Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Die vroue wat nie weet dat hulle nee kan sê nie'

Ná haar geboorte het die dokter vir haar ouers gesê sy sou ’n vegetable wees. Vandag doen dr. Ingrid van der Heijden baanbrekerswerk oor dié vroue en kinders wat dikwels nie weet dat hulle nee kan sê nie, berig Willemien Brümmer.

Dr. Ingrid van der Heijden het vroeër vanjaar haar doktorsgraad verwerf oor geweld teen vroue met fisieke gestremdhede – ’n epidemie van mishandeling waaroor die meeste mense swyg. Foto: Jaco Marais

“Dit spyt my, maar jul dogter sal nooit kan loop of praat nie,” het die dokter, wat Ingrid kort tevore met ’n tang verlos het, aan haar ouers gesê.

En nou, twee maande voor haar 40ste verjaardag, is Ingrid ’n senior navorser by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) en doen baanbrekerswerk oor ’n epidemie van mishandeling waaroor die meeste mense swyg.

Waar sy op die wit-en-blou bank in haar huis in Tamboerskloof sit, is sy 'n aantreklike vrou met groen oë, ’n vrolike geblomde rok en groot bengelende oorbelle.

Sy lag dikwels en maklik, al praat sy soms ’n bietjie moeilik.

Sy vertel dat sy tydens haar geboorte in Oranjemund, ’n klein dorpie in die suidwestelike hoek van Namibië, byna dood is.

“So dit wat eintlik ’n keisersnee moes wees, was ’n natuurlike geboorte. Ek het vasgesit en toe trek hulle my uit met ’n verlostang, en dis wat die breinskade veroorsaak het.

“Ek is per noodvlug na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad geneem en het eers weer teruggekom toe ek vier maande oud was.”

Kort hierna is atetoïede of diskinetiese serebrale gestremdheid, veroorsaak deur ’n besering aan dié deel van die brein wat boodskappe aan die spiere vir beweging moet stuur, by haar gediagnoseer.

Sy lag. Dié vrou wat weens haar spraakgebrek steeds dikwels verneder word deur mense wat wil weet of sy “dronk” is.

“Ek is ’n lefty.” Sy lig haar regterarm op. “Dis my snaakse arm. Die regterkant van my liggaam is meer verlam.”

Vandag sukkel sy nog met dinge soos om ’n koppie koffie te dra en sy word baie gou moeg, veral as sy die heel dag moet sit. “Ek kry erge rugpyn en dan natuurlik het die voortdurende pyn en van my beperkings ook ’n impak op my geestesgesondheid. Ek sukkel met depressie en angs.”

Ingrid in haar leefvertrek in Tamboerskloof wat vol foto’s van familie en vriende is. Sy woon daar saam met ’n vriendin en haar twee katte, Onela en Jo. Foto: Jaco Marais

Soos ’n spieël

Haar ouers, Aart en Jacqui, plaas haar aanvanklik in skole vir kinders met spesiale behoeftes, maar in gr. 3 stuur hulle haar na St. Mary’s Diocesan School for Girls in Durban, ’n hoofstroomskool.

Reeds op haar eerste dag sê die juffrou vir die klas: “Ons het ’n baie spesiale meisie wat haar by ons aansluit. Wees gaaf en moenie aanmerkings maak nie.”

Haar stem word effe sagter in haar leefvertrek, omring deur foto’s van haar vriende en familie. “Om dit te hoor op my heel eerste dag het by my gebly vir die res van my lewe – want waar ek voorheen hoogs funksioneel in ’n skool met ’n wye spektrum van mense met gestremdhede was, is ek hier onmiddellik anders behandel. Van die begin af het ek gevoel dat mense met my vriende gemaak het omdat hulle gevra is om dit te doen.”

Ná skool is sy na die Universiteit Stellenbosch om sielkunde te studeer. Ná haar tweede jaar skop sy egter op. “Ek het net nie die mas opgekom nie en het dit gehaat om klas toe te gaan. Dit het altyd vir my gevoel die mense staar na my.”

Ek waardeer dit regtig dat my ma my so hard gedruk het. Ek is vurig onafhanklik en ek dink dit jaag baie mans weg.

Maar haar ma het nog altyd geglo dat sy haar presies soos haar ander twee kinders moet behandel. “As jy wil opskop, sal jy moet werk,” het sy vir haar gesê.

Sy streel haar grys kat-kind, Onela, wat beteken “genoeg”. “Ek waardeer dit regtig dat my ma my so hard gedruk het. Ek is vurig onafhanklik en ek dink dit jaag baie mans weg.”

Sy giggel. “So toe werk ek ’n jaar lank vir ’n ingenieursfirma, en toe besluit ek dat ek nie eendag ’n sekretaresse of ’n boekhouer in ’n pakhuis in Paardeneiland wil word nie. Toe sê ek vir my pa: ‘Asseblief laat my teruggaan [universiteit toe] en ek sal cum’, en ek hét!”

Hierna volg ’n honneurs- en ’n meestersgraad (cum laude, natuurlik) in sosiale antropologie, ’n paar jaar by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), ’n jaar in Thailand en ses maande in Mauritius, waar sy onderhoude vir die land se waarheids-en-geregtigheidskommissie (geskoei op ons WVK) voer.

In 2012 begin sy werk by die MNR, waar sy aanvanklik navorsing oor MIV-voorkoming doen. Op ’n dag woon sy ’n voorlegging oor geslagsgeweld deur haar kollegas van die MNR se uitgelese gender-en-gesondheidsnavorsingseenheid by. En dadelik besef sy dat een belangrike aspek ontbreek.

“Ek het gesê ek dink vroue en kinders met gestremdhede is selfs nóg meer weerloos vir geslagsgeweld as ander vroue, en dat ons daarna behoort te kyk.

“Navorsing hieroor was reeds in die Noordelike Halfrond gedoen, maar in die Suidelike Halfrond en in armer lande was daar byna geen navorsing daaroor nie.”

Op 33 besluit sy dus om vir ’n doktorsgraad navorsing oor geweld teen vroue met fisieke gestremdhede te doen en die gender-en-gesondheidsnavorsingseenheid stem in om dit te finansier.

“Die eerste vrou met wie ek ’n onderhoud gevoer het, was serebraal gestremd. Ek sal dit nooit vergeet nie, dit was soos om in ’n spieël te kyk. Sy het uit ’n baie arm agtergrond gekom, was meestal in hoofstroomskole en het ook gesukkel om ’n koppie koffie te dra. Ons sou lag en ek het vir haar gesê dis só goed om met iemand soos ek kontak te maak.”

Maar vir die eerste keer het ek gevoel ek móét dit doen, ek wíl ’n verandering maak, ek wíl hê dié vroue se stemme moet gehoor word.

Ingrid se swakker regterhand is stil terwyl haar linkerhand die praatwerk doen. “Dit was baie moeilik vir my toe sy vertel hoe sy verkrag is. Ek is na prof. Naeemah Abrahams (haar Ph.D-toesighouer) en ek het gehuil en gehiperventileer want dit was vir my traumaties.”

Sy sluk. “Dit was nie net die geweld wat my ontstel het nie. Dit was ook om te luister na die ontberings en die gebrek aan geleenthede. Maar vir die eerste keer het ek gevoel ek móét dit doen, ek wíl ’n verandering maak, ek wíl hê dié vroue se stemme moet gehoor word.”

Grafika: What Works

’n Stille epidemie

In haar navorsing voer sy indiepte-onderhoude met ’n wye verskeidenheid fisiek gestremde vroue in die minder gegoede dele van Kaapstad oor hul ervarings van geweld, en in Februarie vanjaar behaal sy haar doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad.

Vandag is sy die koördineerder van ’n wêreldwye studie wat in 13 armer lande gedoen word oor maniere waarop geweld teen gestremde mense voorkom kan word.

Dié studie is onder die vaandel van What Works to Prevent Violence Against Women and Girls, ’n vlagskipprojek deur die Britse departement van internasionale ontwikkeling en die MNR.

Data van die VN-kinderfonds dui daarop dat die risiko vir fisieke en seksuele aanranding asook verwaarlosing drie tot vier keer hoër is by kinders en tieners met gestremdhede as by kinders en tieners wat nie gestremd is nie.

En volgens What Works is gestremde vroue twee tot vier keer meer geneig om deur ’n intieme maat aan geweld blootgestel te word.

En een van die redes hoekom die geweld voorkom, is omdat hulle as aseksueel beskou word. Mense dink dat hulle nog nooit seks gehad het nie of dat hulle nie seks kán hê nie.

Daar is egter nog geen noemenswaardige data vir Suid-Afrika en Suider-Afrika nie.

Die redes hoekom vroue en kinders hier veral weerloos is, is die stigma wat hulle soos ’n skadu volg.

“In die Afrika-kultuur bly mense met gestremdhede dikwels verborge; hulle word nie gesien nie,” verduidelik Ingrid. “En een van die redes hoekom die geweld voorkom, is omdat hulle as aseksueel beskou word. Mense dink dat hulle nog nooit seks gehad het nie of dat hulle nie seks kán hê nie. Die vroue word dikwels as maagde beskou en sommige mans in Afrika glo dat as jy met ’n maagd seks het, kan jy jou MIV genees.”

Sy aarsel. “Ons weet nie altyd hoekom mans mense met gestremdhede verkrag nie. Dit kan die MIV-mite wees, dit kan wees dat hierdie vroue en kinders hulself nie maklik kan verdedig nie. Maar die stigma en fisieke beperkings, moeilike kommunikasie en kognitiewe probleme maak dit soms baie moeilik om te besef jy word misbruik. Jy kan nie daarvan ontsnap nie want jy het fisieke beperkings en jy sukkel om te kommunikeer, of jy het ’n gehoor- of ’n siggestremdheid, en jy is minder in staat daartoe om die skuldiges te identifiseer. Dit word ’n epidemie van mishandeling wat ongesiens verbygaan.”

Grafika: What Works

Mans probeer dikwels om verhoudings met gestremde vroue weg te steek, veral in landelike gebiede en meer konserwatiewe lande.

“Dié vroue word uitgesluit van die alledaagse lewe. Hulle is nie bewus van hul seksuele en reproduktiewe regte nie. Hulle weet nie dat hulle nee kan sê nie. Hulle meld dikwels nie verkragtings aan nie want mense glo hulle nie.”

In Afrika word verhoudings met gestremde vroue soms geheim gehou “omdat vroue veronderstel is om te kook en skoon te maak en huishoudelike take te verrig”, sê sy.

“ ’n Gestremde vrou wat nie inpas by die manlike opvattings oor wat ’n vrou of ’n lewensmaat behoort te wees nie, is dus nie aanvaarbaar nie – of word gestigmatiseer.”

Toe sy jonger was, was Ingrid die meisie wat spreekwoordelik “by trourokke gehuil het” omdat sy gedink het sy sou nooit ’n lewensmaat kry nie. Nou weet sy dat sy nie ’n man en kinders nodig het om haar gelukkig te maak nie. Foto: Jaco Marais

Unieke geweld

Dié vroue wat in die donker moet liefhê, word ook dikwels aan eiesoortige vorms van geweld blootgestel.

Al die gewone vorms van gender-geweld word vererger met verdere geweld omdat jy nie net ’n vrou is nie, maar ook ’n vrou met ’n gestremdheid is.

“ ’n Verlamde vrou mag dalk verhoed word om ’n rolstoel te gebruik, of versorgers of lewensmaat gee hulle te veel of te min medisyne. Hulle wil byvoorbeeld dalk hê dat die vroue moet slaap en nie inmeng nie,” meen Ingrid. “Emosionele geweld mag dalk erger wees as gevolg van die stigma en die name wat hulle weens hul gestremdhede genoem word. Al die gewone vorms van gender-geweld word vererger met verdere geweld omdat jy nie net ’n vrou is nie, maar ook ’n vrou met ’n gestremdheid is.”

Sy het verdere navorsing gedoen oor die hindernisse wat dié vroue te bowe moet kom wanneer hulle wil hulp soek. Die probleme is legio. Dié vroue sukkel dikwels om die mishandeling aan te meld omdat hulle nie by plekke soos polisiekantore kan uitkom nie en omdat baie van die geboue vir hulle ontoeganklik is.

“Dan ontmoet jy ’n polisieman of diensverskaffer wat niks weet van gestremdheid nie, of wat nie weet hoe om met jou te kommunikeer of hoe om jou te behandel nie of jou nie glo nie,” sug Ingrid.

Indien die mishandelaar ’n lewensmaat is van wie hulle finansieel en andersins afhanklik is, bly baie van die vroue stil. Om nie eens te praat van die mishandeling wat in sorgsentrums agter ’n sluier van geheimhouding gebeur nie.

Ingrid is sedert haar traumatiese geboorte serebraal gestremd nadat dié deel van haar brein wat boodskappe na haar spiere moet stuur oor beweging seergekry het.Foto: Jaco Marais

’n Loopbaan in die binnebaan

Ingrid word geleidelik nie net ’n navorser nie maar ook ’n aktivis.

En sy sukkel nie meer om nee te sê soos toe sy jonk was nie. Dié meisie wat spreekwoordelik by “trourokke gehuil het” omdat sy gedink het dat sy nooit ’n lewensmaat sou vind nie.

Sy skud haar kop en glimlag. “Ek glo dit nie meer nie. Nou weet ek net nie hoe ’n man en kinders my lewe beter kan maak nie, want ek is baie, baie gelukkig nes ek is.”

Maar in Vrouemaand vanjaar word alles skielik net te veel vir haar. Die moord op en verkragting van die UK-student Uyinene Mrwetyana gebeur, #AmINext? gebeur, en die land ween.

Toe is dit die protesoptogte – ek was nie in my kantoor nie, ek was dáár. En toe is dit die president se toespraak, en dit het my net skielik laat besef dat my werk belangrik is.

Sy vryf oor Onela se kop. “Ek het ’n bietjie van ’n ineenstorting gehad. Burnout. Ek het pas my doktorsgraad voltooi, waarvoor ek in een van die gewelddadigste lande navorsing oor geweld gedoen het, en ek het gedink: ‘Nee . . . ek kán dit nie meer doen nie.’ ”

Sy glimlag dapper. “Toe is dit die protesoptogte – ek was nie in my kantoor nie, ek was dáár. En toe is dit die president se toespraak, en dit het my net skielik laat besef dat my werk belangrik is.

“Ek het die hele September afgevat, net ná Nene (Uyinene), om te dink oor óf dit is wat ek met my lewe moet doen, want dis moeilik . . .”

Sy knik. “Dis móéilik. Maar uiteindelik het ek besluit ek gaan terug. Ek is nou terug by die werk en daar is baie om te doen en ek gaan probeer om my bydrae in daardie lakune te maak . . . En ek wil ander Ph.D-studente ondersteun om verdere navorsing te doen.”

Sy vryf oor haar slape. Dis byna twee uur nadat ons begin gesels het.

Wat sou sy wou sê aan die dokter wat voorspel het dat sy vir die res van haar lewe ’n vegetable sou wees?

Sy staan hups op, die moegheid skielik vergete. “Kyk na my! Ek kan loop en ek kan praat – baie! En ek is só dankbaar vir my geleenthede en my vriende wat my ondersteun, maak nie saak wát gebeur nie, en dat ek van ’n buitestander kon ontwikkel tot iemand wat ’n plek en ’n loopbaan in die binnebaan het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.