Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die ysterbok moet vreet

Saterdag het ons almal saam met Thor gesnork en geknor, skryf Egmont Sippel.

Bakgat, Bokke! Die span – en Suid-Afrika vier fees.

Dit basuin oor die berge, al lê hulle nog so blou.

Dit wysie uit die windjie, al sny hy skraal en kou’.

Dit dawer deur die dale en rugby se annale, eggo in die geskiedenis en weerklink in krale, strooi sout oor ons aarde se wye genade.

Want dis hoe dit is. Gekneld. Bedreigd. Beloofd. Bedoeld, hierdie Bokland van ons, hierdie teelaarde vir rugby, hierdie bakermat vir die beessport, ons geestesgort.

En dit wortel diep, uit die tortel van Paul Roos se besemsnor tot by ’n man genaamd Thor.

Wat ’n inspirasie is hy nie, nes die span voor en agter hom as hy plat soos ’n plank op agsteman sak.

Ieder geval sal die hoop kom en gaan, maar die gees bly staan.

En ná laas naweek in drie blokke totemgraniet: Jokohama 2019; Parys 2007; en Johannesburg 1995, toe Kêppie vir Madiba gesê het: “Dit was nie 60 000 mense wat ons vandag ondersteun het nie. Dit was 43 miljoen.”

Die Leeu het die Bok heelhuids opgehang en hap vir hap verslind...

Nou’s ons weer daar, dié slag 57 miljoen sterk, met Siyamthanda Kolisi as indoena.

Wat ’n flank en leier en ditto vir Rassie. Oos-Kapenaars, ons twee stuurmanne. Despatch het nou die redder gelewer van ’n span wat twee jaar gelede met 57-0 deur die All Blacks verslind is, asook een van wêreldrugby se legendariese senters. Ieder geval het Suid-Afrika in die vier jaar vóór daai rekord-loesing boonop teen Wallis, Italië, Argentinië en Japan verloor.

Van waar, Gehasi?

                                                                                  ***

Nou, ’n oogknip later en ons is wêreldkampioen! Hoe’t dít gebeur?

Wel, as jy die wedstryd gesien het, sal jy weet dat die ysterbok moes vreet: punte, drieë, skrums, lynstane, Garryowens, die Ingelse, als in die keelgat af.

En ons gaan dit nie as Shakespeariaanse wraak of soet poëtiese verheerliking van Paardekraal en Potchefstroom en Magersfontein en Milner en Jameson en Majuba tipeer nie.

Dis geskiedenis daai uit die tyd van die eerste Britse rugbyspan wat ’n dekade ná die Eerste Vryheidsoorlog skoonskip aan die suidpunt van Afrika kom maak het.

Vyf jaar later, in 1896, het die Souties ’n verdere drie uit vier toetse ter plaatse kom inpalm.

Maar die laaste een, tóé, het nes die laaste een teen Willie John McBride se super-Leeus van 1974 ook die klokke van herstel gelui.

Dit ná bittere loesings, nes die feitlik vergete toets teen 1972 se eerste Engelse toerspan na Suid-Afrika toe groot name in groen wat goud moes skitter – Ray Carlson, Syd Nomis, Joggie Jansen, Gert Muller, Dawie Snyman, Piston van Wyk, Jan Ellis, Piet Greyling en so meer – met John Pullin-pille gevoer is: 9-18.

Wat ’n ramp.

                                                                                     ***

      Min het ons geweet wat twee jaar later teen McBride se Leeus sou volg, teen J.P.R. en J.J. Williams, Phil Bennett en Gareth Edwards, Fran Cotton en Mighty Mouse McLauchlan, Fergus Slattery en Mervyn Davies en natuurlik Roger Uttley en Willie John homselwers.

      Slagtersnek, kon jy dit noem. Die Leeu het die Bok heelhuids opgehang en hap vir hap verslind, eers een boud, toe die ander, toe die pens, die kop en sommer albei horings ook.

      Die wederopstanding is in 1976 met ’n reeksoorwinning oor die All Blacks afgeskop en in die 1980’s gekonsolideer, ten eerste toe Billy Beaumont se Leeus in ’n blik gedruk is. Hy’t laas week langs prins Harry op die paviljoen gehurk, sir Billy, en sommer medaljes ook uitgedeel.

      Ses jaar later is die Silwer Varing, in Kavaliers-vorm, ter plaatse deur Naas en Danie en Carel en Rob Louw verwelk.

      Tussendeur is ons, in 1981, ook Nieu-Seeland toe, waar Alan Hewson ’n stormagtige betogerreeks in die laaste minuut van die laaste toets vir die All Blacks beklink het, ná ’n omstrede strafskop deur skeidsregter Clive Norling, ’n Wallieser wat ons leed – en woede – nogmaals aan Brittanje sou naelstring.

      Interessant genoeg is die All Black-stut Gary Knight tydens einste toets deur ’n meelbom uit ’n betogervliegtuig neergevel, voordat hy vyf jaar later tydens die rebelle-toer ook op Ellispark gras toe gestuur is deur ’n kort ses-duim-dinamietkers uit Gert Smal se regterskouer.

      Boef!

      Daarná is die nuwe eeu ingelyf met ’n verloorstreep teen Engeland wat by uitstek eers in 2007 in Frankryk gestuit is waar ons Wêreldbekerveldtog met 36-0 teen die koningin se klonge sou afskop.

      Ewe roemryk as die 44-0 teen Skotland op Murrayfield was dit dalk nie, maar die tafel is daai dag gedek vir ’n eindstryd teen einste historiese vyand: die Wit Trui met die Rooi Roos.

      Swing low, sweet chariot.

                                                                                               ***

      John en die manne het dit swetend uitgesloeg: Os, Bakkies, Victor, Schalla, Habana, kanonpoot Franna, Percy en die wêreld se beste rugby-argitek, Fourie du Preez. Saam met Jake White was Vuurtjie ons generaal.

      En ja, die pyn is besweer, die spook van Ellispark begrawe. Suid-Afrika speel inderdaad beter rugby as die nasate van William Webb Ellis. Dit het ons onwrikbaar in 2007 geglo.

      In die daaropvolgende dekade was daar net een verloortjie teen Engeland en in 2018 ’n verdere twee tydens desperate tye toe ons gereeld Thor-ore aangesit is.

      En toe kom daai doodsteke uit die spiespunte van Chessie en Mapimpi.

      En toe daag 2 November 2019 op.

      In die loopgrawe: Siya en sy Groen-en-goue krygers; Owen Farrell en sy Wittes-met-die-rooi-roos.

      In die oorlogkamers: Rassie E. en Eddie J. en vir daai man was ek bang. Hy’t al olifante gepootjie, ’n week vantevore sommer die magtige All Blacks en in 2015 einste onse Bokke, tóé as afrigter van Japan.

      Kan jy glo? Japan! Jodanjanai.

                                                                                            ***

      Maar toe sjzeet ons die Rose.

      Jy ken daai Afrikaanse manier van sê, as jy iets tussen “gee” en “eet” bedoel? Toe gee ons die bleeksiele ’n bloedneus en eet hulle, vreet hulle, sjzeet hulle.

      A rose by any other name sou ewe kwesbaar gewees het, al was hy All Black-swart.

      Die ysterbul, sien, was oorgehaal; Duane sy slagtande.

      Hoogtepunte vir Thor is duidelik as die Bokke score, nie omdat ons punte opstapel nie, maar omdat die Ingelse dan weer moet afskop en hy die bal kan vang en storm en die vyand soos ’n pantserwa bekletter, met bene wat klap en nerwe wat spat.

      Boef! Die wetter!

      Dis vreesloosheid van ’n mitiese orde, iets waaroor Homerus kon dig, hierdie ramlopies, hierdie heldereise tot in die binnekamers van die vyand se blokhuise. Mensig, dit moet die moed en oortuiging van ’n Majuba verg om so iets een keer te doen, laat staan nog heel dag lank.

      Jy’s yster, ou Thor. Jy en jou hamer genaamd Mjölnir.

                                                                                          ***

      Daarom dan dat ons Duane sy traantjie gun. Die ganse Suid-Afrika het ieder geval saam met hom ’n soutdruppel weggepink of openlik gesnik.

      Want ons het hierdie ding nodig gehad soos ’n sondaar wat vergifnis en verlossing soek.

      Ek onthou nog toentertyd toe Syd Nomis op Nuweland teen die All Blacks onderskep het, en Gerhard Viviers “Syddie, Syddie, Syddie” sou gil.

      Nou’s dit “Siya, Siya, Siya” en wat ’n reusagtige taak het hy nie vir sy land verrig nie.

      Nes Jesse Owens vir Hitler ’n les in 1936 gaan leer het, nes Muhammad Ali vir wit Amerika in die 1960’s tot nuwe insigte sou bring, nes Maradonna die Argentynse psige in die 1980’s aan sy skoenveters sou optel, nes Senna feitlik eiehandig lewensin aan die verwese Brasiliaanse volk van die 1990’s sou lewer en nes Manny Pacquiao in die 2000’s hoop en geloof in die hart van elke Filippyn sou laat huppel, het die Bokke laas Saterdag ’n saadjie geplant wat dalk in ’n boompie kan ontwikkel, veral as einste boompie die salf van eie gom oor sy wonde laat druppel.

      Nie alle heldedade word op ’n militêre slagveld verrig nie. Soms is die oorlogsfront op ’n rugbyveld of in die foutlyn van ’n kwotabestel.

      Siya Kolisi en vrinne breek hierdie ding nou vir ons af.

      Ons lig die hoed, manne. Die hele Bokspan, van voor tot agter, kán en hét gemjölnir, van Pieter-Steph en Eben af, deur die hakers en stutte tot by elke bankspeler en plaasvervanger uit die bom-bataljon.

      Lood is byvoorbeeld ’n sagte en vormbare metaal, maar nie in ’n Springboktrui nie. Dan’s Lood yster, nes Faf se gesmede agterlyn van reg agter die pak tot op die punte. Vol staal ook, en weerlig wat verbyster.

      Klein De Klerkie het dan vroeg-vroeg ’n ou getêkkel en sommer bo-oor die gevallene gespring om die volgende soos ’n foksterriër te gaan gryp.

      Vat hom, Faffie!

                                                                                         ***

      Ai, en die sterre wat Cheslin en Makazole uit die trans sou pluk! En daai Am-aangee ná Mapimpi se skop-oor-die-kop.

      Michael du Plessis kon laas so vinnig en suiwer en sekuur “paas” sonder om te kyk waarheen hy sy verspreidingsprojektiel loods. Selfs Philippe Sella en Serge Blanco sou ’n aangee-les of twee by Lukhanyo kon aas.

      Die res was meedoënlose timmer- en hamer- en dryfwerk om die rooi roos in sy wit kis vas te spyker, veral voor in die oond waar die vure vlam, beginnende met Mtawarira en Malherbe.

      Beast, jou bielie! Frans, jou frommelmasjien! En om te dink die plaasvervangers is Kitshoff en Koch, met Malcolm Marx tussenin. En toe kom daai doodsteke uit die spiespunte van Chessie en Ma-impi.

      Impi! Wo ’nans’ impi iyeza . . .

      Johnny Clegg, in Julie oorlede, kon ’n lied hieroor dig, iets soos “African Try Green, African Try Gold”. Want kan daai twee vleuels saag, Mapimpi met sy voete laag oor die grond plus die X-faktor waarvan Rassie praat, en Cheslin, wel . . .

      Hy’t die aftrap van ’n vlakvark en die loswriemel van ’n waterotter. Plus krag. Van waar ek gesit het, 15 000 km ver, het dit kompleet ook geklink of Kêppie Pienaar “go, go, go” uit die paviljoen skrou terwyl Chessie toorkuns trap.

      Go, go, go. Siya, Siya, Siya. Syddie, Syddie, Syddie. Têkkel, têkkel, têkkel.

      En swing. Swing low.

                                                                                    ***

      Spiekeries dan, op 2 November 2019. Die ysterbuffel het sy vreet gevreet.

      En nogmaals van waar ek gesit het, meer as honderd jaar ver, het dit gevoel asof Paul Roos die snare wat pap was weer styf begin trek, met Mannetjies, Frik, Naas, Carel, Daantjie, Francois, John Smit en Bryan Habana wat almal saam tokkel.

      Tot die trane pokkel.

      Ná al die jare van vog uit die grond trap net om te vind dis droog daaronder was dit blêrrie lekker om te weet die watervlak is nog daar – aan albei kante, want die koningin se kamp had ook soutoë.

      Selfs ’n groot en eerbare gebaar deur die vlamkopprins met vuur in sy hart vir Afrika kon dít nie verbloem nie.

      Van anderkant die oseaan brand dit uiteindelik tog maar uit dieselfde hel as ons s’n, nes die lag van blydskap uit dieselfde hemel val. Oor Engeland se sagte heuwels. Deur hul valleie, hul dale. Op die wind wat treur oor hul aarde. Dis ’n diep huil. Die Rose het gebloei. Maar ek kies ons s’n. Ons bloed. Ons trane. Ons beker.

      Op 2 November 2019 in Jokohama in Japan het ons al hierdie dinge uit yster losgesweet sodat die grote Bok ordentlik kon sjzeet.

      Meer oor:  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Engeland  |  Rwb19  |  Wêreldbeker  |  Springbokke
      MyStem: Het jy meer op die hart?

      Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

      Ons kommentaarbeleid

      Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

      Stemme

      Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.