Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die vuis van Ace

In ’n opspraakwekkende nuwe boek, ‘Gangster State’, laat val die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh die kollig op die skemerwêreld wat die ANC se sekretaris-generaal en voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, bewandel.

Oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, laat in 2012 in Bloemfontein duiwe los by die onthulling van ’n standbeeld van oudpres. Nelson Mandela. Foto: Getty Images

Ace Magashule het oor baie jare sy greep op ’n verdeelde provinsie verstewig – ondanks talle pogings van senior partyleiers om hom uit hoë poste te hou, waarskynlik weens vermoedens dat hy korrup kan wees.

Die interne faksiestryd in die ANC in die Vrystaat het in die vroeë 2000’s so erg geraak dat Luthuli-huis Noby Ngombane – ’n Vrystaatse lid van die SAKP wat nie ’n verbintenis met enige faksie gehad het nie – aangestel het om die probleme te ondersoek.

Ngombane het gou in ANC-kringe berug geword as iemand wat ernstig is om korrupsie te beveg. Vir die korruptes binne die provinsie het dinge ondraaglik begin word nadat Ngombane in Augustus 2004 in die kantoor van die destydse premier, Beatrice Marshoff, aangestel is om beleid te koördineer.

Ngombane se voorneme om beter beheer uit te oefen oor miljarde rande wat aan munisipaliteite toegeken word vir infrastruktuurontwikkeling, het gou vir hom magtige vyande in sowel die noordelike as die suidelike faksies van die party gemaak, omdat albei van hulle klaarblyklik munisipale hulpbronne na hul eie en die sakke van die party oorgedra het.

Uit Marshoff se hoek gesien, skryf Myburgh, het dit gelyk asof Magashule se noordelike faksie meer uitgesproke en deursigtig was in hul haat vir Ngombane.

“Hy is dood omdat hy te naby was aan my. Hulle het hom gesien as hul grootste bedreiging,” het Marshoff aan Myburgh gesê.

Teen die einde van 2004 was die spanning in die provinsie weer op ’n hoogtepunt en is oudpres. Thabo Mbeki se vertroueling Essop Pahad gestuur om Marshoff en Magashule in Bloemfontein te ontmoet. Die noordelike faksie, onder leiding van Magashule, wou hê Marshoff moes bedank en het hul woede en afkeer van haar op Ngombane gefokus, onthou Marshoff.

Die haat vir Ngombane was so erg dat ’n voormalige regeringsleier in die Vrystaat dit nodig geag het om Marshoff te bel om haar te waarsku van die karaktermoord op Ngombane. Hy het haar gevra om dié optrede in die openbaar te veroordeel voordat die karaktermoord ’n werklike moord word.

Wat volg is die verhaal van Ngombane se moord – en die buitensporige pogings van die polisie om sy vrou en familie vir die moord te blameer.

                                                                          ***

Hier volg ’n uittreksel uit Pieter-Louis Myburgh se Gangster State:

Noby Ngombane het in ’n ruim huis aan die einde van ’n doodloopstraat in die Bloemfonteinse buurt Hillsboro gebly.

Op Dinsdagaand 22 Maart 2005 het die familie ’n stil aand tuis gehad. Noby was omstreeks 18:30 tuis.

Sy vrou, Nokwanda, het kort daarna daar opgedaag en sê daar was toe reeds ’n paar ander familielede by die huis. Noby het haar broer Bongani en suster Tantaswa en haar niggie Vuyokazi en nefie Siphumle genooi om saam met hom ’n fliek te kyk

“Noby wou ’n DVD kyk, so hy het almal van hulle genooi. Hy was nie goed met elektroniese goeters nie, so hy het iemand nodig gehad om hom te help met die DVD-speler.”

Voor die moord: Noby Ngombane en sy vrou, Nokwanda, en hul kinders.

Nadat hulle die fliek (oor die Amerikaanse sanger Ray Charles) begin kyk het, het Tantaswa ’n kar buite die oprit gesien. Noby is buitentoe om ondersoek in te stel. Zandile, Noby se vyfjarige dogtertjie het haar pa gevolg.

“Die volgende oomblik het ek skote gehoor: twee skote en toe ’n kort pouse, toe meer skote wat vinnig opmekaar gevolg het,” vertel Nokwanda. Die mense in die huis het skuiling gesoek.

Toe die skietery ophou, was Nokwanda nog op pad na die deur toe klein Zandile terughardloop. Haar man het intussen deur die deur tot in die kombuis gestrompel waar hy neergeslaan het, gesig na onder.

Noby Ngombane is teen 21:30 daardie aand in die hospitaal dood verklaar. Hy was 39 jaar oud.

                                                                             ***

“Ná Noby se begrafnis het ’n kameraad my kom sien,” het Beatrice Marshoff, destyds die Vrystaatse premier, in Augustus 2018 aan my vertel.

“Hy het vir die nasionale intelligensieagentskap (NIA, wat later deel sou word van die nuwe Staatsveiligheidsagentskap) gewerk en hy het gesê dat hy iets sensitiefs met my wou deel.

“Hy het vertel dat hy op sensitiewe inligting oor Ngombane se dood afgekom het gedurende sy intelligensie-insamelingswerk; dat die inligting gedui het op die moontlike betrokkenheid van politici en dat hy Ngombane van die struggle-dae af ken en daarom gretig was om uit te vind presies wat aangaan. Hy het ook gesê dat die polisie nooit Noby se moordenaar sal kry nie,” onthou Marshoff.

Volgens die spook is die moordenaar van ’n vuurwapen, ’n kar en geld voorsien. Daar was ook ’n bestuurder van die kar waarmee gevlug is wat vir die skieter gewag het en weggejaag het die oomblik toe die moord gepleeg is. Dit was, met ander woorde, ’n goed beplande en uitgevoerde sluipmoord. Hy het ook gesê dat die moordenaar daarna na Bethlehem is waar hulle die moordwapen in die Saulspoortdam gegooi het.

Daar was meer. Die intelligensie-operateur het aan Marshoff gesê dat daar ’n plan bekonkel word om iemand vir die moord te blameer sodat die openbare aandag afgelei kan word van bewerings dat dit ’n politieke sluipmoord was.

                                                                             ***

Gedurende hierdie tyd het ’n ander vreemde ding gebeur. Magashule het blykbaar aan minstens twee mense gesê dat hy bekommerd is dat hy binnekort vir moord verantwoordelik gehou sal word.

“Ek het Ace ontmoet kort ná Noby se dood,” het een voormalige vertroueling van Magashule aan my vertel.

“Hy het vertel dat hy regtig bekommerd is dat hy in hegtenis geneem sal word vir sameswering tot moord.”

’n Tweede voormalige vertroueling het ook aan my gesê dat Magashule dié kommer uitgespreek het.

Maar Magashule se vrees was onnodig. Net op die regte oomblik, minder as twee weke ná die moord, het City Press ’n berig gepubliseer wat Nokwanda as die hoofverdagte geïdentifiseer het.

“Die weduwee van die vermoorde Vrystaatse staatsamptenaar Noby Ngombane het navrae gedoen oor versekeringsvoordele (in geval van Ngombane se dood) tien dae voordat haar eggenoot doodgeskiet is,” het die koerant berig. [Die koerant sou later ook berig dat Noby se lewe vir R20 miljoen verseker was en dat No-kwanda die massiewe uitbetaling in Augustus sou ontvang. Nokwanda sê dis snert.]

Die berig was ’n vroeë aanduiding dat die owerhede die fokus van hul ondersoek na Nokwanda verskuif het. Dit sou ’n ondersoek deurspek met slordige polisiewerk en twyfelagtige gedrag deur die betrokke polisiemanne wees. Dit sou uitloop op ’n pynlike mislukte poging om Nokwanda en haar familie van die moord op hul man en swaer aan te kla.

Dit was, met ander woorde, ’n goed beplande en uitgevoerde sluipmoord.

Laat in Julie 2005 het die polisie hul eerste skuif gemaak deur Nokwanda se broer Bongani en haar neef Siphumle in hegtenis te neem. Die owerhede het ook gesê dat Nokwanda binnekort in aanhouding sal wees. Hulle het daarop aangedring dat hul ondersoek geen teken van ’n politieke motief agter die moord kon kry nie. “Ons het nou ’n politieke motief uitgesluit as gevolg van die oorweldigende bewyse teen die huidige verdagtes,” het ’n polisiewoordvoerder destyds aan die media gesê.

Ook die polisiekommissaris, Jackie Selebi, het sy stuiwer in die armbeurs gegooi deur die polisie se bevindinge te onderskryf en te sê dat alle “bewyse” dui op die aandadigheid van Nokwanda en haar familie. “Ons het die feite dubbeld en driedubbeld nagegaan,” het Selebi die publiek verseker. “Die ondersoek was deeglik.”

Ek het met verskeie bronne wat destyds in Magashule se binnekring was gepraat. Dit blyk dat Selebi se aanspraak nie verder van die waarheid kon wees nie. “Die polisie het geen poging aangewend om te bepaal of Noby se dood verband gehou het met die provinsie se politiek nie,” het een bron aan my gesê. “Gegee die vyandigheid tussen Noby en prominente ANC-lede moes almal van ons verdagtes gewees het en moes ons ten minste ondervra gewees het. Maar ons was nie.”

Twee ander voormalige lede van die sogenaamde noordelike faksie in die Vrystaat [’n faksie waarvan Magashule die leier was] het bevestig dat die polisie hulle nooit ondervra het nie. Ten spyte van die duidelike spanning tussen Ngombane en senior politieke figure in die provinsie het die polisie om een of ander rede nie eens getraak om politiek as ’n moontlike motief vir die moord te ondersoek nie. Van die drie voormalige Magashule-vertrouelinge met wie ek gepraat het, was twee seker dat Ngombane se moord polities geïnspireer was. Die derde het gesê dit was “baie moontlik” die geval.

Nokwanda, haar suster Tantaswa asook Vuyokazi, is enkele dae ná Bongani en Siphumle in hegtenis geneem. Al vyf is van Noby Ngombane se moord aangekla.

                                                                         ***

Die polisie het intussen op ’n wilde en by tye bisarre soektog na bewyse gegaan nadat Nokwanda en haar medebeskuldigdes op borgtog vrygelaat is. In Oktober het hulle Ngombane se kis opgegrawe nadat hulle na bewering inligting gekry het dat Nokwanda die moordwapen in die kis versteek het. ’n Deeglike deursoeking van die kis en X-strale van die lyk het egter niks opgelewer nie.

                                                                         ***

In Maart 2006 het die staat [vir die soveelste keer] vir uitstel gevra nadat hulle na bewering “sensitiewe inligting” ontvang het wat hulle moes opvolg. “Die inligting is van die uiterste belang en regverdig verdere ondersoek,” het die staatsaanklaer André du Toit destyds aan die hof gesê. ’n Bron met kennis van die staat se saak het aan my gesê dat Du Toit heel moontlik verwys het na ’n brief wat hulle ontvang het van ’n gevangene wat beweer het hy het Ngombane geskiet.

Dié artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture deur Pieter-Louis Myburgh. Dit word uitgegee deur Penguin en kos R290.

Volgens latere mediaberigte het Bhekisa Andreas Sibisi, ’n gevangene wat ’n vonnis van 27 jaar vir moord en roof in die Ncome-gevangenis in Vryheid uitgedien het, ’n “bekentenis” afgelê dat Nokwanda hom R120 000 aangebied het om haar eggenoot te vermoor. Hy beweer dat, terwyl hy in die Barberton-tronk in Mpumalanga aangehou is, hy op 21 Maart 2005 “in die geheim” vrygelaat is onder die voorwendsel dat hy hospitaal toe moes gaan. Hy is toe reg deur die nag na Bloemfontein aangery, waar hy aan Nokwanda en haar suster voorgestel is. Hy beweer dat hy Ngombane geskiet het “nadat Nokwanda die deur oopgemaak het en hom aangesê het om voort te gaan”.

Sibisi se aansprake kan net as wild en buitensporig beskryf word. Om mee te begin is Ngombane buite sy huis geskiet, soos duidelik aangedui deur die geel krytstrepe waar die polisie die patroondoppies wat hulle gevind het, gemerk het. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het uiteindelik saamgestem en aangedui dat ’n ondersoek gevind het dat Sibisi se aansprake geen gronde het nie. In September 2007 het die NVG amptelik alle aanklagte teen die vyf beskuldigdes teruggetrek.

Iemand in die NVG het aan my gesê die polisieondersoek was uit die staanspoor swak, maar dat daar massiewe druk was om iemand te vervolg. “Almal wou hê die NVG moes vervolg,” onthou hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.