Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zephany: Verhouding met Nurses ‘nog ‘n embrio’

Zephany, oftewel Miché Solomon, het beslis nie haar verhaal vertel om die verhouding met haar biologiese ouers te beëindig of om enigiemand by te kom nie. Miché wil bloot nie ’n valse self aan die wêreld voorhou nie, het haar biograaf, Joanne Jowell, aan Willemien Brümmer gesê.

Joanne Jowell, skrywer van die boek Zephany: Twee ma’s. Een dogter, in ’n deli in Mouille Punt waar sy vir die eerste keer begin samesprekings voer het oor dié boek. Foto: Jaco Marais

“Dit is bitter jammer dat daar nou ’n persepsie is dat Zephany haar rug op haar biologiese ouers gedraai het. Níks kan verder van die waarheid wees nie.”

Joanne Jowell, skrywer van die blitssensasie Zephany: Twee ma’s. Een dogter, roer haar koffie om in die deli in Mouillepunt waar sy die eerste keer samesprekings gevoer het oor dié verhaal wat langer as ’n jaar in geheimhouding gehul was.

’n Hartroerende storie, vol nuanse, deur ’n meester in haar vak. ’n Boek wat haar opnuut haar rol en haar grense as ’n skrywer laat versit het omdat sy so sterk met Miché Solomon geïdentifiseer het.

Miché, oftewel Zephany Nurse, wat as baba uit die kot langs haar ma, Celeste, se hospitaalbed ontvoer en toe 17 jaar lank liefderyk en vroom deur Lavona en Michael Solomon grootgemaak is. Miché wat gedink het sy ken haar ma tot ’n DNS-toets in haar matriekjaar haar wêreld tot in sy fondamente sou skud toe sy uitvind het sy het eintlik ’n ander naam, ouers en geboortedatum.

Die voorblad van die boek wat pas deur Tafelberg uitgegee is. Foto: Verskaf

'n Storie wat die wêreld dink hy ken

Die boek het Joanne met ongemaklike waarhede gekonfronteer. Aanvanklik was haar eerste instink as ma om met Celeste Nurse te identifiseer, “want dit is elke ma se ergste nagmerrie dat haar baba gesteel word”. Toe sy Miché egter ontmoet, moes sy heroorweeg wie in dié geval die slagoffer is.

“Ek dink sy is die vergete slagoffer in die Zephany Nurse-verhaal. ’n Mens dink nie outomaties aan die diep trauma wat sy moes ervaar het toe sy uitvind haar hele lewe is ’n leuen nie – en hoe sy daarna haar gevoelens van liefde en toewyding vir die enigste ma wat sy nog geken het, moes versoen met die wete dat haar ma ’n misdadiger is.”

Sy gebruik soms die naam Miché en soms die naam Zephany – net soos haar protagonis self wat die name afhangend van die omstandighede uitruilbaar gebruik.

“Ek het besef ek is haar biograaf, nie ’n joernalis nie; my doel is om haar storie te hoor, te verstaan en te interpreteer vir lesers en om ’n storie te vertel wat die wêreld dínk hy ken so goed (dié van Zephany Nurse) uit ’n totaal nuwe en ongehoorde perspektief (dié van Miché Solomon).”

Joanne is geklee in ’n groen spanbroek en tekkies ná ’n sessie in die gimnasium – op 45 ’n aantreklike vrou met blonde hare en sensitiewe bruin oë. Al het sy ’n honneursgraad in sielkunde, het sy op 28 reeds haar eerste sukses as skrywer met haar kitstreffer Managing the Quarterlife Crisis gesmaak.

In dié stadium het sy pas teruggetrek uit Engeland waar sy gewerk het as bestuurskonsultant en sy het herstel van ’n operasie wat veroorsaak het dat sy nie die een kant van haar gesig kon beweeg nie. Sy’t dié boek bedink toe sy deur haar eie krisis geworstel het en nie kon besluit waar sy wou woon, of sy wou trou en watter passie sy wou nastreef nie.

Maar nou trek sy al by haar sesde boek en die hoeveelste biografie wat op die een of ander manier die tema van ouerskap ontgin – ’n tema wat sy alte goed verstaan as ma van drie seuns (hulle is 14, 11 en vyf jaar oud).

Toe moes ons baie vinnig maak om die boek te laat verskyn, want sy wou gehad het haar eie storie moet die lig sien, nie gissings of aannames of oordeel nie.

Toe Tafelberg-uitgewers haar dus verlede jaar vra of sy Miché se storie sou skryf, was dit ’n droom wat vir haar waar geword het. Maar dis ’n droom wat vinnig moes gebeur. Die plan was van die begin af dat Zephany se identiteit as Miché met die boek vir die eerste keer bekend gemaak sou word. En met dié besluit sou ’n baanbrekende hofbevel tot niet gemaak word – ’n bevel wat haar identiteit beskerm het tydens die drie jaar sedert sy wetlik meerderjarig geword het.

“Sy moes self aansoek doen dat die hofbevel gelig word,” verduidelik Joanne. “So toe sy besluit het sy wil ’n boek skryf en dat dit gepubliseer moet word, het die uitgewer geweet die hofbevel sou betyds opgehef moet word. Die moeilike deel was dat jy wil hê die hofbevel moet opgehef word, maar jy wil hê die narratief moet steeds deur haar beheer word en dat die boek basies net ná die hofbevel moet verskyn.

“Daardie tydsberekening het ons ’n bietjie onkant gevang. Die regter het gouer by die hofbevel uitgekom as wat ons verwag het en die media het daarvan uitgevind. Toe moes ons baie vinnig maak om die boek te laat verskyn, want sy wou gehad het haar eie storie moet die lig sien, nie gissings of aannames of oordeel nie.”

Die boek oor Zephany het vir Joanne Jowell opnuut haar rol en haar grense as ’n skrywer laat versit omdat sy so sterk met Miché Solomon geïdentifiseer het. Foto: Jaco Marais

Die SMS

Toe sy en Miché mekaar die eerste keer in Augustus verlede jaar ontmoet het, was Miché hoogswanger met haar tweede kind. “Ons het baie gou gekliek. Dit was maklik om met haar tyd te spandeer. Sy het haar kop baie stewig op haar skouers.”

Sy het dadelik ’n moederlike reaksie op dié 21-jarige gehad (Miché is nou 22). “Ek het gou besef vertroue is haar grootste kriptoniet (die mineraal wat vir Superman van sy kragte ontneem het). Ek wou só graag iemand word wat haar kon help om weer ’n sin vir vertroue te herwin en dat sy my en die ander mense kon vertrou wat duidelik aan haar kant was.”

Ongelukkig was juis dié twee mense wat haar in haar matriekjaar moes help om haar vertroue in die wêreld te herwin nie in staat om daardie rol te vervul nie.

Celeste Nurse and Morne Nurse is (sic) in contract and if any of parties should go and give information of any sort in the finding of Zephany it will result to (sic) a massive law suit.
Morné Nurse

Celeste en Morné se paaie was besig om te skei en aldus Miché was hulle “nie so perfek as wat hulle voor die kameras voorgee nie”.

Aanvanklik wou Joanne graag die stemme van die Nurses insluit in haar boek, maar nadat sy reeds met Celeste begin praat het oor ’n ontmoeting, het ’n SMS van Morné dié planne in die wiele gery. Dié SMS het, woordeliks, só begin: “Celeste Nurse and Morne Nurse is (sic) in contract and if any of parties should go and give information of any sort in the finding of Zephany it will result to (sic) a massive law suit.”

Die SMS het ook gelui dat geen van Celeste en Morné se afhanklikes met haar mag praat nie. Omdat Miché toe al ouer as 18 en nie ’n afhanklike was nie, was dit nie op haar van toepassing nie. Dit het egter wel beteken sy mag nie met hul dogter Cassidy gepraat het nie – die nuwe meisie in Miché se skool wat op ’n haar na haar gelyk het en met wie sy ’n noue band gevorm het voordat hulle uitgevind het dat hulle eintlik susters is. 

Uiteindelik het dié SMS daartoe gelei dat Miché en haar biologiese ouers nóg verder uitmekaar gedryf het, veral omdat sy gehoop het hulle sou haar boek ondersteun.

Celeste en Morné Nurse buite die Kaapstadse landdroshof nadat Lavona, wat daarvan aangekla is dat sy Zephany ontvoer het, op borgtog vrygelaat is. Foto: Son

In die boek skryf sy onder meer hoe hulle ’n reuse-partytjie vir Miché in Mitchells Plain gehou het om haar terug te verwelkom, maar dat sy nie gegaan het nie. Sy het gedink dis malligheid, want sy “voel nie verlore nie” en sy voel nie asof sy ontvoer is nie.

Dit het vir haar gevoel asof sy nie ’n mens is nie. Dit het gevoel asof sy net ’n storie is.
Joanne Jowell

“Celeste en Morné het baie met joernaliste gepraat. Ek onthou ek was verras om te hoor hulle het op my verjaardag die dag saam met my deurgebring,” het Miché aan Joanne vertel. “Wat? Ek het hulle daai dag nie gesien nie!”

Joanne knik. “Dit het vir haar gevoel asof sy nie ’n mens is nie. Dit het gevoel asof sy net ’n storie is. Ek vermoed hulle (Celeste en Morné) het in daardie stadium hul storie verkoop. Daar is beslis geld verwissel. Dit was soos ’n kommersialisering en ’n kommodifisering van die Zephany-verhaal.”

Celeste Nurse in die hospitaal waar sy baba Zephany kort ná haar geboorte vashou. Ná die baba se verdwyning is hierdie foto jare lank wyd gepubliseer. Foto: Verskaf

‘Die verhouding is nog ’n embrio’

Sedert die publikasie van die boek het Morné en Celeste kontak met haar verbreek. “Miché het probeer kontak maak, veral met Celeste, maar sy het die foon in haar oor neergesit,” onthou Joanne. “Hulle het dit (die boek) beslis toe nog nie gelees nie, miskien het hulle nou al.

“Maar ek dink sy wil hê hulle moet dit lees alhoewel hulle beslis nie as die perfekte ouerpaar uitgebeeld word nie – maar wat sy vertel, is haar eerlike ervaring.”

Ons almal weet die dinamika in families is uiters kompleks en hierdie verhouding is op ’n heeltemal nuwe vlak van kompleksiteit.

Haar stem is beslis, dié dogter van Joodse immigrante wat nou soos ’n tierwyfie waak oor haar protagonis. “Sy wíl ’n verhouding met hulle hê. Sy het beslis nie die boek geskryf om die verhouding te beëindig of om enigiemand by te kom nie. Sy wil hê hulle moet verstaan hoe sy voel en dat die verwagting dat sy hulle sou sien en haar arms om hulle sou gooi en sou uitroep ‘Jy is my ma! Jy is my ma!’ net nie moontlik was nie – en dat hulle dalk ’n ander plek in haar lewe moet inneem al is dit moeilik vir almal om te verstaan.”

Miché en haar biologiese ouers moet tyd en ruimte gegun word om ’n verhouding te bou. “Ons almal weet die dinamika in families is uiters kompleks en hierdie verhouding is op ’n heeltemal nuwe vlak van kompleksiteit. Dit (die verhouding) is nog ’n embrio.”

Lavona en Miché, toe laasgenoemde vyf jaar oud was, op Kersdag in 2002. Foto: Verskaf

‘Ons weet Morné is nie Michael nie’

Miché wil bloot nie ’n vals self aan haar biologiese ouers en die wêreld voorhou nie, sê Joanne.

“Sy moet reeds konstant haar liefde vir haar ma (Lavona) probeer regverdig, want die publiek verwag van haar om haar rug te draai op dié misdadiger. Sy voel ‘Dis my Mammie en vir 17 jaar was dit my realiteit’.”

Vir my is die groot jammerte dat hulle nie almal die boek gebruik om brûe te bou nie.

Sy kies haar woorde versigtig. “So dis ’n byna onmoontlike situasie en waar daar ego betrokke is, gaan niemand by mekaar aansluiting vind nie.”

Sy sug. “Vir my is die groot jammerte dat hulle nie almal die boek gebruik om brûe te bou nie.”

Daar was verskeie “voorvalle” met Celeste en Morné gedurende die loop van Joanne se onderhoude met Miché. “Daar was die konstante versplintering in hul verhouding en sy het so hard probeer om die sin vir plig en verantwoordelikheid te eerbiedig wat sy teenoor hulle voel omdat sy wéét hoe hulle gely het.

Maar elke keer was daar ’n ander rede hoekom hulle haar ontstel het – óf sy het gevoel hulle het hulle gedra op ’n manier wat nie betaamlik vir ’n ouer is nie. Sy sou net gatvol en gefrustreerd raak en ek dink dit is in een van dié fases dat sy vir my gesê het miskien is hy (Morné) net ’n verlore saak.”

Ons weet Morné is nie Michael nie, maar die diep, kinderlike wens of hoop is kyk hoe wonderlik was my eerste stel ouers – sou dit nie gaaf wees om nóg so ’n stel ouers te hê nie?

Sy dra vir ’n oomblik haar hoed as sielkunde-kenner – iets wat haar goed te pas gekom het om dié unieke situasie te verstaan.

“Ek dink vir haar is die groot probleem dat dit wat sy soek van Celeste en Morné, gegrond is op dit wat sy nog altyd van Lavona en Michael gekry het. Wanneer sy nie ’n replika van hierdie verhouding vind nie – en sy sál dit nie vind nie – is alles net een groot teleurstelling vir haar.”

Sy haal haar skouers op. “Ons weet Morné is nie Michael nie, maar die diep, kinderlike wens of hoop is kyk hoe wonderlik was my eerste stel ouers – sou dit nie gaaf wees om nóg so ’n stel ouers te hê nie?”

Miché en haar grootmaakpa, Michael Solomon. Foto: Verskaf

’n Roerlose skip

En nee, gooi sy wal, Miché het haar storie beslis nie vir die geld vertel nie. Sy lag. As skrywer het sy al genoeg ervaring van hoe karig die inkomste is uit die meeste boeke in Suid-Afrika. “Ek weet nie hoeveel sy realisties kan hoop om te maak uit die boek nie, maar dis beslis nie genoeg om ’n lewe of ’n loopbaan te lanseer of na ’n gesin om te sien nie. Jy moet dit doen omdat jy lief daarvoor is en vir die groter saak.”

Dis juis omdat sy so betrokke geraak het by Miché dat die publiek se veroordelende houding haar soms so boos gemaak het. Soos die mense wat sê Miché is nie goed grootgemaak nie omdat sy ’n ongehude ma van twee kinders is.

Sy was vir ’n lang tyd ’n roerlose skip en sy het gegaan waarheen ook al die krisis haar gedwing het.

“Ons moet onthou dat sy in die midde van die grootste krisis was wat die lewe haar kon gebied het. Elke keer dat sy vir asem opgekom het, is iets anders na haar gegooi. Of sy vind uit dat haar geliefde kêrel eintlik ’n getroude man is of sy vind uit sy’s swanger – of dat sy wéér swanger is. Of dis die hofsaak en dan moet sy sin maak daarvan dat haar ma in die tronk is óf sy moet die tuimeltrein van haar verhouding met die Nurse-egpaar trotseer.

“So terwyl sy slinger van die een krisis na die ander, het sy dalk na liefde gesoek op die verkeerde plekke terwyl daar eintlik nie vir haar ’n veilige hawe was behalwe by Michael nie. Sy was vir ’n lang tyd ’n roerlose skip en sy het gegaan waarheen ook al die krisis haar gedwing het. Deur daardie ervarings het sy stadigaan haar eie stem gevind en haar eie besluite begin neem en het sy die verskillende dele van haarself met mekaar begin versoen soos ’n gesplete persoonlikheid.

“Ek dink sy is steeds in die proses om te probeer verstaan wie sy is en wat dit alles vir haar beteken.”

Miché en haar dogter Sofia, toe dié twee maande oud was. Foto: Verskaf

Sy skep asem.

“Haar pogings om sin te maak van haar lewe het haar dalk gelei om dinge te doen wat sy indertyd foute sou genoem het. Maar noudat sy ’n ma is en gekies het om kinders te hê, sal sy jou kop afbyt as jy hulle ’n fout noem, want sy sal hulle beslis nie ’n fout noem nie.”

Sy knik beslis. “Ek sê loop eers in haar skoene voordat jy oordeel.”

Wat belangrik is, is dat Miché geleer het om haarself te begin respekteer. Miché of Zephany of Miché-Zephany Solomon-Nurse.

Joanne staan op, haastig op pad na haar volgende afspraak. “Sy’t geleer om te sê dit is my keuses, dit is my lewe, my gevoelens en dís hoe ek myself respekteer. Sy leer nog om dit onbewoë te doen.

“Op die oomblik voel sy nog sy moet verskoning maak vir haar gevoelens en dis waar haar werk nou lê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.