Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die wêreld op ’n kantelpunt

Waar staan die Weste tans in die internasionale politieke kragveld? Leopold Scholtz bekyk die resultate van ’n invloedryke veiligheidskonferensie wat pas in München oor dié saak gehou is.  

Illustrasie: PIXABAY

In 1992, net ná die einde van die Koue Oorlog en die ineenstorting van die kommunisme as internasionale magsfaktor, het die Amerikaanse politieke wetenskaplike Francis Fukuyama ’n boek gepubliseer wat groot aandag getrek het.

Die titel was The End of History and the Last Man. Daarin het hy verkondig dat die Westerse politieke model, die liberaal-demokratiese kapitalisme – ook bekend as die Washington-konsensus – finaal die stryd gewen het. Dat Westerse waardes wêreldwyd die norm word en dat die hele aarde dit sou aanhang.

In München is egter pas ’n jaarlikse internasionale veiligheidskonferensie gehou wat die teendeel voortgebring het. Die tema van dié konferensie, waar prominente politici, hooggeplaaste offisiere en internasionale politieke kenners gedagtes oor die stand van die wêreld wissel, was “Westlessness”, oftewel “Westeloosheid”.

Agter dié begrip skuil die waarneming dat die Weste – Amerika en Europa – sy leidende magspolitieke, ekonomiese, intellektuele en morele posisie in die wêreld verloor. Dat ander wêrelddele, veral China, Rusland en die Midde-Ooste, dit uitdaag. Drie dae lank het die gehoor geluister na leiers wat toesprake gehou of openbare onderhoude toegestaan het.

Uiteindelik het verskeie sake uitgekristalliseer wat die basiese tema duideliker gemaak het.

In sy voorwoord tot die voorbereidende verslag vir die konferensie skryf die organiseerder, die invloedryke denker Wolfgang Ischinger, oor wat hy noem “die verval van die Westerse projek: Vandag word die Weste soos ons dit ken, betwis sowel van binne as van buite.

Uiteindelik het verskeie sake uitgekristalliseer wat die basiese tema duideliker gemaak het.

“Deel van die uitdaging is dat ons ’n gemeenskaplike begrip van wat dit beteken om deel van die Weste te wees verloor het.

“Dit alles gebeur teen die agtergrond van die relatiewe opkoms van die nie-Westerse wêreld en ’n groeiende aantal wêreldwye uitdagings en krisisse wat ’n gekoördineerde Westerse antwoord vereis.”

Die verslag self het gewys op die “uiteenval van die Weste” as hegte geopolitieke eenheid. Die wêreld word steeds “minder Westers”: Die nie-Westerse wêreld, veral China en Rusland, is in opmars en “die liberale triomfalisme van die tydperk ná die Koue Oorlog het ’n gebrek aan selfondersoek weerspieël”.

Dié woorde is geïllustreer deur die gapende transatlantiese kloof tussen Amerika en Europa wat die hele konferensie gekenmerk het.

Amerika is verteenwoordig deur sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, en van verdediging, Mark Esper, asook ’n afvaardiging van meer as 40 kongreslede (sowel Republikeine as Demokrate).

Pompeo het die hele tema van die konferensie by implikasie verwerp. Die Weste is aan die wen, het hy gesê, en dit gestaaf met die stelling dat geen vlugteling na China, Iran of Sirië probeer vlug nie (waarby hy gerieflik die Trump-administrasie se eie weiering van vlugtelinge verswyg het).

Esper het die boodskap versterk deur kliphard op die gevaar van China se opkoms te wys. Een van sy amptenare het Esper se houding só opgesom: “China, China, China, Rusland en weer eens China.”

In dié verband het hy spesifiek na die Chinese IT-maatskappy Huawei verwys. Dis nou al maande lank dat Amerika en Europa hieroor vassit.

Die Amerikaners beweer dat Huawei digitale virusse in hul programmatuur inbou wat wêreldwye spioenasie moontlik maak. Die Europeërs se antwoord is om digitale mure om sekere dele van hul eie stelsels teen Huawei te bou.

Verskeie Europese sprekers het daarop gewys dat Trump se bullebak-houding Europa nie gretig maak om met die Amerikaners saam te werk nie.

Benewens die Huawei-kwessie is Amerika volgens Esper in elk geval in ’n bestaanstryd met China gewikkel.

En dis nie net die Trump-administrasie wat só dink nie; die Demokratiese speaker van die huis van verteenwoordigers, Nancy Pelosi, het te kenne gegee sy stem met Esper saam.

Esper het bygevoeg Westerse lande wat hulle nie agter Amerika skaar nie, sal ’n hoë prys betaal. Hy het spesifiek na Brittanje verwys.

Dié verwysing illustreer die manier waarop veral pres. Donald Trump sy eie taak bemoeilik. Hy het onlangs sy humeur in ’n telefoongesprek met die Britse premier, Boris Johnson, oor die saak verloor en die telefoon woedend in Johnson se oor neergesmyt.

Verskeie Europese sprekers het daarop gewys dat Trump se bullebak-houding Europa nie gretig maak om met die Amerikaners saam te werk nie.

Trouens, hulle het hul kommer uitgespreek oor die feit dat Trump klaarblyklik besig is met ’n strategiese terugtog uit sy wêreldleiersposisie, en dat Europa toenemend sy eie veiligheidsboontjies sal moet dop, pleks van om agter die breë Amerikaanse rug te skuil.

In sy openingstoespraak het pres. Frank-Walter Steinmeier van Duitsland die Trump-administrasie daarvan beskuldig dat hy “die idee van die internasionale gemeenskap verwerp”.

Hy het Trump se wêreldbeskouing reguit opgesom: “Elke land moet vir homself opkom en sy belange bo dié van die res plaas . . . ‘Weer groot’ – selfs ten koste van bure en bondgenote.”

Steinmeier se minister van buitelandse sake, Heiko Maas, het daarop gewys dat die toekoms van die Midde-Ooste nie langer in die VN-hoofkwartiere in New York en Genève bepaal word nie, maar in Sotsji en Astana, die stede waar Rusland, Turkye en Iran se grense bymekaarkom.

Dit gebeur deur die “geostrategiese gapings” weens Amerika se terugtog en die vul daarvan deur lande wat nie die Westerse waardes en belange deel nie.

Pres. Emmanuel Macron het die volgende dag saamgestem deur te sê “wat Europa wil hê, is nie heeltemal dieselfde as Amerika nie”.

Ná die toespraak het ’n konsensus onder die Duitsers en Franse ontstaan dat Pompeo se gehoor nie die Europeërs in die saal was nie, maar Trump.

Pompeo het hard teruggeslaan met die boodskap dat Amerika verskriklik baie vir die Europese veiligheid doen. Maar, soos een joernalis die reaksie beskryf het, “min van die Europeërs in die saal het oortuig gelyk”.

Ná die toespraak het ’n konsensus onder die Duitsers en Franse ontstaan dat Pompeo se gehoor nie die Europeërs in die saal was nie, maar Trump.

Macron het ’n sterk pleidooi vir toenemende Europese samewerking en integrasie, veral op die gebied van buitelandse beleid en verdediging, gelewer. Europa moet in staat wees tot optrede in die aangesig “van die wedywering tussen die groot moondhede”, het hy gesê.

Dis ’n idee wat tans nog enigsins versigtig in ander Europese hoofstede, waaronder Berlyn, aangehoor word, maar as Trump in November herkies word, gaan dit sonder twyfel ’n kragtige impuls vir Macron se visie wees.

Die Amerikaanse kenner prof. Ian Bremmer (Columbia-Universiteit) het die kern van die konferensie se gevolgtrekkings só opgesom:

“China word magtiger en is nie bang om met die Westerse model mee te ding nie. Andersyds sien jy dat sommige Westerse lande blykbaar vertroue in hul demokrasie verloor.

“Maar wat vanjaar uniek is, is die fundamentele kloof in hoe Amerikaners en Europeërs die veiligheidsbedreigings sien.”

Die oorsaak: “Omdat Trump soveel vriende uitgetart het, is die Europeërs op dié oomblik nie gretig om na hom te luister nie.”

Wat ook al die geval is, dis duidelik dat die wêreld tans op ’n kantelpunt staan.

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.