Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dienaar van kuns en waarheid

Die eerste vleuel van die Francolin-museumkompleks, met die grootste globale versameling van Adriaan Boshoffs, het gister sy deure vir die eerste keer geopen. Carla Lewis het agter die skerms gaan inloer.

Adriaan Boshoff voor een van sy skilderye.

"Mense was lief om vir my pa te sê, sjoe, maar jy is ’n meester,” vertel die kunstenaar Adriaan Boshoff jnr. van sy pa, na wie hy ook genoem is.

“Maar dan het hy gesê hy is net ’n dienaar. Kuns is die eintlike meester.”

Wanneer Boshoff jnr. oor sy pa gesels, beklemtoon hy die nederigheid en hardwerkendheid van dié kunstenaar wat al Suid-Afrika se Renoir genoem is.

“My pa het geglo materialistiese besittings neem jou fokus van jou kuns en jou roeping weg. Dit bind jou, dit kniehalter jou om te verken en te ontdek.

“Ek sê altyd hy was ’n beter mens as wat hy ’n kunstenaar was en dit sê baie, want ek glo ons het een van die beste impressionistiese kunstenaars op ons eie bodem gehad.

“Dis nie net my subjektiewe mening omdat ek sy seun is nie. Ek is ook ’n kunskenner en baie akademici het dit al aan my beaam.

“Maar my pa was nederig, hy het nooit gedink sy werk is so wonderlik nie. Hy het altyd aan beleggers gesê: ‘Ag man, jy mors jou geld om my kuns te koop.’

“Hy het nooit in sy leeftyd die erkenning gekry wat hy verdien het nie, maar dit het hom ook nie gepla nie. Hy’t net gesê daar is mense wat miskien iets weet wat hy nie weet nie.”

En dan het hy sy kwas opgetel en begin verf.

Maar dit was wie Adriaan Boshoff was. Dienaar van kuns en die waarheid, wat eerder aan die altaar van skoonheid as in Mammon se tempel aanbid het. Kritici se lofpsalms, roem en aansien was vir hom tweede prys.

“Dis is waarom die museum wat Cobus (du Plessis, die eienaar van die Orient Hotel en Mosaic-restaurant) oprig so belangrik is.” sê Boshoff jnr.

Ná sy dood amper 12 jaar gelede, lyk dit asof sy werke steeds gesog onder versamelaars is. Ruarc Peffers van die Aspire Art Auctions-veilingshuis sê hulle het gevind dat daar nog ’n gesonde en konsekwente aanvraag vir Boshoff se werk is.

Sy werke haal vyfsyferbedrae op kunsveilings en sommige raak-raak aan R1 miljoen.

Die binneplein van die Francolin-museumkompleks.

’n Museum vir ’n meester

Die eerste voltooide vleuel van die Francolin-museumkompleks, die Orient Hotel tussen Pretoria en Johannesburg se nuutste toevoeging, is ’n uitvoering van boheemse oordaad, ’n verbeeldingsvlug op ’n towertapyt. Dit lyk soos die plesierpaleis van ’n groot Mongoolse vors, ’n stukkie fantasie en eksotisme wat tussen grasveld en kiepersolle verrys.

Dit is hier waar die grootste versameling ter wêreld van Boshoff se werke gehuisves word. Die ligging van die museum spreek self boekdele – dis amper soos ’n tuiskoms vir sy kunswerke. Alhoewel Boshoff in sy lewe amper ’n nomadiese kunstenaarsbestaan gevoer het, het hy telkemale na dié omgewing teruggekeer. Dis ook waar hy in 2007 oorlede is.

In die museum self loop jy oor dik, luukse Persiese tapyte terwyl jy jou aan Boshoff se skilderye verwonder. Die temas is eenvoudige aardse plesiertjies: oomblikke van onskuld van kinders wat in kosmosvelde speel; Weskustonele van vissermanne wat terugkeer met hul vangs; seuntjies wat in hul geboortepakkies swem; en beeswagters wat hul Nguni-beeste kraal toe dryf, so vol lewe en vitalisme dat jy amper die stof en sweet kan ruik.

Die temas mag dalk eenvoudig en selfs naïef wees, maar die uitvoering daarvan getuig van oordaad en lewenslus. Dis vol teks­tuur, impasto-tegnieke en chia­roscuro-danse tussen lig en donker.

Ons steek vas voor ’n skildery genaamd Meiringspoort.

“Dis ’n skildery wat almal so ’n rukkie laat stilstaan, laat kyk, en weer laat kyk,” vertel Antoinette Odendaal, kurator van die kompleks.

Die skildery beeld ’n ossewa uit wat deur die poort se imposante kranse loop, uitgevoer in ’n ekspressionistiese styl.

Dit is ’n meesterlike voorbeeld van Boshoff se vaardigheid as ’n landskapskilder. Moet egter nie die trefkrag van sy kleiner werke onderskat nie. Hennopsrivier, ’n pointillistiese studie skaars groter as ’n A4-bladsy, vang daardie koesterende oomblikke van ’n laat somermiddag langs die rivier vas, soos die spikkels lig deur die blaredak bokant jou priem.

Dit vat my dadelik terug na my eie jeug, toe ons Sondae van Johannesburg deurgery het Hennops Pride toe en piekniek langs die rivier gehou het.

Dís die krag van ’n Boshoff-skildery, dit voel soms asof dit jou ’n tasbare, Proustiaanse verbinding gee met jou eie verlede. Dis amper soos om ’n visuele madeleine-oomblik te hê wat jou in ’n oogwink terugneem na ’n spesifieke tyd in die verlede.

Die kunstenaar Adriaan Boshoff.

Oor kinders en vroue

Sy eie kinderdae was wonderlik, maar daar was ook uitdagings vir die Boshoff-spruite en sy ma, vertel Boshoff jnr.

“Ons het vreeslik rondgetrek; ek dink my een sussie was tydens haar skoolloopbaan in 16 skole. Maar die lewe was een groot avontuur; my vriende het gedink ons is permanent op vakansie.

“Ons het in ’n karavaan gebly, gekamp, visgevang. Die ouens het gedink my susters is sulke wilde gypsy-meisies, maar dit was ver van die waarheid. My pa het die siel van ’n nomade en kunstenaar gehad, maar sy waardes was baie konserwatief.”

Een ding wat hom wel hartseer maak, is dat sy ma, Anita Boshoff (née Barnard), nooit die nodige aansien geniet het vir haar rol in sy pa se kunsloopbaan nie. Hy noem dit nie op die naam nie, maar deur sy vertellings is dit duidelik: Anita was ’n koningmaker vir haar man.

“Sy het soveel opofferings gemaak. Sonder my ma se ondersteuning sou hy nooit so suksesvol gewees het nie. “Wanneer geld skraps was, het sy nooit gekla dat hulle te kort skiet nie. Sy het hom net aangemoedig om nog verf te koop.”

Aan die begin van sy loopbaan het sy soos ’n straatsmous van deur tot deur geloop om sy werke verkoop te kry.

“Kyk, wanneer jou man sy vaste werk by die staatsdiens op 35 bedank om voltyds ’n kunstenaar te word sonder die rugsteun of vangnet van ’n pensioen of weggesteekte neseier . . . dis nie iets wat in enige vrou met drie kinders se broek steek nie.

“Dis die hartseer ding van bekende kunstenaars se vroue en lewensmaats. Jy sien net die kunstenaars se roem en talent. Jy sien nie die opofferings en aanmoediging van hul maats agter die skerms nie. My ma was die ruggraat van my pa se kunsloopbaan.”

Boshoff jnr. was ook nou betrokke by die restourasie van sy pa se werke vir die museum.

“Ek sê altyd ek het die meeste van kuns geleer uit die gesprekke wat tussen my en my pa plaasgevind het nadat hy sy kwaste neergesit het.”

Hy vertel dat baie van die werke hom terugneem na sy tienerdae.

“Ek sal aan ’n skildery werk en whooff, ewe skielik is ek weer terug in standerd agt. Met sommige tye was dit as ’t ware asemrowend.

Meisies by ’n drinkkraan (olie op doek).

“Dit was ongelooflik spesiaal, want alhoewel die skildery nie in my besit is nie, nie my eiendom is nie, is dit tog deel van my, my erfenis, my DNS.”

Vanuit ’n professionele oogpunt was dit ook een groot plesier om een van Suid-Afrika se kunsreuse se werke te restoureer.

“My pa het met gehalte-me­diums gewerk en sy werke het goed verouder as ek dit met kunstenaars en werke van dieselfde tyd vergelyk.”

Dis nie asof hy die hele werk moes oordoen of red nie, dit was basies net ’n ligte paneelkloppie hier en ’n bietjie “pamperlangwerk” daar.

Ossewa en ’n Suid-Afrikaanse landskap (olie op doek).

Lewe om na te streef

Boshoff jnr. sê hy is altyd verbaas oor kunstenaars se grootheidswaan wanneer hulle roem en kritici se aansien begin proe. Dit is heeltemal strydig met sy pa se filosofie, wat altyd sy vlyt en roeping met nederigheid gedien het. Selfs teen die einde van sy lewe het hy hom steeds as ’n student van die kunste geag.

“Ek onthou, teen die einde van my pa se lewe het ek hom eenkeer in trane in sy studio gevind. Toe ek hom vra wat fout is, het hy vir my gesê hy het nog so baie om te leer in die lewe en van kuns.”

Boshoff het sy roeping gevolg totdat hy letterlik sy laaste asem uitgeblaas het. Hy sterf op 18 April 2007 voor sy esel waar hy besig was om sy laaste kunswerk, Streets of my Youth, te voltooi.

Die skildery beeld ’n straattoneel uit wat lyk asof dit in die laaste minute voor sonsondergang geskilder is. Die kleure is ryk en deurdrenk, rooiwarm karmosyn, koesterende okerbruine, alles uitgevoer in sy kenmerkende ekspressief-impressionistiese styl.

Dit getuig van ’n lewe van genoegdoening, waar plesier uit liefde en geleefde ervarings geput is, eerder as die wêreldse.

  • Lewis is ’n senior Beeld-joernalis.
Tydlyn

1935: Adriaan Boshoff word op 5 Oktober 1935 in Pretoria gebore, slegs drie dae nadat sy pa aan tuberkulose oorlede is.

1937: Sy ma trou weer en Adriaan word in die sorg van sy ouma aan sy pa se kant geplaas. Hy word groot in Capital Park in Pretoria.

1947: Sy ouma sterf. Hy is 12 jaar oud en word vir alle doeleindes aan sy eie lot oorgelaat.

1949: Hy word op heterdaad betrap toe hy ’n stukkie brood van ’n bakkery steel en in hegtenis geneem word. Die polisieman aan diens kry die jong tiener jammer en reël dat hy ’n vakmanskap by die elektrisiëns Berman and Brothers voltooi.

1952-1955: Sy werk as elektrisiën en vakman neem hom na die platteland en afgeleë plase. Deur sy reise ontwikkel hy ’n diep liefde vir Suider-Afrika se landskappe.

1956: Hy bedank sy voltydse werk en begin werk as ’n private kontrakteur in lande soos Botswana en Swaziland. Hy reis per motorfiets na die destydse Belgiese Kongo.

1958: Dis liefde met die eerste op-slag toe hy sy vrou, Anita Barnard, ontmoet en sy eerste dogter Louise word in dieselfde jaar gebore. Hy maak ook kennis met die beeldhouer Tienie Pritchard, met wie hy ’n lewenslange vriendskap smee. Hulle sou ’n groot invloed op mekaar se kuns hê.

1961: Sy tweede dogter, Annalise, word tydens ’n familievakansie in Duiwelskloof gebore. Die familie trek na die destydse Rhodesië, waar Adriaan as ’n plaasbestuurder op ’n tabakplaas werk.

1963: Die Boshoffs trek terug Suid-Afrika toe en Adriaan begin weer as ’n elektrisiën te werk. Hy verf deurnag en Anita loop van deur tot deur om sy kunswerke te verkoop sodat haar man sy droom om ’n voltydse kunstenaar te word, kan bewaarheid.

1964: Hy hou sy eerste solo-uitstalling in Durban.

1967: Boshoff en Pritchard koop ’n klein landgoed in Hennopsrivier. Hulle deel ’n kunstenaarstudio, maar die kunshandelaar Peter van Blommestein oortuig hom om Natal toe te trek. Sy seun, die kunstenaar Adriaan Boshoff jnr., word gebore.

1968: Die familie bly in ’n woonwapark naby Umdloti aan die Noordkus. Adriaan maak kennis met die kunshandelaar Dicky Kleinsmith en verskeie suksesvolle uitstallings volg.

1969: Die Suid-Afrikaanse regering gee hom ’n opdrag om 12 180 x 120 cm-skilderye van plaaslike Suid-Afrikaanse tonele te voltooi.

1974: Boshoff trek terug na Hennopsrivier en sluit weer by Pritchard aan.

1978: Nog drie groot uitstallings volg: twee in Johannesburg en een in Italië. Sy kunswerke verkoop almal in ’n kits.

Die Boshoffs trek na ’n plaas naby Middelburg in die Doornkopstreek op die Hoëveld. Die omgewing het ’n groot invloed op sy landskapkuns gehad, veral dié van sy Hoëveld-tonele.

1982: Hy keer weer terug na die Hartbeespoort-area.

1988: Sy liefde vir visvang neem hom na Lindequesdrift naby Parys in die Vrystaat, waar hy sy studio reg langs die Vaalrivier inrig. Hy skilder en vang vis.

1993: Dis ’n annus horribilis vir die kunstenaar. Hy skok homself, kry ’n beroerte en kan nie skilder of skep nie.

2007: Adriaan sterf op 18 April in Hennopsrivier voor sy esel. Hy was besig was om die kunswerk Streets of my Youth te voltooi.

Meer oor:  Profiel  |  Aktueel  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.