Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dien doodstraf ’n doel?

Die galg skrik nie moordenaars af nie, skryf Johann van der Westhuizen.

Van muur tot vloer is die kamertjie klinies wit geteël, in die middel ’n smal wit bedjie op ’n wit staalpilaar – met bruin leerbande om ledemate mee vas te gespe.

Daar is ’n telefoon vir laaste woorde. Deur ’n gaatjie in die muur kom ’n pypie met ’n naald wat die laksman in ’n aar in die linkerarm druk. Daarbo ’n venster met eenrigtingglas waardeur hy kan kyk voordat hy drie middels inspuit: Twee bring kalmte en verslap spiere; die derde ’n gif wat, as alles werk, spoedige dood bring.

Hulle weet glo nie wie die laksman of -vrou is nie; ook nie of belastingbetalers ’n salaris betaal en of dit ’n stokperdjie of liefdestaak is nie.

In ’n ander muur is twee vensters en daaragter vertrekke met stoele soos in ’n mini teater. Die een is vir die slagoffer se geliefdes wat “afsluiting soek” deur die misdadiger te sien sterf en die ander vir die media en getuies, ingeval daar twyfel is.

Die teregstellingskamer is in die Amerikaanse deelstaat Louisiana se Angola-tronk – genoem na die katoenplantasie waarop dit gebou is. Op pad na die teregstellingskamer is ’n deftige eetkamer met houtpanele waar die veroordeelde ’n laaste maaltyd saam met geliefdes kan eet.

Ons het nie Amerika se skokkende tragedies nie.

In die dodeselle wag sowat 70 mans op teregstelling – sommige al dekades lank, hul foto’s is op ’n kennisgewingbord.

Met die instap haal die innemende bewaarder laggend een foto af. “Oom Ben is nie meer hier nie,” sê hy. Geskok vra ek waarom.

“Vanoggend huis toe,” kom die antwoord. Ná 20 jaar het DNS-toetse bewys hy is onskuldig, die resultaat van ’n stryd gevoer deur mede-gevangenes wat hulself as para-regsgeleerdes bekwaam het en saam met lede van die Innocents Project geveg het vir sy vrylating.

Talle ander terdoodveroordeeldes se lewe is op soortgelyke wyse gered – een nadat hy teruggestuur is na sy sel omdat die laksman nie die aar in sy arm met die spuitnaald kon raaksteek nie.

In Louisiana is geen onlangse teregstellings uitgevoer nie. In Texas gaan dit volstoom voort en het glo selfs versnel toe die vervaldatum van die gif wat Denemarke nie meer wil verskaf nie, nader gekom het.

Die volgende dag ontmoet ek ’n psigiater uit Texas saam met sy Mexikaanse metgesel. Die jong, donker man is vriendelik; die psigiater afsydig. Hy steun Trump. In Texas word elke week mense tereggestel, sê hy. Veroordeeldes word deur vragmotors doodgery of deur honde doodgebyt – net soos die Ku Klux Klan met swart mense gedoen het. Dit is onwaar. Hy geniet dit blykbaar net om ’n Suid-Afrikaner wat lyk of hy in menseregte belang stel, te skok.

Aan hierdie ervaring dink ek toe ek hoor van die uitgesproke rassis wat 22 mense in El Paso doodgeskiet het, en die skietery in Dayton, Ohio, die soveelste massamoorde in die VSA vanjaar.

Pres. Donald Trump blameer geestesongesteldheid en videospeletjies. Natuurlik lei ’n geweldsklimaat tot meer geweld, maar videospeletjies word wêreldwyd gespeel – sonder sulke gereelde boosheid.

Geestesongesteldheid? As ’n ooglopend narsistiese leier ter wille van bewondering aanhoudend haat verkondig deur te predik dat Mexikaanse verkragters en moordenaars sy Amerikaanse droomland “binneval”, word ander sosiopate noodwendig opgewonde en voer die stryd verder. Hitler het nie self Jode in die agterkop geskiet of in gaskamers ingeboender nie. Sy toesprake het bloot die klimaat daarvoor geskep.

En waarom kan almal, sielsiekes inkluis, so maklik aanvalsgewere koop in Trumpland? Republikeine wil nie praat oor vuurwapenbeheer nie. Die National Rifle Association is magtig. Hulle steun op die reg om wapens te dra in die Bill of Rights. Dié reg het egter voortgespruit uit verset teen die Britse heersers se poging om rebelse nedersetters ongewapen te hou.

Kan of wil Amerikaners nie verstaan dat regte ter beskerming van ander regte beperk word nie? Hul howe het dit immers gedoen. In hedendaagse grondwette soos dié van Duitsland, Kanada en Suid-Afrika word dit uitgespel. Logies kan byvoorbeeld die alomerkende reg op vrye beweging tog nooit beteken dat ’n regering nie – ten einde lewens te spaar – kan reguleer aan welke kant van die snelweg ’n mens ry nie. Gaan die beheptheid met vuurwapens oor die menseregtehandves, macho-manlikheid of geld? Die vuurwapenbedryf is miljoene werd. Texas se goewerneur het vroeër gesê hy is jaloers omdat meer wapens in Kalifornië as in Texas verkoop word.

Vir harde kapitaliste is die verlies van ’n klompie bruinerige Spaanssprekendes of selfs skoolkinders onbedoeld en tragies, maar geen regverdiging vir die beperking van ’n florerende besigheid nie.

Agtergrond-beheermaatreëls kan help om aanvalsgewere uit hatiges en sielsiekes se hande te hou, maar dit sal verkope verminder of vertraag.

Misdaad bevorder besigheid. Vuurwapens is mos nodig vir selfverdediging.

Die Texas-goewerneur het – soos Trump – ook al voorgestel dat onderwysers bewapen word om leerlinge teen maniese massamoordenaars te beskerm. Dan kan die onnie sommer sonder om die polisie te pla met ’n 9 mm-parabellum losbrand op ’n nuwe afrigter – of ’n sokkermamma met ’n hokkiestok in ’n verdagte sak. Indien ’n vuurwapen wel uitgehaal word, het ons daar en dan ’n high noon shootout op die speelgrond – reg vir ’n winsgewende werklikheidsreeks!

Help die doodstraf om voornemende moordenaars af te skrik? Statistieke bewys dit glad nie. Dit lyk nie juis of El Paso se terroris, wat voor die aanval ’n haatmanifes uitgereik het en geen berou toon nie, deur die doodstraf afgeskrik word nie.

Vergelding is een oogmerk van strafoplegging. Maar tog steel ons nie van diewe, beroof rowers en verkrag verkragters nie. Waarom dan moordenaars vermoor?

Wat doen die doodstraf aan ’n gemeenskap se siening van geweld en dood? Is die Texas-psigiater se doodry- en honde-stories meer koelbloedig en banaal as ’n gifinspuiting in ’n wit kamertjie voor toeskouers?

Moet die staat op die vlak van die misdadiger te werk gaan?

Is doodmaak ’n aanvaarde oplossing – amper soos oorlog vir vrede of seks vir maagdelikheid?

Afgestompte gemeenskappe aanvaar doodslag as deel van die lewe. In Suid-Afrika vind na bewering daagliks meer as 50 moorde plaas. Ons maak egter nie klinies dood deur regtens gemagtigde teregstelling nie.

Waar sou rasgedrewe moord meer verwag kon word as hier? Tog het ons nie Amerika se skokkende tragedies nie. Die “Wit Wolf” Barend Strydom het 30 jaar gelede sy swart slagoffers doodgeskiet.

Later het die Boeremag as deel van ’n mal plan om burgeroorlog te ontketen ’n treinspoor in Soweto opgeblaas. ’n Spoorstaaf het ver daarvandaan ’n vrou doodgeval. ’n Boeremaglid sê in die tronk vir my dat dit per ongeluk was en dat sy aandadigheid aan ’n moeder se dood hom al jare teister.

Plaas- en huismoorde is dikwels gruwelik wreed, maar ek het in die hof nooit ’n duidelike rasmotief teëgekom nie. Eerder as om op die daad trots te wees, soos die El Paso-skieter blykbaar is, ontken ons beskuldigdes meestal dat hulle op die toneel was, selfs al is hul vingerafdrukke daar vergeet!

Dit lyk my ons moordenaars moor meestal uit gierigheid, passie, jaloesie en veral in bende-oorloë – asook weens armoede en moedeloosheid en die dronkenskap wat daarmee gepaardgaan, maar nie weens die rassehaat van meerderwaardige bevoorregtes in die “Vrye Wêreld” nie.

  • Regter Johann van der Westhuizen is ’n voormalige regter van die konstitusionele hof.
Meer oor:  Johann Van Der Westhuizen  |  Vsa  |  Regter  |  Doodstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.