Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dié wat nie wil hoor nie, sal nie

Was daar ooit ’n tyd dat die mensdom in staat was om ’n rustige, rasionele openbare gesprek te voer? Of het ’n kultuur van slegsê en skel, wat dalk altyd bestaan het, die laaste jare handuit geruk?

Dié vraag word gestel na aanleiding van ’n onderhoud vandeesweek op die BBC met ’n Amerikaanse politieke wetenskaplike (van wie ek ongelukkig die naam vergeet het) oor die wedersydse histeriese beskuldigings ná die skoolskietery in Florida oor die verspot maklike manier waarop selfs tieners outomatiese gewere wettig kan koop.

Sy het die debat wyd ontleed en gepraat van ’n “stamme-oorlog” tussen die relatief gestudeerde, liberale kusstreke en die uiters konserwatiewe, iets minder gestudeerde binneland.

Die mense praat grotendeels by mekaar verby en luister nie na mekaar nie, het sy betoog. En dit gaan natuurlik nie net oor wapenbesit nie – dit gaan oor feitlik elke politieke, ekonomiese en maatskaplike onderwerp waaraan jy kan dink.

Iemand anders het in ’n Amerikaanse koerant gesê politieke debatte word teenswoordig deur “rou emosie” oorheers, pleks van rasionele denke.

As ’n mens iets van die geskiedenis en menslike aard begryp, sal jy weet dat ’n rustige en rasionele openbare gesprek eerder ’n uitsondering as die reël was en is. Die mens is nou eenmaal ’n wese waar die emosie en die rede ’n voortdurende geveg lewer.

Dikwels wen die emosie, hetsy met ’n uitklophou, hetsy met punte. Minder dikwels wen die rede, ofskoon dié selde, indien ooit, ’n uitklophou kan plant.

Tog kry ’n mens die indruk dat die emosie in die laaste jare ten koste van die rede vorder.

Tog kry ’n mens die indruk dat die emosie in die laaste jare ten koste van die rede vorder.

Dít sien jy in die mate waarin populiste soos press. Donald Trump en Wladimir Poetin, die regeringsleiers van Pole en Hongarye, asook ander linkse en regse rottevangers van Hameln (onder wie ons eie Julius Malema) ’n positiewe weerklank by talle kiesers ontlok.

Wat populiste – links en regs – gemeen het, is hul propaganda dat die establishment en al sy organe (soos die “hoofstroommedia”) tot op die bodem korrup en verraaiers van die volk is, dat ’n klein groepie mense (die Illuminati, die Broederbond) agter die skerms aan die toutjies trek, dat die samelewing op ’n ongekende ramp afstuur, en dat net die populiste die volk kan red.

Dit word vererger deur die internet en sosiale media. As jy langs ’n braaivleisvuur staan en skel, verwag niemand dat jy al jou bewerings met vers en kapittel moet kan bewys nie.

Maar deesdae skel ons op die sosiale media of in die ruimte wat nuusmedia onderaan die internet-weergawe van nuusberigte en artikels bied.

Die rou emosie, woede en selfs haat wat sommige (let op die nuanse) mense op dié forums vertoon, laat ’n mens letterlik verstom.

Die hoofstroommedia doen meestal hul bes om daardie soort geskel te beperk, maar daar is ekstremistiese webwerwe waar die skellers voluit hul gang kan gaan, en dit met oorgawe doen. Soms word daar gesê dat ons in ’n “post-feite-tyd” leef.

Amerikaanse hoofstroomkoerante het spesiale joernaliste wat die bewerings van politici ondersoek en aandui in welke mate dit waar of onwaar is.

Maar wanneer byvoorbeeld Trump betrap word dat hy ’n leuen vertel, iets wat gereeld gebeur, dring dit nie tot sy ondersteuners deur nie, want hulle lees nie die media waar dit aan die kaak gestel word nie. Mense leef in eggokamers waar hulle net hoor wat hulle wíl hoor.

Dié situasie is buitengewoon gevaarlik vir die demokrasie. In Suid-Afrika sal ons ’n bewuste poging moet aanwend om bewysbare feite en rasionaliteit as rigsnoer in te span.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Menings  |  Politiek  |  Debat  |  Bbc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.