter ondersteuning van #FeesMustFall-aktiviste aan die Universiteit van Kaapstad (’n beweging wat meer as ’n miljard rand se skade aan universiteite aangerig het), gevra dat universiteite “skoongemaak” word van wit akademiese en administratiewe personeel. Op 2 April vanjaar het hy ook aan die Mpati-kommissie gesê hy is trots dat hy nie met enige “wit maatskappy” geassosieer is nie.

In die lig hiervan is dit nie verrassend dat etiese joernalistiek – wat nog te sê van ondersoekende joernalistiek – by die deur uit is die oomblik toe Survé beheer oor Independent se koerante oorgeneem het nie. Sy koerante het, om vanselfsprekende redes, geen rol gespeel in die onthulling van ANC-korrupsie en staatskaping die laaste paar jaar nie.

Survé skryf alle kritiek op sy sakeondernemings aan rassisme toe, maar sy dreigemente om sy kritici, soos Rhoda Kadalie, te dagvaar, kom tot niks.

In April verlede jaar, nadat Survé nie daarin kon slaag om sy maatskappy Sagarmatha Technologies op die JSE te noteer nie, het hy sy redakteurs beveel om in voorbladberigte die joernaliste wat krities was oor dié projek te vergelyk met propagandiste uit die apartheidsera. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteurs-forum het dié berigte as ’n “hartseer dag vir Suid-Afrikaanse joernalistiek” beskryf.

Maar was die hartseerste dag vir joernalistiek in die land nie die dag toe Dan Ma­tjila – ten einde die ANC beheer te gee oor die land se grootste Engelse koerantgroep – amper ’n miljard rand in Iqbal Survé se bankrekening gedeponeer het nie?

* Ed Herbst is ’n vryskutjoernalis wat Iqbal Survé se sakepraktyke reeds baie jare lank noukeurig volg.

* Rapport word uitgegee deur Media24, een van Independent Newspapers se vernaamste mededingers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.